Opsomming van NHN lesing

24 Mei 2020: Dr Ben Barnard (Kliniese sielkundige)

DIT KOM VAN VER AF: MITOLOGIESE VOETSPORE DEUR DIE BYBEL

Die storieverteller

Mitologie, verduidelik Ben Barnard, is tegelyk geskiedenis, geheue en verbeelding. Dit is verhale waarmee mense in die antieke tyd probeer het om die oënskynlik onverklaarbare met die hulp van bo-aardse wesens en aktiwiteite te verduidelik.

Om mites letterlik te verstaan en dan as onsinnig te verwerp, is om bloot nie tussen die boodskap en die verpakking te onderskei nie. Mitologie wil anderwêreldse konsepte met hierdie-wêreldse begrippe verklaar. Ons het dus te doen met verhale wat uit die staanspoor nooit bedoel was om letterlike verklarings vir die werklikheid aan te bied nie, maar eerder om die verteller(s) se verwondering te verwoord oor ‘n ervaringswêreld buite menslike begrip – en om die een of ander vorm van kontak met hierdie misterie te bewerkstellig.

Freud het die mite gedefinieer as ‘n verhaal wat die waarheid in simboliese vorm vertel. Dit druk eksistensiële of godsdienstige waarhede uit wat dikwels nie verifieerbaar is nie. Vir gelowiges doen dit egter nie afbreek aan die egtheid of waarheidskarakter nie.

Derdens moet mens verstaan dat mites nie staties is nie, maar ‘n ontwikkelingsgang deurloop soos dit van geslag na geslag en selfs tussen volke oorgedra word om aan nuwe ervarings uitdrukkig te gee.

Verband tussen godsdiens en mitologie

Die verband is nou reeds gelê: As ‘n gelowige oor God praat, beteken dit dat iemand in menslike taal probeer gestalte gee aan ‘n saak wat nie onder woorde gebring kan word nie. Om God te beskryf aan die hand van bekende begrippe (soos hemelse vader, ‘n goeie herder/versorger, lig van die lewe), is om beperkte begrippe vir veel groter komsepte te gebruik. En dit bly steeds net simboliese/metaforiese uitdrukkings.

Daarmee erken ons dat die mens hoogstens net oor selfgeskepte prentjies van God of gode beskik en die meeste hiervan is maar uiters gebrekkig (soos Moses wat God net in die verbygaan, van agter af kon sien).

Dis is natuurlik alles goed en wel, solank ons oor ander se godsdienste praat. Dan aanvaar ons dat alles maar net verhaaltjies is waarin die primitiewe geloof en kennis van die mense van daardie tyd tot uitdrukking gekom het. Maar sodra ons eie godsdiens op die spel kom, is daar skielik geen plek vir mitologie of simboliese taal nie. Dan is ons ernstig met die allerwaarheid besig. Anders as Zeus se talle kinders by aardse maagde, was Jesus die eniggebore Seun van God. En is Maria se goddelike bevrugting vir Christene ‘n ononderhandelbare werklikheid… wat natuurlik sonder seksuele omgang  plaasgevind het deur Maria se oor, aldus die vroeë kerk.

Leda en die swaan. Oorsprong van die idee van godelike bevrugting?

Hiermee sit ons viervoet midde-in ons tema: Hoeveel mitologie skuil daar in ons eie Christelike godsdiens? En ons is huiwerig om te vra: Het daar dalk langs die pad kruisbestuiwing tussen die verskillende mitologieë plaasgevind sodat ons op die ou end met heidense verhale aan die wortel van ons godsdiens te doen het?

Hierdie hipotese word getoets in die nuwe boek van Ben Barnard: Dit kom van ver af: Mitologiese voetspore in die Bybel.

SKEPPINGSMITES

Rodin se hand van God

Dit is reeds bekend dat die Bybelse skeppingsverhale heelwat later in die geskiedenis ontstaan het, tydens die Joodse ballingskap. Teen hierdie tyd was die Egiptiese en Babiloniese skeppingsverhale lankal ou nuus. Hierdie en vele ander stories vertel van die oer-chaos, meestal in die vorm van ‘n monster, wat getem moes word. Die Babiloniese held Marduk moes byvoorbeeld die oermonster Tiamet verslaan. Psalm 83 eggo hierdie sentiment waar ons lees hoe Jahwe met die Leviatan klaarspeel.

