1. INLEIDING
Volgens ’n Wikipedia-artikel is wetenskaplikes wat navorsing oor klimaatsverandering doen dit tans byna 100% eens oor die mensdom se aandeel in die verandering. Die aarde se klimaat het sedert die laat 19de eeu aansienlik verwarm. Hierdie verwarming skryf hulle grootliks toe aan die hoeveelheid kweekhuisgasse (koolsuurgas, metaan en stikstofdioksied) wat die mensdom sedert die Industriële Revolusie (1750) onnadenkend in die atmosfeer vrygelaat het. Daar is egter wetenskaplikes, politici, ekonome en gewone burgers wat meen dat die mensdom se aandeel in klimaatsverandering negeerbaar is. Sommige tipeer dit selfs as ’n wolhaarstorie. Hierdie wolhaarstorie word (volgens hulle) verkondig om die kapitalistiese stelsel te ondermyn en sosialisme te propageer. Dit wil ekonomiese groei tot halt roep en insgelyks tegnologiese vooruitgang verhinder. Hulle wys daarop dat daar nog altyd warmer en kouer periodes op aarde was en dat die een wat ons tans beleef, geen uitsondering is nie. Die verandering wat ons tans beleef, is bloot deel van die natuurlike siklusse wat die aarde se geskiedenis oor miljarde jare kenmerk (vgl Johann Lübbe se brief in Beeld, 29–11–2019).

Tydens my voorbereiding vir die lesing, herinner my rekenaarlêers my dat Erik Holm elf jaar gelede ’n lesing in Midrand gelewer het met die titel “’n Wêreld in krisis”. Daarin het hy geargumenteer dat aardverwarming ’n globale ekologiese krisis is wat terugherlei kan word na die mensdom se morele swakheid. Ons is nou maar eenmaal geneig om swak morele besluite te neem. Ons kies liewer vir ekonomiese vooruitgang op die korttermyn as om briek aan te draai en ons te kwel oor die impak van ons handelinge op die langtermyn. Ses jaar gelede het Gerrit Genis op sy beurt ’n lesing gelewer oor ’n moontlike sesde uitwissing van spesies op aarde wat met die mensdom se handelinge verband hou. Twee jaar gelede het Francois Engelbrecht weer op sy beurt ’n lesing gelewer met die titel “Projeksies van klimaatsverandering in Afrika en die wêreld — hoe vandag se besluite die toekoms bepaal.” Hy is van oortuiging dat die mensdom wél ’n aandeel het aan die veranderinge wat ons beleef en dat regerings dringend die regte besluite sal moet neem. En vergeet ook nie die lesings van Francois Durand nie.

NHNners is dus nie onbekend met die onderwerp van klimaatsverandering en die ekologiese krisis wat die mensdom in die gesig staar nie. Die geweldige veld- en bosbrande wat Australië die afgelope byna vyf maande teister, het die vraag na die mens se aandeel in klimaatsverandering weer na die oppervlak gestoot. In ’n koerantartikel met die titel “Onthou die dinosourusse” (Beeld, 08–01–2020) skryf professor Mike Lee van die Flinders-Universiteit in Australië die volgende:

Die huidige onstuitbare veldbrande is streeksgebonde eerder as wêreldwyd en woed oor ’n kleiner grondoppervlakte as die dinosourus-vuurstorm-scenario. Tog kan die gevolge van die langtermynuitwissings ook ernstig wees, want ons planeet het reeds die helfte van sy woude verloor as gevolg van mense. Hierdie brande is besig om skuiloorde vir biodiversiteit wat al hoe meer krimp, te verwoes. Dit word terselfdertyd bedreig deur ’n mensgemaakte konkoksie van besoedeling, wilde indringerspesies en klimaatsverandering.

Vir my staan dit soos ’n paal bo water dat die mensdom wél ’n aandeel in klimaatsverandering het en dat ’n sesde uitwissing van spesies op aarde hieruit kan voortvloei. Wat hierna volg, is ’n kort bespreking van teorieë, hipoteses en argumente van natuurwetenskaplikes wat my oortuig het.

2. VERSKUIWENDE DENKE EN GELOOF

Ek het al verskeie kere die grappie vertel dat ek vermoed dat ek disleksies was toe ek myself vir teologiese studie by die Universiteit van Stellenbosch in 1971 ingeskryf het. Ek wou eintlik vir Geologie geregistreer het, maar toe skryf ek Teologie. Dis nie heeltemal waar nie, maar na 30 jaar se teologiese navorsing het my belangstelling in geologie skielik ontwaak. Dis te danke aan die kopskuif wat verskeie van ons rondom die millenniumwending gemaak het. Heelwat van ons het afskeid geneem van die tradisionele Christelike meesterverhaal en het ’n nuwe verhaal begin skryf wat verband hou met die moderne natuurwetenskappe wat insluit biologie, geologie, kosmologie, astrofisika, en dies meer. Ons het besef dat ons nie in ’n drie-verdieping-heelal leef wat so kenmerkend van die Bybel en die Christelike belydenisskrifte is nie. Ons leef in ’n uitdyende heelal. Ons het ook besef dat die aarde nie die sentrum van die heelal is nie en die mensdom nog minder. Ons het die Kopernikaanse omwenteling ons eie gemaak en besef dat ons nooit meer dieselfde kan dink en glo nie. Die Afrikaanse digter M.M. Walters (1996:49) verwoord dié omwenteling treffend:

