Glo as jy moet glo, maar moenie geloof met wetenskap verwar nie.


Daar is geen sin in die lewe nie.
Die sin wat daar is,
is die sin wat jy aan jou lewe gee.

 

Ek het die bogenoemde stelling in ʼn boek geskryf (Homo Deus deur Yuval Noah Harari) wat ek onlangs aan my oudste dogter gegee het. Dit is die logiese gevolgtrekking waartoe enigeen sal kom wat evolusie deur natuurlike seleksie werklik verstaan. Ek het egter daarna baie oor hierdie stelling besin, en so werklik en wetenskaplik-waar soos wat dit is, het ek besef dat daar ‘n nie-rasionele en emosionele dimensie aan verbonde is, wat empatie vereis.

Om konsekwent te wees, moet ‘n mens aanvaar dat vir sommige mense, die sin in hul lewens, hul godsdiens is. Dit is my belewenis dat die godsdienstigheid van die grootste gros kerkgangers, veel meer in gemeen het met ‘n sosiale klub as met ‘n toegewyde lewenswyse gerig op hul God in die eerste plek en hul naaste in die tweede plek, in gelyke dele. Tog het ek in my lewe skouer geskuur met ‘n handjievol gelowiges vir wie hul godsdiens wérklik die sin en betekeinis in hulle lewens is, en ek het geleer om dit te respekteer. Selfs al is dit soms moeilik wanneer apatie, onkunde en naïwiteit voorop staan.

Wat ek hiermee wil sê, is dat geloof OK is. Dat geloof in ʼn onsienlike, menslik-onverstaanbare, bo-natuurlike wese, OK is wanneeer dit vir jou beter lewenskwaliteit verseker. Bly glo en bly gelukkig en bly hoop op beter dinge om te kom. Ek dink elke mens het die reg op hoop en die soeke na geluk.  Moet egter nie geloof en wetenskap met mekaar verwar nie.

Dit bring my by die konsep van Intelligente Ontwerp (IO), wat as kern ten doel het om godsdiens met wetenskap te versoen.

Charles Darwin se 1859 publikasie “On the Origin of Species”, het die mens se verstaan van lewe op aarde fundamenteel verander. Darwin was nie alleen in sy bevinding van die progressiewe ontwikkeling van lewende organismes op aarde nie. Alfred Russel Wallace het in dieselfde tyd maar onafhanklik van Darwin, tot dieselfde gevolgtrekkings gekom. Vrydenkende en intelligente mense het in daardie tyd voortgebou op die Verligting (“Enlightenment“) wat 150 jaar tevore in Europa begin het, en hulself toenemend losgemaak van die indoktrinerende en verslawende invloed van godsdiens.

Nadat Darwin sy hipotese van geleidelike verandering deur natuurlike seleksie in spesies geboekstaaf het, het meeste gelag en gespot. Die gelag en gespot het egter minder en minder geword soos een na die ander wetenskaplike dissipline evolusie deur natuurlike seleksie bevestig het as werklikheid. En so het die evolusieteorie ʼn eksistensiële gevaar vir die drie monoteïstiese godsdienste geword. Die beeld van God moes aangepas word by nuwe omstandighede, soos wat godsbeelde deurlopend oor duisende jare aangepas is. Die Bybel het dit onder andere dat God eers vir Adam uit die grond en toe vir Eva uit Adam se ribbebeen geskape het, nogal “volgens sy beeld“ en sommer ʼn pratende slang bygevoeg het. Evolusie staan natuurlik lynreg teen die skeppingsverhale van Genesis 1-3.

Die dogma van die kerk het onder toenemende druk gekom en die kerk moes reageer. Toe die Rooms Katolieke Kerk, in 1950 by monde van Pous Pius XII erken en oordeel dat daar geen inherente konflik tussen evolusie en die kerklike geloofsleer aangaande die mens en sy roeping was nie, was die skrif spreekwoordelik teen die muur, wat betref die gesag van die Woord van God. Gelukkig vir die kerk, het die verklaring van Pous Pius XII die voorbehoud gehad “…mits sekere voorsorgmaatreëls gehandhaaf word, soos die geloof in die goddelike skepping van siele“. Darwin en die wetenskap ken natuurlik nie so iets soos ʼn “siel“ nie. ʼn Siel is ʼn geloofsaak en nie ʼn entiteit wat wetenskaplik bewys of deur die sinne ervaar kan word nie. Daar was dus nog steeds ʼn gespanne teenstelling tussen die evolusieleer en die dogma van die kerk.