En hoe het die mens ontstaan? In die die Chinese skeppingsverhaal het Yu-ti die mens uit klei geskep. Die Griekse god Prometeus het later dieselfde gedoen. En die Egiptenare het geglo dat God die groot Pottebakker is wat die mens uit klei van die Nyl gevorm het. Die God van Genesis wat die mens uit stof van die aarde vorm, is dus allermins oorspronklik. En die argument dat die God van Genesis deur sy Woord geskep het, plaas dit Hom nie in ‘n ander kategorie as al die ander gode wat kamma geskep het nie? Ongelukkig is ook hierdie eienskap nie oorspronklik nie. Volgens een Egiptiese skeppingsverhaal (ongeveer 4000 vC) het die gode uit die mond van die Groot Skeppergod voortgekom. In ‘n ander weergawe word vertel dat hy die gode deur sy stem of woord geskep het en hulle weer die res van die skepping tot stand gebring het. ‘n Ander Egiptiese skeppingsverhaal vertel dat die god Atum gemasturbeer het en so in een ontploffende ejakulasie die aarde, planete en sterre tot stand gebring het. (Hoe klink dít vir ‘n pre-wetenskaplike definisie van die Big Bang teorie?)

Die punt is dat alle volke van die wêreld hulle eie skeppingsverhale het. Almal – die Bybelse skeppingsverhaal inkluis – teoretiseer in verhaalvorm oor hoe die skepping plaasgevind het. Dit plaas alle skeppingsverhale op dieselfde vlak as die teorie van die oerknal. As dít álles net stories is, is dit dalk nodig om meer aannames of “kernwaarhede” van die Joods-Christelike skeppingsverhale te ondersoek. 

Aannames in die spervuur

Evolusionerende mens

Is die mens eensklaps volmaak op die aarde geplaas, of het die mens volgens die die natuurwetenskappe soos die res van die skepping geëvolueer?

Die tweede aanname omtrent die Skepping (soos deur die omslagkunswerk geïllustreer) is die verhaal van die Sondeval.

Erich Fromm se sterwenswoorde aan sy vriend Robert Fox: “Why is it, Bob, that the human race prefers necrophilia to biophilia? Why do we prefer love of death to love of life?”

Hoe het dit gebeur dat die Christelike godsdiens so skuldbelaai en sku vir die lewe geword het? Sonde het ontaard in ‘n blywende toestand in plaas van ‘n keuse wat ons moet uitoefen… Nog erger: dit is ‘n seksueel oordraagbare siekte! Ons is slagoffers van oorerwing en al wat vir ‘n gelowige oorbly, is ‘n lewe van ly en bely. Christene kan by die heidene leer wat die lewe werklik behels. Wanneer die Babiloniese held Gilgamesh die boodskap ontvang dat onsterflikheid die mens nie beskore is nie, is daar darem ‘n bietjie troos:

Eet tot jy versadig is,

Wees dag en nag vrolik,

Maak van elke dag ‘n vreugdevolle feesdag,

Dans en speel dag en nag!

Klee jouself kwistig,

Was jou hare en bad jou liggaam.

Gee ag aan die kind wat jou hand vasgryp,

Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet.

Want dit is die kwota wat aan die mens toebedeel is.

En dit is nie heidense raad nie – die woorde is ook in die Bybel opgeneem (Prediker). Jesus het self gesê: “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Hierin is niks van ‘n gedurige getob oor sonde en ‘n permanente verbod op genot nie. Ook nie dat ons gedurig in ‘n staat van oorlog teen ons sondige natuur of allerlei bose geeste in die lug moet verkeer nie. Christene mág leef! (Sien Original Blessing (Matthew Fox – Oersonde v/s Oerseën; ook Girandoun se Uitskop uit die tuin = groei – Jung.)

