“Hoe bestuur ons ons eie geestesgesondheid?”
Dr. Deon van Zyl
’n Opsomming deur prof Sakkie Spangenberg van ’n deelnemende lesing en gesprek by die NHN-byeenkoms op 10 September 2023.
1. Agtergrond
Ons besef nie aldag watter moeilike tye ons tydens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande grendeltye en inperkings deurgemaak het nie. Angstighede, onsekerhede, allerhande verliese, sosiale isolasie, naasbestaandes/vriende wat oorlede is, magteloosheid ensovoorts het hoogty gevier.
In die bedryfsektor verskyn tans heelwat artikels wat handel oor “languishing” (kwyning) en “quiet quitting” (stille oorgawe/opgee) waar werknemers nie noodwendig kliniese depressie of volskaalse “burnout” (uitbranding) toon nie, maar lusteloos, leeg, ontkoppel en neutraal voel, en slegs die minimum doen om deur die dag te kom.
Die belangstelling in geestesgesondheid beleef duidelik ’n oplewing wêreldwyd want die belangrikheid daarvan word almeer besef en beklemtoon. Gegewe hierdie agtergrond, is dit goed om te besin oor hoe ons ons eie geestesgesondheid bestuur.
2. Inleiding
Deon betrek sy gehoor met talle praktiese metodes van interaksie. Ter inleiding toon hy ’n ‘gelukkigheidsleer’ met trappe van 0 tot 10. Die boonste trap verteenwoordig algehele geluksaligheid, terwyl die onderste strap die teendeel van geluk voorstel. Dan vra hy die volgende vraag: “Indien jy aan jou eie lewe tans dink, waar sal jy jouself op hierdie skaal plaas? Hoe gelukkig of ongelukkig voel jy tans?” Niemand hoef die syfer met ander te deel nie, maar moet dit slegs memoriseer. Nog ’n vraag aan die gehoor was: “Watter lande dink die gehoor lê baie laag op hierdie leer en watter lande lê hoog?” Die gehoor het gereken dat lande soos Afghanistan en Oekraïne ’n lae gelukkigheidsyfer sal aandui en die Skandinawiese lande nader aan 10 sal presteer. Hierna toon Deon ’n wêreldkaart wat lande se ‘gelukkigheidsyfer’ aantoon. “En wat is Suid-Afrika se “gelukkigheidsyfer?” Suid-Afrika se gelukkigheidsyfer word op die kaart aangedui as 5.3.
Die volgende dien as illustrasie van hoe daar oor die leer van geluk en geestesgesondheid tans gedink word. Op die onderste drie trappe beleef mense die lewe as uitsigloos. Depressiwiteit is die algemene lewensgevoel. Dit word aangedui met die hoofletter C in ’n sirkel en dit staan vir depressief en uitsigloos.
Die middelste drie trappe word getipeer as “kwynend” (op Engels “languishing”). Mense beleef die lewe nie as maklik nie. Hulle sukkel oor die algemeen om ’n bestaan te maak en vooruit te kom. Hulle wil-wil net boedel oorgee. Dit word aangedui met die hoofletter B in ’n sirkel. Heelwat mense beleef na die Covid-19-pandemie hierdie gevoel. Hulle voel ongemotiveerd, leeg, onverbonde, neutraal, afgestomp, ontevrede, moeg, swak, lusteloos, en ’n bietjie vasgevang.
Die top vier trappe kan getipeer word as die trappe waar mense floreer. Mense leef met hoop en verwagting dat more beter sal wees as vandag. Dit word aangedui met die hoofletter A in ’n sirkel. Mense in hierdie kategorie floreer en hulle is gelukkig.
3. Definisies van geestesgesondheid
Uit verskeie definisies van geestesgesondheid (o.a. die “World Health Organisation” WHO), kan die volgende faktore uitgewys word as bydraend tot mense se ervaring van geluk en hul belewenis van goeie geestesgesondheid:
- ’n Oorwoë belewenis van welstand.
- ’n Gevoel van relatiewe veiligheid.
- ’n Vermoë om die stres en uitdagings van die lewe te hanteer.
- ’n Vertroue in jou eie vermoëns.
- Om effektief te leer en te werk.
- Om ’n sinvolle verbintenis met ander mense te skep en te onderhou.
- Om ’n bydrae tot die gemeenskap te lewer.