Met Copernikus het die aarde sy waardigheid verloor:
geen middelpunt ooit weer of rusplek vir Sy voet —
net stippeltjie stof in ’n oneindigheid van heelal en planete.
Die hemel is gereduseer tot leë ruim, die mens
tot oomblikke in die geskiedenis van sterre

Onmoontlik is dit om langer te aanvaar
dat die Bedenker, Maker, Mag agter die nuwe opset
na dié stippeltjie sou daal, mens word, ly en sterf
om die sinneloosste van sondes deur niksduidendes.
Ons leef vir altyd in die nachshein van Nikolai Kopernik.

Maar die Kopernikaanse omwenteling van die sestiende eeu was ’n vulletjie in vergelyking met die Darwiniaanse omwenteling van die negentiende eeu (Stewart-Williams 2010). Dit het die finale spyker in die tradisionele teologie se doodskis geslaan. Van ’n sondeval êrens in die mensdom se voorgeskiedenis kon daar nie meer sprake wees nie. Mense is ook nie die kroon van die skepping nie — slegs maar ’n onlangse sytakkie van die boom van lewe soos dit op Aarde ontplooi het. Die Kopernikaanse omwenteling het die oortuiging dat die aarde die sentrum van die heelal is, vernietig; die Darwiniaanse omwenteling het die oortuiging dat mense uniek is omdat hulle “siele” het en dat alles op Aarde om hulle en hul verlossing draai, die nekslag toegedien. Erle Ellis verwoord dit só in sy boekie oor die Antroposeen: “Copernicus and Darwin built new narratives from scientific evidence and humans became just another animal on just another planet orbiting just another ordinary star” (2018: 1).

In die vroeë jare van die een-en-twintigste eeu het die boek van Anne Primavesi met die titel Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science (2000) my aandag getrek. Tydens die lees van die boek het ek besef: hier is ’n vrou aan die woord wat afskeid geneem het van die tradisionele Christelike teologie en wat waagmoed aan die dag lê om die tradisionele teologie te kritiseer in die lig van die nuwere kennis. Sy het die Kopernikaanse en Darwiniaanse omwentelinge verwerk; die foutlyne in die tradisionele teologie uitgewys en Jesus as ’n gewone mens geskets. Vir seker was hy nie 100% mens en 100% God soos die tradisionele dogmatiek dit aan ons voorhou nie. Wie dít nog glo, het die moderne evolusionêre biologie nog nie hul eie gemaak nie. Maar vir haar is Jesus se lewe steeds belangrik omdat hy vir waarheid, liefde, geregtigheid en vryheid gestaan het, maar ook omdat hy een van miljoene mense in die geskiedenis is wat aan die hand van imperiale maghebbers gesterf het. “I lament his recorded death as a victim of imperial militarism, representitive of all victims of militarist regimes which still today inflict torture and death on those who threaten them” (Primavesi 2000:41).

Die kennis wat sy ten opsigte van die evolusionêre biologie en die aarde as sisteem verwerf het, het sy gebruik om ’n nuwe teologie te formuleer. Dis ’n teologie gevoed deur ’n nuwe mens- en wêreldbeskouing. Dis ’n teologie gevoed deur die wete dat mense deel is van alles wat op Aarde leef en al geleef het. Dis ’n teologie waarvan die fokus verskuif het van ’n hemel as die einddoel vir mense na die aarde waarop lewe ontstaan het en waar plant- en dierspesies uitsterf vanweë die mens se toedoen. Sy lewer daarom die pleidooi dat teologie deel moet word van Aardsisteemwetenskap. Dis in haar boek dat ek vir die eerste keer gelees het van “Earth System Science”.

Hierdie wetenskap hou verband met James Lovelock (1919–) en Lynn Margulis (1938–2011) se Gaia-hipotese. Hulle het hierdie hipotese in 1970 geformuleer en daarop gewys dat klein organismes verantwoordelik was vir die aarde se derde atmosfeer. Die één wat suurstofryk is en wat lewe soos ons dit ken, moontlik maak. Hulle het geargumenteer dat die biosfeer die atmosfeer beïnvloed om ’n klimaat op Aarde te skep wat lewe moontlik maak en kan onderhou (Lenton 2016:4). Maar dit geld ook van die geosfeer en die hidrosfeer. Hierdie sfere het almal daartoe bygedra dat lewe hier op Aarde kon ontstaan en ontplooi. Hulle dra steeds daartoe by om lewe in stand te hou, maar, het hy opgemerk, die mensdom is sedert die Industriële Revolusie besig om die aarde se vermoë om lewe te onderhou, te ondermyn (Lovelock 2016, 2006). Mense is besig om die vier sfere wat ’n relatief stabiele klimaat op Aarde daargestel en lewe moontlik gemaak het, deur hul handelinge te ontwrig.