Maar kennis en innovasie groei ook onder denkende en intelligente kerkmense en die kerk kom toe met ʼn innoverende konsep na vore. Sit God in beheer van die evolusieproses en die probleem is opgelos! Dit was dan presies wat gebeur het en die konsep van IO is gebore. Dit het egter eers sterk begin groei in die 1980‘s en 1990‘s, veral in die VSA waar genoeg geld beskikbaar is om enige tema of ideologie te befonds. Groot hoeveelhede geld word in die VSA deur welgestelde gelowiges ingepomp om die Christendom te beskerm teen die sekularisasie van Europa wat nou ʼn sterk wetenskaplike hupstoot van die evolusieteorie ontvang het.

Intelligente Ontwerp is ʼn konsep wat goed inpas by die eeu oue ”God-of-the-Gaps“ fenomeen. Die ”God-of-the-Gaps” begrip is die eerste keer gebruik deur die Skotse wetenskaplike en evangelis Henry Drummond in sy 1904-boek The Ascent of Man. Hy het aangevoer dat evolusie goddelik begelei word, en argumente aangewend om evolusie met ‘n skepper-God te versoen. Die “God-of-the-Gaps“ strategie kom daarop neer dat kreasioniste (mense wat glo dat God alles in die heelal ontwerp en geskep het) proaktief en gretig na gapings in hedendaagse kennis en begrip van natuurverskynsels soek. As ‘n oënskynlike leemte gevind word (areas waar daar steeds ʼn gebrek aan kennis en begrip is), word aanvaar dat God hierdie leemtes by verstek vul. Sulke episodes in die geskiedenis van die wetenskap het so algemeen geword dat die term “God-of-the-Gaps“ ontstaan het, waar God dan die krediet kry vir al die natuurverskynsels wat nog nie deur die wetenskap verduidelik kan word nie.

Daar is en was nog altyd onbeantwoorde vrae, soos byvoorbeeld: Hoe oud is die heelal, is dit staties, word dit groter of kleiner? Of, hoe oud is die aarde en die son? Of, wat het die Oerknal veroorsaak en wat was daar voor die Oerknal? Of, waaruit bestaan die singulariteit (kern) van ʼn gravitasiekolk (“black hole“)? Of, wanneer is ʼn foton ʼn partikel en wanneer ʼn golf en hoe voorspel jy die beweging en posisie van ʼn elektron? (kwantum fisika)? Daar was nog altyd tergende onbeantwoorde vrae gewees en hoe verder mens teruggaan in die verlede, hoe meer onbeantwoorde vrae was daar. Vooruitgang in wetenskaplike navorsing en tegnologie beantwoord egter toenemend van hierdie vrae en vul die leemtes wat voorheen deur God gevul is. ’n Bekende voorbeeld wat die “God-of-the-Gaps“ konsep belig, behels die navorsing, bevindinge en uitsprake van twee prominente wetenskaplikes, Sir Isaac Newton en Pierre Simon-LaPlace, wat ’n eeu uitmekaar geleef het.

Sir Isaac Newton (1643-1727) het in sy 3-volume Principia Mathematica die grondslag gelê vir klassieke meganika en sy natuurwette en wiskundige formules kon die beweging en posisies van die planete met verstommende akkuraatheid voorspel en bepaal. Daar was egter twee verskynsels wat Newton nie kon verklaar nie: a) die vorming van hemelliggame in ʼn elegante plat vlak en rotasie in dieselfde rigting en b) hy was bekommerd dat ʼn akkumulasie van die klein gravitasie-interaksies tussen byvoorbeeld die aarde en Mars wanneer die aarde Mars verbysteek in sy wentelbaan om die son, die gladde verloop van die sonnestelsel sal ontwrig. As ʼn godsdienstige man (soos meeste geleerdes in sy tyd), het Newton geglo dat God se periodieke ingryping nodig was om die beweging van die planete aan die gang te sit en om die gladde verloop en stabiliteit van die sonnestelsel te verseker. Newton was van mening dat natuurlike kragte alleen, nie die harmonie en reëlmaat van die sonnestelsel kan verklaar nie.

