1. Inleiding

 

Toe Sir Ernest A. Wallis Budge (1875–1934), die kurator van die Assiriese en Egiptiese oudhede in die Britse Museum in Londen, die faksimileë van die Wysheidsonderrig van Amenemope in 1923 gepubliseer het, het hy waarskynlik gehoop dat dit die belangstelling van Ou-Testamentici sou prikkel, maar hy het nie voorsien dat dit ’n nuwe navorsingsterrein sou open nie. Thomáš Frydrych (2002:1) beskryf die gevolge van hierdie publikasie soos volg:

 

When the similarity of Prov 22:17ff. with the Egyptian Instruction of Amenemope came to light in the early 1920s, it triggered scholarly interest in biblical wisdom, until then standing on the periphery of OT studies. The surge in wisdom research reached serious proportions after World War II, so that it is now possible to speak of wisdom studies as a specialised discipline.

 

Aan die einde van die negentiende en die begin van die twintigste eeu het ’n handjievol Ou Testamentici hulle aandag gewy aan die studie van die Israelitiese wysheidsliteratuur, maar nou, na die verloop van ’n eeu, doen verskeie Ou- en Nuwe-Testamentici navorsing op hierdie terrein. Hierdie verandering kan egter nie net toe te skryf aan die ontdekking van die ooreenkomste tussen die Egiptiese en Israelitiese wysheidsgeskrifte nie, maar ook aan die ontdekking en vertaling van ander nuutontdekte dokumente van ou Nabye Oosterse volke in die voorafgaande dekades. Hierdie ontdekkings het tot ’n paradigmaverandering op die terrein van die studie van die Bybel gelei (Kraus 1969:298, Noll 1991:45–47, Sæbø 1995:243–245, Spangenberg 1994:148–162). Ou- en Nuwe-Testamentici het met ander oë na die Bybel begin kyk. Die ontsyfering en vertaling van die Assiriese, Babiloniese, Egiptiese en ander antieke literatuur het navorsers oortuig dat Israel se literatuur nie totaal uniek was nie. Die skrywers van die Bybelboeke het immers dieselfde kultuur en oortuigings as hulle buurvolke gedeel en hulle literatuur gee blyke daarvan. Die oortuiging dat God die “primêre outeur” van die Bybel is en dat die menslike skrywers slegs maar “sekondêre skrywers” is, kon nie meer gehandhaaf word nie. Die Christelike God was nie op ’n misterieuse wyse betrokke by die totstandkoming van hierdie literatuur nie en daarom kan dit soos alle ander kultuurprodukte van mense bestudeer word. Noll (1991:45) stel dit treffend: “… the Bible, however sublime, is a human book to be investigated with the standard assumptions that one brings to the discussion of all products of human culture.”

 

  1. Die vroeë vertalings en navorsingsartikels (1923-1930)

 

Vóór 1920 het enkele Ou-Testamentici vermoed dat daar ’n verband tussen die Egiptiese wysheidsgeskrifte en die boek Spreuke bestaan. Die Duitse Ou-Testamentikus Hermann Gunkel (1862–1932), was een van hulle (Baumgartner 1933:262). Dit was egter eers ná die publikasie van die faksimileë van die Wysheidsonderrig van Amenemope dat Ou-Testamentici in alle erns oor hierdie verhouding begin nadink en daaroor navorsing gedoen het.

 

Hans Ostenfeldt Lange (1863–1934), ’n Deense bibliotekaris en Egiptoloog verbonde aan die koninklike biblioteek in Kopenhagen, was een van die eerstes wat in 1924 ’n lesing oor die Egiptiese teks gegee het. Maar hy het verder gegaan deur ’n Deense vertaling daarvan te maak. Adolf Erman (1854–1937), ’n Duitse Egiptoloog het hierdie vertaling geraadpleeg toe hy sy Duitse vertaling gemaak het. Sy vertaling is ook in 1924 gepubliseer. Erman het voorts ’n lesing met die titel “Eine ägyptische Quelle der ‘Sprüche Salomos’” tydens ’n byeenkoms van die Pruisiese Akademie vir Kuns en Lettere in Berlin gelewer. Hy het die oortuiging uitgespreek dat die skrywer van Spreuke 22:17–24:22 vir seker van die Egiptiese geskrif gebruik gemaak het.

 

Erman se vertaling en lesing het heelwat aandag van Duitse Ou-Testamentici getrek en Ernst Sellin (1876–1946) en Hugo Gressmann (1877–1924), het sy hipotese ondersteun dat die skrywer van Spreuke 22:17–24:22 beïnvloed is deur die Wysheidsonderrig van Amenemope (Sellin 1924; Gressmann 1924).