Heelwat wetenskaplikes het die Gaia-hipotese aanvanklik afgelag. Een van hulle was Richard Dawkins (vgl Gribben & Gribben 2009:156), maar Lovelock en Margulis het hulle nie deur die kritiek laat onderkry nie. Hulle het met hul navorsing en publikasies voortgegaan. Lovelock het die hipotese later bewys met ’n eksperiment wat hy “Daisyworld” genoem het.

Enkele jare later het hy die boek The Revenge of Gaia: Why the Earth is Fighting Back – and How we Can Still Save Humanity (Lovelock 2006) gepubliseer en drie jaar later ’n boek met die titel The Vanishing Face of Gaia: A Final Warning (Lovelock 2009). Hierin vertel hy meer van sy en ander se stryd om mense te oortuig dat klimaatsverandering ’n realiteit is en ernstige gevolge vir alle spesies op Aarde inhou: “It was not until 2004 that a few of us around the world, including Tim Flannery and Al Gore, came to the insight that climate change was more than an academic scientific project but instead a menacing reality, and one that threatens all of us” (Lovelock 2009:128).

3. AARDSISTEEMWETENSKAP

Lovelock se Gaia-hipotese word vandag gedeeltelik aanvaar — al is dit in ’n gewysigde formaat. Aardwetenskaplikes verkies om liefs van “Earth System Science” te praat as van die Gaia-hipotese (Skinner & Murck 2011:431; Scholes, Scholes & Lucas 2015:48; Lenton 2016:4–7). Hulle erken dat die aarde ’n sisteem is wat uit verskillende komponente bestaan wat deur hulle onderlinge samehang mekaar beïnvloed en sodoende die groter sisteem se werking positief of negatief beïnvloed. Daar is vier sfere op aarde wat deel vorm van die groter aardsisteem. Hierdie vier is: (1) die geosfeer, (2) die atmosfeer, (3) die biosfeer en (4) die hidrosfeer. Hierdie vier sfere funksioneer in noue samehang met mekaar en het uiteindelik daartoe bygedra dat lewe op aarde ontstaan het. Hierdie vier sfere dra steeds daartoe by dat lewe op aarde bly voortbestaan. Wat Aardsisteemwetenskaplikes in aanmerking neem, is dat veranderinge in die een sfeer ’n invloed uitoefen op die ander drie sfere en gevolglik op die ganse aarde.

Een van die belangrikste “drywers” van die Aardsisteem, is die Son. Die Son voorsien die Aarde van energie en hierdie energie het ’n impak op die vier sfere. Sonder die son sou die aarde ’n lewelose plek gewees het. Beter gestel, te veel of te min sonenergie sou ’n totaal ander soort planeet as Aarde tot gevolg gehad het. Ons twee buurplanete (Venus en Mars) is hiervan getuienis. Aarde is net op die regte afstand van die son geleë sodat dit nie té warm en ook nie té koud is nie. Voorts is Aarde groot genoeg sodat sy aantrekkingskrag gasse in sy atmosfeer gevange kan hou. Ons moet egter nie die Maan buite rekening laat nie. Die Maan stabiliseer die Aarde se omwenteling om sy as en beïnvloed ook die seegetye op Aarde. Die Maan was miljoene jare gelede heelwat nader aan die aarde en dit het geweldige hoë seegetye en -golwe tot gevolg gehad wat die kontinente en eilande se kusgebiede gereeld oorspoel het. Mettertyd het die Maan ’n posisie bereik wat meer bevorderlik was vir seelewe op die kontinentale bank.

Om te verstaan waarom wetenskaplikes verkies om van Aardsistemwetenskap te praat, moet mens weet wat met sisteemteorie bedoel word. Vir ’n sisteme om te bly funksioneer soos voorheen, moet dit min of meer stabiel bly. Sou daar aan die komponente van die sisteem gepeuter word, kan dit die groter sisteem destabiliseer met ernstige en minder ernstige gevolge. Die aarde is ’n baie komplekse sisteem wat uit verskillende komponente (of sfere) bestaan wat elkeen op hul beurt mekaar en die groter sisteem beïnvloed.

Komplekse sisteme bly egter nie stabiel nie. Daar is gedurigdeur dinge wat gebeur wat ’n sisteem se stabiliteit beïnvloed en verander. Sommige gebeure versterk die funksionering van die sisteem, terwyl ander op hulle beurt die funksionering van die sisteem verswak en selfs ondermyn. Aardwetenskaplikes verwys hierna as positiewe en negatiewe terugvoere. ’n Positiewe terugvoer bespoedig verandering, terwyl ’n negatiewe terugvoer die sisteem stabiel hou, maar selfs in “trurat” kan sit.

Die Aarde kan net lewe bly onderhou soos dit nou al vir miljoene jare doen indien die energievloei min of meer konstant bly en die verskillende subsisteme ondersteunend op mekaar inwerk. Indien die son skielik warmer sou word, sal meer water uit die oseane verdamp en dit kan die atmosfeer destabiliseer omdat daar meer waterdamp in die atmosfeer is. Meer waterdamp in die atmosfeer kan daartoe lei dat daar meer wolke gevorm word wat daartoe kan lei dat meer reën op die kontinente en eilande val. Meer reën beteken dat vloede kan ontstaan wat die plantegroei ontwortel en wegspoel. Maar vloede spoel gewoonlik ook die vrugbare bogrond see toe en hierdie bogrond kan seelewe wat veral digby en op die kontinentale bank (“continental shelf”) leef, dood. Meer waterdamp in die atmosfeer kan ook daartoe bydra dat die aarde verwarm, omdat waterdamp die hitte wat die son na die aarde straal, verhinder om uit die atmosfeer te ontsnap. Die hitte word soos in ’n “kweekhuis” binnegehou.