4. Die hysbak-vraag
Deon deel vir elke persoon ’n kaartjie uit en hou dan die volgende scenario aan die groep voor: Gestel jy klim saam met ’n jonger persoon in ’n hysbak. Die gebou het slegs drie verdiepings en julle albei is op pad boontoe. Die jonger persoon vra jou: “Met jou dekades se lewensondervinding, wat het jy gevind is vir jou die één mees effektiewe manier om jou eie geestesgesondheid te bestuur of te onderhou?” Elkeen moet sy/haar antwoord op die vraag deur middel van een sin op die kaartjie neerskryf en dit inhandig.
Hierna skommel Deon die kaartjies en deel dit weer aan die teenwoordiges uit. Elkeen moet nou ’n punt uit 5 vir die antwoord op die agterkant van die kaartjie wat hy/sy ontvang het, skryf. Hierna ruil mense hul kaartjie met hul buurman/buurvrou uit, maar op so ’n manier dat die syfer op die agterkant onsigbaar bly. (Die buurman/buurvrou mag nie die punt wat toegeken is, onmiddellik sien nie.) Die tweede persoon ken nou ook ’n punt uit 5 vir die geskrewe antwoord toe. Hierna tel die betrokke persoon die twee getalle bymekaar. Dit reflekteer nou ’n antwoord uit 10. Indien die geskrewe antwoord 10/10 behaal het, kan dit as ’n buitengewone goeie antwoord beskou word.
Deon vra hierna terugvoer oor die resultate en behandel dan enkele antwoorde wat 10, 9, 8, 7, 6 en 5 ontvang het. Hy onderneem om aan die groep ’n geskrewe verslag te stuur oor die antwoorde wat hy ontvang het. Hieronder is sy verslag.
5. Antwoorde op die hysbakvraag
Hier volg die groep wat die lesing bygewoon het se ongeredigeerde antwoorde wat Deon gekonsolideer het onder oorhoofse temas. Die groep se antwoorde lê in lyn met die riglyne vir goeie geestesgesondheid wat later bespreek gaan word.
5.1 Waarop fokus ek?
Ek neem elke oggend die besluit om VANDAG my beste dag te maak.
Om die groter positiewe prentjie in my lewe te sien, en dit in ag te neem as dit in die kort-termyn sleg gaan.
Wees bewus van wat aangaan in die lewe maar moenie dat dit jou onderdruk nie.
Wees positief – “Look on the bright side.”
5.2 Wees aktief en betrokke
Doen iets wat vir my van waarde is en wat positief voel.
Gaan na buite in die natuur/tuin en werk aktief daarmee.
Besig bly met mense, werk en stokperdjies.
Staan op en wees aktief deur jou geskrewe aksies een-vir-een te doen.
Maak die beste van jou situasie.
Verrig iets bevredigend.
Bly aktief.
Bestuur slegs uitdagings wat ek kan beïnvloed en moenie kommer oor die res nie.
5.3 Verhoudings
Om goed klaar te kom met mense om jou.
Erken jou afhanklikheid en koester verhoudings.
Met vriende te gesels.
Omring myself met positiewe familie en mense.
Gesels met ’n goeie vriend of vertroueling.
5.4 Stiltyd en meditasie
Diep bewustelike asemhaling saam met meditasie.
Stilword en alleentyd.
Probeer “mindful” lewe.
5.5 Selfsorg en selfhandhawing
Kyk eers na jouself, dan sal jy na ander kan omsien.
Om NEE te sê as dit nodig is.
Behou moed.
Persoonlikheidsverwesenliking.
5.6 Realisme en balans
Realistiese selfbeskouing.
Realistiese verwagtings.
“This too shall pass!”
Handhaaf ’n balans in alles.
Hou matigheid voor oë.
Doen alles wat jy kan, maak vrede met wat jy nie kan nie, en onderskei die verskil.
5.7 Dankbaarheid
Waardeer die lewe.
Dankbaarheid elke dag, in elke situasie. Eerste vraag soggens: “Waaroor kan ek dankbaar wees?”
Fokus elke dag op redes waarom jy dankbaar kan wees.
5.8 Fisiese versorging
Genoeg slaap.
Slaap.
Dieët sonder plante.
5.9 Sin en betekenis
Leef betekenisvol.
Om te voel jou lewe is die moeite werd.