 

Britse Egiptoloë het nie op hulle laat wag nie en Francis Llewellyn Griffith (1862–1934) het ’n Engelse vertaling in die tydskrif Journal of Egyptian Archaeology (1926:191–231) gepubliseer, terwyl D.C. Simpson ’n navorsingsartikel waarin hy die ooreenstemmings bespreek het, in dieselfde tydskrif gepubliseer (1926:232–239). Kort hierna het Britse Ou-Testamentici die twee tekste onder die loep geneem. William Oscar Emil Oesterley (1866–1950) het eers ’n artikel gepubliseer voordat hy ’n boekie met die titel The Wisdom of Egypt and the Old Testament in the light of the newly discovered “Teaching of Amenemope” (1927) die lig laat sien het. Hy het van Erman verskil en die mening uitgespreek dat beide tekste van ’n vroeëre Hebreeuse bron gebruik gemaak het (Oesterley 1927a:23; 1927b:105). Konserwatiewe opvattings oor die Bybelboeke en hulle ontstaan, het waarskynlik ’n rol gespeel in Oesterley se hipotese. Dit het daartoe bygedra dat ander Britse navorsers ander hipoteses geformuleer het. Een so ’n persoon was R.O. Kevin. Hy het só ver gegaan as om Erman se hipotese op sy kop te keer. Volgens hom het die Egiptiese skrywer sý wysheidsleringe aan die Spreuketeks ontleen (Kevin 1930:115–157).

 

Étienne Drioton (1889–1961), ’n Franse Egiptoloog het die sieninge van Oesterly en Kevin ondersteun en geargumenteer dat die skrywer van die Wysheidsonderrig van Amenemope ’n Semitiese wysheidsgeskrif moes geraadpleeg het — heel moontlik nog die boek Spreuke self (Drioton 1957, 1959, 1960). Hy het die taal wat in die Egiptiese wysheidsgeskrif gebruik word deeglik ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat daar heelwat “semitisismes” daarin voorkom en dat dit as bewyse vir sy hipotese kon dien.

 

Die Nederlanders het heelwat later van hulle laat hoor. In 1930 publiseer die Nederlandse Egiptoloog, Willem Dirk van Wijngaarden (1893–1980), ’n boek waarin hy Erman se hipotese ondersteun dat die skrywer van Spreuke 22:17–24:22 van die Egiptiese wysheidsgeskrif gebruik gemaak het (Van Wijngaarden 1930:121). Die Nederlandse Ou-Testamentikus Gerhard Charles Aalders (1880–1961), het nie Van Wijngaarden ondersteun nie, maar was van mening dat nie een van die outeurs, die ander een se teks gebruik gemaak het nie. Volgens hom het hulle onafhanklik van mekaar gewerk (Aalders 1934:35).

 

Teen die einde van 1930 was daar vier verskillende hipoteses oor die verhouding tussen die Spreukegedeelte en die Egiptiese wysheidsgeskrif in omloop. (1) Die skrywer van Spreuke 22:17–24:22 het van sy spreuke ontleen aan die Egiptiese geskrif. (2) Die skrywer van die Egiptiese geskrif het van sy spreuke ontleen aan Spreuke 22:17–24:22. (3) Nie een van die skrywers het toegang gehad tot die ander een se teks nie, maar het hulle spreuke (onafhanklik van mekaar) ontleen aan ’n ander ouer bron. Sommige navorsers was van oordeel dat hierdie ander bron ’n Egiptiese wysheidsgeskrif  was, terwyl ander navorsers van mening was dat dit ’n ouer Semitiese wysheidsgeskrif was. (4) ’n Vierde groep navorsers was van mening dat hier nie sprake van ontlening is nie. Die skrywers van die twee tekste het onafhanklik van mekaar geskryf. Die ooreenkomste hou bloot verband met die algemene wysheid waartoe skrywers in die ou Nabye Ooste toegang gehad het (Snijders 1984:145; Schipper 2005:55–56). Die hipotese wat egter die meeste aanhang geniet het, is dié een wat Erman reeds in 1924 geformuleer het: die skrywer van Spreuke 22:17–24:22 was bekend met die Wysheidsonderrig van Amenemope en hy het daarvan gebruik gemaak tydens sy skryfwerk. Die volgende bewyse is hiervoor aangebied: (1) Die bewoording van die inleiding van hierdie Spreukegedeelte (Spr. 22:17–21) stem ooreen met die slotgedeelte van die Egiptiese wysheidsgeskrif. (2) Nie net enkele woorde nie, maar ook van die temas en motiewe in die twee geskrifte stem ooreen — veral wat betref Spreuke 22:17–23:11. (3) Die ietwat onverstaanbare Hebreeuse woord, šilšōm, wat in die 1953-Bybelvertaling vertaal is met “kernagtig” kan met enkele wysiginge verander word om te lees šelōšîm wat “dertig” beteken. Só vertaal, is hier dan sprake van “dertig [spreuke]” en nie van “kernagtige [spreuke]” nie. Dit klop dan met die “dertig hoofstukke” waarvan daar sprake is in die Egiptiese wysheidsgeskrif. Met dié wysiging kan ons Spreuke 22:20 soos volg vertaal: “Het ek nie vir jou dertig [spreuke] neergepen vol kennis en raad nie …”.