Pierre Simon-Laplace (1749-1827) kon later gebruik maak van honderd jaar se wetenskaplike en wiskundige vooruitgang sedert Newton. Hy het voortgebou op Newton en andere se werk en ‘n wydlopende teks geskryf (die 5-volume Celestial Mechanics) wat die werking van die hemelliggame in baie meer detail as Newton verduidelik het. In sy grootse werk het Laplace ‘n omvattende verduideliking verskaf van die dinamika van die sonnestelsel gebaseer op gravitasiekragte alleen, sonder die behoefte aan goddelike ingryping. Terwyl Newton hom beroep het op goddelike ingryping vir aspekte wat hy nie wiskundig kon versoen nie, het Laplace se werk getoon dat selfs hoogs komplekse en oënskynlik onreëlmatige bewegings van die planete verantwoord kan word deur die wette van meganika en swaartekrag.

Hierdie insident het ʼn paradigma skuif veroorsaak, en verduidelikings gebaseer op natuurwette, die oorheersing laat kry bo verduidelikings gebaseer op bonatuurlike oorsake.

Hebreers 11:1 gee vir ons ʼn klinkklare definisie van wat geloof is: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie“. En hierdie definisie is vir my sinoniem met die teorie van IO. Intelligente Ontwerp berus op geloof en nie op wetenskap nie.

Kyk gerus krities na elke stelling of argument van die voorstanders van IO. Hulle hét nie en bied nie ʼn enkele antwoord aan, op enige van die tergende vrae van vandag nie. Al wat hulle in effek doen, is om wetenskaplike teorieë wat die tergende vrae aanspreek, te bevraagteken en uit te wys dat hierdie teorieë nog nie bo alle twyfel bewys is nie. EN DAN die geloofsprong maak en daarop aandring dat ʼn almagtige en alwetende god, nie net deel van die antwoord is nie, maar selfs die onverklaarbare situasie ontwerp en/of vervaardig/daargestel het. Hulle bied egter nooit enige toetsbare hipoteses of voorspellings vir hulle aansprake aan nie, wat ‘n fundamentele vereiste vir ʼn wetenskaplike ondersoek is.

Voorstanders van IO gebruik dikwels die argument van “onherleibare kompleksiteit”, wat lui dat sekere biologiese strukture te kompleks is om inkrementeel deur natuurlike seleksie ontwikkel te kan word. Navorsing het egter getoon dat dit wat onherleibaar kompleks blyk te wees, dikwels deur natuurlike prosesse kan ontwikkel. Daar is getoon dat voorbeelde wat eens as onherleibaar kompleks voorgehou is, soos die oog, die immuunstelsel en die bakteriële flagellum, geloofwaardige evolusionêre weë het.

Dit blyk dat baie voorstanders van IO, evolusionêre teorie verkeerd verstaan en/of verkeerd voorstel. Hulle fokus byvoorbeeld op gapings in die fossielrekord (waarvan daar baie bestaan) sonder om die rykdom van ondersteunende bewyse te erken. Om die Bybel as gesaghebbende wetenskaplike bron te gebruik is absurd. Dit wil voorkom asof IO ondersteuners nie werklik belang het om ernstig by die wetenskap van evolusie betrokke te raak nie.

Opsomming

Die konsep van GOD het homself gemanifesteer as een van die grootste en mees blywende fiktiewe verhale wat ooit deur Homo sapiens geskep is. Soos met fiktiewe verhale, het die konsep van god oor millennia verander om dit werklik en werkbaar te hou. Beide geloof en wetenskap verander voortdurend. Wetenskap vul toenemend leemtes in kennis en begrip en geloof pas aan by veranderende omstandighede. Elkeen staan op sy eie en is onversoenbaar. Glo as jy moet glo, maar doen dit dan soos ʼn kind, soos die Bybel aanbeveel.

Bruwer Swanepoel – Februarie 2024
Skrywer van Faith: Full Circle – The Religious Journey of a Baby-boomer Afrikaner
www.bruwerswanepoel.com