Johan Brink het hierdie lesing in 2018 gelewer. Hiermee die teks van die lesing.

Martin Luther

Die onwillige revolusionêr

  1. Die geskiedenis en die mites

Martin Luther was een van die historiese figure wat die verloop van die geskiedenis in Wes-Europa radikaal beïnvloed het. Hy was altyd ʼn kontroversiële figuur wat sterk menings uitgelok het aan beide kante van die kerklike verdeling.

Die algemene narratief oor Martin Luther lui min of meer so:

  • Martin Luther was ʼn monnik wat in opstand gekom het teen die verkoop van aflate in die Katolieke Kerk.
  • Hy het ʼn dokument wat 95 stellings bevat teen die deure van sy kerk vasgespyker.
  • Nadat hy uit die Katolieke Kerk verban is het hy die Bybel in Duits vertaal om die gewone mense toe te laat om self die Bybel te lees.
  • Daarna het al die Protestantse kerke tot stand gekom.
    • Die wêreld van Martin Luther

Polities

Die huidige Duitsland was aan die begin van die 16de eeu grotendeels deel van die Heilige Romeinse Ryk, wat die opvolger was van die Wes-Romeinse Ryk. Dit het bestaan vanaf die laat Middeleeue tot in 1806 toe die Napoleontiese oorloë ʼn einde daaraan gemaak het. Dit het bestaan uit honderde semi-outonome gebiedjies soos vrye stede, hertogdomme, prinsdomme, en bisdomme. Dit was geregeer deur ʼn Keiser wat verkies is deur sewe Keurvorste wat die hoogste rang beklee het onder die prinse en hy is daarna gekroon deur die Pous. Wittenberg waar Martin Luther byna sy hele lewe gewoon en gewerk het is in die gebied Sakse, wat op daardie stadium in twee verdeel was. Die noordelike gedeelte waar Wittenberg geleë is geregeer deur een van die sewe Keurvorste. Die Keiser het die Heilige Romeinse Ryk geregeer deur sporadies ʼn sogenaamde Ryksdag byeen te roep wat ʼn tipe parlement was waar al die prinse bymekaar gekom het. In Martin Luther se lewe was daar twee Ryksdagbyeenkomste wat belangrik was.

Eksterne bedreigings vir die Heilige Romeinse Ryk het ʼn belangrike rol gespeel in die verwikkelinge rondom die Hervorming. Frankryk onder koning François I aan die weste was sporadies in konflikte betrokke teen die Heilige Romeinse Ryk. In die ooste was daar die Ottomaanse Ryk wat ʼn groeiende bedreiging geword het vir die hele gebied.

Burgerlik

Die samelewing het bestaan uit verskillende sosiale lae. Aan die bopunt van die piramide was daar die adellikes en die geestelikes. Daar was onderlinge konflikte met mekaar en met die pous en met die keiser. Onder die adellikes was daar die ridderklas wat op daardie stadium onder groot druk vir hulle voortbestaan verkeer het. Dan was daar die opkomende burgery wat meer welvarend en invloedryk geword het. Onder die burgery was daar die kleinboere (peasants) wat die meeste van die voedsel geproduseer het maar wat geen grond besit het nie. Hulle het die spit afgebyt gedurende moeilike tye en was blootgestel aan hongersnood en siektes soos die pes wat voortdurend weer opgevlam het. Onder die “peasants” was daar nog die “vassals” en die “serfs” wat nog ʼn moeiliker bestaan gevoer het wat min verskil het van slawerny.

Kerk

Die Rooms-Katolieke Kerk het deur een van sy laagtepunte in sy bestaan gegaan. Dit was eerstens erg verswak deur die Oos-Wes skeuring gedurende die Middeleeue. Daarna het dit ʼn tydperk beleef van interne verdeeldheid met twee en op ʼn stadium selfs drie pouse.

Die tydperk net voor en gedurende die Hervorming was die tydperk van die berugte Renaissancepouse wie se lewens die teenoorgestelde was van dié van ʼn toegewyde geestelike. Die woorde “korrup” en “dekadent” kan onder andere gebruik word om hulle lewenswyses te beskryf: pous Innocentius VIII (1484-1492) het twee van sy kinders met nepotisme bevoordeel. Sy jongste het hy ʼn kardinaal gemaak op ouderdom 13. Alexander VI (1492-1503} het openlik ʼn gesin gehad van 7 kinders; sy lewensstyl was selfs vir die Kerk in daardie jare onaanvaarbaar en hy het die enigste pous geword in die geskiedenis wat buite die Vatikaan begrawe is. Julius II (1503-1513) het die gewone buite-egtelike kinders gehad en boonop was hy bekend as ʼn “sodomiet”. Leo X (1513-1522) was die pous gedurende Martin Luther se rebellie teen die Kerk. Sy moraliteit was minder kontroversieel as dié van sy voorgangers; hy egter die twyfelagtige reputasie dat hy die mees geldverkwistende pous was in die geskiedenis. Die narratief wil dit hê dat hy geld nodig gehad het om die nuwe St Pieterskerk te bou. Die waarheid is dat hy die Vatikaan se geld in elk geval heeltemal verkwis het op dinge wat niks met die Kerk te doen gehad het nie. Hy het soos al die pouse sy familie en van sy vriende om hom vergader in ʼn binnekring toe hy pous geword het en hy sou glo aan hulle gesê dat dat hulle nou uiteindelik die geleentheid het om hulle hande diep in die geldkoffers te steek.

Die pouse het die Heilige Romeinse Ryk ge-mikrobestuur soms in opposisie tot die Keiser. Opdragte is gegee aan die Keiser soos in die geval van die Martin Luther-kwessie om namens die pous uit te voer. Die Kerk het ook ʼn punt daarvan gemaak om nooit enigiemand tereg te stel wat skuldig bevind was in die Inkwisisieverhore nie. Die mense was altyd nadat hulle deur die Kerk skuldig bevind is aan die burgerlike owerheid oorhandig om die vonnisse uit te voer. Dit was ook die geval met Martin Luther.

Geografies

Wittenberg is geleë aan die ooste van die huidige Duitsland (tot 1990 was dit binne die Duitse Demokratiese Republiek) rofweg in die middel van die driehoek gevorm deur Berlyn in die noorde, Hannover in die weste en Leipzig in die ooste. Die ander dorpe waar Luther gebore is, opgegroei het en gestudeer het was Mansfeld, Eisenach, Magdeburg en Erfurt wat almal in die omgewing van Wittenberg is. Martin Luther het sy hele lewe in dié gebied deurgebring; in sy vroeë lewe was hy ʼn monnik wat baie rondgereis het nie, en later was hy verban in sommige gebiede in die Heilige Romeinse Ryk.

Hy het wel een lang reis onderneem: toe hy 27 was is hy en ʼn kollega afgevaardig om namens hulle klooster te gaan na die hoofkwartier van die Augustynse orde in Rome om oor sekere beginselsake te gaan onderhandel. Hy moes toe al op dié vroeë ouderdom genoeg indruk gemaak het dat dié verantwoordelikheid aan hom opgedra is. Wat egter merkwaardig was en wat ook ʼn kykie gee in die wêreld waarin hy hom bevind het vroeg in die 16de eeu, is die feit dat hy die hele afstand van ±1400 km te voet afgelê het. Die adellikes en die hoë geestelikes en die ryk burgery het óf te perd gereis óf met een of ander rytuig, maar vir die res van die bevolking was dit gebruiklik om te loop na waar hulle moes wees. By ʼn ander geleentheid later in sy lewe as ʼn monnik het hy na Würzburg gegaan wat 400 km van Wittenberg is. Hy het weer in die pad geval daarheen. Nadat hy 200 km afgelê het het hy ʼn geleentheid vir die res van die pad gekry in iemand se perdekar.

Wittenberg

Wittenberg was aan die begin van die 16de eeu “twee modderstrate met ʼn klomp strooihuise” – in Martin Luther se woorde. Suidelike Sakse het Leipzig gehad as hoofstad en Wittenberg het toe die hoofsentrum geword van Noordelike Sakse. Die Keurvors van Noord-Sakse het Wittenberg ontwikkel deur ʼn universiteit daar op te rig in 1503 waar Martin Luther later ʼn professor was. Daar is ook twee kerke gebou: die Marienkirche (Mariakerk) of Stadtkirche (Stadkerk) waar Martin Luther baie gereeld gepreek het en die Schloßkirche (Kasteelkerk) waar die Keurvors sy versameling relikwieë gehou het, waar Martin Luther na bewering sy 95 Stellings teen die deur sou gespyker het.

Die sleutelpersoonlikhede

Pous Leo X. Die Pous was verantwoordelik vir die ontstaan van die hele krisis in die Kerk omdat hy soos genoem addisionele geld vir die Vatikaankoffers dringend nodig gehad het. Hy moes verder nadat Martin Luther in opstand gekom het teen die Kerk die saak besleg. Dit het hy verkeerd hanteer en dit het direk gelei tot die uiteindelike skeuring.

Aartsbiskop Albrecht van Brandenburg. Martin Luther het in sy bisdom geressorteer, en hy was medeverantwoordelik weens sy hantering van die krisis dat die Kerk geskeur het. Sy agtergrond was dat hy op die jeugdige ouderdom van 24 jaar dit al reggekry het om Aartsbiskop van die belangrikste bisdom in Duitsland te word. Hy was afkomstig van ʼn adellike familie en ʼn belangrike komplikasie in die hele aangeleentheid was dat hy sy amp teen ʼn aansienlike bedrag by die Pous gekoop het. Die geld daarvoor het hy geleen by ʼn vooraanstaande geldskieter en hy was in ʼn finansiële verknorsing om daardie rede. Hy was dus kniediep deel van die korrupsie in die Rooms-Katolieke Kerk en dit het sy optrede in die kerkskeuring direk beïnvloed. Dit skyn egter asof hy simpatiek was vir die latere Protestantisme en ook dat hy nie vir Martin Luther kwaadgesind was nie.

Keurvors Friedrich “der Weise” (die Wyse). Hy was ʼn uitsonderlike persoon gewees: een van die Renaissance-humaniste en ʼn diep gelowige Katoliek met ʼn groot versameling relikwieë in sy Schloßkirche wat gelowiges kon besigtig teen betaling en op dié manier ʼn aflaat verdien. Hy het egter tot uiterstes gegaan om Martin Luther te beskerm teen die Pous en teen die Keiser se vervolging. Hy het ten minste drie keer daarvoor gesorg dat Martin Luther se lewe gespaar gebly het hoewel hy hoegenaamd nie kon saamstem met Luther se teologie en sy rebellie teen die gevestigde Kerk nie. Ook interessant is die feit dat hy en Martin Luther mekaar nooit ontmoet het nie. Hulle sou mekaar net een keer sien sonder om te praat met mekaar by die geleentheid waar Martin Luther verban is uit die Kerk in 1521. Friedrich is oorlede in 1523 en is opgevolg deur sy broer Johann. Sy hele optrede in alles waarin hy betrokke was skep die indruk van ʼn onkreukbare persoon.

Georg Spalatin. Hy was een van die skadufigure wat ʼn sleutelrol in die begin van die Hervorming gespeel het. Hy was ʼn studentevriend en medeteoloog van Martin Luther wat later ʼn tutor geword het vir Friedrich se broer Johann se kinders, en toe nog later ʼn tipe sekretaris van Friedrich homself. Dit was Spalatin wat Friedrich betrokke laat raak het in Martin Luther en in die gebeurtenisse rondom hom, en hy het ook opgetree as die tussenganger in die kontak wat Luther en Friedrich met mekaar gehad het.

Keurvors Johann “der Beständige”. Anders as sy broer het “die Standvastige” ʼn Protestant geword nadat hy sy broer opgevolg het. Hy was intens betrokke by die vorming van die Lutherse Kerk in die laat 1520’s en hy was een van die twee persone wat die Belydenis van die nuwe kerk voorgedra het by die Ryksdag van Augsburg in 1530. Sonder hom sou dié Kerk nie tot stand gekom het nie.

