Ons Ontstaan

deur Sakkie Spangenberg
Die Nuwe Hervorming Netwerk is amptelik op 31 Oktober 2004 in Centurion in die lewe geroep na ’n aanvanklike vergadering enkele maande tevore by die krieketklubhuis van die Randse Afrikaanse Universiteit.
 
Een van die redes vir die stigting was om aan mense wat ontuis geraak het binne die Christelike kerke en nie meer die tradisionele belydenisse en leerstellings kon beaam nie, ’n tuiste te bied. Hier kon hulle met ander mense wat dieselfde ongemak beleef, sosialiseer en gesprek voer.
 
’n Tweede rede vir die stigting was om ’n beweging tot stand te bring wat oop religieuse gesprek bevorder. Baie mense het gevoel dat ons pas uit ’n era kom waar kritiese bevraagtekening nie as ’n deug beskou is nie. Mense wat kritiese vrae gevra het, hetsy oor die politieke beleid van die NP-regering, of oor die tradisionele Christelike belydenisse en leerstellings, is gewoonlik gemarginaliseer en dikwels geostraseer.
 
Die Uitvoerende Komitee van die Netwerk het sedert 2006 tweeweeklikse gespreksbyeenkomste in Midrand geloods om hierdie primêre doelstellings na te streef. Die gespreksbyeenkomste het aanvanklik op die Christelike belydenisse en leerstellings gefokus. Die lede en ander belangstellendes wou duidelikheid kry oor waar die Christelike belydenisse en leerstellings vandaan kom en waarom hulle nie as ewige waarhede beskou kan word nie. Hierdie proses is vergelyk met die afskil van ’n ui. Die leerstellings is een vir een onder die vergrootglas geplaas om duidelikheid te kry waar dit vandaan kom, waarom dit geformuleer is en watter rol gesagsfigure (soos die keiser en die biskoppe) gespeel het. Die afskilproses het nie sonder wroeging en pyn gepaard gegaan nie.
 
Na agtien maande se afskil, het mense hulleself begin afvra: “Maar wat bly nou oor? Sit ons aan die einde van die dag net met ’n handvol skille, of het daar ’n kern behoue gebly waarmee ons iets kan doen?”
 
Die uitvoerende komitee van die NHN en die bywoners van die Midrandgeleenthede het skielik voor ’n nuwe uitdaging te staan gekom: “Wat kom in die plek van die ui as dit totaal afgeskil is?” Anders gestel: “Wat kom in die plek van die Christelike belydenisse en leerstellings as dit uiteindelik geweeg en te lig bevind is?” Die vraag waarvoor die NHN te staan gekom het, kan ook só geformuleer word: “Aan die hand van watter verhaal (of verhale) kan ons nou leef?” As die tradisionele Christelike meesterverhaal van sondeval – verlossing – eindoordeel nie meer as ’n onderbou vir mense se eie lewensverhale kan dien nie, watter ander verhaal (of verhale) kan wel?
 
Sonder dat die UK van die NHN dit vooraf so beplan het, het die NHN ’n nuwe fase betree. Die fase van dekonstruksie het skielik oorgegaan in een van konstruksie en rekonstruksie.
 
’n Soektog na ’n nuwe spiritualiteit het as ’t ware ontstaan. Kort voor lank het die besef tot lede deurgedring dat dit nie net ’n proses van soek en vind is nie, maar ook van máák. In die woorde van Hans van Beinum, een van ons lede: “Die mens maak en vind tegelykertyd sin.” In die proses van soeke na sin, maak ons uiteindelik sin.
 
Voorts het dit duidelik geword dat hierdie proses ’n voortgaande proses is. Diegene wat afskeid geneem het van die Christelike meesterverhaal sal nooit weer ’n voltooide en afgeronde meesterverhaal hê nie. Ons kennis laat so iets nie meer toe nie. Ons is in die een-en-twintigste eeu uitgelewer aan ’n durende proses van interpretasie en herinterpretasie, vertelling en hervertelling, want kennis neem eksponensieel toe.
 
