Datum: 20 Mei 2023
Sprekers: Barend la Grange, Piet Croukamp en Marius Herholdt
(Opsommende notas/indrukke van ‘n deelnemer in die gehoor)
Mnr Barend la Grange: Vaderland, Moerland, Voorland – My reis
In die konteks van mens-wees en die diverse omgewings waarin ons bestaan met wisselende begrippe van waardes en uitdagings, deel Barend la Grange op ‘n persoonlike vlak sy reis deur die Suid-Afrikaanse landskap en mense se verlede, hede en toekomsverwagtings. Vandaar die titel van sy voordrag: Vaderland, Moerland, Voorland.
Hy skets kortliks sy herkoms – ’n stabiele konserwatiewe ouerhuis met duidelike riglyne vir die lewe. Sy ma en pa het hulle tradisionele Christelike grondslag stewig vas gelê. Hulle politieke oortuiging was dié van die regering van die dag. As opgroeiende kind was hy voorberei om daarop voort te bou. Só het hy steeds gedink as jongman, vol sekerheid en oortuiging. Die woorde van ’n gewilde liedjie van Johnny Cash, “There are more questions than answers”, het daarom in daardie dae nie veel vir hom beteken nie, want op 19 jarige ouderdom het hy gedink hy weet reeds byna alles.
Tot op 23, toe hy begin besef het hoe min hy eintlik nog weet en hoeveel vrae hy het om te vra, soos Johnny Cash se woorde: “What is life, how do we live / What should we take and how much should we give…” Sy skooltydse voorliefde vir debatvoering hou hy steeds vol, maar hy wil nie meer wen nie, eerder luister en verstaan, oop vir oortuiging.
Hy het begin reis en oor die jare “verslaaf geraak” aan reis, veral deur Afrika, van onder tot heelbo. En sy oë het oopgegaan. Die diversiteit van Afrika (ingesluit die botsende diversiteit in ‘eie geledere’) het hom opgeval en gefassineer – Suid-Afrikaners is nie die uitverkore volk nie. Hy het gesien wat in ander lande gebeur, hoe hulle dinge doen en hy is daardeur verryk.
Hy bemerk ’n verskuiwing in sy eens vaste oortuigings en skryf dit toe aan die verskeidenheid andersoortige insigte waaraan sy reise hom blootgestel het. Sy vrae het nie opgehou nie en die antwoorde (selfs van diegene wat as van die “geringstes” beskou word) het hom vele kere laat rigting aanpas. Hy het geleer om te luister as mense van hom verskil en al meer besef, die lewe is nie ’n vakansie nie, vir niemand nie. Maar as jy reg ingestel is, lyk alles soveel beter. Dan kan mens met oortuiging probeer leef. Deel van hierdie oortuiging is: “Ons luister vandag nie genoeg nie, veral in die politiek.” Hy is nie naïef nie – dit bring mens nêrens. Ons realiteit in Suid-Afrika praat met ons almal, elkeen wat Suid-Afrika as Vaderland beskou en hier geborge en gebonde voel. Ons hoort hier en sal nie toelaat dat ’n korrupte en onbevoegde regering dit verander nie.
La Grange plaas groot klem op verhoudings. Mense moet wegkom van die “hulle/ons”; rasseverhoudings is eerste prioriteit. Ons moet praat en doen. Debatte is gesond; aggressie nie. Hy erken ons politici is treurig en dikwels aggressief. Maar sy ootuiging is: Haal die angel uit die debat. Praat alleen kan egter nie tot probleemoplossing lei nie. Gesamentlike aksies is broodnodig. Hoe en wat ons moet doen, sal ons ook saam moet uitwerk.
Ontnugterde mense vra dikwels na die sin van die lewe. Is daar lewe na die dood? As ons nie weet nie, kan ons met absolute oortuiging leef? Is die lewe slegs sinvol as ons alles reeds weet? Het ons dan te min wete? Te veel twyfel/te min hande en voete? Te min oortuiging?
Hy verwys na vele dorpe in ons land en elders in Afrika waar daar reeds spontane samewerking is. Politiek speel daar geen rol. Dit het hom verder oortuig: Daar is baie moontlikhede. En dit is lekker om daaroor te praat. “Ons het uitdagings in die verlede hanteer – ons het nou ’n krisis. Ons kan dit oplos. Die privaat sektor is reeds met sinvolle dinge besig. Ons is op pad.”
Prof Piet Croucamp: Femelpraatjies met God: Ek verseg om te twyfel, weet baie, maar is nie oortuig nie
Piet Croucamp val kenmerkend met die deur in die huis. Hy het ’n hekel aan oordrewe nederigheid/twyfel. Hy sê: “Baie van die twyfelaars wat vandag hier sit, het lewenservaring van hoe dit voel om uitgespu te wees deur die eens gemeensame ekologie van gelowiges. Dit is ook hoekom ek soveel bewondering het vir mense soos Sakkie Spangenberg, steeds die beste christen wat ek ken, Hansie Wolmarans, en my lieflingvriend, Ben du Toit, wat twyfel vir skeptisisme verruil het. (…) Kom ek wees eerlik, twyfel is waarskynlik menslik, maar dit is ’n enorme mors van tyd… ’n menslike swakheid. Die betekenis van die aarde en alles daarop is groot. Dis nie niks nie.” Mens-wees ook nie.
As ons ’n besef kan vorm van die 14 miljard jare waarin alles ontwikkel het tot nou, kan ons niks waarvan ons as mense deel uitmaak as gering beskou nie. Daaroor is daar geen ruimte vir twyfel en onsekerheid nie. Dit is beter om onsekerheid te vervang met skeptiese ondersoek. Die semantiek van die narratief het ’n bepalende invloed op die diskoers. “Indien ons nie konsensus het wat betref die definisies van twyfel, oortuiging en wete nie, is hierdie gesprek niks meer as klinkende metaal teen die agtergrond van luidende simbale nie.” Daar is egter ’n groeiende besef dat dit nie belangrik is wat ons dink nie, maar wel hóé ons dink en hóé ons ons woorde kies om aan ons denke uitdrukking gee.