6. Negatiewe en positiewe indekse
Deon stel die volgende indekse aan die gehoor bekend as ’n manier om jou eie geesteswelstand te bepaal. Mense moet telkens “ja” of “nee” op die betrokke vrae antwoord:
6.1 Negatiewe ervaringsindeks
Het jy van die onderstaande gevoelens gister gedurende die grootste deel van die dag beleef?
- Bekommernis
- Stres
- Woede/kwaad
- Hartseer/bedroef
Volgens die nuutste wêreldwye opnames deur Gallup antwoord een uit elke drie mense “ja” op al vier negatiewe ervarings (0.29).
6.2 Positiewe ervaringsindeks
Het jy van die onderstaande gevoelens gister gedurende die grootste deel van die dag beleef?
- Het jy uitgerus gevoel?
- Was jy met respek behandel?
- Het jy baie gelag of geglimlag?
- Het jy iets interessants geleer of ervaar?
- Het jy genot en/of vreugde ervaar?
Volgens die nuutste wêreldwye opnames deur Gallup antwoord twee uit elke drie mense “ja” op al vyf positiewe ervarings (0.66).
7. Skedulering van aangename gebeurtenisse
Selfsorg is belangrik as dit by jou eie geestesgesondheid kom. Maak ’n lysie van aktiwiteite wat jy geniet en wat ook ’n mate van betekenis vir jouself inhou. Hier is ’n lysie van aktiwiteite waaraan jy gerus aandag kan gee. Neem in ag dat selfsorg NIE selfsug beteken nie.
- Slaaptyd (genoegsame slaap is belangrik)
- Tyd vir fisiese aktiwiteit (stap, draf, swem, tennis, muurbal, ens.)
- Fokustyd (soos wanneer jy ’n stokperdjie beoefen)
- Speeltyd (speel met kinders, huisdiere, bordspeletjies, ens.)
- Aftyd (tyd vir meditasie, of sommer vir net sit en dagdroom, sonder sosiale media)
- Kontaktyd (kontak met ander mense: eet saam, kuier saam, ens.)
- Inneemtyd (tyd vir ontspan voor ’n televisie, om te fliek, om ’n planetarium/museum te besoek, ens)
Deon demonstreer ’n praktiese metode van meditasie waar die liggaam en al die sintuie as die verwysingsraamwerk dien om telkemale na die “hier-en-nou” terug te keer. Die liggaam se sintuiglike bewuswording, insluitend innerlike sensasies en prikkels vanaf die spiere en gewrigte, leef altyd in die hede. Ons gedagtes oor die verlede en beplanning vir die toekoms neem ons uit hierdie huidige oomblik uit. Indien jy tydens meditasie bewus word dat jou gedagtes dwaal, raak jy net bewus daarvan, sonder om dit negatief te beoordeel, en kom dan net weer rustig terug na enige liggaamlik-sintuiglike bewuswording in die oomblik. Bewuswording van jou asemhaling is altyd ’n effektiewe beginpunt om na die hede terug te keer. Indien jy nie daarvan hou om stil te sit vir 5-20 minute nie, kan jy dieslfde metode gebruik tydens enige rustige aktiwiteit soos tuinmaak, skottelgoed was, stap, swem ens.
8. Welwese-wiel/ Selfsorg-wiel
Gaan soek gerus op die internet na “Self-Care Wheel” of “Wellness Wheel” en lees meer hieroor. So ’n wiel bestaan gewoonlik uit ses tot agt segmente wat jou totale mens-wees omvat soos sosiaal, fisies, emosioneel, spiritueel, intellektueel, finansieel, beroepslewe, omgewing. Dis goed om aan al hierdie fasette van jou lewe aandag te gee.
Kyk gerus wat aanbeveel word. Hier is twee internetskakels na artikels wat oor die welwese-wiel handel:
https://learnfromblogs.com/self-care-wheel
https://healthcenter.indiana.edu/health-answers/psychological-stress/wellness-wheel.html
9. Die “Komkommerboom”
Omdat bekommernis deel van mens-wees is en dit ons welwese beïnvloed, is dit goed om jouself af te vra hoe jy met jou bekommernisse omgaan en behoort om te gaan. Hoe kan jy van jou bekommernisse ontslae raak? Of hoe kan jy jou bekommernisse bestuur sodat dit nie jou geesteswelstand ondermyn nie? Voel jy soms jy haak vas by negatiwiteit of taakgesentreerdheid? Hieronder is ’n “boomstruktuur” wat mense kan help met die bestuur van hul bekommernisse. Die boomstruktuur is deur Deon saamgestel uit verskeie soortgelyke vloeidiagramme:
Bestuur jou bekommernisse: Die “Komkommerboom”
(Deon van Zyl)
10. Vindingryke kwaliteite te midde van moeilike omstandighede
Kyk ons na die “Komkommerboom” sien ons dat daar klem gelê word op karaktersterktes en waardes wat ’n mens kan help om bekommernisse beter te bestuur. Hierdie karaktersterktes en waardes geld ook vir krisistye of tye wanneer ons deur “’n dal van doodskaduwee” gaan. Geen mens op aarde beleef net goeie tye nie. Die lewe is onvoorspelbaar en almal beleef tye van hartseer, pyn, verlies, bekommernis, ens.