Maar meer wolke in die atmosfeer, kan ook daartoe bydra dat die Aarde afkoel en dat die Aarde mettertyd na ’n koeler fase terugkeer. Maar wetenskaplikes wys daarop dat wolke alleen nie baie effektief is om die Aarde af te koel nie. Ysvelde soos Groenland en Antarktika lewer ’n groter bydrae.

Een van die wonderlikste boeke wat ek raakgeloop het nadat ek van Aardsisteemwetenskap kennis geneem en ’n kursus of twee in Geologie bygewoon het, is die handboek The Blue Planet: An Introduction to Earth System Sience van Brian Skinner en Barbara Murck (2011). Hulle omskryf Aardsisteemwetenskap soos volg: “Earth system science is the science that studies the whole planet as a system of innumerable interacting parts and focuses on the changes within and among those parts” (Skinner & Murck 2011:6). In die boek behandel hulle die verskillende sfere van die aardsisteme en hulle invloed op mekaar. Onlangs het ek die boeke Earth System Science (Lenton 2016) en Anthropocene (Ellis 2018) in die reeks “Oxfored Very Short Introductions” raakgeloop. Beide skrywers is gerekende wetenskaplikes in hul onderskeie navorsingsvelde en die twee boekies is juwele.

Tot dusver het ek net na vier sfere of subsisteme verwys, naamlik die geosfeer, die atmosfeer, die biosfeer en die hidrosfeer en hul onderlinge beïnvloeding van mekaar en die ganse Aarde. Aardsisteemwetenskaplikes wys egter daarop die mens — veral die spesie homo sapiens — ’n groot invloed op die aarde begin uitoefen het na die ontdekking en hantering van vuur en die oorgang van jagter-versamelaargroepe na landbougroepe (Lenton 2016:77–78). ’n Vyfde subsisteem of sfeer is gevolglik bygevoeg: die Antroposfeer.

’n Diagrammatiese voorstelling van die vyf sfere van die Aardsisteem en hul noue verweefdheid. Verandering in die een sfeer het ’n impak op die ander.

4. DIE ANTROPOSFEER

Dis maar eers onlangs dat Aardwetenskaplikes besef het dat die mensdom ook ’n impak op die Aardsisteem het en gevolglik het hulle die Antroposfeer by die ander vier sfere gevoeg. Die meeste van hulle sal die volgende opmerking van Brian Skinner en Barbara Murck (2011:574) heelhartig onderskryf: “Humans, as a collective, have altered the Earth system to a greater extent than any organism throughout Earth history, aside from cyanobacteria.” Die mensdom se handelinge beïnvloed al vier die sfere en uiteindelik die ganse Aardsisteem. Ter illustrasie noem ek slegs ’n paar voorbeelde van die Antroposfeer se impak op die ander vier sfere en dus op die Aarde as geheel. Maar voor dit kan ons gerus net eers kennis neem van die geweldige bevolkingsontploffing wat sedert die begin van die twintigste eeu plaasgevind het. Die wêreldbevolking het gegroei van 2 miljard in 1930 tot oor die 7 miljard in 2010. Sommige wetenskaplikes bereken dat die wêreldbevolking op pad is na 8 miljard en dat ons dit rondom 2025 die getal sal bereik. Die kanse is groot dat die wêreldbevolking teen die einde van die eeu op 11 miljard sal staan (Lenton 2016:81).

Eerstens die mensdom se impak op die geosfeer. Hier kan ons dink aan landbou- en mynbou-aktiwiteit (Loenton 2016:78–79). Groot natuurlike woude en dikwels ook Savana’s is al vernietig (en word steeds vernietig) om gebiede te skep vir landbou- en bosbou-aktiwiteit. Verder bedryf mynmaatskappye deesdae groot oopgroefmyne. Berge word selfs platgewerk of gedeeltelik platgewerk. Neem die berg by Thabazimbi as voorbeeld en vergeet nie die groot oopgroefmyn by Phalaborwa, die Sishen-myn digby Kathu en diamantmyne soos die Cullinan-myn en die Jagersfonteinmyn nie. En dan kan ek nie nalaat om die baie steenkoolmyne in die Mpumalanga-provinsie te vermeld nie. Hierdie mynbedrywighede besoedel dikwels die natuurlike vleilande, spruite, rivier en mere en het ’n geweldige impak op die biosfeer in hul omgewing.

Afgesien van landbou- en mynbou-aktiwiteit het die bou van groot stede ook ’n invloed op die geosfeer. Net soos in die geval van land- en mynbou word groot gebiede van die Aarde omvorm om plek te maak vir mense en hul bedrywighede. Die moderne stede met hul teerpaaie en hoë geboue funksioneer verder as hitteversamelaars en stoorders wat die atmosfeer vir seker beïnvloed.