 

Die ontdekking van die ooreenstemmings tussen Spreuke 22:17–24:22 en die Wysheidsonderrig van Amenemope het sommige Ou-Testamentici nie totaal verras nie. Van hulle het vermoed dat die Israelitiese skrywers deur Egiptiese skrywers onderrig was of dat van hulle bekend was met van die Egiptiese geskrifte. Hier was egter nou ’n klinklare bewys vir hulle vermoedens. Die meer konserwatiewe Ou-Testamentici (soos Oesterly en Aalders) het wel ander hipoteses geformuleer om die rigting van die invloed om te keer om sodoende die uniekheid en geïnspireerdheid van die Bybelse geskrifte te kon handhaaf.

 

  1. ’n Periode van besinning (1930–1950)

 

In die periode ná 1930 het die fokus meer en meer begin val op die gesag van die Bybel en dit het veral die wysheidsgeskrifte geraak. Die ontdekking en ontsyfering van ander buurvolke se vergange literatuur, het die uniekheid van die Ou-Testamentiese literatuur in gedrang gebring en Ou-Testamentici gedwing om hulle standpunte oor die ganse Ou Testament te heroorweeg.

 

Die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel het in hierdie periode verskyn (1933), maar die vertalers het nie kennis geneem van die siening dat Sreuke 22:20 anders vertaal kan word nie. Die vertalers het gehou by die ou Nederlandse vertaling bekend as die Statenbijbel. Dis ook in hierdie periode dat professor Johannes du Plessis van die Kweekskool op Stellenbosch aangekla is van “kettery”omdat hy studente bewus gemaak het van die nuwere ontdekkings en nuwere sienings rakende die Bybel.

 

In hierdie periode tree die Duitse Nuwe-Testamentikus Rudolf Bultmann (1884–1976) ook na vore met sy siening dat die Nuwe-Testament “ontmitologiseer” moet word sodat mense die boodskap daarvan kan begryp. Bultmann argumenteer dat die verhale rondom Jesus ingeklee is in die mitologiese taal van destyds en dit is nie onmiddellik verstaanbaar vir mense in die moderne tyd nie. Neem die verhale oor Jesus se maagdelike verwekking, sy opstanding uit die dood, en sy hemelvaart as voorbeelde. Wanneer die verhale egter “ontmitologiseer” word, kan moderne mense toegang kry tot die boodskap wat oor Jesus verkonding is. Bultmann het voorts daarop gewys dat die woorde van Jesus (soos opgeteken in die Q-bron) duidelik ooreenkomste vertoon met die spreuke in die boek Spreuke. Die Q-bron is daardie dele wat die evangelies van Matteus en Lukas met mekaar deel, maar wat nie in die evangelie van Markus voorkom nie.

 

Dit is te verstane dat baie gelowiges in hierdie tyd onthuts was deur wat hulle te hore en te lese gekry het. Die nuwere ontdekkings en ander beskouings oor Jesus het mense laat vra of die Bybel dan nog “God se Woord” kan wees. Die Switserse dogmatikus Karl Barth (1886–1968) slaag in hierdie tyd daarin om teen die heersende “winde van verandering” in ’n standpunt oor die Bybel te formuleer wat vir baie Protestantse teoloë en gelowiges aanvaarbaar was. Hy het die “menswording van God” op die Bybel van toepassing gemaak, want die Bybel het (volgens die heersende teologiese oortuiging) sowel ’n goddelike as ’n menslike kant. Barth het gepraat van die “vleesgeworde Woord” (Jesus Christus) en die “Skrifgeworde Woord” (die Bybel). Hy wys daarop dat wanneer ons na “God se Woord” verwys, ons in die eerste plek na Jesus Christus verwys. Hy is immers dié Woord van God (Joh. 1:1). Maar God het Homself ook deur die eeue deur middel van historiese gebeure geopenbaar. Hierdie openbaring is deur mense neergepen in geskrifte wat ons as die Bybel ken. In ’n afgeleide sin kan ons dus ook na die Bybel verwys as “God se Woord”. Wanneer mense die Bybel lees, of wanneer iemand vir ’n gemeente daaruit lees en preek, hoor die gemeente “God se Woord”.

 

Vir Barth is daar dus drie vorme van die “Woord van God”. Eerstens, Jesus Christus as “Woord van God”; tweedens, die Bybel as “Woord van God”; derdens, die lees en/of aanhoor van die Bybelse boodskap wat ook as “God se Woord” geklassifiseer kan word. James Barr verwoord hierdie onderskeide só (1973:19):

 

The Word in the primary sense, Jesus Christ, speaks only as he is witnessed to by the scripture and proclaimed in faith by the church. The Bible is Word of God only through its function of witness to God in his self-revelation; and it is Word of God only as it is received in faith and proclaimed in the church.