Die karaktersterktes en waardes wat ons kan help om te oorleef kan, word soos volg beskryf:
- Positiewe daaglikse ervaring
- Kalmte en selfbeheer
- Altruïstiese optredes (“Acts of kindness”)
- Moed en durf (“Hierdie gebeure gaan my nie onderkry nie.”)
- Bring tyd deur met vriende en familie
- Wees dankbaar vir wat jy steeds het of wat jy steeds kan beleef.
Al beleef ’n mens moeilike tye, kan jy steeds probeer om “die beste te maak van ’n slegte saak” deur te sorg dat jy daagliks positiewe ervarings beleef. Gaan stap in die natuur en drink dit mooi in. Gaan fliek of beoefen ’n stokperdjie soos byvoorbeeld voëlkyk (“birdwatching”). Gaan sit êrens rustig en mediteer. Sorg vir tye van kalmte. Doen goed aan ander mense. Deel dit wat jy het met ander – al is dit hoe gering.
Deon verwys hier na die Japanese “Kuns van herstel”, of te wel “Kintsugi”. Wanneer ’n mooi erdekruik of bak stukkend breek, maak hulle dit heel deur die stukke met goudkleurige gom aan mekaar te lym. Die kruik of bak kry ’n nuwe karakter en skoonheid. Dit kan ook van ons lewens geld. Wanneer ons deur ’n krisis gegaan en dit verwerk het, is ons ander mense as voorheen. Nicholas Sparks het dit soos volg verwoord: “So sleg soos dit was, het ek iets oor myself geleer. Dat ek sóiets kon deurmaak en oorleef.”
11. Dankbaarheid en positiwiteit
Die rol wat dankbaarheid in ons geesteswelstand kan speel, moet nie gering geag word nie. Wanneer die lewe druk, kan mens gerus jouself afvra: “Watter goeie dinge het ek vandag beleef wat my tot dankbaarheid stem?” Dink na oor dinge wat jy het en wat jou lewe steeds aangenaam maak te midde van die slegte. Vra jouself die volgende vraag af: “Wat sou my lewe gewees het sonder …?” Bring gerus ’n dankbaarheidsbesoek aan ’n vriend/vriendin of kollega en vertel hom/haar wat hy/sy vir jou beteken het. Indien die vriend/vriendin vêr woon, kan jy ’n dankbaarheidsbrief skryf.
Leer jouself om weg te beweeg van ’n negatiwiteitsvooroordeel of die geneigdheid om net die negatiewe raak te sien. Die volgende is vier voorbeelde van hoe jy kan wegbeweeg van negatiwiteit. Sê vir jouself:
- Vandag is ek dankbaar vir …
- Vandag het ek geleer om …
- Vandag het ek die volgende bereik …
- Vandag was ek bly of verheug oor …
Wees daarop bedag dat daar wel iets soos “toksiese positiwiteit” bestaan. Moenie dat mense jou op sleeptou neem met stellings soos die volgende nie:
- Dit kon erger gewees het.
- Wees net positief.
- Glimlag net, hou op om te bekommer!
- Alles sal regkom.
- Kom oor dit. Gaan aan. Wees ’n yster.
- Hierdie sal ook verbygaan.
- Jy het so baie om oor dankbaar te wees: hoe kan jy ontsteld wees?
- Komaan, net positiewe “vibes”!
Jy het die reg om sleg te voel, bedruk te wees, bekommerd te wees, hartseer te wees. Jy moet hierdie emosies jou eie maak; dit in die oë kyk en daardeur werk. Oppas vir Jobstroosters wat jou die pyn en hartseer wil ontsê en met eenvoudige antwoorde kom. Jý moet deur die emosies werk en jý moet die antwoorde vind. Niemand kan dit namens jou doen of vir jou die antwoorde gee nie.