Keiser Karl V. Nog iemand wat baie jonk was toe hy in sy posisie beland het: hy was 19 jaar oud toe hy in 1519 Keiser geword het. Hy is gebore in Vlaandere (die hedendaagse België) en was lid van die Habsburg dinastie. Weens sy huwelik met ʼn Spaanse lid van die koningsgesin was hy reeds die koning van Spanje en al die toentertydse Spaanse kolonies in die Amerikas. Die uiters ingewikkelde alliansies en teenalliansies en onderstrominge en familieverbintenisse in Europa het daarvoor gesorg dat die kieskollege van Keurvorste hom gekies het as Keiser toe sy voorganger oorlede is. In die 1520’s toe die kerklike stryd op sy felste was was hy nooit in Duitsland nie omdat hy oorloë gevoer het op allerhande fronte soos teen die Franse en die Ottomaanse Turke. Die Pous het hom gebruik in sy vete met Martin Luther, maar sy verhouding met Pous Leo X en dié se opvolger Clemens VII het geleidelik versuur; so seer so dat sy troepe in 1527 Rome geplunder het gedurende ʼn oorlog teen die Pouslike State en vir Clemens nege maande lank gevange gehou het. Clemens het uiteindelik ontsnap deur homself soos ʼn boemelaar te vermom. Ná hierdie vernedering moes hy toe in 1530 nog vir Karl formeel kroon as Keiser ʼn volle 11 jaar na sy troonaanvaarding.

Philipe Melanchthon. Hy was ʼn jarelange vriend en medewerker van Martin Luther. Hy het ʼn grondige kennis gehad van die grondtale van die Bybel, veral Grieks, en hy het Martin Luther se Bybelvertaling deeglik geredigeer en teologies op vaste basis geplaas voordat dit gedruk is. Hy het ʼn sleutelrol gespeel in die stigting van die Lutherse Kerk laat in die 1520’s en hy was ʼn medeopsteller van die Augsburg-belydenis wat hy saam met Keurvors Johann voorgedra het by die Ryksdag van Augsburg in 1530. Nog iemand waarsonder die Protestantisme nie sou oorleef het nie.

Lucas Cranach. Hy was ʼn kunstenaar in diens van Keurvors Friedrich en hy was een van die belangrikste Renaissance-kunstenaars van sy tyd. Hy het Martin Luther se talryke geskrifte en ook sy Bybel geïllustreer met etse en houtsneë en op dié wyse daarvoor gesorg dat Luther se naam binne ʼn kort tyd huishoudelik geword het in Duitsland.

Katharina von Bora. Sy was Martin Luther se vrou. Oor haar verderaan meer.

1.2    Die 95 Stellings

Die geskiedenis voor die skep van die epogmakende 95 stellings is dat Martin Luther in die teologie gestudeer het en daarna by die Augustynse monnikorde aangesluit het in Erfurt. Hy was ʼn briljante en baie toegewyde monnik wat die Bybel intensief bestudeer het in die oorspronklike tale. Soos reeds genoem het sy klooster hom afgevaardig toe hy net 27 was om namens die klooster te gaan onderhandel in Rome by die hoofkwartier van die Orde. By dié geleentheid het hy ʼn aflaat bekom om sy oupa in die Vagevuur te help. Hy het nie die geld gehad om daarvoor te betaal nie en hy het in plaas daarvan die 48 trappies van die Santa Scala op sy knieë geklim en op elke trappie ʼn gebed geresiteer. Hierdie feit is belangrik omdat dit aantoon dat hy op daardie stadium nie gekant was teen die beginsel van die aflate nie.

Hy het ʼn 1511 ʼn professor geword aan die Universiteit van Wittenberg wat in 1503 deur Keurvors Friedrich tot stand gebring is om Wittenberg te help vestig as die hoofsentrum van Noordelike Sakse. Hy trek na Wittenberg en hy gaan woon saam met ander Augustynse monnike in die sg. Swart Klooster waar hy die res van sy lewe gebly het. In Wittenberg het hy byna elke Sondag van sy lewe gepreek in die Stadkerk eers as ʼn Katolieke monnik en na sy verbanning as ʼn Protestant. Dié kerkgebou het in 1521 ʼn Protestantse kerk geword.

1.2.1    Wat is “aflate”?

Die stelsel van aflate koop/verdien was honderde jare oud en dit dateer uit die vroeë Christelike kerk. Die kenmerke daarvan was:

  • ʼn Persoon kon ʼn aflaat bekom om sy/haar tyd in die Vagevuur na sy/haar dood korter te maak;
  • Die aflaat is aanvanklik bekom deur een of ander taak te verrig soos om armes te help, of deur een of ander opoffering te doen soos om te vas of om heilige relikwieë te besoek, of om ʼn voorgeskrewe gebed op te sê.
  • Na die Middeleeue het die gebruik geleidelik posgevat dat daar geld betrokke geraak het by die bekom van ʼn aflaat, en die geldwaarde daarvan het met tyd dan ook toegeneem.
  • Die koop van ʼn aflaat was baie streng gereguleer: dit was net toegestaan vir iemand met ʼn goeie naam in die Kerk. Die persoon moes bekend wees by sy/haar priester, hy/sy moes gereeld die verpligte finansiële verpligtings nakom, en in die besonder moet die persoon op datum wees met die nakom van die gereelde sakrament van die bieg.
  • Dit was nie van toepassing op toekomstige sondes wat die persoon nog gaan pleeg – beplan of onbeplan – nie.
  • Dit was ook nie van toepassing op enige ongespesifiseerde en/of geheime sondes nie. Die sondes moes in die bieg gemeld gewees het.
  • Die aflaat kan nie in die naam van ʼn ander persoon – lewend of dood – gekoop word nie.

Dit blyk dat Martin Luther op daardie stadium van sy lewe nie ʼn probleem gehad het met die hele beginsel van die aflate nie. Hy selfs die laaste reël hierbo oortree deur vir sy oupa ʼn aflaat te bekom. Hy het ook gesê dat hy jammer was sy ouers leef nog omdat hy nie weer die geleentheid sou hê om hulle op dieselfde wyse te help nie. Sy beswaar was nie teen die beginsel nie, maar wel teen die praktyk van die aflaathandel soos dit gemanifesteer het aan die begin van die 16de eeu.

1.2.2    Die aflate aan die begin van die 16de eeu

Pous Leo X het soos reeds gemeld die Vatikaan se koffers totaal uitgeput met sy spandabele leefwyse, en die nuwe St Pieterskerk was in aanbou.

As een van sy fondsinsamelingpogings het hy ʼn nuwe veldtog van stapel gestuur om aflate te verkoop in die Heilige Romeinse Ryk. Biskop Albrecht het die opdrag ontvang om ʼn aggressiewe veldtog te loods in sy Bisdom van Mainz waaronder Martin Luther geressorteer het. As aanmoediging sou hy 50% van die ingesamelde geld kon hou vir homself vir persoonlike gebruik. Dit was vir Albrecht ʼn uitkoms uit sy groot finansiële verknorsing omdat hy nou sy lening by die geldskieter kon afbetaal.

Albrecht stel toe ʼn vuur-en-swael prediker genaamd Tetzel aan om van dorp tot dorp te gaan en op die markpleine die gewone burgery te oorreed om aflate te koop. Tetzel het ʼn groot salaris ontvang – “groter as dié van die burgemeester van Leipzig” is gerapporteer – wat ongehoord was vir ʼn Katolieke geestelike, en hy het verder ʼn hele gevolg mense gehad wat saam met hom gereis het om hom te help. Behalwe dat hy met sy doemprediking ʼn heilige vrees vir die Hiernamaals in die bevolking ingeboesem het, het hy ook die beginsel van die aflate eensydig uitgebrei. Hy het baie sterk op emosies gespeel en mense aflate laat koop vir afgestorwe familielede of vir bejaarde familielede wat nie meer lank sou leef nie; en verder het hy aflate verkoop aan enigiemand wat dit wou hê vir ongespesifiseerde sondes wat die persoon nog in die toekoms sou begaan. ʼn Soort van blanko versekeringspolis.

Tot Keurvors Friedrich se krediet kan gemeld word dat hy vir Tetzel verbied het om in sy gebied te kom. Dit het nie die mense in Noord-Sakse verhinder om ver ente – tot sover as 100 km – te voet af te lê na omliggende gebiede nie waar hulle hulle laaste geld oorbetaal het aan hom. Die volgende Sondag het hulle dan vir Martin Luther hulle aflaatbrief getoon en gesê hulle hoef nie meer te kom bieg nie, en dat hulle het ook nie meer geld oor het vir die Stadkirche se eie koffers nie.

Martin Luther se verset teen die Rooms-Katolieke Kerk het op hierdie punt begin: nie die beginsel van die aflate nie, maar hy was geweldig ontsteld oor hoe dit in die praktyk gedegenereer het. Tetzel en die Aartsbiskop het groot bedrae geld ingesamel en daarvan het byna alles in hulle sakke beland en net ʼn klein stroompie het deurgevloei na Rome toe.

1.3   Wat presies gebeur het

Martin Luther het in 1517 ʼn goed beredeneerde dokument opgestel waarin hy sy standpunte rondom die aflate uiteensit en waarin hy sy standpunt stel dat die mens slegs deur genade salig word en nie deur sy werke nie.

Dié dokument het hy volgens ʼn goed gevestigde opvatting wat al 500 jaar bestaan, in die openbaar gaan spyker teen die deur van die Keurvors se kerk – die Schloßkirche. Die konsensus vandag egter is dat dit ʼn mite is.

Die relevante feite rondom hierdie dokument is:

  • ʼn Mens moet onthou dat hy ʼn akademikus sowel as ʼn teoloog was. Dit was ʼn algemene gebruik in die Duitse akademie van daardie tyd dat ʼn akademikus ʼn dokument opstel waarin hy een of ander stelling maak. Dié dokument was genoem ʼn disputation. Die doel van so ʼn disputation was dat dit moes sirkuleer in die akademiese gemeenskap en dat dit moes dien as ʼn besprekingsdokument. Die opsteller verlang terugvoer uit die gemeenskap en na gelang van die terugvoer kan hy sy stelling(s) wysig of terugtrek of dit kan deel word van die akademiese korpus van kennis.
  • Sy 95 Stellings was bedoel om so ʼn akademiese dokument te wees waarin hy ʼn saak wat hom gekwel het gelug het en waar hy gehoop het om ʼn bespreking uit te lok. Dit was in die akademiese taal van daardie tyd opgestel naamlik Latyn. Enige dokument bedoel vir algemene kennisname wat teen ʼn kerkdeur opgesit sou wees sou in Duits gewees het.
  • Dit was spesifiek bedoel vir die Aartsbiskop aan wie se adres dit gerig was dit saam met ʼn dekkende brief. Martin Luther het in sy geskrifte dit genoem dat hy dit nie bedoel het vir algemene kennisname nie.
  • Martin Luther het geweldig baie in sy lewe geskryf oor sy werk en sy lewe in die vorm van briewe aan mense en hy het nooit gemeld dat hy sy disputation teen die kerkdeur opgesit het nie. Inteendeel het hy in een brief dit genoem dat sy 95 Stellings uitsluitlik vir die Aartsbiskop bedoel was.
  • Die enigste bron wat melding maak van die dokument wat gespyker is teen die kerkdeur is afkomstig van Melanchthon. Hy het dit 30 jaar later ná Martin Luther se dood geskryf en die feitelikheid van daardie inligting is twyfelagtig. Melanchthon homself was nog nie in Wittenberg in 1517 nie en hy kon nie ʼn ooggetuie daarvan gewees het nie.
  • Dit was gebruiklik in daardie tyd om algemene kennisgewings teen kerkdeure op te sit en die kerkdeure het gedien as die kennisgewingborde vir die gemeenskap. Dit is dus heel moontlik dat ʼn Duitse weergawe van die disputation later sy verskyning op die Schloßkirche se deur kon gemaak het. Dit sou egter nie deur Luther opgesit gewees het nie, en dit sou ook sonder sy medewete gebeur het.

Dié kerkdeur is vandag ʼn deur van brons met die 95 Stellings van bo tot onder teen die deur en dit is ʼn gewilde toeriste-attraksie. Die toeristeburo in Wittenberg gee heel geredelik egter toe dat dit nie outentiek is nie, maar dat dit goeie besigheid vir die dorp beteken.

ʼn Ander algemene wanopvatting is dat Martin Luther in opstand was teen die Kerk, dat hy met dié dokument die Kerk uitgedaag het, en dat hy vasbeslote was om weg te breek van die Rooms-Katolieke Kerk. Die teendeel is egter die waarheid: hy was ʼn uiters lojale monnik in die Kerk tot lank nadat hy daaruit verban is en ʼn konfrontasie was die laaste wat hy wou gehad het. Daar was iets belangriks aan die gang in die Kerk waarmee hy nie saamgestem het nie en hy wou met ʼn interne kollegiale gesprek ʼn proses aan die gang probeer kry om dinge te verander. Sy begeleidende brief wat saam met die disputation na Aartsbiskop Albrecht gegaan het was ʼn klassieke voorbeeld van ʼn brief van ʼn nederige monnik aan ʼn hooggeplaaste adellike Aartsbiskop waarin hy baie beleefd die Aartsbiskop vra om aandag te gee ten midde van sy belangrike pligte aan ʼn minder belangrike saak.