Wat die hidrosfeer betref, verdien die bou van damme in riviere vermelding en die onttrekking van water uit onderaardse riviere, mere en waterare. Afgesien daarvan dat damme die natuurlike vloei van riviere belemmer, bedek hulle groot oppervlaktes van die Aarde waar ’n verskeidenheid plante en diere gefloreer het. Groot damme kan ook aardbewings tot gevolg hê, soos wat die Basotho’s beleef het na die voltooiing van die Katsedam in Lesotho. Die soeke na olie en aardgas op die rand van die kontinentplate besoedel dikwels die oseane. Ons stede dra by tot die besoedeling van vleilande, mere, spruite en riviere, want daar moet voorsiening gemaak word vir riolering en vullisverwydering. Rioolaanlegte en vullisgate dra op hule beurt by tot metaangasvrystellings. Voorts het heelwat stede en groot dorpe fabrieke. Hierdie fabrieke kan slegs bedryf word as daar genoeg water en elektrisiteit beskikbaar is. In ons land word elektrisiteit hoofsaaklik deur steenkoolkragsentrales opgewek en hulle is groot besoedelaars van die atmosfeer. Maar van die fabrieke is ook skuldig hieraan. Die papiervervaardiger Sappi, die chemiese aanlegte van Sasol en die staalfabrieke van ArcerolMittal kan as voorbeelde dien. Hulle besoedel dikwels nie net die hidrosfeer nie maar ook die atmosfeer, die geosfeer en die biosfeer.

Die mensdom se impak op die biosfeer is eweneens omvangryk. Landbouaktiwiteit lei daartoe dat groot dele van die aarde se biodiversiteit vernietig word. In die plek daarvan kom landerye met eentonige monokulture tot stand. Dink aan die groot mielie-, koring-, sorgum-, sonneblom- en hawerlandery in ons land. Selfs die Suid- en Noord-Kaapse wingerde, die groot sitrusplase in Mpumalanga en Limpopo asook die suikerrietplantasies van KwaZulu-Natal dra by tot eentonige monokulture. Die bemesting van hierdie landerye, wingerde en boorde lei dikwels daartoe dat water wat met kunsmis verryk is in spruite, riviere, vleilande en mere beland. Dit gee dikwels aanleiding tot ongewensde alggroei in damme en mere. Hierdie alggroei verorber die natuurlike suurstof in die water tot nadeel van ander waterlewende diere en visse. Maar dis nie net kunsmis wat riviere besoedel nie. Die landery, wingerde en boorde word dikwels met gifstowwe bespuiting en dit het ’n soortgelyke effek. In hierdie geval bevorder die gifstowwe nie groei nie, maar maak dit organismes, visse en amfibië dood.

Die mensdom se impak op die atmosfeer dra meer as die ander sfere by tot klimaatsverandering. Motors, busse, treine, vliegtuie en skepe se uitlaatgasse het ’n beduidende invloed op die atmosfeer. Petroleum, diesel en parafien stel heelwat koolsofmonoksied, koolsuurgas en swaeldioksied tydens verbranding vry. Dit geld ook van steenkoolkragsentrales en sementfabrieke. Afgesien hiervan stel herkouers heelwat metaangas vry. Onder hierdie diere beklee beeste ’n voorrang. Melkplase en voerkrale is na regte “metaan-gasfabrieke”. Dit geld ook van die sogenaamde “ryspadies” of landerye waar rys gekweek word.

Voor die Industriële Revolusie (ongeveer twee en ’n halwe eeu gelede) het die Aarde se atmosfeer uit die volgende gasse bestaan: stikstof (78%), suurstof (21%) en ’n lang lys ander gasse waaronder argon (0.93%), koolsuurgas (0.03%) en metaan (0.001%). Die Aarde se gemiddelde temperatuur (land, see en ys) vóór die Industriële Revolusie was 150C. Sedertdien het die mensdom deur hulle handelinge ekstra koolsuurgas bygevoeg. Koolsuurgas het aanvanklik 285 deeltjies per miljoen van die atmosfeer uitgemaak. Dit gee die syfer van 0.03%. Tans is ons op pad na 570 deeltjies per miljoen wat ons uitbring by 0.06% van die atmosfeer. Hierdie styging in koolsuurgas (CO2) kan die gemiddelde temperatuur van die Aarde met 1.20C verhoog.

Die mensdom het egter deur hul steenkoolkragsentrales, fabrieke en plase ook metaanggas (CH4) en koolstofdioksied (N2O) vrygelaat wat beide kweekhuisgasse is. Hierdie gasse dra verder by tot die gemiddelde temperatuurstyging. Wetenskaplikes bereken dat ons op ’n gemiddelde styging van 3.50C hierdie eeu kan reken: “Accounting for everything we can, there is a 90% chance that average global warming for a 570 ppm CO2 world is 2–60C, with a most likely global average value of 3.50C” (Scholes, Scholes & Lucas 2015:6). Wetenskaplikes wys daarop dat waterdamp selfs ’n groter rol as koolsuurgas speel in die skep van ’n kweekhuisatmosfeer (Scholes, Scholes & Lucas 2015:7) en dis waarom van hulle reken dat ons selfs aan ’n styging van 3.50C kan dink.