Dit is OK om nie OK te voel nie! (“Its OK not to be OK”). Dis jou lewe en jy moet dit leef met al die hartseer, pyn, verlies en bekommernisse. Die ware vriende is nie diegene wat maklike antwoorde aan jou gee nie, maar wat langs jou kom staan of sit en sê: “Vertel my daarvan …” “Dis wat ek verstaan wat jy sê …” “Ek kan hoor dat hierdie belangrik vir jou is …” “Dis OK om nie OK te voel nie …”
12. Sin en betekenis
Die lewe het nie op sigself sin en betekenis nie, maar ons gee sin en betekenis aan ons lewens. Ons skep sin en vul ons lewens met sin deur hoe ons met die lewe omgaan. Vind ’n doel in jou lewe. Ontdek die waarde wat jy aan die lewe toevoeg en kan toevoeg en leef voluit daarvoor. Elkeen van ons is ’n unieke mens. Ons is almal op ’n bepaalde manier anders as ander mense. Deur daardie “anderheid” na te speur en daarvolgens te leef, gee sin aan ons bestaan.
Ons behoort elkeen ons “huldeblyk” uit te leef. Gewoonlik word daar by begrafnisse of wanneer iemand se lewe na sy/haar dood gevier word, vertel wat sy/haar besondere bydrae tot die lewe was, of wat die persoon uniek gemaak het. Hoe sal jy onthou wil word deur familie, vriende en kollegas na aan jou? Probeer dit deur middel van drie woorde te beskryf. Dink na oor wie jy is; hoe jy jouself sien, en wat jy meen jou bydrae tot die samelewing was (al is dit hoe gering). Leef daagliks daarvolgens. Leef jou waardes en oortuigings uit.
13. Waardes en welsyn
Shalom Schwartz is ’n Joods-Amerikaanse sielkundige wat beklemtoon dat daar universele waardes bestaan. Dis waardes wat mense dwarsoor die wêreld as belangrik ag. Hy het ’n “waarde-wiel” geteken waarin hy aantoon hoe die waardes met mekaar saamhang. Die waardes is nie die eindoel van die lewe is nie, maar die kompas aan die hand waarvan mense lewe en die lewe vir hulle en ander aangenaam maak.
Hier is sy lys van universele waardes:
- Betroubaarheid: Om ’n betroubare lid van ’n binne-groep te wees.
- Sorg/Omgee: Toegewy aan die welstand van die binne-groep.
- Verdraagsaam: Aanvaarding en begrip vir dié wat van my verskil.
- Omgee: verbintenis tot gelykheid, geregtigheid, en beskerming van alle mense.
- Natuur/omgewing: Bewaring van die natuurlike omgewing.
- Nederigheid: Erkenning van my eie onbeduidenheid in die groter geheel van dinge.
- Interpersoonlik: Vermy benadeling of kleinering van ander mense.
- Reëls: Nakoming van reëls, wette, en formele verpligtinge.
- Tradisie: Handhawing ven bewaring van kulturele, familie, of godsdienstige tradisies.
- Sekuriteit – Samelewing: Veiligheid en stabilitei in die breër samelewing.
- Sekuriteit – Persoonlik: Veiligheid in jou eie omgewing.
- Selfbeeld: Die handhawing van jou publieke beeld en vermyding van vernedering.
- Magsbron: Mag deur beheer van materiële en sosiale hulpbronne.
- Magsheerskappy: Mag deur die uitoefening van beheer oor mense.
- Prestasie: Persoonlike sukses deur bevoegdheid te demonstreer volgens standaarde.
- Hedonisme: Plesier en sensuele bevrediging vir myself.
- Stimulasie: Opwinding, nuwigheid, en uitdagings in die lewe.
- Eie-rigting-optrede: Die vryheid om my eie optrede te bepaal.
- Eie-rigting-denke: Die vryheid om my eie idees en vermoëns te ontwikkel.