By dit alles was hy egter ook 100% beginselvas en hy wou geen aks afwyk van sy oortuigings nie – dit is volgens Protestantse bronne. Die Rooms-Katolieke bronne bestempel hom as uiters koppig en halsstarrig en ontoegewend, en iemand wat onherroeplike skade aangerig het.

Dit is egter ook ʼn feit dat hy dwarsdeur sy lewe heeltemal vreesloos was en gewillig was om met sy lewe te boet vir sy beginsels.

1.4   Die gebeure: 1517 tot 1523

1.4.1    Binne die Rooms-Katolieke Kerk

Martin Luther was nie op daardie stadium bewus van die Aartsbiskop se direkte finansiële betrokkenheid by die verkoop van die aflate nie, anders sou hy waarskynlik nooit die disputation na hom gestuur het nie. Dié dokument was vir Albrecht ʼn eersterangse dilemma omdat hy verplig was om daarop te reageer en daar was toenemende druk op hom uitgeoefen om iets te doen. Hy het ten einde laaste besluit om die warm patat aan te stuur na die Pous toe.

Hierna was die gebeurtenisse heeltemal buite Martin Luther se beheer. Dat sy disputation in die Pous se skoot beland was waarskynlik die laaste ding wat hy sou wou gehad het. In plaas van ʼn akademiese bespreking het dit nou ʼn saak geword wat onvermydelik op een of ander stadium sou uitloop op ʼn konfrontasie met die Kerk.

Martin Luther is toe in 1519 deur die Pous na Rome ontbied en dit is hier waar Keurvors Friedrich vir die eerste keer sy integriteit getoon het. Hy het geweet dat Luther heelwaarskynlik nooit lewendig uit Rome sou terugkeer het, en hy was iemand wat baie invloed gehad het by Pous Leo. Hy was in der waarheid een van die kandidate vir die pos van Keiser in 1519. Hy het die Pous toe oortuig om die verhoor van Martin Luther te verskuif na Augsburg. Luther, wat te voet daarheen is, is daar toe ondervra deur die Pous se afgesante sonder dat enige kompromis bereik is en Luther is klandestien in die nag daar weg om te voorkom dat hy gearresteer word.

In 1521 het die Pous vir Martin Luther geëkskommunikeer. Soos gebruiklik het die Kerk toe die saak oorhandig aan die owerheid om dit verder te neem, en so het die aangeleentheid toe in die skoot van die nuwe Keiser Karl V beland. Karl het beplan om sy eerste Ryksdagbyeenkoms in 1521 te belê en hy het toe die Martin Luther-kwessie op die agenda geplaas. Luther is toe na Worms ontbied vir die Ryksdagvergadering. Die Keiser het duidelik nie vir Martin Luther geken nie. Hy het verwag om die aangeleentheid vinnig af te handel: Martin Luther moes eenvoudig voor die hele Ryksdag alles wat hy geskryf het, terugtrek. Die agendapunt was heel laaste op die agenda aangelas – op die tydstip waar sommige afgevaardigdes reeds terug sou vertrek het en die ander haastig was om te vertrek.

Tot almal se ontsteltenis het dit toe nie gebeur nie. Martin Luther het daar opgedaag deeglik voorberei met al sy boeke en geskrifte by hom, en in plaas daarvan dat hy gedwee voor die Keiser en al die adellikes daar sy misstappe erken, het hy die vergadering uitgedaag om met jota en tittel te bewys waar daar enigiets staan in sy geskrifte wat ketters is. Karl V was nie op so iets voorbereid nie en hy was ongeduldig om die vergadering te beëindig. Hy het vir Luther kortgeknip en aan hom die ultimatum gestel: óf hy herroep onvoorwaardelik alles wat hy geskryf het, óf …

Martin Luther se finale toespraak was ʼn meesterstuk in die oratorkuns. Volgens tradisie sou hy dit afgesluit het met “hier staan ek; ek kan nie anders nie. Mag God my behoed”. Dit word vandag beskou as nog ʼn mite rondom hom. Geen amptelike verslag van die vergadering bevat daardie frase nie; dit het eers jare later verskyn in dokumente en dit word vandag algemeen aanvaar dat dit later bygevoeg is.

Keurvors Friedrich was ʼn uitgeslape man. Hy het vir Martin Luther daar vir die eerste en laaste keer gesien sonder dat hulle ooit ʼn woord gewissel het, en hy het geweet dat die brandstapel wéér vir Luther wag. Hy het toe die vergadering oortuig om vir Luther twee dae tyd te gee om die saak te oordink in plaas daarvan om dadelik ʼn antwoord van hom af te dwing waartoe die Keiser ingestem het. Martin Luther is toe klandestien daar die volgende nag weg.

In sy afwesigheid het die vergadering die Edik van Worms uitgevaardig waarin daar in moderne terme ʼn fatwa uitgeroep is op hom. Behalwe die ekskommunikasie was hy ook nou voëlvry. Dit was ʼn oortreding strafbaar met die dood om hom skuiling en kos te gee, en enigiemand was vry om hom om die lewe te bring sonder gevolge.

Op pad na Wittenberg word Luther voorgelê deur ʼn paar gemaskerde struikrowers wat hom op ʼn perd sit en wegjaag in die donker. Dit was nog iets wat deur Friedrich bewimpel is om Luther se veiligheid te verseker. Dit was op so ʼn wyse gedoen dat daar geen vinger na hom gewys kon word nie. Die ontvoerders was in der waarheid ridders wat vir dié doel gehuur is.

Martin Luther het totaal verdwyn uit die publieke oog, en daar was mettertyd algemeen aanvaar dat hy dood is. In der waarheid het hy geskuil in die Wartburg kasteel vir byna ʼn jaar sodat die stof rondom hom kon gaan lê.

1.4.2    Parallelle gebeurtenisse buite die Kerk, ook 1517 tot 1523

Nadat Martin Luther niks van die Aartsbiskop verneem het nie het hy ʼn kopie van sy 59 Stellings vir iemand geleen. Wat daarna gebeur het is byna ongelooflik: iemands anders het dit vertaal in Duits. In al die stede was daar drukperse wat skaars 60 jaar tevore ontwerp en gebou is, en die drukkers was voortdurend op die uitkyk na materiaal om te druk en te verkoop. So het ʼn drukker in Nürnberg Luther se disputation te siene gekry, en hy het dadelik ʼn oplaag gedruk. Dit is in hierdie tyd dat ʼn kopie miskien sy weg gevind het na die Schloßkirche se deur.

Die ongelooflike deel van die gebeurtenis is dat hierdie dokument van Luther absoluut viraal geraak het nadat een drukker dit begin uitgee het. Drukkers het dit die een na die ander in ander stede gedruk soos dit versprei het. Teen Maart 1518 het dit beland by Desiderius Erasmus in Amsterdam. Kort daarna het Thomas More en koning Henry VIII in Engeland dit te siene gekry. Dit was glo binne 18 dae in Spanje beskikbaar.

Die gevolg hiervan was dat nog vóór die Ryksdag byeenkoms in Worms in 1521 Martin Luther se naam bekend was by almal oral in die Heilige Romeinse Ryk. Hy self was totaal oorbluf hieroor en hy het aan iemand geskryf: “dat ʼn eenvoudige stukkie papier soveel omwenteling kan veroorsaak”. Op sy reis na Worms het die mense langs die strate van die dorpe en stede gestaan om hom te sien. By sy aankoms in Worms het hy ʼn helde-ontvangs gehad, in teenstelling met die Pous se afvaardiging wat ongemerk daar hulle opwagting gemaak het. Die stad was in rep en roer en hy moes met agterstrate langs vervoer word om by sy verblyfplek aan te kom. By die dorpe waar hy onderweg oornag het het hy elke aand vir ʼn groot skare mense gepreek.

Gedurende sy gedwonge ballingskap in Wartburg het Melanchthon hom by tye besoek. Hy het ook een klandestiene besoek gebring aan Wittenberg tot die Keurvors se ontsteltenis. Verder het hy nie die hele tyd in die kasteel gebly nie. Hy het ten minste een maal gaan jag saam met die ridders wat in die kasteel gewoon het en verder het hy bedags rondgeloop in die omliggende dorpies om onder andere aantekeninge te maak van die gewone mense daar se taalgebruik vir sy Bybel. Om dit ongemerk te kan doen het hy sy tonsuur bo-op sy kop laat toegroei en ook ʼn baard gekweek. Die skuilnaam wat hy aan homself gegee het was Günter Jorg, en hy het op dié wyse daarvoor gesorg dat niemand hom herken het nie.

Verder was hy baie besig met skryf. Martin Luther was sy hele lewe ʼn geweldige produktiewe skrywer. Sy skryfwerk daar het bestaan uit teologiese dokumente en ook gedetailleerde aantekeninge rondom sy daaglikse bestaan, sy gemoedstoestand en, les bes, sy gesondheid. Hy het erg aan konstipasie gely wat hy in groot detail beskryf het.

Sy magnum opus was egter sy vertaling van die Nuwe Testament. Hy het dit man alleen gedoen oor slegs 11 weke. Die vertaling is later geredigeer en verbeter deur Melanchthon voordat dit in 1523 gedruk en uitgegee is. Dié uitgawe was geïllustreer deur Lucas Cranach om dit meer verstaanbaar te maak vir mense wat nie goed geletterd was nie.

Daar word soms geglo dat Luther dit gedoen het om ʼn eerste Bybel in Duits daar te stel vir die gewone mense. In der waarheid het daar sedert die Middeleeue omtrent 12 vertalings in een of ander Duitse dialek alreeds verskyn. Dié vertalings was egter swak, en verder was dit gedoen uit die Latynse weergawe van die Bybel (die Vulgaat) wat dateer uit die 4de eeu en wat deur die Katolieke Kerk gebruik word en nie vanuit die oorspronklike Grieks nie. Luther het die pas verskene Textus Receptus Griekse Nuwe Testament van Desiderius Erasmus gebruik.

Die Lutherbybel word vandag nog steeds gebruik alhoewel dit nie foutloos is nie. Een rede daarvoor is dat die Textus Receptus ʼn verouderde Griekse bronteks is wat nie meer in moderne vertalings gebruik word nie. Verder hang Martin Luther se dogmatiese onderrok hier en daar uit. Sy Romeine 3:28 lui byvoorbeeld in Afrikaans: “Ons is immers daarvan oortuig dat ʼn mens regverdig verklaar word alleenlik deur die geloof, en nie deur werke van gehoorsaamheid aan die wet nie.” Die onderstreepte woord kom nie voor in die oorspronklike nie, en ander moderne Bybelvertalings bevat dit nie. Melanchthon het hom voor stok gekry hieroor maar hy wou nie kop gee nie. Sy verweer was: “ons almal weet dat dit tog is wat Paulus bedoel het”.

Die Ou Testament is met verdrag gedurende die laat 1520’s en die vroeë 1530’s voltooi met die hulp van ander vertalers. Die volledige Lutherbybel het die eerste keer in 1534 verskyn. Oor dié Bybel meer later, dit kan hier genoem word dat dit ʼn ongeëwenaarde ʼn stuk literatuur was. Dit het meteens die geskrewe Duitse taal gestandaardiseer.

1.5   Die 1520’s

1.5.1    ʼn Radikaal nuwe omgewing

ʼn Tweede ongelooflike gebeurtenis rondom die publikasie van die 95 Stellings is hoedat dit die gedagteprosesse en die optrede van die burgery verander het van ʼn eerbiedige gehoorsaamheid aan die owerheid tot ʼn bevraagtekening van alles. Terwyl Luther nog in die Wartburgkasteel was, het daar grootskaalse burgerlike onrus uitgebreek wat op plekke oorgegaan het in totale anargie. Mense was nie meer bevrees vir die Pous en vir die Rooms-Katolieke Kerk nie, en kloosters het leeg geloop soos die bewoners alles waarop hulle hulle hande kon lê geneem het en die pad gevat het. Priesters – onder andere die priester van die Keurvors se Schloßkirche – het getrou en daarna ongestoord voortgegaan met hulle pligte. Die priester in die Stadtkirche het begin om die Mis te bedien in Duits. Die studente het die universiteit in Wittenberg in groot getalle verlaat. Die Ridderorde het ʼn kortstondige gewapende opstand gehad teen die owerhede wat gedeeltelik aangevuur was deur die ideale van die Hervorming. Die Ridders het byvoorbeeld geweier om verder hulle verpligte tiendes aan die Kerk te lewer. Dié opstand was die voorloper van die latere veel meer bloedige Oorlog van die Kleinboere.

Martin Luther het die Wartburgkasteel verlaat na ʼn tien maande verblyf daar. Die Keurvors het gedink dit dit onwys was maar hy het genoeg gehad van wat hy genoem het sy “Patmos”.

