
As die verwysingsraamwerk waarmee jy grootgeword het in duie stort, kan dit ‘n
mens op persoonlike en interpersoonlike vlak in ‘n krisis dompel.
Die verklarings wat jy gehad het vir dinge wat gebeur (of nie gebeur nie), is skielik nie meer geldig nie. Ou sekerhede word vervang deur vrae waarop jy by niemand beslissende antwoorde kry nie. Daar kan ‘n groot gevoel van verligting en bevryding kom as jy byvoorbeeld jou vrees vir straf-op-sonde verloor… maar terselfdertyd kan jy wroeg en wonder of jy nie dalk die grootste fout van jou lewe maak nie.
Om skielik intens alleen te voel, is ook ‘n algemene verskynsel. Die mense om jou saam met wie of voor wie jy grootgeword het, het nie noodwendig dieselfde kopskuiwe as jy gemaak nie. As jy dit waag om te sê wat jy regtig dink, staar jy die gevaar van verwerping in die gesig. As jy stilbly, voel dit of jy huigel.
By die NHN gaan niemand vir jou sê, “Hier is hoe jy moet dink / voel / maak nie. Wat ons wel kan doen, is om vir mekaar legkaartstukkies aan te gee. As indiwidue kan ons met mekaar deel wat ons help om sin, betekenis en vreugde uit die lewe te put; hoe ons deur moeilike situasies en verhoudings gewerk het; wat ons inspireer en krag gee. Maar dis elke ou se eie taak om sy eie legkaart te bou met watter stukkies ookal vir hom of haar werk.
Neem asseblief deel aan die proses!
*Lewer kommentaar op die artikels wat reeds hier verskyn.
* Skryf van 'n betekenisvolle tyd of gebeurtenis in jou lewe en stuur dit na antoinette@silence.co.za vir plasing by "Ons Mense se Stories".
|