Posisie van die vrou: Daar was ‘n tyd in die vroeë geskiedenis toe godsdiens matriargaal was. Uit die godinmoeder se vrugbare skoot – en nie uit die mond van die Vader nie – het alles voortgekom wat bestaan het (sien vele kunswerke waarin die vrou gesien word as die boom van die lewe).

Gaea of Vrou by die boom van lewe

Mitologiese simbole verander soos samelewings verander! Die Bybel is in ‘n patriargale tydvak geskryf. Die profete van Israel was almal manlik en onder hulle pen is die rol van die vrou drasties afgeskaal. Selfs die arme slang wat in ou kulture ‘n simbool van wysheid was, word nou die booswig. En die vrou is die oorsaak van die sondeval…

Slang met vrouekop

Rodin se Eva

As ons in die Ou Testament lees van die profete se verbete geveg teen afgodediens, dan word daar eintlik na die profete se eindelose stryd teen die moederkultusse verwys. In die godsdienstige oorgangsfase van matriargaal na patriargaal, beding die profete slegs vir ‘n patriargale God en hulle doen dit deur die vorige simbole te demoniseer. Hierdie siening van die vrou is dus tyd- en maatskappygebonde! (Vraag: Gaan die Bybel die toets van die nuwe SA grondwet slaag?

VOLKE SE ONTSTAANSMITES (GODSDIENSMITES)

Joseph Campbell vat dit kernagtig saam:

“The world is full of origin myths, and all are actually false… On the surface they may appear to have been composed as conscientious history. In depth they reveal themselves to have been conceived as myths: poetic readings of the mystery of life from a certain interested point of view. But to read a poem as a chronicle of fact is – to say the least – to miss the point.”

Die Joodse verhale van Abraham en die aartsvaders, die verslawing in Egipte en die eksodus is alles mites wat ten doel het om die oorsprong van die volk Israel te verklaar. Net een voorbeeld: Abraham word versoek om sy seun te offer as toets vir sy geloof in God. In die Griekse mitologie lees ons hoe die gode deur die orakel van Delphi aan ‘n koning die opdrag gee om sy seuns Phrixos en Helle te offer aan die gode as bewys van sy gehoorsaamheid. Hierdie keer is daar ook ‘n dreigement by: bring jou kinders op die altaar om, of anders sal jou oeste misluk! Gedruk deur ‘n sosiale verantwoordelikheid teenoor sy volk (hulle oeste was immers ook in die gedrang), aanvaar die koning sy opdrag. Bewoë neem hy die mes in sy hand, maar… Ja, natuurlik verskyn daar ‘n ram uit die hemel, laai die twee broers op sy rug en kry koers met hulle die lug in – net soos Elia wat in sy vuurkoets ‘n rit hemel toe kry. (Die storie is dus op ‘n ou fertiliteitsritueel gebaseer. In die verhaal van Abraham is sy fertiliteit steeds ‘n belangrike tema).

ʼn Volgende opvatting wat op baie hoë mitologiese pilare gebou is, is die idee dat die Jode die uitverkore volk van God is.

Holocaust   (Is dít hoe ‘n uitverkore volk daar uitsien?)

AS DIE GODE TOORNIG WORD…

…dan wis hulle die mensdom uit in ‘n vloed

Ons ken die verhaal van Noag.  Noag en sy gesin is nie die eerste vloedslagoffers nie!

In ‘n Hindoe vloedverhaal word vertel dat die nageslag van Adamis en Hevas (Adam en Eva!) so verdorwe geraak het, dat Brahma besluit het om hulle te straf. Vishnu het egter vir Vai-vasvata gebied om ‘n skip te bou wat groot genoeg is vir hom en sy familie, asook twee verteenwoordigers van elke dierespesie en saad van elke plant op aarde. Kort daarna het die reëns gekom: vir veertig dae en veertig nagte het die reën op die aarde neergestort totdat alles wat leef, omgekom het. Hierdie Noag het ook drie seuns gehad.