Wittenberg het onherkenbaar verander in die kort tydperk van sy afwesigheid daar. Hy het weer sy intrek geneem in die Swart Klooster wat heeltemal leeg gestaan het gestroop van al die meubels en ander los goed. Sy studente by die Universiteit was baie minder en sy salaris was dienooreenkomstig ook kleiner.

Luther se Nuwe Testament word in daardie tyd vir die eerste keer uitgegee. Behalwe vir die teks het dit uitgebreide kommentare, verklarings en kantnotas van Luther bevat om die mense te help wat vir die eerste keer ʼn Bybel self lees. Dit het ook talle illustrasies deur Lucas Cranach bevat, sommige daarvan heeltemal eksplisiet. Op die volgende bladsy is ʼn Cranach-illustrasie van die beskrywing in Openbaring 17 wat handel oor die “hoer van Babilon” in die woorde van die 1953-vertaling. Wat hierdie illustrasie besonders maak is dat die “hoer” die Pous se kroon dra. Die eerste oplaag was 3000 kopieë en die prys daarvan het min of meer ʼn jaar se inkomste van ʼn kleinboer beloop. Ten spyte daarvan is die oplaag het binne enkele weke uitverkoop. ʼn Tweede oplaag is toe gedruk wat binne ʼn paar maande verkoop het. Die drukker het toe gesien wat die mark kon hanteer, en met sy derde oplaag het hy sy prys verdriedubbel. Daar is oor ʼn tydperk van 7 jaar altesaam 12 herdrukke gedoen.

Die burgery het op groot skaal die Rooms-Katolieke Kerk verlaat en Martin Luther was druk besig om die embrioniese nuwe kerk te vestig. Die woorde “Protestant” en “Lutherse Kerk” het op daardie stadium nog nie bestaan nie.

Die Keiser was nie weer in Duitsland voor 1530 nie en kon niks doen om die uittog uit die Rooms-Katolieke Kerk gedurende die 1520’s te verhoed nie. Hierdie feit het ʼn unieke kans gebied vir die nuwe beweging om gevestig te raak. Toe die Keiser teen 1530 weer aandag aan die probleem wou gee was dit te laat. Die situasie was toe al onomkeerbaar.

Soos dit dikwels die geval is, was daar van die begin af onmin en stryd onder die wegbrekers uit die Rooms-Katolieke Kerk. Daar was ʼn faksie wat van mening was dat Martin Luther nie naastenby ver genoeg gegaan het nie. Sy liturgie en interpretasie van die Bybel asook sy kerkregering – hy het bv. biskoppe ingestel – het te veel nog elemente gehad van die Katolieke Kerk. Daar het ʼn belangrike faksie hulleself geposisioneer nog verder weg van die “papiste” en Martin Luther was net so besig om hulle te beveg as die Katolieke. Dié beweging het die naam gekry van die Anabaptiste omdat hulle ook die kinderdoop verwerp het.

Keiser Karl was betrokke by verskeie konflikte soos dié teen die Franse koning François I, die Turke by Wene en ook die Pouslike State in Italië. Soms het hy hulp nodig gehad van die Luthergesinde Duitse prinse wat die gevolg gehad het dat Martin Luther se voëlvryverklaring en ekskommunikasie sporadies opgehef is om later weer heringestel te word.

1.5.2    Kommunikasie

Na die ontwikkeling van die drukpers het daar ʼn kommunikasiemedium in Europa ontwikkel in die vorm van sg. “pamflette”. Dit was tipies iets van vyf tot agt bladsye wat deur iemand geskryf is en laat druk is en dan versprei is. Pamflette was ʼn belangrike kommunikasiemedium en dit het ʼn sleutelrol gespeel om die beginsels van die Hervorming te versprei. Daar het gereeld “pamfletoorloë” uitgebreek wanneer Martin Luther aangeval is uit een of ander een oord en waarop hy dan geantwoord het. Martin Luther was ʼn produktiewe skrywer gewees; sy pamflette was duidelik bewoord en in Duits (van die antwoorde op sy geskrifte was dikwels in Latyn) en dikwels geïllustreer deur Lucas Cranach, somtyds met baie eksplisiete uitbeeldings.

1.5.3    Sy huwelik

Martin Luther het in 1523 sy vriende en sy vyande – en homself – verras deur te trou.

Sy vrou – Katharina von Bora – was ʼn non in ʼn klooster by Nimbchen. Haar stiefma het haar op 6-jarige ouderdom soontoe gestuur sodat dit die enigste lewe is wat sy eintlik geken het. Die pamflette oor die skeuring in die Katolieke Kerk het ook dié geslote gemeenskappie bereik en in 1523 het 12 van die nonne daar besluit dat hulle genoeg gehad het van die bestaan daar, en dat hulle wou ontsnap. So iets was strafbaar met die dood, ook vir enigiemand wat hulle hulp verleen. Martin Luther was óf betrokke by die reëlings van die ontsnapping, óf hy was goed op die hoogte daarvan.

Op Paassondag het daar ʼn perdewa by die klooster opgedaag met die weeklikse aflewering van gesoute vis in houtvate asook – tipies Duits – vate met bier. Nadat dit afgelaai is is daar leë vate op die wa gelaai en ʼn seil is daaroor getrek. Die nonne het ongemerk onder die seil ingekruip tussen die vate en is op dié wyse die wye wêreld in. Die agtergeblewenes in die klooster het eers na enkele dae die moederowerste terloops meegedeel dat daar van hulle kollegas vermis word.

Die nonne is in Wittenberg gehuisves en hulle het spoedig óf terug gekeer na hulle families, óf hulle is opgeraap deur mans op soek na ʼn vrou. Naderhand het slegs Katharina oorgebly wat nie belang gestel het in enige van die mans wat aan haar voorgestel is nie. Sy en Martin Luther het geweet van mekaar, maar Luther het nie in haar belang gestel nie. Volgens hom was sy te spraaksaam en geneig tot baasspelerigheid. Ook, het hy geskryf, het hy nie “ʼn brandende begeerte” in die woorde van Paulus gehad na haar nie. Katharina het egter ander planne gehad. Sy het aan Lucas Cranach (by wie sy ingewoon het) aangedui dat sy net in één man belang stel: “der Doktor” soos sy hom genoem het. Luther was daardie tyd al ʼn middeljarige 41 jaar oud, en sy was 26. Sy het toe die inisiatief geneem en via Cranach aan Luther ʼn brief gestuur waarin sy hom gevra het om met haar te trou. En hy het ingestem: “skielik, terwyl ek met heeltemal ander gedagtes besig was in my kop, het God my in ʼn huwelik in gedompel”.

Melanchthon veral was hewig ontsteld hieroor omdat hy gereken het dat die getroude lewe met Martin Luther se baie belangrike werk gaan inmeng, en hy het toe ook nie die huwelikseremonie bygewoon nie. Luther se vyande het die huwelik benut deur pamflette die lig te laat sien waarin die spot genadeloos gedryf word met hom en met sy nuwe vrou. Van die pamflette het baie onvleiende spotprente bevat van die egpaar, en die woord “prostituut” was vrylik gebruik wanneer verwys is na Katharina.

Die dorpsraad van Wittenberg het ʼn onthaal gegee na die huwelik, en ʼn vat bier geskenk daarvoor. Die Aartsbiskop van alle mense het vir hulle ʼn aansienlike som geld geskenk – mens kan bespiegel op watter wyse hy aan die geld gekom het. Die grootste geskenk egter het gekom van die nuwe Keurvors. Friedrich is kort tevore oorlede en is opgevolg deur sy broer Johann wat van die begin deel was van die Hervorming. Johann het aan die Luther-paar die Swart Klooster kompleks geskenk waarin Martin Luther al die jare gewoon het. Die Klooster was op daardie stadium dolleeg en baie verwaarloos.

Nou het Katharina gewys waartoe sy in staat was. Sy het die Klooster opgeknap en ingerig as ʼn bed-en-ontbyt-oornagplek / konferensie­sentrum / tydelike-toevlugsoord-vir-weeskinders / skuilplek-vir-mense-in-nood / hospi­taal-vir-mense-wat-die-pes-onder-lede-het. Die Klooster het ʼn groot groentetuin gehad waar sy met groente begin boer het vir die mark, en haar man was verantwoordelik daarvoor en hy het onder haar toesig daar moes werk. Dan het sy nog begin met melkkoeie en binnekort het die Luthers die grootste melkkudde in Wittenberg gehad. Om dit alles te bedryf het sy ʼn personeel van 12 gehad om haar te help. En – tipies Duits – het sy ʼn brouery ingerig in die kelder, en haar man het geskryf dat die produkte uit die kelder voortreflik was.

Dit was die begin van die beste tyd in Martin Luther se lewe wat geduur het tot die middel van die 1530’s. Hulle het ses kinders gehad waarvan vier oorleef het. Martin Luther het verander van ʼn asketiese verstokte humorlose monnik tot ʼn gemoedelike persoon wat baie lief was vir sy bier en sy wyn en ook vir lekker eet. Sy vyande het hom uitgemaak vir ʼn alkoholis hoewel hy nooit gesien was dat hy te veel gehad het nie, en hy het ook by tye ernstige preke gehad oor die sonde van oormatig drink.

Die klooster was druk besoek deur oornaggaste. Daar was soms tot 50 mense gelyk teenwoordig wat óf vir Martin Luther kom sien het óf oornag het op pad na elders. Die eetsaal van die klooster het ʼn lang tafel gehad waar by almal saans aangesit het. Martin Luther was aan die hoof en Katharina was langs hom aan die tafel – iets wat van die gaste soms erg ontstel het omdat dit ongewoon was vir ʼn man se vrou om saam met die gaste aan die tafel te sit, en dan nog boonop deur nie stil te bly nie en op ʼn gelyke vlak met die mans aan die gesprekke deel te neem. Dit was blykbaar ʼn gemoedelike verwelkomende plek. Miskien te veel so omdat een reisiger wat daar wou oornag afgeraai is om dit te doen aangesien hy nie baie slaap die nag sou kry nie.

Die aandetes was waar Martin Luther se bekende “tafelgesprekke” plaasgevind het. Luther het by dié geleenthede gepraat met die gaste oor enige onderwerp wat hom binnegeval het of wat deur een van die gaste opgehaal is. Dié gesprekke is noukeurig deur hom op kentekenende wyse opgeteken. Sommige van hulle is ook deur die gaste opgeteken en bewaar. Die tafelgesprekke beslaan altesaam drie volumes uit Martin Luther se versamelde geskrifte van 120 tot 150 volumes en gee ʼn belangrike insig in sy denke en sy preokkupasies en sy hele komplekse persoonlikheid.

Luther was in dié tyd bedrywig met die groenteboerdery, met preek en met skryf van sy teologiese geskrifte. Mense het hom ook besoek met hulle persoonlike probleme en hy het opgetree as ʼn berader. Die advies wat hy gegee het was dikwels heel oorspronklik en onkonvensioneel.

1.5.4    Die Protestantisme groei

In die 1520’s was daar ʼn magsvakuum in Duitsland. Die Keiser se aandag was gevestig op die een oorlog na die ander waarin hy betrokke was. As gevolg hiervan het die beweging wat later bekend sou staan as die Protestantisme vinnig gegroei in Duitsland en ook in die naburige Switserland onder Ulrich Zwingli en later Johannes Calvyn. Van die prinse in Duitsland het daarheen oorgegaan en dan het hulle hele gebied amptelik “Protestants” daarmee saam geword.

Een belangrike feit egter in hierdie verband is die redes waarom hulle die Rooms-Katolieke Kerk verlaat het. Mense soos Martin Luther en die ander geestelikes het die Kerk verlaat of is daaruit verban om doktrinêre redes. Daar het egter groot onkunde geheers onder die adellikes en die burgery hieroor. Die meerderheid waarskynlik wat Protestant geword het op daardie stadium het nie ʼn werklike bekering in die konvensionele in van die woord daartoe ervaar nie, maar het van die geleentheid wat ontstaan het gebruik gemaak om weg te kom van die Rooms-Katolieke Kerk. Martin Luther het gemeenskappe rondom Wittenberg besoek en hy was ontsteld om waar te neem dat die nuwe bekeerlinge nog steeds hulle Rooms-Katolieke kultuur beoefen het soos die venerasie van die Katolieke heiliges en die bieg en die viering van die Katolieke heilige dae. Dit sou ʼn generasie duur vir die Katolieke kultuur om te verdwyn onder die Lutherane.

Daar bestaan nie ʼn definitiewe datum vir die stigting van die Lutherse Kerk nie. Dit jaar 1527 word algemeen geneem as die stigtingsjaar daarvan. Dit sou egter nog 19 jaar duur voordat die Kerk erkenning van die owerheid ontvang het en die vervolging beëindig is.