 

Nie alle teoloë het Barth se vergelyking van die Bybel met die menswording van Jesus aanvaar nie, want die Bybel self tref nie dié soort onderskeid nie. Dis duidelik ’n dogmatiese argument wat poog om aan die Bybel steeds goddelike status toe te ken te midde van duidelike bewyse dat mense die boeke geskryf het. Sommige teoloë het wel verkies om liefs te praat van ’n openbaring wat agter die Bybel lê en waarvan die Bybelskrywers vertel. Hierdie groep het die oortuiging gedeel dat God Hom wel in die geskiedenis van Israel geopenbaar het, maar  dat die skrywers daarvan vertel. Die openbaring lê dus nie in die Bybel nie, maar agter die Bybel in die geskiedenis van die volk Israel. John Bright, die Amerikaanse Ou-Tesamentikus, het dit soos volg verwoord: “Israel believed that her God both could and did control the events of history, that in them he might reveal his righteous judgment and saving power” (1953:25).

 

Die oortuiging dat God Hom in die geskiedenis van Israel geopenbaar het, het daartoe aanleiding gegee dat die wysheidsliteratuur as van minder belang beskou is. Ons lees immers nie daarin van die belofte aan die aartsvaders nie; van die uittog uit Egipte, die inname van die land Kanaän, die verkiesing van Dawid tot koning, en die Babiloniese ballingskap nie. Die vraag, “Hoe is die wysheidsgeskrifte gesagvol?” het gedurende hierdie jare onbeantwoord gebly.

 

Wat die studie van wysheid en die wysheidsliteratuur betref, het die fokus in hierdie periode hoofsaaklik op twee sake geval: (1) Die verhouding tussen Israel se wysheid en wysheidsliteratuur tot dié van die omringende volke. (2) Die konteks waarin spreuke ontstaan het en geformuleer is. Die vraag was: Het die spreuke onder gewone mense ontstaan (spreukwoorde), óf is dit aan die koningshof geformuleer waar die amptenary opgelei is? Daar was wel diegene wat gemeen het dat van die wysheidspreuke nie slegs aan die koningshof ontstaan het soos in die geval van die Egiptiese wysheid nie, maar dat van die gewone alledaagse spreukwoorde mettertyd deel geword het van die wysheidspreuke. Herman Gunkel (1933:381–396) en Walter Baumgartner (1933) het dié hipotese ondersteun.

 

Gedurende hierdie periode breek die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) uit en word die navorsing rakende die Ou en Nuwe Testament erg ontwrig. Voorheen het Ou-Testamentici van die verskillende Europese lande inligting en navorsing geredelik gedeel (vergelyk die voorafgaande gedeelte), maar gedurende die oorlogsjare is die kommunikasielyne afgesny. Die navorsing oor die Israelitiese wysheid en wysheidsliteratuur moes dus wag tot enkele jare ná die vredesluiting voordat die navorsing weer op dreef gekom het.

 

  1. ’n Periode van opbloei (1950–1975)

 

Gedurende hierdie periode het daar heelwat artikels, boeke en versamelbundels oor die Israelitiese wysheid en wysheidsliteratuur verskyn asook ’n aantal kommentare op die boeke Spreuke, Job en Prediker. Verder het Bybelvertalers kennis geneem van die nuwere sienings en dit in hul vertaalwerk deurgegee aan Bybellesers, terwyl ’n aantal Nuwe-Testamentici wat die Q-bron bestudeer het, oortuig geraak het dat die Q-bron wysheidsmateriaal bevat.

 

  • Herbesinning oor Jahweh se dade in die geskiedenis

 

Na die Tweede Wêreldoorlog het Ou-Testamentici van Brittanje en enkele Europese lande uitgereik na hul Duitse kollegas en probeer om versoening te bewerkstelling en die breuk wat die oorlog veroorsaak het, te oorbrug tot voordeel van die Ou-Testamentiese navorsing. Dit was veral die Brit, Harold Henry Rowley (1890–1969), wat hierin ’n rol gespeel het en ook bygedra het tot die stigting van die “International Organisation for the Study of the Old Testament” – ’n Europese vakvereniging vir Ou-Testamentici en ook Joodse geleerdes wat die Tenakh (Hebreeuse Bybel) bestudeer.

 

Op hierdie tydstip was Albrecht Alt (1993–1956), Martin Noth (1902–1968) en Gerhard von Rad (1901–1971) die leidende Duitse navorsers. Alle Europese navorsers was op hierdie stadium daarvan oortuig dat Israel en sy buurvolke grootliks dieselfde kultuur en oortuigings gedeel het en dat dit duidelik in die OuTestament weerspieël word. Die Nederlandse Ou-Testamentikus Berend Oosterhoff (1915–1996) het dit só verwoord: “Meer dan vroeger is duidelijk geworden dat de Schrift een oosters boek is en met name het Oude Testament met duizenden banden verbonden is aan de oud-oosterse cultuur- en denkwereld” (1968:50). Maar Oosterhof en ander het steeds die oortuiging gedeel dat Israel se godsdiens in sekere opsigte totaal anders was. Hierdie andersheid was daarin geleë dat Israel geglo het dat hulle God (Jahweh) Israel uitverkies het om sy volk te wees en dat Hy Homself in hulle geskiedenis openbaar het. Oosterhof het dié oortuiging soos volg geformuleer: “God heeft Zijn openbaring gegeven in de gang van Zijn geschiedenis met Israël en zij draagt daarom een historisch karakter” (1968:51).