Die verwarming van die atmosfeer, die geosfeer en die hidrosfeer het ’n groter effek op Suid-Afrika vanweë ons ligging op die aardbol wat beïnvloed word deur die El Niño-effek in die Stille Oseaan wes van Suid-Amerika. Wetenskaplikes bereken dat die binneland van Suid-Afrika gereed kan maak vir dubbel die verhoging van die gemiddelde lugtemperatuur. Indien die gemiddelde temperatuur met 20C oor die wêreld heen sou styg, sal Bloemfontein se temperatuur met 40C styg.

In 2010 het die gemiddelde lugtemperatuur naby aan die aardoppervlakte reeds met 0.80C gestyg in vergelyking met die gemiddelde lugtemperatuur in 1870 toe wetenskaplikes begin het om metings te neem en noukeurig boek te hou (Scholes, Scholes & Lucas 2015:23). As die mensdom nie briek begin aandraai nie, kan ons kinders en kleinkinders met uitermate hoë temperature later in die eeu te doen kry.

Uit hierdie kort weergawe behoort dit hopelik duidelik te wees dat die mensdom sedert die Industriële Revolusie ’n geweldige invloed op die ander aardsfere uitgeoefen het en steeds uitoefen, en dat wetenskaplikes tereg ’n vyfde sfeer (die Antroposfeer) tot hul studie van die Aardsisteem bygevoeg het. Voorts behoort dit duidelik te wees dat die mensdom sedert die Industriële Revolusie ’n geweldige hoeveelheid kweekhuisgasse in die atmosfeer vrygelaat het wat gelei het tot die aardverwarming wat ons tans beleef. Die enorme aanwas van die wêreldbevolking dra ook daartoe by dat ons ander spesies verdring en uitwis in ons oorlewingsdrang. Verder het gierigheid en die verbruikerskultuur op ons denke en handelinge beslag gelê en baie mense jaag ’n leefstyl van weelde en oorvloed na sonder om aan die gevolge van so ’n leefstyl na te dink.

5. DIE ANTROPOSEEN

Met die erkenning dat die mensdom ook as ’n komponent van die Aardsisteem gereken moet word, het sommige geoloë ’n voorstel gemaak dat daar ruimte gemaak kan word vir ’n nuwe geologiese tydperk bekend as die “Antroposeen”. Daar het gevolglik ’n debat ontstaan oor wat as die begindatum van hierdie tydperk geneem kan word. Die volgende is voorgestel en beredeneer:
• Die tyd toe die mensdom vuur begin gebruik het.
Tekens daarvan is op ’n paar plekke op Aarde gevind, maar dit is gereken ’n te skrale aanduiding van die begin van die Antroposeen.
• Die begin van landbou-aktiwiteit.
Mense het inderdaad ’n verandering aan die aardoppervlakte teweeg gebring, maar die beswaar was (soos in die vorige geval) dat dit nie wydverspreid oor die aarde voorkom nie.
• Die sogenaamde “Groot versnelling”, oftewel die begin van die Industriële era.
Die begin van die Industriële era is ’n baie belangrike datum, maar ook in hierdie geval kan daar nie bewyse dwarsoor die Aarde gevind word wat 1750 as begindatum kan regverdig nie.
• Die aanbreek van die Atoomera (1945).
Hierdie lyk na ’n geskikte datum, want die mens se gebruik van kernwapens in oorlogvoering asook die mensdom se oprigting van kernkragsentrales om energie op te wek, het bewyse dwarsoor die wêreld nagelaat. Daar is geen plek op aarde waar daar nie al kerndeeltjies in sediment gevind is wat verband hou met mense se gebruik van kernmateriaal nie.

6. TEENARGUMENTE

Daar is heelwat wetenskaplikes wat argumenteer dat aardverwarming deel van die normale siklusse is wat die Aarde se geskiedenis kenmerk. Volgens hulle het navorsing uitgewys dat kouer en warmer periodes op Aarde mekaar gereeld afwissel. Sommige van hulle beroep hulle op die navorsing wat Milutin Milankovitch (1879–1958) kort voor, tydens en na die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) gedoen het.

Milankovitch het byvoorbeeld bereken dat die aarde se roteeras nie konstant bly nie. Dit wissel tussen 22.10 en 24.50. Hierdie verskuiwing vind oor 41 oo jaar plaas en dit het ’n effek op watter dele van die aardbol minder of meer na die son gedraai is tydens die somermaande in die noordelike en suidelike halfrond. Maar afgesien hiervan, slinger die Aarde soos ’n tol wat spoed verloor. Hierdie wisseling geskied oor ’n periode van 23 000 jaar en het ook ’n invloed op die hoeveelheid aardoppervlakte wat aan sonstrale blootgestel word. Maar dis nie al nie. Melankovitch het bereken dat die aarde se wentelbaan om die son nie sirkelvormig is nie, maar dat dit soms meer elipties raak vanweë Jupiter en Saturnus se aantrekkingskrag. Hierdie wisseling geskied oor ’n periode van rofweg 100 000 jare en dit bring die aarde soms nader aan die son as ander kere. Op grond van hierdie wisselinge kon hy wetenskaplik bewyse aanvoer vir klimaatsveranderinge. Tog wys klimaatswetenskaplikes daarop dat hierdie veranderinge nie as bewyse kan dien vir wat die klimaatsverandering wat ons tans beleef nie. Ons beleef ’n ongekende verwarming van die klimaat en ’n baie kort periode (byna 300 jaar).