1.6        Die Augsburg-belydenis

Keiser Karl het in 1530 vir die eerste keer weer na Duitsland teruggekeer. Hy het ʼn Ryksdag belê in Augsburg waar hy onder andere weer wou probeer om die Protestantse opstand die nek in te slaan. Die tydperk tussen die vorige Ryksdag van 1521 en 1530 was gekenmerk deur hewige en soms bloedige sosiale opstande waarin die gesag op alle vlakke uitgedaag is. Die gesag van die Pous en van die Keiser was nie meer as ʼn gegewe nie en daar was ʼn nuwe Duitse nasionalisme teenwoordig wat eventueel sy hoogbloei sou ervaar in die laat 19de eeu en wat gelei het tot ʼn verenigde Duitsland.

Die Keiser se plan was om die Protestante aan te hoor en dan die Prinse finaal die kans te gee om kant te kies. Martin Luther en Melanchthon en ander het gewerk aan ʼn dokument wat later bekend sou word as die Augsburg Konfessie. Dit is by die Ryksdag voorgedra deur Melanchthon en Keurvors Johann. Martin Luther kon dit nie bywoon nie omdat hy nog steeds verban was in die gedeelte van die land waar die Ryksdag gehou is.

Die stemming was ʼn sleutelgebeurtenis vir die Protestantisme: tot die Keiser se teleurstelling het die meerderheid Prinse die dokument aanvaar. Dit was die begin van die proses van die legitimering van die Lutherse Kerk wat uitgeloop het op die erkenning van die Kerk in 1556. Die Konfessie is vandag nog een van die belydenisskrifte van die Lutherse Kerk

Dit het onmiddellik ʼn polarisering veroorsaak in die geledere van die Duitse Prinse. Die Protestantse prinse het hulleself georganiseer in die sg. Schmalkaldiese Liga. Die Liga en die Katolieke Prinse was vir die volgende 15 jaar in sporadiese gewapende konflikte betrokke totdat die Lutherse Kerk amptelik erken is.

1.7   Opsommend

  • Martin Luther het dit nooit aanvanklikbedoel om van die Katolieke Kerk weg te breek nie. Hy het tot ʼn laat stadium nog gehoop dat daar ʼn gesprek tussen hom en die Kerk kon plaasvind om die verskille by te lê.
  • Hy het sy beginsels gehad en hy was gewillig om te sterf daarvoor. Die Katolieke bronne vanuit hulle invalshoek bestempel hom as “koppig” en “konfronterend’.
  • Hy het onbedoeld die proses aan die gang gesit maar daarna het gebeurtenisse grotendeels hulle eie loop geneem. Hy het homself egter nooit op die kantlyn bevind nie en hy het ʼn aktiewe deelnemer gebly tot sy dood.
  • Die Hervorming het geslaag omdat die meerderheid in die Ryskdag oorgegaan het na die Protestantisme. Dié besluit aan hulle kant was om politieke redes en nie om leerstellige redes nie.
  • Die breë bevolking wat oorgegaan het na die Protestantisme het dit ook gedoen dikwels om nasionalistiese redes en ʼn afkeer teen die Pous wat ver van hulle af was.
  • Die begin van die Hervorming was eerder ʼn politieke en sosiale revolusie as ʼn kerklike revolusie. Een van die wondere van die Hervorming is hoe die Kerk vanaf hierdie begin geleidelik binne ʼn generasie verander het van ʼn rebelle-organisasie tot ʼn nuwe volwaardige Kerk met ʼn nuwe etos en ʼn nuwe kerkregering en ʼn nuwe liturgie, en sy eie leer.
  1. Waarom Martin Luther se opstand teen die Kerk geslaag het

Martin Luther was nie die eerste wat in opstand gekom het teen die Pous en die Kerk nie. Die Lutherse kerk was ook nie die eerste nie-Rooms-Katolieke kerk wat gevestig geraak het nie.

Daar was die Waldensiërs al in die 12de eeu wat intens vervolg was en uitgewyk het na die noorde van Italië waar daar vandag nog ʼn klein groepering Waldensiërs bestaan. Die suksesvolste onafhanklike kerk was die Hussiete-kerk van Jan Hus in Boheme waaraan die meeste Bohemers op sy hoogtepunt behoort het. Dié kerk het in die 15de eeu ontstaan en het lank na Hus se teregstelling nog gefloreer. Dit het geleidelik na afloop van die Kontrareformasie weer geïntegreer geraak met die Rooms-Katolieke Kerk.

Hier is ʼn gedeeltelike lys van geestelikes wat die Rooms-Katolieke Kerk gelritiseer het en met hulle lewens op die brandstapel geboet het: Arnold van Brescia (1090-1155), Peter Waldo (1140-1205), John Wycliffe (1320-1384), Tomáš Štítný ze Štítného (1333‑1409), Jan Hus (1369-1415), Hieronimus van Praag (1379-1416), Petr Chelčický (1390-1460), Girolamo Savonarola (1452-1498), William Tyndale (1494-1536) en Thomas Müntzer (1489-1525) .

Martin Luther was die eerste rebel wat nie om die lewe gebring is nie. Die Kerk het wel hard pogings aangewend maar Luther het dit elke keer ontwyk – soms ternouernood.

Daar was ʼn aantal faktore wat bygedra het hiertoe:

  • Politieke faktore

Die ondersteuning van Keurvorste Friedrich en Johann en hulle sleutelrolle is reeds genoem. Na die dood van Johann in 1532 is hy opgevolg deur sy broer Georg wat die spit afgebyt het in die Smalkaldiese Oorloë en uiteindelik gestroop is van sy titel.

Keiser Karl se aandag was na die afloop van Worms erg verdeel. Hy was betrokke in die onvermydelike oorloë, hy was fisies nie weer teenwoordig in Duitsland voor 1530 nie, en die hangende Martin Luther-aangeleentheid was vir hom ʼn minder belangrike saak. Pous Leo is buitendien ook oorlede in 1521 wat die druk vanuit daardie oord laat afneem het. Die banvloek op Martin Luther was baie halfhartig toegepas; dit was sporadies deur die Keiser opgehef en dan weer ingestel na gelang van die steun wat hy by tye van die Protestantse Prinse nodig gehad het.

  • Sosiale faktore

Martin Luther was bekend in die hele Duitsland. Hy het die status gehad van ʼn volksheld onder ʼn groot gedeelte van die bevolking. Om hom aan te raak sou nog meer onrus en opstande in Duitsland tot gevolg hê.

  • Die verswakte en verdeelde Katolieke Kerk

Die interne probleme in die Kerk is al bespreek. Die Kerk kon die Martin Luther-aangeleentheid anders gehanteer het en die hele krisis kon voorkom gewees het. Toe die Kerk hom wou teregstel was hulle elke keer in hulle pogings gefnuik. Die Kerk se gebruiklike bondgenoot in die vervolging van ʼn ketter – die burgerlike owerheid – was nie meer die gedienstige handlanger soos van ouds nie. In die 1520’s het die Keiser selfs militêr teen die Pouslike state gedraai wat gelei het tot die plundering van Rome en die gevangehouding van Pous Leo se tweede opvolger Pous Clemens.

  • Die drukpers

Hierdie stuk tegnologie het ʼn sleutelrol gespeel in Luther se oorlewing en in die uitbreiding van die Protestantisme. Eintlik was dit kombinasie van die drukpers plus die vrye mark.

Martin Luther was ʼn baie produktiewe skrywer soos reeds genoem. Hy kon verder in ʼn duidelike maklik verteerbare Duits skryf wat die gewone burgers maklik kon lees.

Luther het die potensiaal van die drukpers meesterlik benut. Hy het pamflette op groot skaal geskryf en dit was dikwels geïllustreer deur Lucas Cranach se etse. Die gevolg was dat sy werk opgeraap was deur die drukkers wat dit gedruk en verkoop het so vinnig soos hulle kon. Wat hy ook al produseer het die grense van Europa bereik in enkele weke.

Hier kom die markkragte nou ter sprake: Luther se skryfwerk was blitsverkopers en geldmakers vir die drukkers. In die hewige pamfletoorloë wat ontstaan het het sy opponente ook die drukpers gebruik het om hom terug aan te val. Dié oorlog was egter baie ongelyk met Martin Luther wat ʼn groot strategiese voordeel geniet het. Die opposisie se uitset was meestal in Latyn, nie altyd goed geskryf nie en hulle moes die drukkers betaal om dit te druk, omdat die publiek nie daarin belang gestel het nie. Getalsgewys het Luther ook sy opposisie oorweldig met sy produksievermoë: hy het nege dokumente geproduseer vir elke een poging tot ʼn weerlegging wat die lig gesien het.

  • Onstabiele sosiale, kerklike en politieke omgewing

Die Heilige Romeinse Ryk in die vroeë 16de eeu het groot onrus en omwentelings beleef soos al genoem is. Teen 1530 was daar al ʼn tweede Pous ná Pous Julius op die troon in Rome. Nóg hy, nóg die Keiser het die tyd of die geleentheid gehad om Martin Luther in alle erns te vervolg. Hy en die Keiser in der waarheid het glad nie langs dieselfde vuur gesit nie.

  • Die persoonlikheid van Martin Luther

Te oordeel aan wat ander persone oor hom geskryf het, moes hy ʼn charismatiese persoonlikheid gehad het van die soort wat natuurlikerwys volgelinge en akoliete agter hom versamel het. Dit was uiteraard dan moeiliker vir enige owerheid om so ʼn persoon te vervolg.

  1. Martin Luther as persoon

Sy lewe het uit drie afsonderlike fases bestaan. In elkeen van die fases het hy ander karaktertrekke geopenbaar soos die omstandighede rondom hom verander het.

  • Die eerste fase was sy lewe tot en met die verhoor in Worms in 1521. Hy het in daardie jare ʼn erg asketiese bestaan gevoer. Hy het alles wat verwag word van ʼn Augustynse monnik gedoen maar tot oormaat toe. Hy het homself byvoorbeeld ure lank self gegesel met ʼn sweep oor sy rug. As die monnike gevas het, het hy dit vir dae aaneen gedoen. Sy weeklikse biegsessies het ʼn hele dag geduur by sy konfessor, en daar word vertel dat hy by geleentheid nadat hy agt ure lank gebieg het, by die deur omgedraai het en terug gekom het omdat hy gevoel het hy nog nie alles gebieg nie, en weer begin het. Hy was ʼn oorywerige Bybelleser en het die hele Bybel van voor tot agter geken. Dit was in teenstelling met die ander monnike wie se normale blootstelling aan die Bybel die daaglikse voorlesing by die aandete was.

Daarmee saam was hy oortuig daarvan dat hy voortdurend intens agtervolg is deur die Satan en hy het ʼn permanente stryd teen die Satan gevoer. Hy het ook gely aan wat hy genoem het sy Anfechtungen wat vandag gediagnoseer sou word as depressie. Daaroor meer later.

  • Die tweede fase was nadat hy met Katharina getroud is. Dié fase het min of meer tien jaar geduur tot die middel van die 1530’s. Die ware Martin Luther het waarskynlik op daardie stadium na vore gekom nadat hy uit is onder die juk van die monnikorde. Hy het verander in ʼn gemoedelike mens wat gehou het van goeie kos en drank en die goeie dinge in die lewe. Sy Anfechtungen het die wyk geneem en die Satan het hom ook met rus gelaat
  • Die laaste fase was in die laaste omtrent tien jaar van sy lewe tot sy dood in 1546. Sy gesondheid het ingegee, hy het in homself gekeer geraak, die Anfechtungen en die Satan was terug erger as tevore, hy het erg humeurig geraak sodat mense hom naderhand heeltemal vermy het, en hy het homself skuldig gemaak aan uiters kru en obsene taalgebruik in sy geskrifte.

Een karaktertrek wat teenwoordig was oor die 30 jaar was sy absolute beginselvastheid in wat hy geglo het. Hy het hom nie deur enige dreigemente en bedreigings laat afskrik nie.

  • Sommige karaktertrekke – positief en andersins

Martin Luther het ʼn komplekse persoonlikheid gehad met sommige uiters negatiewe fasette wat grotendeels deur die geskiedenis aan die Protestantse kant van die kerkverdeling geïgnoreer word.