‘n Dergelike drama speel hom af in die Assiro-Babiloniese mitologie. Die mens is steeds in die sop: hulle maak te veel geraas en die gode besluit om hulle uit te wis in ‘n groot vloed. Die god Ea gryp egter in en besluit om die mens te waarsku. Hy dra sy boodskap oor aan Uta-Napishtim. Hy gee hom opdrag om ‘n groot skip te bou en om die saad van alle lewe op aarde in sy ark in te neem. Gehoorsaam aan sy opdrag, vergaar Uta-Napishtim al die diere asook sy eie gesin aan boord. Soos Ea voorspel het, begin dit reën: ses dae en ses nagte sonder ophou. Op die sewende dag het die weer opgeklaar (die skeppingsiklus is sewe dae; die vernietiging daarvan neem ewe lank). Die skip het tot ruste gekom op die piek van berg Nisir. Eers het Uta-Napishtim ‘n duif uit die skip gestuur, opgevolg deur ‘n swaeltjie, maar nie een van die twee kon land vind nie. Oplaas stuur hy ‘n kraai uit en dié het nie teruggekeer nie. Toe weet hy dat die aarde droog genoeg is. Hy en sy gesin het die skip verlaat en ‘n dankoffer aan die gode gebring.

Na die hele drama is die godin Ishtar so geraak deur al die vernietiging wat die gode aangerig het, dat sy haar halssnoer (die reënboog) van haar nek afgehaal en dit aan die hemel opgehang het.

Dus: Vloedverhale kom wydverspreid oor die wêreld voor, maar die argeologie bevestig nie ‘n wêreldwye vloed nie. Drie moontlike verklarings:

  • Hierdie mites vertel van die tsoenami wat die deurbreek van die Atlantiese oseaan by Gibraltar na Middellandse see veroorsaak het.
  • Vloedverhale kom voor in lande wat aan die see geleë is of wat riviere het wat gereeld hulle walle oorstroom. So gesien, is die vloedverhale ‘n uitdrukking van die mens se vrees dat hy nie sy omgewing kan beheer nie.
  • Sielkundig beskou, moet mens kennis neem van die feit dat skeppings- en vloedverhale dikwels as ‘n pakket aangebied word. Ons kan die verbeelding nog vryer teuels gee en vra: Simboliseer skepping en vloed dalk die ontstaan en geboorte van die menslike fetus? As ‘n mens in ag neem dat die mens na konsepsie (skepping) vir nege maande in water ronddryf voordat hy met ‘n “vloed” (breek van die vrugwater) gebore word, is hierdie teorie dalk nie te vergesog nie.

OP ‘n DRAFSTAP DEUR DIE OU TESTAMENT

Bybel Mitologie
God is ons hemelse Vader. Die Sumeriese god Anu was die hoofgod wat as vader van die gode vereer is.
God onderneem ‘n aandwandeling in die Paradys saam met sy skepsels. Anu bewandel “Anu se weg.”

Die Chinese moedergodin His Wang Mu het ook ‘n aandwandeling in die Chinese paradys.

Eva word uit Adam se rib geskep. Die Sumeriese moedergodin Ninkhursag genees die skeppergod Enki se ribbebeen deur vir Nin-ti te skep. Haar naam beteken “vrou van die rib.”
Die Paradys is die oorspronklike ideale toestand waar daar geen skeiding tussen God en mens bestaan nie. Die Griekse Goue Era waar die mens permanent fees gevier het.
In die tuin van Eden is daar vier riviere en die boom van die lewe. Mesopotamiërs ken ook vier riviere wat lewe uitdra na die verste uithoeke van die wêreld.

Die boom van die lewe was ‘n algemene simbool in die antieke wêreld.

Die mens word geskep na die beeld van God. Die skeppingsmedium is stof. Die Sumeriese moedergodin skep Adam se voorloper (Enkidu) na haar eie beeld uit klei.
Na die sondeval ontdek die mens dat hy naak is en maak klere van velle. Enkidu word verlei deur ‘n tempelprostituut en hulle bedek hul naaktheid met kledingstukke van leer.
Die sonde kom deur die vrou in die wêreld. Die Griekse Pandora se nuuskierigheid is die oorsaak van peste en siektes.
God plaas ‘n verbod op die eet van die vrugte van die boom van die lewe. Die Orpheus-taboe: Orpheus mag nie omkyk na sy geliefde Eurydice solank hulle uit die onderwêreld beweeg nie (verg. Lot se vrou).
Moederbelofte: die saad van die vrou sal die slang se kop vermorsel. ·        Babilonië: Semiramis sê na haar seun Ninus se dood dat hy die beloofde saad van die vrou is wat die slang se kop sal vermorsel > vergoding.