Die verlammende effek van nederigheid, verduidelik Croucamp, is dat die onsekerheid en twyfel “ons vermoë inhibeer om weg te staan van die berg en die kompleksiteit van die werklikheid raak te sien”. Twyfel en onsekerheid is moedelose disposisies wat tot gebrekkige besluitnemingsvaardighede aanleiding gee. Dit teer op skaars emosionele energie en veroorsaak passiwiteit. Hy reken dat twyfel ’n geneties geïnduseerde patologie is, ’n skuilplek van vooruitsigloosheid. Vandag stry mense steeds teen psigoses wat moontlik eens ’n evolusionêre oorlewingsfunksie gehad het, of ’n geldige rol kom vervul het as werklikheidsverklaring, soos sterrewiggelary.
Hier teenoor, is skeptisisme die stukrag vir intellektuele innovasie en sinvolle menswees. “Twyfel mag menslik wees, maar ‘don’t indulge’.” Hy gaan voort deur na die breinwerking van skeptiese denkers te verwys, die “skeptiese frontale lob” wil oplossings vind vir al die onsekerhede en twyfel. Om skepties te wees, is om in selfvertroue te wil weet wat jy nog nie weet nie. Nuuskierige selfvertroue het, aldus hom, die spontane ontbrandingsmateriaal van die skeptiese disposisie nodig in die soeke na die ontwykende werklikheid/realiteit. En hierdie nuuskierigheid moet aangemoedig word, veral in die opvoedingsjare van kinders en jeugdiges, in plaas van die voorskriftelike nederigheid en ontmoediging wat ons aantref in geloofsnarratiewe wat nie te veel vrae gevra wil hê nie.
Die Verligting, merk hy op, het juis die proposisie van beste praktyk en die waarde van kompleksiteit as ’n potensiële oplossing veronderstel. Soos Richard Feynman dit gehad het: ‘Wat jy dink, is vir jou eie ontvlugting; dit is hóé jy dink wat onafhanklikheid en begrip bring’. Of soos die filosoof Karl Popper se mees gesagbebbende protégé (die Oxford-fisikus) David Deutsch, dit het: “Die verklaringswaarde van jou gedagtegang sal determineer.”
Om skepties te wees is om te bevraagteken. Dit is die kern van die soeke na sinvolle waarheid.
Croucamp verwys na ’n oomblik van toevallige wysheid in die woorde van ’n bekende predikant van ouds, ds IL de Villiers: “Mense wat bewyse vra, kry gewoonlik nooit genoeg nie. God weet dit, daarom vra hy ons om in geloof te wandel.”
Daarom dan, as nuuskierigheid ’n gruwel is in die oë van die Here, verkies hy (Croucamp) om aan die wrewel van God te ontkom deur sy heil te soek in skeptisisme.
Prof Marius Herholdt: Wete, twyfel en oortuiging as windrigtings van die welwees-kompas
Professor Marius Herholdt beskou ons totale welstand as die verstekstatus (“default”) van menslike bestaan. Dikwels staan verdelende pole van wete versus twyfel in ’n “wisselwerkende dialektiek wat spiraal na groter oortuiging”.
“Wellness is the complete integration of body, mind and spirit – the realization that everything we do, think, feel and believe has an effect on our state of wellbeing.” – Greg Anderson
As teoloog met ’n belangstelling in die kwantum-fisika en berading, stel Herholdt ’n model voor wat hy ontwikkel het as ’n soort werklikheidsgelykenis. Sodanige model kan in ‘n gesprek van singewende ondersoek as nuttige riglyn gebruik word. Sy inspirasie vir die ontwikkeling van die model was ’n soort epifaniese ervaring van die orde wat hy raaksien in die heelal – sy “ghost in the machine”-openbaring was soos “God kom aarde toe”. Dieselfde soort orde, glo hy, behoort tot antwoorde te lei vir ordeskepping tussen polariserende idees en teorieë rondom kontekstuele teologie en sekulêre wetenskap.
’n Diagram van die voorgestelde model:
Die diagram toon die model as ’n plus-teken. Die boonste twee kwadrante verteenwoordig die leefwêreld van idees/idealisme (transendente/geloof) van ons bo-menslike bestaan; die onderste twee die meer tasbare/materiële en wetenskaplik bewese werklikheid.
Links gee uitdrukking aan die subjektiewe of eie belewenis; regs verteenwoordig die objektiewe/meer algemene wêreldbeskouing.
As mens aanvaar dat elke mens ’n eie pad van singewing stap, behoort dit volgens Herholdt voordelig te wees om dit te doen aan die hand van ’n positiewe belewenis van die totaliteit van wat ons dink, glo, voel en doen (daarom die plus-teken in die model). Polarisasie dui op verdelende spanning. Natuurlik is daar sekere waarhede wat kenbaar is, ander nie. Of nog nie. In die uitdrukking van gevoelens en verstaan kom metafore handig te pas. Emosies speel dikwels ook ’n rol en om dit totaal te misken, neig moontlik na verskralende ‘skiëntisme’. Daarom gebruik hy hierdie model om ’n goeie balans aan te beveel wat iewers nader aan die middelpunt te vinde is.
As sinsoekende wesens baat dit ons om in meer diepte te kyk na verdelende polariteite tussen ons en ander. Sodoende kan ons hoop om spannings te oorbrug en eindelik ’n groter blik op ons gedeelde werklikheid te verkry.