Onder die positiewe karaktertrekke tel:

  • Hy was ʼn uiters intelligente man. By die Universiteit van Erfurt het hy logika, psigologie, sferiese astronomie, metafisika, wiskunde, rekenkunde, musiekteorie, perspektief, natuurfilosofie, morele filosofie, politiek en ekonomie gestudeer bo en behalwe sy godsdienstige studies. Hy het belang gestel in die natuurwetenskappe en het bv. sterk daarvoor geargumenteer dat medisyne gebruik moet word in geval van siekte. Hy het belang gestel in die astronomie, en hy het astrologie (waarvan Melanchthon ʼn groot aanhanger was) in teendeel afgemaak as “afgodery” en “strydig met die eerste gebod”. Hy het kennis gedra van Copernicus (ʼn tydgenoot) se heliosentrisme, en hy het op wetenskaplike gronde geargumenteer dat dit na sy mening nie korrek kon wees nie.

Sy kennis van die astronomie het hom laat glo dat God nie in ʼn hemel daarbo is nie, maar dat God alomteenwoordig is op die aarde. Ook het hy nie die beskrywing van Christus wat sit aan die regterhand van God letterlik aanvaar nie.

  • Hy was geweldig produktief. Die versamelde werke van al Martin Luther se geskrewe uitsette beslaan 120 to 150 volumes – afhangende van die uitgewer. Daarin is vervat sy preke, die groot getal polemiese “pamflette”, sy briewe, sy “tafelgesprekke”, die Lutherbybel en dan sy informele dagboeke waarin hy van sy alledaagse ervarings opgeskryf het. Sy uitset het ʼn verstommende een-derde beslaan van alle werk wat in Duitsland gedruk is voor 1550.
  • Hy was ʼn uitnemende woordkunstenaar. Hy het nie net ʼn groot uitset gehad nie, maar die kwaliteit daarvan was hoog. ʼn Verbasende feit is dat Martin Luther die Duitse taal meer verryk het met nuwe uitdrukkings as wat Shakespeare gedoen het met Engels. Die twee Grimm broers van sprokies-faam het van Luther gesê: “die man kon vloek soos ʼn matroos, maar ander tye weer kon hy sag wees soos ʼn onskuldige maagd”.

Die taal in sy Bybel sou hom vandag die Nobelprys besorg het. Alhoewel moderne Bybelvertalings inhoudelik beter is as Luther sʼn omdat beter Griekse en Hebreeuse brontekste vandag bestaan, word sy Bybel nog steeds uitgegee onder andere weens die poëtiese taal daarin. Hy was lief vir alliterasies; sommige waarvan via Nederlands in Afrikaans tereg gekom het. Soos “die Here is my herder”, en “sy stok en sy staf”.

  • Hy was ʼn bo-gemiddelde musikus. Hy het goed luit gespeel en daar bestaan skilderye van Martin Luther met sy luit omring deur sy hele gesin. Behalwe daarvoor was hy ʼn komponis. Hy het die gebruik in die erediens in­gebring dat die gemeente self liedere moet sing, en daar­voor het hy begin met ʼn bundel liedere. In dié bundel is daar 40 liedere wat hy self gedig het en ook die melodieë geskep het. Die mees bekende is Ein fester Burg ist unser Gott wat hy geskep het geïnspireer deur Psalm 46. Dit is geskryf in 1527 en mens vind al die elemente daarin wat hom daardie tyd gepreokkupeer het soos die fortifikasies wat hulle aan die oprig was rondom Wittenberg, die dood van sy babadogtertjie, die Turke wat Wene bedreig het, die konflikte met die Rooms-katolieke Kerk en sy eie gesondheid wat op ʼn stadium so versleg het dat hy by die dood omgedraai het.

Hier is van die stellings wat hy gemaak het in sy geskrifte oor musiek: “Musiek is een van die mees verhewe kunste; die note gee lewe aan die woorde, en dit dryf die melankolie uit, soos ons sien gebeur het by koning Saul”; “Musiek is die beste vertroosting vir ʼn treurige en bedroefde gees; deur dit word die hart verfris en rustig en vervul met vrede”; “Na die woord van God is musiek die grootste skat in die wêreld” en “Ek het geen tyd vir onnosel mense wat musiek haat nie, want dit is ʼn geskenk van God”. Sy neiging tot depressie blyk duidelik in sommige van hierdie stellings.

ʼn Tekenende insident rondom die anti-Semitisme in Duitsland veel later gedurende die 19de eeu het in 1830 plaasgevind by die driehonderdste herdenking van die aanvaarding van die Augsburg Konfessie. Felix Mendelssohn het sy Simfonie #5 gekomponeer vir die geleentheid. Die simfonie eindig triomfantelik met die koraalmelodie van Ein Fester Burg in die laaste beweging, en dit is bekend as die “Hervormingsimfonie”. Die organiseerders van die geleentheid het egter besluit om nie die musiek te aanvaar nie omdat Mendelssohn Joodse bloed in hom gehad het. Hy was in werklikheid ʼn tweede-generasie Christen, en hy is in die Gereformeerde Kerk gedoop as ʼn kind.

  • Hy was ʼn voorbeeldige gesinsman, tot die verbasing almal wat hom geken het wat nie die middeljarige baie toegewyde monnik kon voorstel as ʼn vader van ʼn gesin en ʼn eggenoot van ʼn vrou nie.

Maar Martin Luther het in daardie rol ingestap asof dit niks vreemds vir hom was nie. Hy self het ʼn moeilike kindertyd gehad omdat sy eie pa ʼn baie humeurige en gewelddadige man was. Sy eie gesin egter het hy nooit sleg behandel nie. Sy vrou Katharina het hy soos ʼn gelyke behandel en by die huis het sy die septer geswaai in teenstelling met die algemene gebruik in die 16de eeu. Hy het geskryf oor die ses kinders wat hulle oor agt jaar gehad het hoe hy dit geniet het om die “vet lawaaierige klein lyfies in die huis te hê”. Sy oudste Hans was sy gunsteling, en oor hom het hy geskryf: “As ek sit en skryf dan sing my Hans ʼn liedjie vir my. As hy te veel lawaai maak dan betig ek hom. Dan gaan hy voort om te sing maar meer privaat en bietjie respekvol en ʼn bietjie ongemaklik”.

Oor Katharina het hy homself onder andere soos volg uitgedruk: “Ek dink die hele tyd watter goeie wyn en bier ek by die huis het, en ook ʼn pragtige vrou”; “My hele lewe was ek gewoond daaraan om op ʼn bed te slaap van ou strooi. Nou word ek soggens wakker en die eerste wat ek sien is ʼn paar vlegsels op die kussing langs my”.

  • Hy was ʼn berader van formaat. Mense het na hom toe gekom met die gewone probleme. Sy advies soms het glad nie gestrook met wat mens sou verwag van ʼn geestelike nie, maar het getuig van ʼn voete-stewig-op-die-grond benadering.

So het hy by geleentheid vir ʼn man met groot huislike probleme gesê: “gaan huis toe en drink jou dronk. Dit gaan nie jou probleme oplos nie, maar jy sal beter voel daarna”. Dié advies kom van dieselfde man wat ernstig en hard gepreek en geskryf het oor die oormatige gebruik van alkohol.

Oor probleme in die huwelik het hy ook uitsprake gemaak wat lynreg gebots het met dié van die Christelike geloof: “wanneer ʼn man nie kan nie, moet sy vrou ʼn ander man soek – verkieslik ʼn naby familielid van haar man. Enige kinders wat gebore word moet die man grootmaak of dit sy eie is” en “as die man nie wil nie, dan is daar genoeg ander wat gewillig is. As dit die vrou is wat nie wil nie, laat die diensmeisie uit die kombuis kom”. Nadat baie sterk druk op hom uitgeoefen was deur ʼn baie invloedryke Protestantse prins wat met ʼn 16-jarige meisie wou trou sonder om van sy vrou te skei: “dit is nie teen die Heilige Skrif vir ʼn man om meer as een vrou te hê nie”.

Dan is daar die minder goeie karaktertrekke van hom ook. Hierdie word grootliks geïgnoreer deur die geskiedenis, veral aan die Protestantse kant.

  • Kru en obsene taalgebruik. Sy taalgebruik kan mens baie moeilik assosieer met iemand van sy statuur. Hy het ʼn groot geneigdheid gehad vir skatologiese taal. Van die minder offensiewe voorbeelde daarvan is: “Ek trotseer die duiwel die hele tyd, en ek vind dikwels dat dit is met ʼn maagwind dat ek regkry om hom weg te jaag”. “Ek is ryp ***, en die wêreld is een groot wye oop *******, en die tyd gaan kom dat ons weë skei”. In ʼn teologiese debat: “Jy sê; wat uit die mond kom is die waarheid – watter mond bedoel jy? Die een waaruit mens winde maak?” Hy het geen persoon ontsien nie; in ʼn brief aan die Pous het hy geskryf: “Jy hou ʼn bordeel aan en daarby is jy die duiwel se dogter in die hel”. Dan is daar die volgende belediging wat hy gerig het aan Koning Henry VIII nadat betrekkinge tussen hulle versuur het: “Jy is die kind van ʼn smerige straatprostituut”. In daardie tyd duidelik was dit die gebruik om die man hard te speel in plaas van die bal.
  • Sy pa was ʼn baie gewelddadige man, en Martin Luther het waarskynlik sy pa se humeur gedeeltelik geërf. Sy woedebuie het erger geword namate hy ouer geword het, maar daar was geen teken dat hy dit ooit uitgehaal het op sy gesin nie. Dit is wel so dat besoekers op kerksake aan Wittenberg in die 1530’s hom sover as moontlik vermy het en verkies het om met Melanchthon kontak te hê.
  • Vroue. Martin Luther se geskrifte laat ʼn baie ambivalente indruk van sy gevoelens oor vroue. Aan die een kant weet ons hoe hy sy vrou en sy dogters behandel het. Hy het iets gedoen soos om skole te begin vir meisies omdat daar geen voorsiening gemaak was daarvoor vir hulle nie. Hy het ook uitlatings gemaak soos “Niks is beter by ʼn vrou nie as die begeerte na wysheid” en “Daar is niks op aarde wat meer teer is as die hart van ʼn vrou as sy toelaat dat medelye daarin verkeer nie”.

Aan die ander kant egter het hy baie harde woorde kwytgeraak oor vroue: “God se woord is baie duidelik: vroue is gemaak om óf vrouens vir hulle mans óf prostitute te wees”; “mans het breë borskaste en smal heupe en het meer verstand as vroue wat klein borskaste het en breë heupe – hulle moet tuis bly, stil sit, huis hou, en kinders kry en hulle grootmaak”; “Satan het sy aanslag op Eva gerig omdat sy swakker is want hy het gesien sy is so afhanklik van haar man dat sy nie besef sy kan sondig nie”; “waarom word meisies vroeër as seuns volwasse? Omdat onkruid vinniger groei as rose” en “as vroue by kindergeboorte sterf is dit geen skade nie – dit is waarvoor hulle gemaak is” .

Dié uitsprake moet natuurlik gesien word in die 16de eeuse milieu, en mens moet voorsiening daarvoor maak dat Martin Luther ʼn “kind van sy tyd” was. Van die uitsprake soos die heel laaste een hierbo egter het selfs die norme van die 16de eeu ver oorskry.

  • Die kleinboere. In 1524 was daar die sg. Bauernkrieg wat later bespreek sal word. Martin Luther was die kleinboere aanvanklik goedgesind en hy het baie simpatie gehad met hulle lot. Toe daar grootskaalse ontwrigting en lewensverlies ontstaan het as gevolg van hulle opstand het sy houding teenoor hulle heeltemal verhard. Dit kon dalk ten dele gedryf gewees het deur politieke gedienstigheid omdat hy in die middel 1520’s baie staatgemaak het op die goedgunstigheid van die prinse. Hoe dit ook al sy, hier is uittreksels van wat hy geskryf het:

Kleinboere is soos strooi. Hulle luister nie en hulle is onnosel; en daarom moet hulle gedwing word om die klap van die sweep en die gefluit van koeëls te hoor. Dit is al wat hulle verdien”. “Om ʼn kleinboer dood te maak is nie moord nie; dit help inteendeel om die verwoestende brand te blus. Laat daar geen halwe maatreëls wees nie! Breek hulle! Sny hulle kele af! Deurboor hulle! Laat geen steen onaangeroerd nie! Om ʼn kleinboer dood te maak is om ʼn dol hond te vernietig!

Martin Luther was ʼn beginselvaste man, maar hy was nie onwrikbaar in ʼn mening wat hy gehandhaaf het nie. Hy kon en hy het sy mening oor ʼn saak soms verander. Oor die kleinboere het hy later geskryf na afloop van die sg. “Oorlog van die Kleinboere” dat heeltemal teen die Evangelie is om enigiemand dood te maak.