Ander wetenskaplikes beklemtoon die invloed van die sonvlekke op temperature op Aarde. Dit is inderdaad so dat “ontploffings” op die son se oppervlakte tot groot uitstralings van energie lei wat die aarde se oppevlakhitte kan beïnvloed. Dit kan egter nie as argument gebruik word nie, want daar was nie ’n groot en aanhoudende uitbarstings die afgelope 300 jaar nie.

Nog ander wetenskaplikes wat beweer dat die mensdom nie so baie CO2 die afgelope 300 jaar vrygestel het nie. Die biosfeer is meer betrokke by die styging van CO2. Dit kan nie weggeredeneer word dat die biosfeer wel verantwoordelik is vir CO2. in die atmosfeer nie, maar die argument bring egter nie die ander kweekhuisgasse in berekening waarvoor die mensdom verantwoordelik is nie. Dink aan die groot hoeveelheid metaangas (CH4) wat in die atmosfeer nagespeur is en wat direk verband hou met die mensdom se handelinge.

Dat ons met natuurlike siklusse rekening moet hou, val nie te betwyfel nie, maar die skielike styging in die temperatuur dwarsoor die Aarde die afgelope byna 300 jaar laat die skaal meer in die rigting van die mensdom se aandeel swaai.

7. SLOT

Die Oxford Distionaries het verlede jaar die woord “Climate emergency” (klimaatnoodtoestand/klimaatkrisis) tot woord van die jaar verklaar (Beeld, 22–11–2019). Ander woorde op die kortlys was “uitwissing”, “eko-angs” en “aardverhitting”. Volgens Katherine Connor Martin, redakteur van die woordeboek, was dit duidelik dat mense verlede jaar baie oor die klimaat gepraat het. Volgens die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) was 2019 die tweede warmste jaar sedert pre-industriële jare. Die jaar 2016 was die warmste jaar nog, maar 2019 is slegs ’n kortkop agter (Daily Maverick, 16–01–2020). Na my mening het ons die kantelpunt (“tipping point”) van aardverwarming oorgesteek. Ons kan nie meer iets doen om aardverwarming te keer, of om te keer nie. Ons kan slegs maar die gevolge van die verwarming probeer bestuur. Dit is waar — die aarde het ’n lang geskiedenis van verandering. Daar was al verskillende “soorte Aardes”. Robert Hazen vertel ’n baie mooi verhaal hieroor in sy boek The Story of Earth (2013). Ons kan egter nie dít as argument gebruik om hande gevou te sit nie. Wat op die spel is, is die uitwissing van spesies — waarvan die mens deel is. Aardverwarming raak nie net Australië nie. Die effek daarvan gaan elke ander kontinent tref — ook Afrika. Suid-Afrika se temperature gaan in die volgende dekades die hoogte inskiet en reënvalpatrone gaan verander. Hierdie verandering gaan nie net ’n impak op landbou en bosbou, voedsel- en watervoorsiening hê nie. Dit gaan die grense van ons medemenslikheid toets soos geen ander gebeure dit al getoets het nie.

Robert Hazen se opmerking in sy boek The Story of Earth (2013: 276) is in die kol: “Present indicators point to a coming episode of global warming and melting glaciers, most probably influenced and accelerated by human activities. Over the next hundred years, the consequences of this warming will affect many people in many different ways” (Hazen 2013: 276). Hierdie verwarming van die aarde dra ook by tot die uitwissing van plant- en dierspesies. “Whatever else transpires over the coming century, it does appear that we are entering a time of accerated extinction” (Hazen 2013: 278).

Dit is onteenseglik waar dat ’n mens nooit 100% objektief is nie. Jy vind eenvoudig aanklank by sekere wetenskaplikes. Hulle soort argumentvoering en die wyse waarop hulle hulleself uitdruk, spreek jou aan. In my jare van teologiese studie het Ferdinand Deist, Jimmie Loader, Willem Vorster, David Bosch en ander se navorsing my meer aangespreek as byvoorbeeld die navorsing van Pieter Verhoef, Jac Muller, FJM Potgieter en ander. ’n Mens sou maklik my dit voor die kop kon gooi dat ek maar net self liberaal was en dat die “liberale” teoloë en Bybelwetenskaplikes my daarom beïndruk het, terwyl die “konserwatiewe” teoloë en Bybelwetenskaplikes my afgestoot het. In die teologie en die Bybelwetenskappe is hierdie geliefde bordjies om navorsers om te hang, maar toe open Lester Grabbe (’n Britse Ou-Testamentikus) op ’n dag my oë tydens die lees van een van sy artikels oor die boek Daniël. Hy het geskryf: “There is no such a thing as ‘liberal’ scholarship versus ‘conservative’ scholarship. Scholarship by its very nature is always liberal, and all scholars by definition are critics. That is, scholarship is a method of inquiring which implies being neither bound to dogma nor afraid to challenge the status quo. To be a scholar is to make judgments, to be a judge — a critic. All scholars have to challenge arguments, to weigh evidence, to exercise scepticism rather than taking things at their surface contents. It requires independence” (Grabbe 1987:146).