·        Die Egiptiese Horus word uitgebeeld waar hy ‘n slang se kop met sy spies deurboor.

Na die vloed vergryp Noag homself aan die vrug van die druif en lê naak in sy tent. Dit lei tot die vervloeking van Gam. Die Hindoes vertel van ene koning Satyavarman wat homself na ‘n groot vloed vergryp het aan heuningbier. Hy het drie seuns gehad: Shem, Sham en Jyapeti. Sham het op sy vader afgekom waar hy naak op sy bed lê en hy is vervloek om sy broers se kneg te wees.
Die toring van Babel word gesien as sonde teen God. Die Babiloniese tempeltoring was ‘n poging om kontak met die gode te bewerkstellig.
God gebruik 10 plae om die Egiptiese farao se opinie te swaai. Enlil en later Baäl gebruik ‘n reeks plae om die mens te tugtig.

Die plaag van Tebes in Sophocles se Koning Eudipus.

God in beheer van die natuur – water uit ‘n rots en klief die Skelfsee. Verslaan die Leviatan. Marduk verslaan die seemonster Yam.
Kanaän is die land van melk en heuning. Josua stuur 12 verspieders om die land te verken. Ras Shamra tablette (opgrawings uit die ou Ugarit) sê: dit reën olyfolie en die riviere loop oor van heuning. Odysseus se vrugbare land van die La-stri-gone. Ook hy stuur verspieders uit en die inwoners is reuse.
God se naam is Elohim, die meervoud van El. El is die hoofgod van die Semitiese panteon.
Uit respek mag God se naam nie uitgespreek word nie. Die Fenisiërs verbied die uitspreek van God se naam uit vrees dat vreemdelinge hom kan oproep en teen sy eie mense draai.
Die wet van Moses beklemtoon liefde vir God en naaste. Die “goue reël” wat universeel is: Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.
Moses moet sy arms in die lug hou om die oorwinning oor die Amalekiete te verseker. Hy word bygestaan deur Hur en Aäron. Die Egiptiese god Shu hou die liggaam van die hemelgodin Nut omhoog om hemel en aarde te skei. Twee hulpgode ondersteun sy arms. Atlas dra die wêreld op sy skouers.
Bileam se pratende donkie Dionysos sit met die eerste babelaas en hy gaan raadpleeg die godin Dodona om ‘n kuur te vind. ‘n Donkie dra hom oor ‘n moeras wat sy weg versper en uit dankbaarheid beloon hy die esel met die gawe van spraak.
Batseba bind vir Simson met sewe toue vas. Hera probeer vir manlief Zeus tem deur hom met die hulp van drie medegode met rieme vas te bind.
Dawid verslaan die reus Goliat en kap sy kop af. Die Ierse held Cuchullain verslaan die gevreesde seuns van Nechtan en kap hulle koppe af.
Dawid tem Saul se buie met sy harpspel. Die visitekaartjie van Orpheus was die lier. Met sy spel kon hy mens en dier bekoor.
Dawid en Jonatan Gilgamesh en sy boesemvriend Enkidu
Dawid die oorwinnaarsheld Die oorlogsprestasies van Achilles

 

NUWE TESTAMENT                  

Ons het die OT onder die loep gehad. Maar die NT is tog sekerlik vry van mitologiese invoede? Die Bybel verklaar self in 2 Petrus 1:16: “Toe ons julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons sy majesteit gesien.” (Gaan die N.T. die toets deurstaan?)

GEBOORTEVERHALE

Madonna en kind: ‘n Egiptiese erfenis (Isis met suigling Horus=seun van Isis en Osiris) 

Van Egipte gepraat: Kom ons vergelyk die geboorte van Jesus met die Egiptiese mitologie.