  • Sy geestesgesondheid. Dit is moontlik om op grond van sy lywige geskrewe œvre ʼn goeie idee te kry van sy gedagteprosesse en daar bestaan redelike eenstemmigheid vandag dat Martin Luther aan ʼn mate van geestesversteuring moes gely het. Sy Anfechtungen het hy beskryf as ʼn toestand van depressie, gevoelens van ontoereikendheid, en van vervolging deur die Satan, ʼn lae selfbeeld, en ʼn gebrek aan selfvertroue: “al die vertwyfeling, beroering, wroeging, siddering, verlatenheid, en wanhoop wat die gees van die mens kan binnedring”.

Dit is interessant om te lees watter metodes gebruik het om die Anfechtungen te hanteer: “uit eie ervaring kan ek sê hoe jy jouself uit ʼn depressie kan kry. Wanneer jy aangeval word deur somberheid, swartgalligheid en depressie, of wanneer jou gewete jou kwel, dan moet jy eet, drink, en met ander mense gesels. As jy vind dat dit help om te dink aan ʼn meisie, doen dit dan.” Of “soek die geselskap van ander mans uit wanneer die duiwel dinge vir jou moeilik maak, maak grappe en praat onsin, en vang iets buitengewoons aan wat jou opgeruimd stem. Soms moet ons bietjie suip, of jouself vermaak, of selfs ʼn bietjie sondig om die duiwel te uitoorlê sodat ons hom nie kans gee om ons gewete met kleinighede te pla nie. Ons moet nie te hard probeer om doelbewus nie te sondig nie. As die duiwel sê ‘moet nie drink nie’, dan sê jy vir hom ‘net omdat jy vir my sê ek mag dit nie doen nie, gaan ek nou drink, en gaan ek nou sommer baie drink’.”

Die algemene diagnose hiervan is dat hy kon gely het aan ʼn bipolêre gemoedsversteuring en/of ʼn angsversteuring en/of ʼn obsessiewe-kompulsiewe gemoedsversteuring.

  • Sy antisemitisme. Dit is ʼn faset van Martin Luther se karakter wat byna nooit bespreek word nie, en wat nie bekend is in Protestantse kringe nie.

Antisemitisme was vir honderde jare sedert die vroeë Middeleeue endemies in Europa en veral Wes-Europa. In lande soos Spanje, Frankryk en Engeland was teen die 16de eeu alle Jode uitgedryf. In ander lande was hulle getalsgewys min, en hulle was randfigure en hoogstens derderangse landsburgers. Daar was stede in die Heilige Romeinse Ryk waar hulle nie toegelaat was nie; op ander plekke was hulle gekonsentreer in buurte wat later bekend gestaan het as ghetto’s. Hulle was nie toegelaat om enige beroep te beoefen en eiendom te besit nie. In die 16de eeu was die meeste Jode gekonsentreer in Oos-Europa en veral in Pole.

Martin Luther het opgegroei in hierdie kultuur en die probleem rondom die Jode was deel van sy teologiese onderbou. Die Jode was skuldig aan die dood van Christus, en hulle het die skuld vrywillig op hulle geneem volgens Matteus 27:25. En Judas was die personifikasie van hierdie skuld. Die enigste manier om uit hierdie dilemma te kom, is vir Jode om te bekeer en om gedoop te word. In baie lande was dit dan ook die enigste uitweg vir die Jode vir hulle voortbestaan. Bekende persone wat onder druk “bekeer” het en gedoop geword het ter wille van hulle loopbane of ter wille van hulle kinders is Abraham Mendelssohn (vader van Felix die komponis} en ʼn ander bekende komponis Gustaf Mahler.

Martin Luther was aanvanklik die Jode baie simpatiek gesind. Hy het voor sy ekskommunikasie ʼn brief aan die Pous gerig waarin hy die Pous versoek het om genade te betoon teenoor die Jode omdat, volgens Luther, die Jode almal nog in sy en die Pous se leeftye gedoop sou word.

Omtrent 10 jaar later in die laat 1520’s was Luther besig met die Ou Testament se vertaling. Hy het ʼn komitee gehad wat die werk gedoen het omdat sy kennis van Hebreeus nie voldoende was daarvoor nie, en op die komitee was daar rabbi’s ook. Hy het die komitee grappenderwys sy “Sanhedrin” genoem.

Na 1527 het sy houding teenoor die Jode ʼn drastiese verandering getoon. Of iets gebeur het wat aanleiding daartoe kon gegee het is nie duidelik nie; sommige skrywers koppel dit aan ʼn episode waar hy ʼn kosher maaltyd geëet het en daarna by die dood omgedraai het. Vanaf omtrent die 1530’s het sy houding verhard tot ʼn radikale aktivisme wat verby die norme van sy tyd gegaan het. Omtrent daardie tyd het hy geskryf: “Ons het ʼn fout begaan deur hulle nie dood te maak nie. In plaas daarvan het ons hulle toegelaat om vrylik in ons midde te woon ten spyte van hulle moorde, gods­lastering, hulle leuens en gelaster”, en “as ek ʼn Jood moet doop sal ek hom na die brug oor die Elbe neem en ʼn klip om sy nek vasmaak en hom ingooi met die woorde ‘ek doop jou in die naam van Abraham’. Hy het daarna ʼn aantal publikasies oor Jode die lig laat sien, elkeen radikaler as die vorige een. Sy laaste publikasie dateer uit 1543 – drie jaar voor sy dood – en was getiteld “In verband met die Jode en hulle leuens”. Die taalgebruik daarin was plek-plek so kru en skatologies dat dit nie herhaal kan word nie.

Van sy uitsprake wat tot in die 20ste eeu geresoneer het is: “Steek hulle sinagoges aan die brand. Dwing hulle om te werk en behandel hulle so streng soos moontlik, soos Moses in die woestyn toe hy drie duisend uitgedelg het… As dit niks help nie moet ons hulle verdryf soos dol honde sodat ons nie deel het aan hulle gruwelike godslastering en al hulle ander euwels nie. Sodat ons nie die woede van God op ons hoofde kry en saam met hulle verdoem word nie. Ek het my plig gedoen. Laat elkeen nou toesien dat hy sy plig doen”. En: “Steek hulle sinagoges aan die brand. Maak hulle huise gelyk met die grond. Neem hulle gebedeboeke en geskrifte uit die Talmoed van hulle weg. Hulle rabbi’s moet doodgemaak word as hulle voortgaan om te onderrig. Hulle moet geen vrygeleide geniet op die paaie nie. Al hulle geld en goud en silwer moet van hulle afgeneem word. Sit ʼn sekel, graaf, pik, hark, skoffel in elke jong Jood en Jodin se hande dat hulle hulle brood in die sweet van hulle aangesig verdien”.

Dié woorde het ʼn invloed gehad op die Nazi-denke van die 1920’s en die 1930’s. Adolf Hitler het gunstig verwys na Martin Luther in Mein Kampf en Luther was ook gereeld aangehaal by byeen­komste van die Nazi-party. Die Lutherse Kerk in Duitsland het in die 1930’s geskeur in twee faksies: een faksie was sterk geassosieer met die Nazi-party (die Deutsche Christen) terwyl die ander faksie meer gematigd was.

In die nag van 9 tot 10 November 1938 het die Duitse bevolking op ʼn plunder- en vernietigingstog gegaan dwarsdeur Duitsland en baie groot skade aangerig aan sinagoges en Joodse besighede. Die top leierskap van die Duitse kerke het almal geswyg oor die gebeure gedurende die Kristallnacht maar daar was enkele biskoppe van die Lutherse Kerk wat instemmend daarop gereageer het. Daar was biskop Martin Sasse die leier van die “Duitse Christene” in Turinge wat sy instemming met die gebeure betuig het en bygevoeg het “dit is gepas dat dit gebeur het op die geboortedatum van Martin Luther”. Biskop Speier in Berlyn het eweneens geskryf dat “Martin Luther sou hoogs tevrede gewees het hiermee”.

Om te herhaal, Martin Luther was ʼn beginselvaste man maar hy was nie rigied nie. ʼn Mens wonder wat sy siening van die Jode was aan die einde van sy lewe. Hy het enkele maande voor sy dood ʼn kerklied geskep getiteld “O arme Judas, wat het jy gedoen?” ʼn Engelse berymde weergawe van die enigmatiese laaste strofe lui:

T’was our great sins and misdeeds gross

– Nailed Jesus, God’s true Son, to the cross.

– Thus you, poor Judas, we dare not blame,

– Nor the band of Jews; ours is the shame.

Hieruit sou mens die afleiding kon maak dat Luther reg aan die einde van sy lewe nie meer die Jode die skuld gegee het vir Christus se dood nie.

  1. Die langtermyn nalatenskap van die Hervorming

Die Hervorming was ʼn keerpunt in die geskiedenis van Europa. Die kerklike omwenteling het sosiale, finansiële en politieke omwentelings tot gevolg gehad ver buite die kerklike sfeer.

Die Hervorming het eerstens ʼn ander ingesteldheid by die mense teweeg gebring. In die jaar 1500 was Europa grotendeels een massa enersdenkende en nie-denkende Christene wat almal aan een kerk behoort het. Daar was geen onafhanklike denke of debatte of meningsverskille wat gelug was nie. Die Hervorming het Europa verander in ʼn pluralistiese en gevarieerde samelewing. Daar was nou – ten goede en ten kwade – onenigheid, godsdienstige oorloë, sosiale, persoonlike en politieke vryheid, egalitarisme en demokrasie. Dit alles het binne een generasie plaasgevind.

  • Politieke en sosiale omwentelings
  • Dit het begin met die opstand van die ridders in Duitsland. Die ridders en ridderordes in die Middeleeue was beskou as ʼn sosiale klas net onder die adelstand. Na die Middeleeue het die ridderstand agteruit gegaan. Die opkomende handelsklas het hulle geleidelik uitgedruk en hulle tradisionele rol wat hulle gespeel het as handhawers van vrede en van die openbare orde het al hoe minder belangrik geraak. Hulle het ook ʼn morele, religieuse en sosiale kode van hulle eie gehad wat geleidelik afgetakel geword het. Teen die 16de eeu was die ridders nie meer die toonbeeld van “ridderlikheid” nie, en het hulle hulle skuldig gemaak aan rampokkery en uitbuiting van die laer sosiale klasse. Aan die einde van dié eeu was hulle rol dan ook grootliks uitgespeel. Lande het hulle eie soldate en polisie gehad wat die rolle van die ridders by hulle oorgeneem het.

Daar was ʼn kortstondige en bloedige opstand onder die ridders in 1522 aangevuur deur die ideale van die Hervorming. Dit het rampspoedig geëindig vir die ridders met die dood van hulle leier.

  • Net daarna was daar die oorlog van die kleinboere waarna reeds verwys is. Dit was die bloedigste oorlog ooit in die geskiedenis tot die uitbreek van die Franse Revolusie. Dit het begin in die tyd toe Luther terug was in Wittenberg en getroud is met Katharina. Sy aanvanklike simpatie teenoor die kleinboere voordat die konflik losgebars het is deur die kleinboere beskou as ʼn aanmoediging. Hulle het hulle egter skuldig gemaak aan erge gruweldade sodat Luther se simpatie spoedig verdwyn het. Dit het ontwikkel in ʼn ongelyke stryd tussen hulle en die goed gewapende soldate van die prinse, en na omtrent 2 jaar was dit verby. Van die 300 000 kleinboere het 100 000 hulle lewens verloor.
  • Daarna was dit die Smalkaldiese oorloë. Die Katolieke en die Protestantse prinse het by die Ryksdag van Augsburg verdeel geraak in twee groepe. Laasgenoemde groep het hulleself genoem die “Smalkaldiese Liga”. ʼn Konflik tussen die twee ligas het uitgebreek in 1546. Vir die Smalkaldiërs was dit aanvanklik ʼn religieuse konflik, maar dit het later oorgegaan in ʼn politieke konflik omdat hulle gehoop het om hulleself los te maak van die Heilige Romeinse Ryk. Keiser Karel V het die Katolieke troepe aangevoor en hy het weer die hoop gekoester dat die Protestantisme die nek ingeslaan kon word. Die oorlog het geëindig in 1547 met ʼn verpletterende nederlaag vir die Smalkaldiërs. Die Keiser was op die piek van sy mag en hy het in 1648 ʼn edik uitgevaardig wat die weg voorberei het vir die reïntegrasie van die Protestante met die Katolieke Kerk. Dit het weer ʼn rebellie ontketen en hierdie keer was die bordjies verhang en die tweede Smalkaldiese Oorlog het uitgebreek in 1552. Koning Henri II van Frankryk het om sy eie redes tot die stryd toegetree aan die Protestantse kant. Die het gelei tot ʼn vernederende neerlaag vir die Keiser en tot sy abdikasie. Die Vrede van Augsburg in 1555 het onder andere die Lutherse Kerk formeel erken.