 

Gerhard von Rad het hierdie siening gedeel. Volgens hom het Israel aan hierdie oortuiging uitdrukking gegee in die “kort verhaalbelydenis” (“kleine geschichtliche Credo”) van Deuteronomium 26:5–9:

 

My vader was ’n Arameër wat van plek tot plek getrek het.

Hy het na Egipte toe gegaan en met min mense daar as vreemdeling gaan woon.

Daar het hy ’n groot, sterk en talryke nasie geword.

Die Egiptenare het ons sleg behandel.

Hulle het ons verdruk en ons harde werk laat doen.

Ons het na die HERE die God van ons voorvaders om hulp geroep,

en Hy het ons gehoor.

Hy het ons ellende en ons swaarkry raakgesien en gesien hoe ons verdruk word.

Die HERE het ons uit Egipte laat wegtrek deur magtige dade,

kragtige groot dade wat vrees ingeboesem het, tekens en wonders.

Hy het ons in hierdie plek gebring en hierdie land aan ons gegee,

’n land wat oorloop van melk en heuning.

 

Hierdie belydenis fokus slegs op die eerste reeks van groot gebeurtenisse in Israel se geskiedenis en daarvan lees ons hoofsaaklik in die Heksateug (Genesis tot Josua). Maar daar was ’n tweede handeling van Jahweh en dit was die verkiesing van Dawid en sy nageslag om vir ewige oor Israel te regeer (2 Sam 7). Van hierdie geskiedenis en Jahweh se betrokkenheid daarby, lees ons in die Deuteronomistiese en die Kronistiese geskiedswerke. Omdat die wysheidsliteratuur nie handel oor Jahweh se groot dade in die geskiedenis van Israel nie, is dit nie deel van die hoofstroom nie, maar kan ons dit klassifiseer as “randliteratuur”. Von Rad het dit wel in sy teologie van die Ou Testament probeer inkorporeer deur dit voor te hou as deel van die literatuur waarin Israel “antwoord” op Jahweh se openbaring in die geskiedenis.

 

Een van die punte van kritiek teen Von Rad se weergawe van die teologie van die Ou Testament was sy hantering van die wysheidsliteratuur. Hy het dit ter harte geneem en later ’n boek gepubliseer waarin hy die wysheidsliteratuur van Israel afsonderlik behandel het, maar vir baie was dit nie ’n bevredigende blik op en uiteensetting van die Israelitiese wysheidsliteratuur nie.

 

Die Sweedse Ou-Testamentikus Bertil Albrektson (1929–2021) het gesorg vir ’n redelike opskudding met die publikasie van die boek History and the Gods in 1967. Hierin het hy oortuigend aangetoon dat ander ou Nabye Oosterse volke ook die oortuiging gekoester het dat hul god/gode in die geskiedenis gehandel het. Hy het die Mesa-inskripsie deeglik ontleed en daarop gewys dat die Moabitiese koning sy oorwinning oor koning Omri van Israel as ’n handeling van hul god Kemos beskou het. Die oortuiging dat hierdie siening uniek aan Israel was, is hiermee as vals bewys. Hiermee is die deur verder geopen om die wysheidsliteratuur nie slegs as “randliteratuur” te beskou nie.

 

  • Wysheid en die oortuiging dat ’n skeppingsorde bestaan

 

Gedurende hierdie periode gooi Hans Heinrich Schmid (1937–2014) sy gewig in agter diegene wat daarop wys dat dit in die ou Nabye Oosterse wysheid om reg, geregtigheid en orde gaan. Hy argumenteer dat hierdie oortuiging ontspring aan die siening dat ’n orde sowel die skepping as die menslike samelewing onderlê. Die wysheidsleermeesters se geskrifte weerspieël dat hulle hul leerlinge bewus wou maak van die skeppingsorde en hoe dit samelewings kan baat indien mense bewustelik daarna streef om in harmonie met die orde te leef. Die daad-gevolg samehang waarvan daar baie voorbeelde in die wysheidsliteratuur bestaan, hou hiermee verband. Goeie dade, so het die wysheidsleermeesters geleer, het goeie gevolg, maar bose en slegte dade het slegte gevolge.

 

  • Wysheidsinvloede is te vind in ander Bybelse geskrifte

 

Navorsing rakende die Israelitiese wysheid en wysheidsliteratuur lei daartoe dat enkele psalms in die Psalmboek as “wysheidspsalms” geklassifiseer word. Psalm 1, 49, 73 en 119 kan as voorbeelde dien. Maar dis nie al nie. Daar word ook wysheidsinvloede in die profetiese geskrifte geïdentifiseer. Hier kan die boek van Jesaja en Amos vermeld word. En dan is daar ook wysheidsinvloede in van die vertelmateriaal van die Ou Testament uitgewys. Die sogenaamde Josefverhaal (Gen 37–50) en die boek Ester is voorbeelde.