  • Van beide Horus en Jesus word daar gesê dat hulle voor hulle geboorte bestaan het (pre-eksistensie).
  • Horus word by geboorte as die woord van sy vader beskryf. Sy pleegvader se naam was Seb en sy moeder Nu, ook genoem Meri. Johannes noem vir Jesus die vleesgeworde Woord en sy ouers is Josef (Jo-seb) en Maria. Onnodig om te sê, beide geboortes was maagdelik.
  • Beide Jesus en Horus spog met ‘n adelike afkoms en albei het bekend gestaan as “die eniggebore seun van God.”.
  • Jesus se geboorteplek was Betlehem (wat beteken “Huis van Brood”), terwyl Horus uit Annu kom (wat beteken “Plek van Brood”).
  • ‘n Spesiale ster in die hemel kondig beide geboortes aan. Horus se geboorte word deur drie sterrekykers bygewoon wat die ster Sirius (die môrester) gevolg het as padwyser. Hulle bring geskenke vir die klein kindjie.
  • Die bose koning Herodus wat die kindermoord inisieer, het ‘n voorloper in die persoon van Herut (Herut – Herodus?). Sommige historici is van mening dat Herodus soveel as tien jaar voor Jesus se geboorte aan Palestina onttrek is. Om hom by Jesus se geboorte te betrek, blyk dus ‘n stap te wees wat eerder die mitologie as die geskiedenis dien. Die ooreenkoms tussen die twee heersers se name was waarskynlik net te aantreklik om te ignoreer.
  • Beide moeders ontvang goddelike waarskuwing dat hulle babas in gevaar verkeer. Horus se ouers vlug uit Egipte uit; Jesus se ouers vlug met hulle pasgebore baba na Egipte toe.

Die ooreenkomste eindig egter nie by die geboorteverhale nie

  • Jesus maak die aanspraak dat hy en die Vader een is en wie hom sien, het die Vader gesien. Horus het ook bekend gestaan as die seun in wie die vader gesien kan word.
  • As inkarnasie van die songod was Horus die lig van die wêreld, verteenwoordig deur die alsiende oog van Horus. Hy het ook bekend gestaan as die goeie herder wat tradisioneel uitgebeeld is met ‘n herderstaf in sy hand. Daarom is hy beskou as die lam van God. Al hierdie eienskappe is net so op Jesus oorgedra.
  • Altwee hierdie godseuns het as kinders in tempels onderrig gegee, maar “verdwyn” tussen die ouderdom 12—30, ‘n periode waarvan niemand iets weet nie.
  • Jesus word met die aanvang van sy bediening gedoop deur Johannes die Doper; Horus is gedoop deur Anupp die Doper (beide op dertigjarige ouderdom). Altwee die dopers is later onthoof! Wie van hulle het nou eerste kop verloor? Nie een van die twee kan hierop aanspraak maak nie: sien Orpheuskultus.

(Orpheus se kop)

  • Na die doop word Jesus deur Satan in die woestyn versoek. Horus het dieselfde paadjie geloop: hy word deur die bose Sut op ‘n bergpiek versoek.
  • Horus het twaalf volgelinge gehad wat ooreenstem met Jesus se twaalf dissipels.
  • Jesus het bekend geword as die Christus, Horus was die Krit.
  • Beide ervaar ‘n verheerliking op ‘n berg en het bergpredikasies gelewer.
  • Jesus genees blindes, Horus gee sig aan ‘n mummie.
  • Beide Jesus en Horus het op water geloop.
  • Met die voeding van die skare gebruik Jesus by een geleentheid vyf brode, by ‘n volgende sewe. Horus het twee duisend jaar vroeër sewe brode gebak om Osiris te voed.
  • Horus wek sy vader en ‘n ou man genaamd El-Azar-us uit die dood op, Jesus maak vir Lasarus weer lewendig.
  • Beide Horus en Jesus sterf ‘n kruisdood en word gekruisig tussen twee booswigte. Albei gaan maak ‘n draai in die hel en word na drie dae weer opgewek uit die dood.
  • Die basiese Egiptiese drie-eenheid Osiris, Isis en Horus blyk die model te wees waarop die Christelike Drie-eenheid geskoei is.