  

ONS VYF STIGTERSLEDE

 

 

 

Izak J.J. Spangenberg
 
Sakkie Spangenberg is in Benoni gebore en het in Germiston grootgeword. Wetenskap en Wiskunde was van sy geliefde vakke op hoërskool, maar hy het teologie gaan studeer op Stellenbosch (1971–1977).
 
Na ’n “sabbatsjaar” op Worcester waartydens hy aan sy MA in Semitiese tale werk, word hy aangestel as lektor aan die Randse Afrikaanse Universiteit (1979–1986). Hierna verskuif hy na Unisa waar hy aangestel word as senior lektor in die departement Ou Testament (1987–1995). Hy word bevorder van senior lektor na mede-professor en beklee dié posisie vir ’n volle dekade (1995–2005) voordat hy bevorder word tot volle professor (2005– ). Hy is meer as dertig jaar lank in die tersiêre onderwysberoep en het gedurende dié drie dekades ’n sestigtal akademiese artikels en sewe boeke gepubliseer. Sommige hiervan is saam met ander skrywers gepubliseer. Sy jongste monografie dra die titel Jesus van Nasaret (2009). Hierin bespreek hy verskillende perspektiewe op Jesus waarmee hy gedurende sy leeftyd in aanraking gekom het, en dan is daar die versamelbundel Hier staan ek ... (2011) waartoe hy ’n bydrae gelewer het.
 
Hy is getroud met Dina van Aardt en hulle het twee seuns en 'n skoondogter: Werner, Ixantha en Ulrich. Wanneer hy 'n vry tydjie het, kyk hy graag voëls en deesdae ook na rotse, want hy weet die aarde is sy woonplek.
 
 
Pieter J.J. Botha
 
Pieter het groot geword in Johannesburg, en ná matrikulasie aan die Randse Afrikaanse Universiteit en die Universiteit van Pretoria gestudeer. Hy het in 1987 voltyds by die Universiteit van Suid Afrika begin werk, waar hy vandag professor in Nuwe Testament en Vroeg-Christelike Studies is. Hy spesialiseer op die gebied van die geskiedenis en agtergrond van die ontstaan en ontwikkeling van die vroeë Christendom.
 
Pieter was redakteur van die vaktydskrif Neotestamentica van 1995 tot 2000, het al tientalle referate by internasionale kongresse gelewer en meer as 80 wetenskaplike artikels in verskeie internasionale vaktydskrifte gepubliseer. Van sy meer onlangse publikasies het gehandel oor
·         Onderdanigheid
·         Geweld en geslagsrolle in die wêreld van die Nuwe Testament
·         Radiokoolstof en teologiese refleksie
·         Die geskiedenis van die Romeinse Ryk en Judaïsme
·         Diegeskiedenis van antieke kommunikasie.
 
Unisa het in 2006 die Kanseliersprys vir navorsing in die Skool vir Geesteswetenskappe aan hom toegeken, en tydens 2008-2009 was hy 'n Visiting Fellow by Clare Hall, Universiteit van Cambridge (VK).
 
Oor sy deelname aan die Nuwe Hervorming-gesprek skryf hy: "Alhoewel ek al lankal gefrustreerd is met konvensionele godsdiens en sogenaamde ortodokse teologie was dit 'n opmerking van Piet Muller wat my entoesiasties oor die Nuwe Hervorming gemaak het. By ons eerste werkswinkel het Piet oor sy eie ervaringe vertel, en onder andere genoem dat die kerk veel te sê het oor wat vóór 'n mens se geboorte sou gebeur het en wat ná die dood kamstig gaan gebeur, maar oor die lewe self omtrent niks nie. Presies."
 