 

  • Bybelvertalings en kommentare op Spreuke

 

Sedert die sestigerjare van die vorige eeu het Bybelvertalers begin kennis neem van die navorsing rakende die ooreenstemmings tussen Spreuke 22:17–24:22 en die Wysheidsonderrig van Amenemope. Van hulle het die voorgestelde verandering van Spreuke 22:20 aanvaar, daarom vertaal van hulle die vers met die woorde “Ek het vir jou dertig spreuke neergeskryf ….”  Daar is selfs Bybelvertalers wat Spreuke 22:17–24:22 in dertig onderafdelings verdeel (ingesluit natuurlik die inleiding).

 

Die vertalers van die New Jerusalem Bible (1985) het byvoorbeeld die tekswysiging van Spreuke 22:20 aanvaar, maar nie die gedeelte in dertig onderafdelings verdeel nie. Die Engelse vertaling bekend as Good News Bible: The Bible in Today’s English Version (1979) asook die Nederlandse vertaling bekend as Groot Nieuws Bijbel (1983) het die tekswysiging sowel as die indeling in dertig onderafdelings aanvaar. Dit geld ook van die Duitse vertaling met die titel Die Bibel in heutigem Deutsch (1982).

 

Die vertalers van die New International Version (1984) en die skrywers verantwoordelik vir die Studiebybel bekend as NIV Cultural Backgrounds Study Bible (2016) het die tekswysiging aanvaar asook die moontlikheid dat daar dertig onderafdelings is. Laasgenoemde Bybel het ’n uitgebreide voetnota waarin verduidelik word waarom die gedeelte só vertaal en ingedeel word. Die voetnota sluit met die woorde:

 

The closest parallels between Amenemope and Proverbs come to an end at 23:11 and the remaining units have close ties to other pieces of wisdom literature, including the Words of Ahiqar. This may indicate a general familiarity with Amenemope and other wisdom literature, but a measure of literary independence on the part of the Biblical writer or wisdom school (2016:1060).

 

Die vertalers van die New American Bible (Revised Edition) (2002) gaan selfs só ver as om Spreuke 22:19 soos volg te vertaal: “That your trust may be in the LORD, I make known to you the words of Amen-em-Ope.” Gary Rendsburg onderskryf hierdie verandering aan die Hebreeuse teks en stel dit dat die laaste drie woorde van Spreuke 22:19b (hayyôm’ap-’āttâ) oorspronklik soos volg gelees het: ’mn-m-’pt = amenemopet. Volgens hom is die naam “Amenemope[t]” in die proses van vertaling en oorskrywing ongelukkig verwring (Rendsburg 2016:128).

 

Die Joodse vertalers van die Tanakh (1985) asook die vertalers van die Jerusalem Bible (2000) het nie die tekswysiging aanvaar nie en ook nie die idee dat die gedeelte uit dertig onderafdelings bestaan nie. Die Suid-Afrikaanse Bybelvertalers is ewe konserwatief. Nóg diegene wat betrokke was by die vertaling van die 1953-Afrikaanse Bybel, nóg diegene wat vir die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling verantwoordelikheid was, aanvaar die voorgestelde tekswysiging van Spreuke 22:20 of deel lesers mee dat Spreuke 22:17–23:11 verband hou met die Wysheidsonderrig van Amenemope. Verrasssend het die vertalers van die 2020-Afrikaanse Bybelvertaling wél die voorgestelde tekswysisging van Spreuke 22:20 aanvaar en Spreuke 22:17–24:22 dan ook in 30 eenhede verdeel het.

 

Byna alle kommentaarskrywers bespreek sedert die sestigerjare van die vorige eeu die tekswysiging en wys lesers daarop dat Spreuke 22:17–23:11 duidelik verband hou met die Wysheidsonderrig van Amenemope. Die Suid-Afrikaansgebore James Alfred Loader skryf soos volg in sy kort kommentaar op die boek Spreuke (1989:713):

 

Hierdie paragraaf [22:17–23:11] hou verband met die Egiptiese wysheidsboek van Amen-em-ope uit die 11de of 12de eeu v.C. Die Hebreeuse spreukedigter het hieruit ’n opsomming saamgestel wat soms woordeliks ooreenstem met die oorspronklike. Die tien temas wat hier voorkom, word egter in die Israelitiese godsdiens geïnkorporeer.

 

  • Die Q-bron word die Q-spreuke-evangelie

 

James M. Robinson (1924–2016) het met sy navorsingsartikel in die feesbundel vir Rudolf Bultmann in 1964 ’n reuse bydrae gelewer en met ’n antwoord gekom vir die vraagstuk wat die Q-bron dan nou eintlik sou wees, oftewel tot watter genre die Q-bron behoort. Volgens hom was die Q-bron nie ’n lukraakte versameling van uitsprake van Jesus nie, dit was ’n planmatige versameling met die doel om te onderrig. Dit kan daarom as ’n wysheidsonderrig geklassifiseer word in die tradisie van die ander bekende spreukeversamelings wat die Griekse woord logoi (“woorde”) in hulle inleiding bevat. Robinson verwys in hierdie verband na die volgende versamelings in Spreuke: 22:17–24:22, 30 en 31 asook na die Wysheidsonderrig van Ahikar en die Wysheidsonderrig van Amenemope as twee bekende ou Nabye Oosterse voorbeelde (1964:85–90).