Hierdie stuk wysheid geld vir seker ook vir ander studievelde. Daar is nie konserwatiewe navorsers en meer vrydenkendes nie. Alle navorsers moet bereid wees om hipoteses en teorieë te toets. Maar dan is dit wel so dat navorsers nie anders kan nie as om hulle soms op ander se navorsing te beroep ten einde ’n argument te kan voer. Navorsers kan vir seker nie telkens by die 0-punt begin nie. Ons behoort sekere outoriteite se navorsing en oordeel te kan vertrou. Dit geld nie net van Nicolas Kopernikus, Galileo Galilei, Charles Darwin, en ander nie, maar vir seker ook ten opsigte van James Lovelock, Lynn Margulis, Brian Skinner en Barbara Murck, Erle Ellis, Tim Lenton, Bob Scholes, Mary Scholes en Mike Lucas, en ander. Dit gee my die moed om wel te kan sê dat aardverwarming met die handelinge van die mensdom oor die afgelope byna 300 jaar verband hou. Die geweldige bevolkingsontploffing wat die Aarde sedertdien ervaar het, is ’n verdere faktor wat beslis nie buite rekening gelaat kan word nie.

Bibliografie

Caldicott, Helen. 2009. If You Love This Planet: A plan to heal the earth. New York: W.W. Norton & Co.
Chomsky, Noam. 2015. Because We Say so. London: Hamish Hamilton.
Ellis, Erle C. 2018. Anthropocene: A Very Short Introduction. Oxford: Oxford University Press. (Oxford Very Short Introductions 558.)
Goudie, Andrew. 2013. The Human Impact on the Natural Environment: Past, present and future. Chichester: Wiley-Blackwell.
Grabbe, Lester L. 1987. Fundamentalism and Scholarship: The Case of Daniel, in Thompson, BP (ed), Scripture: Meaning and Method. Essays presented to Anthony Tyrrell Hanson, 133–152. Hull: Hull University Press.
Gribbin, John & Bribbin, Mary 2009. He Knew He Was Right: The irrepressible life of James Lovelock and Gaia. London: Allen Lane.
Hazen, Robert M. 2013. The Story of Earth: The first 4.5 billion years, from stardust to living planet. New York: Penguin Books.
Holm, Erik 2009. ’n Wêreld in krisis. (Lesing gelewer op 18 Oktober 2009 tydens ’n byeenkoms van die NHN in Midrand.)
Horn, Jan 2020. As die land net aanhou brand. VryeWeekblad, 10 Januarie 2020. https://www.vryeweekblad.com/nuus-en-politiek/2020-01-09-as-die-land-net-aanhou-brand/?utm
Klimaatkrisis is Oxford se woord van die jaar vir 2019, Beeld, 22 November.
Lee, Mike 2020. Onthou die dinosourusse. Beeld, 8 Januarie, p.
Lenton, Tim 2016. Earth System Science: A Very Short Introduction. Oxford: Oxford University Press. (Oxford Very Short Introductions 464.)
Lovelock, James 2016 [1979]. Gaia: A new look at life on Earth. (2nd ed.) Oxford: Oxford University Press. (Oxford Landmark Science.)
Lovelock, James 2006. The Revenge of Gaia: Why the Earth is fighting back — and How we can still save humanity. London: Penguin.
Lovelock, James 2009. The Vanishing Face of Gaia: A Final Warning. London: Allen Lane.
Lübbe, Johann 2019. Aardverhitting natuurlik? Beeld, 28 Oktober 2019, p. 8
Marshall, Howard 1993. Faith and scholarship. Themelios 19(1), 35.
Milanković, Milutin. https://en.wikipedia.org/wiki/Milutin_Milankovi%C4%87 (26 Desember 2019 geraadpleeg.)
Norman, Nick 2010. The Extraordinary World of Diamonds. Auckland Park: Jacana
Primavesi, Anne 2000. Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science. London: Routledge.
Scholes, Bob, Scholes, Mary & Lucas, Mike 2015. Climate Change: Briefings from Southern Africa. Johannesburg: Wits University Press.
Skinner, Brain J. & Murck, Barbara W. 2011. The Blue Planet: An Introduction to Earth System Sience. Hoboken: John Wiley & Sons.
Spangenberg, Izak J.J. 2016. Albert Schweitzer: Herald of the ‘greening’ of Christianity, in Spangenberg, IJJ & Landman, C (eds.), Legacies of Albert Schweitzer reconsidered, 243–269. Cape Town: AOSIS.
Stewart-Williams, Steve 2010. Darwin, God and the Meaning of Life: How evolutionary theory undermines everything you thought you knew. New York: Cambridge University Press.
Venter, Eben 2020. Monster-bosbrande: Dit is onbeskryflik erg. VryeWeekblad, 10 Januarie 2020. https://www.vryeweekblad.com/nuus-en-politiek/2020-01-09-monster-bosbrande-dit-is-onbeskryflik-erg/
Walters, M.M. 1996. Sprekende van God. Kaapstad: Tafelberg.