 
Pieter Craffert
Pieter Craffert het grootgeword op die platteland in die noorde van Kwazulu/Natal. Hy het teologie gestudeer aan die Universiteit van Pretoria en later aan Unisa waar hy 'n doktorsgraad in Nuwe Testament behaal het. Sedert 1987 is hy dosent in Nuwe Testament en Bybelse argeologie aan Unisa.
 
Hy het reeds drie boeke geskryf oor die kultuur-historiese leefwêreld wat veral uit die argeologie na vore tree. Hy het talle nasionale en internasionale referate gelewer en tientalle publikasies die lig laat sien. Hy het vir vyf jaar navorsing gedoen oor “Die Historiese Jesus Vraagstuk” - onder andere vir 'n jaar as Alexander von Humboldt navorsingsgenoot aan die Universiteit van Heidelberg in Duitsland.  In 2008 is sy boek The life of a Galilean shaman: Jesus of Nazareth in anthropological-historical perspective in die VSA gepubliseer. Tans werk hy aan “Godsdienstige ervaring as neuro-antropologiese verskynsels”.
 
 
Piet Muller
 
Dr. Piet Muller praktiseer as toekomskundige, kreatiwiteitskonsultant en spirituele begeleier. Hy ontwerp en bied ook kursusse en seminare aan. Dit het by hom 'n besef tuis gebring van hoe groot die spirituele behoeftes van die moderne mens is. Hy tree van tyd tot tyd in gemeentes op en is die skrywer of medeskrywer van 18 boeke, waaronder vers-kommentaar op die Evangelie van Thomas (e-boek) en Kom ons Bid, ‘n versameling bydraes oor gebed in ‘n post-moderne wêreld.
 
 
Hansie Wolmarans
 
Hansie Wolmarans is professor verbonde aan die Departement Griekse & Latynse Studies aan die Universiteit van Johannesburg. Nadat hy Teologie aan die UP studeer het, het hy 'n MA en Ph.D. in Grieks verwerf. Hoewel hy onmiddellik ná die voltooing van sy teologiese studies begin klas gee het, was hy vanaf 1976 deeltyds verbonde aan verskillende gemeentes – eers van die Hervormde kerk, en vanaf 2006 van die Presbiteriaanse kerk, St Columba’s in Parkview.
 
Hy spesialiseer in die Grieks-Romeinse agtergrond van die Nuwe Testament, en het meer as 100 wetenskaplike artikels publiseer en was outeur of mede-outeur van agt boeke. Hy gee klas in Grieks, Latyn, asook die Grieks-Romeinse mitologie.
 
As stigterslid van die Nuwe Hervorming Netwerk stel hy baie belang in post-moderne teologie. Hy is van mening dat, onder andere, die volgende tradisionele teologies opvattings uitgediend is:
1. dat ’n patriargale samelewingspatroon Godgegewe is
2. dat die skepping afgehandel is
3. dat die skepping volgens ’n Godgegewe patroon verloop
4. dat die geskiedenis patroonmatig verloop en dat die Bybel toekomsvoorspellings bevat
5. dat geloofsartikels soos die maagdelike geboorte, opstanding en wederkoms letterlik opgeneem moet word
6. dat daar slegs een “korrekte” godsiens is en
7. dat dit die beste is om God as ’n manlike persoon te visualiseer.
 
Hy is in 1978 met Hester getroud. Hulle het vier kinders waarvan die jongste seun, Nicolas, 'n nalatige lammetjie, in 2012 in graad 12 is, en die tweedejongste, Hedda ('n dogter en ook ‘n laatlammetjie) in 2012 tweedejaar op universiteit is. Sy oudste seun, Jan-Hans en dogter Kristien het reeds afstudeer en is selfversorgend. Kristien en Gerrie het die gesin in 2010 met ’n dogter (Mia) verryk.
 


 "The new path must be one that leads to spiritual wisdom on a road paved by scientific knowledge." Bernard Haisch