 

Die publikasie van vertalings van die Wysheidsonderrig van Amenemope het dus nie net ’n invloed op die studie van die Ou Testament gehad nie, maar eventueel ook op die studie van die Nuwe Testament.

 

Bibliografie

 

Aalders, Gerhard Ch. 1934. Bijbelsche spreuken en de onderwijzing van Amen-em-ope. Assen: G.F. Hummelen.

Albrektson, Bertil 1967. History and the Gods: An Essay on the Idea of Historical Events as Divine Manifestations in the Ancient Near East and in Israel. Lund: Gleerup. (Coniectanea Biblica. OT series, 1.)

Barr, James 1966. Old and New in Interpretation: A Study of the Two Testaments. London: SCM Press.

Barr, James 1973. The Bible in the Modern World. London: SCM Press.

Baumgartner, Walter. 1933. Die Israelitische Weisheitsliteratur. Theologische Rundschau 5, 259–288.

Borg, Marcus J. 1995. Meeting Jesus Again for the First Time: The Historical Jesus and the Heart of Contemporary Faith. San Francisco: HarperSanFrancisco.

Bright, John 1953. The Kingdom of God. Nashville: Abingdon Press.

Bultmann, Rudolf 1921. Die Geschichte der synoptischen Tradition. (FRLANT 12)

Charlesworth, James H. & Daise, Michael A. (ed.) 2003. Light in a Spotless Mirror: Reflections on Wisdom Traditions in Judaism and Early Christianity. Harrisburg: Trinity Press International. (Faith and Scholarship Colloquies.)

Dell, Katharine J. 2006. The Book of Proverbs in Social and Theological Context. Cambridge: Cambridge University Press.

Dell, Katharine J. 2013. Studies of the Didactical Books of the Hebrew Bible / Old Testament. In Sæbø, Magne (ed.), Hebrew Bible / Old Testament: The History of Its Interpretation III/1: The Nineteenth Century, 603–624. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Drioton, Étienne 1957. Sur la sagesse d’Aménémopé, in Cazelles, Henry (ed.), Mélanges bibliques rédigés en l’honneur de André Robert, 254–280. Paris: Bloud & Gray. (Travaux de l’Institut Catholique de Paris, 4.)

Drioton, Étienne 1959. Le livre dews Proverbes et la sagesse d’Aménémopé. In Coppens, Joseph, Descamps, Albert-Louis & Massaux, Edouard (ed.), Sacra Pagina: Miscellanea biblica congressus internationalis catholici de re biblica, 229–241. Gembloux: J. Duculot. (BEThL 12–13)

Drioton, Etienne 1960. Un livre hébreu sur couverture égyptienne. La Table Ronde 254, 81–91.

Emerton, John A. 2001. The Teaching of Amenemope and Proverbs 22:17–24:22: Further Reflections non a Long-standing Problem. Vetus Testamentum 51:431–465.

Erman, Adolf. 1924. Das Weisheitsbuch des Amen-em-ope. Orientalistische Literaturzeitung 27, 241–252.

Fleddermann, Harry T. 2005. Q: A reconstruction and Commentary. Leuven: Peeters. (Biblical Tools and Studies, volume 1.)

Frydrych, Thomáš. 2002. Living under the Sun: Examination of Proverbs & Qoheleth. Leiden: E.J. Brill. (Vetus Testamentum Supplement 90.)

Gressmann, Hugo. 1924. Die neugefundene Lehre des Amenemope und die vorexilische Spruchdichtung Israels. Zeitschrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 42, 272–96.

Griffith, Francis L. 1926. The teaching of Amenophis, the son of Kanakht. Journal of Egyptian Archaeology 12, 191–231.

Gunkel, Herman 1933. Einleitung in die Psalmen: Die Gattungen der religiösen Lyrik Israels. Göttingen:

Kevin, R.O. 1930. The widom of Amen-em-apt and its possible dependence upon the Hebrew book of Proverbs. Journal of the Society of Oriental Research 14, 115–157.

Kloppenborg, John S. 1999. The Formation of Q: Trajectories in Ancient Wisdom Collections. Harrisburg: Trinity Press International. (Studies in Antiquity and Christianity.)

Kraus, Hans-Joachim. 1969. Geschichte der historisch-kritischen Erforschung des Alten Testaments. Neukirchen-Vluyn: Neukirchener Verlag.

Lange, Hans O. 1924. En ny visdomsbog fra det gamle Egypten. Nordisk Tidsskrift udgifvet af Letterstedska, 94–107.