So kan ons voortgaan: wyse manne wat hulde bring; die verkyning van ‘n ster; maagdelike konsepsie; stemme/hemelkore wat die geboorte aankondig; verhale oor kinderslagting wat ‘n vlugmotief noodsaak, kom by die geboortes van vele groot godsdienstige leiers voor.

Wat moet ons hievan dink? Een internetkunstenaar druk sy gevoel soos volg uit:

Deja Moo

Op ‘n ernstiger noot – hoe moet ons al hierdie kontaminasie verstaan? Encomium (Robert Funk: Honest to Jesus)

NOG SEDERS VAL

Die volgende konsepte is ook nie uniek Christelik nie:

  • Jesus was nie die enigste “seun van God” nie.
  • Jesus was nie die enigste wonderwerker nie. Al sy wonderwerke – genesings, voeding van skares, opwekking uit die dood, water in wyn verander – word ontleen aan verhale wat lank voor Jesus se bestaan in omloop was.
  • Die doop en nagmaal kom in baie godsdienste voor.
  • Byna elke middelaar tussen God en mens – en daar is baie van hulle! – word beskryf as die “weg.”
  • Die worstelende godseun (Jesus in Getsemane) behoort tot die universele agenda van die mitologiese held.
  • Tradisioneel kom elke held tot ‘n val as gevolg van óf ‘n inherente Achilleshiel óf die verraad van een uit die binnekring.
  • Ook is die held wat sterf om die mens met God te versoen nie uniek Christelik nie… (Ander voorbeelde van plaasvervangende dood om mens met god te versoen: die Persiese held mitras; die Egiptiese god Osiris; Orpheus Bakikos; Odysseus

So is simboliese leengoed uit ander godsdienste deur die vroeë kerk rondom Jesus se verhaal geweef. ‘n Osiris-aanhaling vertel van godsdienstige oortuigings wat 4000 jaar ouer as die Christelike godsdiens is! Tereg kom Campbell tot die gevolgtrekking dat “…the myth of the dead and resurrected god whose being is the life-pulse of the universe has been known to the pagans millenniums before the crucifixion of Christ.”

SLOTGEDAGTES

Mense het deur die eeue heen hulle prentjies van God en hulle idees oor hoe die mens met God versoen kon raak, in verhale uitgedruk. Die kernmotiewe waarvan die Christelike godsdiens hom bedien, kom in die simbole van alle groot godsdienste voor. Maar die Christendom het hierdie verhale gaan verletterlik en dogmas rondom hulle sienings van God geweef wat vir die hedendaagse mens nie meer water hou nie.

Ben Barnard beklemtoon dat die doel van sy navorsing nooit was om godsdiens verdag te maak nie, maar bloot om die taal waarin die Bybel en die Christelike godsdiens geskryf is meer verstaanbaar te maak. Die Bybel buite die mitologiese konteks waarin dit geskryf is, maak eenvoudig nie sin nie! En omgekeerd: as ons die mitologiese inhoud weer na waarde ag, kan ons waarde toevoeg tot die boodskap van die Bybel.

Die outeurs van die Bybel was uitstekende beoefenaars van die verhaalkuns van daardie tyd. Oor die eeue heen het mense met verhale hulle indrukke (beelde) van God aan ander oorgedra. Op die ou end het ons almal tog maar net prentjies van God en ons is die mitologie ewige dank verskuldig dat al hierdie prentjies wat die mens deur die eeue gehad het, mooi in verhaalvorm opgeteken is. Die hoop is dat lesing die weg help oopmaak tot beter begrip van die mitologie.

In die boekweergawe met dieselfde titel, word daar, behalwe oor mitologiese kruisbestuiwing met buurgodsdienste, ook verder gesels oor Jesus as die mitologiese held, mitologiese voorlopers van Jesus, ooreenkomste met ander verlosserfigure, die Messiasversugting van die Jode en die Afrikaner se behoefte aan ‘n De Larey wat die boere moet kom lei, die Christusmite, die stryd tussen die geslagte… en of die opstanding nog sin maak vir ‘n postmoderne Christen.

Ben Barnard