Die Wêreld Ekonomiese Forum het in 2020 ’n lys van die belangrikste en invloedrykse waardes gepubliseer en nie minder nie as 56 waardes geïdentifiseer. Hier is die top 10 waardes wat dwarsoor die wêreld as belangrik geag word:
- Familie
- Verhoudings
- Finansiële sekuriteit
- Om te behoort
- Gemeenskap
- Persoonlike groei
- Lojaliteit
- Godsdiens/Spiritualiteit
- Werksekuriteit
- Persoonlike verantwoordelikheid
Deon nooi die teenwoordiges om drie (3) waardes uit enige lys te kies en te besin oor hoe elkeen hierdie waardes die komende week gaan uitleef.
14. ’n Gesonde brein en geestesgesondheid
Reeds vroeg in sy lesing het Deon daarop gewys dat die gebruik wat die NHNners deesdae het, naamlik om saam te eet en te kuier na ’n lesing, ’n goeie gebruik is. Sosiale kontak en omgang met ander mense is goed vir die hele brein. ’n Onlangse studie toon dat al die belangrikste hoofnetwerke van die brein optimaal benut word (en oor en weer konnekteer met mekaar) tydens sosiale kontak. Ons het grootgeword met die wysheid “’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.” Deesdae belemtoon neuroloë dat ’n gesonde brein belangrik is vir ’n gesonde liggaam en gees.
Deon benadruk die gesonde brein se bydrae tot mense se geestesgesondheid en verwys onder andere na die boek van Sanjay Gupta met die titel Keep Sharp: Build a Better Brain at Any Age (2021). In die tweede afdeling van die boek behandel Sanja Gupta ’n aantal belangrike aktiwiteite wat mense nie moet nalaat nie indien hulle hul breine skerp en gesond wil hou.
Hieronder is sy lysie van aktiwiteite wat belangrik is vir ’n gesonde brein:
- Fisiese aktiwiteit (waarvan ‘stap’ eerste op die lys is).
- Lewe met ’n doel
- Hou aan om te leer en te ontdek
- Die belangrikheid van slaap en ontspanning.
- Eet gesond (en dit sluit vrugte en groente in).
- Skep geleenthede vir kuier met familie en vriende.
As deel van die “leer en ontdek” demonstreer Deon hoe vinnig ons van 1 tot 10 in Japanees kan leer tel deur ’n speelse aktiwiteit.
Om besig te wees met ’n stokperdjie, die bou van ’n legkaart, die invul van ’n blokkiesraaisel, of enige ander aktiwiteit waarin ’n mens jouself ‘verloor’, dra ook by tot goeie breinstimulasie en gevolglike geestesgesondheid. Wanneer ’n mens by so ’n aktiwiteit betrokke is, verloor jy tred met die tyd. Jou belewing van jouself verdwyn as ’t ware. Jy ervaar geluk/geluksaligheid, want die beloning vir die doen van die aktiwiteit is geleë in die doen daarvan.
15. ’n Paar laaste vrae
Deon wys ten slotte op ’n Japanese vorm van terapie: Naikan Terapie wat uit drie daaglikse vrae bestaan: (1) Wat het ek vandag ontvang … van …? (2) Wat het ek vandag gegee … aan …? (3) Watter struikelblokke of probleme het ek vandag veroorsaak? Hierdie vrae kan ons help om nie alleen bewustelik te leef nie, maar ook na te dink oor ons handelinge. ’n Onlangse studie het getoon dat die daaglikse gebruik van hierdie drie vrae beter resultate vir algemene geestesgesondheid lewer as kognitiewe gedragsterapie, wat so populêr is en algemeen in die Weste gebruik word.
Op die ou einde is ’n seleksie van ’n paar van die volgende vrae om daagliks aan jouself te vra en oor te reflekteer, een van die beste en mees praktiese maniere om jou eie geestesgesondheid te bestuur en te onderhou:
- Wat het ek vandag gedoen om vir myself to sorg?
- Drie goeie dinge wat vandag gebeur het en een ding waaroor ek dankbaar is?
- Hoe het ek my belangrikste waardes vandag uitgeleef?
- Vandag het ek geleer om …
- Vandag het ek die volgende bereik …
- Vandag was ek bly of verheug oor …
- Wat het ek vandag ontvang … van …?
- Wat het ek vandag gegee … aan …?
- Watter struikelblokke of probleme het ek vandag veroorsaak?
En dan die slotvraag: “Waar wil jy op die gelukkigheidsleer staan oor drie jaar?” (Dink terug aan jou vroeëre antwoord.)
Deon sluit af met die volgende aanhaling van Les Brown: “Aan die einde het jy probeer en omgegee, en soms is dit genoeg.”