Lichtheim, Miriam 1973-1980. Ancient Egyptian Literature: A Book of Readings (vol 1-3). Berkeley: University of California Press.

Loader, James A. 1989. Spreuke van Salomo, in Van Zyl, Albertus H. (red.), Verklarende Bybel (1983-vertaling), 684–731. Kaapstad: Lux Verbi.

McKane, William 1970. Proverbs. London: SCM Press. (Old Testament Library.)

Murphy, Roland E. 1990. The Tree of Life: An Exploration of Biblical Wisdom Literature. New York: Doubleday. (Anchor Bible Reference Library.)

Noll, Mark A. 1991. Between Faith and Criticism: Evangelicals, Scholarship, and the Bible. Leicester: Apollos.

Noth, Martin & Thomas, D. Winton (eds.) 1960. Wisdom in Israel and in the Ancient Near East. Presented to Harold Henry Rowley. Leiden: E.J. Brill. (VTS 3.)

Oesterley, William Oscar Emil. 1927. The “Teaching of Amen-em-ope” and the Old Testament. Zeitschrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 45, 9–24.

Overland, Paul. 1996. Structure in The Wisdom of Amenemope and Proverbs. In Coleson, Joseph & Matthews, Victor (ed.) “Go to the Land I Will Show You”: Studies in Honor of Dwight W. Young. 275–291. Winona Lake: Eisenbrauns.

Rendsburg, Garry A. 2016. Literary and Linguistic Matters in the Book of Proverbs. In Jarick, John (ed.), Perspectives on Israelite Wisdom: Proceedings of the Oxford Old Testament Seminar, 111–147. London: Bloomsbury T&T Clark.

Ringgren, Helmer. 1980. Sprüche. Göttongen: Vandenhoeck & Ruprecht. (Das Alte Testament Deutsch.)

Robinson, James M. 1964. Logoi Sophōn: Zur Gattung der Spruchquelle Q. In Dinkler, Eric (ed.), Zeit und Geschichte: Dankesgabe an Rudolf Bultmann, 77–96. Tübingen: J.C.B. Mohr.

Robinson, James M. 2007. Jesus: According to the Earliest Witness. Minneapolis: Fortress Press.

Ruffle, John 1995. The Teaching of Amenemope and Its Connection with the Book of Proverbs. In Zuck, Roy B. (ed.), Learning from the Sages: Selected Studies on the Book of Proverbs, 293–331. Grand Rapids: Baker Books.

Sæbø, Magne. 1995. “Some problems of writing a research history of Old Testament studies in the latter part of the nineteenth century with special regard to the life and work of William Robertson Smith.” In William Robertson Smith: Essays in reassessment, edited by W. Johnstone, W., 243–251. Sheffield: Sheffield Academic Press. (JSOTSup. 189.)

Schipper, Bernd U. 2005a. Die Lehre des Amenemope und Prov 22,17–24,22: Eine Neubestimmung des Literarischen Verhältnisses (Teil 1), Zeitschrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 117(1), 53–72.

Schipper, Bernd U. 2005b. Die Lehre des Amenemope und Prov 22,17–24,22: Eine Neubestimmung des Literarischen Verhältnisses (Teil 2), Zeitschrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 117(2), 232–248.

Scott, Robert B.Y. 1965. Proverbs, Ecclesiastes. New York: Doubleday. (The Anchor Bible.)

Sellin, Ernst 1924. Die neugefundene “Lehre des Amen-em-ope” in ihrer Bedeutung für die Juüdische Literatur- und Religionsgeschichte. Deutsche Literaturzeitung 45, 1873–1884.

Shupak, Nili 2005. The Instruction of Amenemope and Proverbs 22:17–24:22 from the Perspective of Contemporary Research. In Troxel, Ronald L., Friebel, Kelvin G. & Magary, Dennis R. (eds.) Seeking out the Wisdom of the Ancients: Essays offered to honor Michael V. Fox on the occasion of his sixty-fifth birthday., 203–220. Winona Lake: Eisenbrauns.

Simpson, D.C. 1926. The Hebrew book of Proverbs and the Teaching of Amenophis. Journal of Egyptian Archaeology 12, 232–239.

Snijders, L.A. 1984. Spreuken: Een praktische bijbelverklaring. Kampen: Kok. (Tekst en Toelichting.)

Spangenberg, Izak (Sakkie) J.J. 1994. Paradigmaveranderinge in die Bybelwetenskappe: ’n Bydrae tot die gesprek tussen die Bybelwetenskappe en Sistematiese Teologie. Religion & Theology 1(2), 144–184.

Stewart, Anne W. 2016. Poetic Ethics in Proverbs: Wisdom Literature and the Shaping of the Moral Self. New York: Cambridge University Press.

Van Wijngaarden, Willem D. 1930. Het Boek der Wijsheid van Amen-em-ope, den zoon van Kanecht. Santpoort: C.A. Mees.

Williams, Ronald J. 1961. The alleged Semitic original of the Wisdom of Amen-em-ope. Journal of Egyptians Archaeology 47, 100–106.