Die oorloë het mense se lewens verwoes. Katharina wat toe al Martin Luther se weduwee was moes Wittenberg in 1546 ontruim. Toe sy in 1547 terugkeer was haar eiendomme verwoes. Die Swart Klooster was nie bewoonbaar nie en haar boerderye was alles tot niet. Sy en haar kinders het in armoede verder geleef op geld wat die Keurvors vir haar beskikbaar gestel het. Toe sy Wittenberg ʼn tweede keer moes verlaat het haar rytuig gegly op ʼn ysige pad en Katharina het langs die pad in ʼn watersloot beland. Sy het vir drie maande in en uit ʼn koma gegaan voordat sy in 1552 in Torgau oorlede is.

  • Die Franse godsdiensoorloë. Elke konflik of reeks konflikte was bloediger as die voriges, en die Franse godsdienstige konflikte het ʼn nuwe standaard daargestel vir die getal mense wat omgekom het. Dié konflikte het begin in 1562 met die 1ste godsdiensoorlog. Die 7de oorlog het geëindig in 1585 met die berugte St Bartholomeusnag wat in 1572 plaasgevind het. Na hierdie reeks oorloë het daar talle konflikte van allerlei aard plaasgevind soos ʼn reeks van Hugenote-rebellies in die 1620’s en die konflikte wat gevolg het op die herroeping van die Edik van Nantes in 1685. Die laaste een was die Cévennes-oorlog wat in 1704 geëindig het. Die resultaat van al hierdie was dat daar die begin van die 18de eeu min Protestante oor was in Frankryk. Hulle was óf vermoor, óf het op groot skaal geëmigreer, of hulle het onder dwang her-“bekeer” tot die Katolieke geloof. Uit die aanvanklike ± 3 miljoen Hugenote in die 16de eeu het daar net enkele duisende oorgebly aan die begin van die 18de eeu.
  • Die dertigjare oorlog.

Die oorlog het aanvanklik ontstaan in 1618 tussen Protestantse en Katolieke prinse. Dit was ʼn vonk in die politieke kruitvat van daardie tyd en dit het begin eskaleer. Wat aanvanklik ʼn gelokaliseerde oorlog was het die meeste Europese lande later betrek en die rede vir konflik het beweeg van ʼn Protestant-Katolieke stryd tot ʼn magsbalans-stryd tussen die Europese magte van daardie tyd. Dit het ʼn ongekende spoor van verwoesting gelaat in Duitsland wat groter was selfs as dié wat Duitsland ervaar het in die Eerste Wêreldoorlog. Omtrent 40% van die Duitse bevolking het nie die oorlog oorleef nie weens siektes, misoeste, hongersnood en die vyandelikhede self. Die oorlog het die politieke landskap van Europa drasties verander.

  • Die Engelse Burgeroorlog.

Engeland aan die begin van die 17de eeu was sterk anti-Katoliek wat die nalatenskap was van Henry VIII se breuk met die Kerk in die 1530’s. Daar was heelwat religieuse faksies aan die begin van die 17de eeu; Engeland was hoofsaaklik Gereformeerd op daardie stadium, en die Puriteine het die meerderheid gehad in die Parlement toe koning Charles I op die troon gekom het in 1526. Dié koning het gehou van prag en praal; ook in die kerkdienste van die Anglikaanse Kerk. Verder het hy getrou met ʼn Franse adellike wat Katoliek was. Die gevolg was dat die koning beskuldig was van popery – ʼn argaïese woord wat daardie tyd ʼn geheime heulery met die Katolieke beteken het.

Die oorlog het begin 1642 en dit het in drie episodes verloop. Basies was dit die magte wat die koning ondersteun het teen die parlementêre magte. Aan die einde van die eerste fase is Charles I verslaan en is hy tereggestel deur onthoofding weens hoogverraad – die eerste Engelse koning wat deur dié lot getref is. Sy opvolger Charles II het na Frankryk gevlug en Engeland het ʼn tydperk van politieke onstabiliteit beleef toe dit ʼn tipe republiek onder Cromwell was.

Die derde episode het geëindig in 1651. Op daardie stadium het die oorlog gesprei na Wallis, Ierland en Skotland. Daar word bereken dat Engeland 4% van sy bevolking in die oorlog verloor het, Skotland 6% en Ierland het 41% verloor. Laasgenoemde tel onder die grootste nasionale rampe in die geskiedenis. Die Groot Honger in Ierland van 1845 tot 1849 in vergelyking hiermee het 16% van sy bevolking verloor.

Die Engelse Burgeroorlog was die laaste van die groot godsdiens-gedrewe oorloë in Europa. Die oorloë na die 17de eeu het verander van aard in nasionalistiese oorloë.

  • Die Troubles in Ierland (1968-1998) was die mees onlangse sektariese Europese konflik. Dit word beskryf as ʼn “onreëlmatige oorlog” of ʼn “laevlak oorlog”. Die lokus daarvan was Noord-Ierland, maar dit het sporadies gesprei na die Ierse Republiek, Brittanje en die Europese kontinent. Die ongevalle in Noord-Ierland beloop byna 4 000 oor dié tyd.
    • Die toename in kerke en fragmentasie van die Christendom

Vir 1½ millennia was daar net een kerk in Wes-Europa en dié kerk was sinoniem met die Christendom. Toe Martin Luther suksesvol en onbepland wegbreek van die Rooms-Katolieke Kerk is dit asof ʼn damwal gebreek het en nuwe kerke het die een na die onder ontstaan. Voor 1600 was daar al die Calviniste, die Anglikane en die Anabaptiste parallel en soms in kompetisie met die Lutherane. Hierdie groeperings het weer op hulle beurt van die 17de eeu af tot die hede verder gefragmenteer totdat daar vandag enigiets van 25 000 tot 40 000 denominasies in die wêreld is. Dit is moeilik om presies te evalueer omdat dit moeilik is om sommige denominasies van ander te onderskei, en ook omdat daar byna daagliks nuwes bykom. Ander kwyn weer ongemerk weg en verdwyn eventueel.

Iets wat die denominasies in gemeen het, is dat elkeen van hulle glo, in die woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis, dat hulle “die ware kerk” konstitueer en dat elke ander denominasie “ʼn valse kerk” verteenwoordig. Dit is die enigste “geloof” as mens dit so kan noem wat die verdeelde Christendom dalk in gemeen het.

  • Die Protestantse etiek

Die etiek het onder andere behels ʼn groter omgee vir en ʼn betrokkenheid by ander mense. Een aksie van Martin Luther was om sg. liefdadigheidskiste in elke dorp te hê. Mense het items daarin geplaas en behoeftige mense was dan welkom om hulleself daaruit te help met wat hulle nodig het. Daar is egter ʼn verpligting op hulle om te kom en die items terug te plaas wanneer dit hulle omstandighede verbeter het.

Die Calvinisme het sterk posgevat in Nederland en dié land het vlugtelinge soos die Hugenote in groot getalle verwelkom. Nederland is ook die enigste gebied in Wes-Europa wat nooit Jode verjaag het nie. Die talentvolle mense wat hulle op dié wyse bygekry het het bygedra tot die land se groot opbloei in die 17de eeu.

ʼn Deel van die nuwe etiek is die sg. Protestantse Werksetiek. Martin Luther het die volgende eenvoudige beginsels gehad rondom werk en rondom geld bestuur:

  • Werk hard jou hele lewe en maak soveel geld as wat jy kan;
  • Lewe suinig;
  • Deel uit aan mense wat dit nodig het;
  • As jy iets ontvang moet jy dit terug gee wanneer jy kan;
  • Die res van jou geld herinvesteer jy in jou besigheid/boerdery/ambag/ professie. Jou geld moenie ledig lê nie.

Voeg hierby die beginsel dat daar niks verkeerd mee is om wins maak te nie – iets waarvoor die Jode onder andere geblameer was – asook die hele gedagte van mededinging, en die grondbeginsels van die vrye mark-idee was daar.

Hierdie resep het gesorg daarvoor dat Nederland in die 17de eeu die rykste land in die wêreld geword het. Die resep is daarna in Engeland en in Amerika geïmplementeer met die gepaardgaande toename in welvaart.

Daar is ten slotte ʼn interessante korrelasie waar te neem in die geval van Suid-Korea. In die land het die Protestantisme na WO II van 2% van die bevolking toegeneem na 40%. Die land se BNP het in dieselfde tyd 100-voudig toegeneem.

  • Opkoms van die Wetenskap en die Tegnologie

Die Hervorming het ʼn nuwe ingesteldheid teweeg gebring van ʼn belangstelling in alles, nuuskierig wees, vrae vra, alles ondersoek, nie dinge klakkeloos op gesigwaarde aanvaar nie, en die jou verbeelding vrye teuels toelaat. Dit het gelei tot die opbloei van Westerse wetenskap in die 17de eeu. Een van die groot geeste van tyd was Isaac Newton; soos Martin Luther ook ʼn komplekse persoon. Sy analitiese oorspronklike denke het konsepte soos die teorie van universele swaartekrag opgelewer en die infinitesimaalrekene in die wiskunde. Gelyktydig was hy ʼn toegewyde alchemis en ʼn fundamentalistiese Christen. Hy het onder andere die Bybel gefynkam vir verborge numerologiese boodskappe. Die grootste gedeelte van sy geskrewe uitsette was in vandag se terme niks anders as pseudowetenskap nie.

Martin Luther soos reeds genoem het ʼn kennis gehad van die natuurwetenskappe en van die metodologie soos die daardie tyd beoefen was. Maar dan het hy ook aan die ander kant geskryf: “rasionele denke is ʼn prostituut – hy was lief vir daardie etikettering – en die grootste vyand wat die geloof kan hê.

  • Die Demokrasie

Die vroeë Protestantse kerke was van die eerste mini-demokrasieë en dit het radikaal verskil van die tradisionele gesagshierargieë in die Katolieke kerk. Dit was die saadjie wat gesaai is van die beginsel dat gewone mense ʼn land regeer. Veral in Calvyn se gereformeerde tradisie is die gewone lede van die gemeente verkies as ouderlinge en hulle het selfs oor hulle predikant geregeer; iets wat ongehoord was in die Katolieke Kerk. Die ouderlinge het dan verder nog geregeer oor die res van die gemeente.

Op regeringsvlak in Europa het die tradisionele regeerders met verloop van tyd geleidelik hulle mag verloor.

  • Aspekte van die Kolonialisme beïnvloed deur die Hervorming
  • Die tweede nedersetting in Amerika was dié van die Puriteine wat Engeland verlaat het om godsdienstige redes.
  • Dan was daardie Hugenote. Twee groepe Hugenote-koloniste is gevestig: een aan die Kaap en een in Noord-Amerika. Hoewel hulle nie hulle taal en kultuur op die lang duur behou het nie het beide groepe ʼn beduidende invloed gehad op die ontwikkeling van die twee kolonies.
  • Die Protestantisme mag ook ʼn invloed gehad het op die koloniale grense in Noord-Amerika. Frankryk het op ʼn stadium ʼn groot gedeelte van die kontinent besit vanaf die huidige Florida noord deur die binneland tot by die huidige Quebec. Koning Lodewyk XIV het enige Protestante verbied om hulle daar te vestig gevolglik was die Hugenote vlugtelinge verplig om hulle te vestig in die Engelse gebied langs die kus. Die Franse gebied was baie dun bevolk en die Franse het geleidelik gebied afgestaan aan die Engelse totdat daar net die gebied oorgebly het wat vandag die provinsie Quebec in Kanada is. Die wanbalans in die bevolking tussen die Engelse en die Franse gebiede sou kleiner gewees het as die Protestante nie verbied was om hulle in laasgenoemde te vestig nie, en mens kan bespiegel dat die grense dalk anders kon uitgesien het vandag.
    • Die Vrou in die kerk

Die posisie van die vrou in die kerk het nie verbeter nie, eerder inteendeel. In Martin Luther se protestantse kerke was daar geen amptelike rol vir die vrou nie, en ook nie in Calvyn en die ander hervormers se kerke nie. By die Rooms-Katolieke kerk was daar baie beperkte ruimte vir vroue, maar dit was nie nederige posisies nie. Daar was die abdisse van die nonnekloosters wat baie prominente figure was in die kerk. Van hulle het direkte toegang gehad na die Pous self. Sommige is verklaar tot heiliges, soos Scholastica, Teresa van Avila, Hildegard von Bingen, Heloïse, Herrad von Landsberg, Edith of Polesworth en Katharina von Zimmern.

  • Kuns en argitektuur

Oor die eeue was daar uitnemende kuns­werke geskep in die Rooms-Katolieke Kerk in die vorm van argitektuur en in die visuele kunste. Die Protestantse kerke daarenteen was altyd onversier in ʼn reaksie teen die soms oormatige versierings wat in die Katolieke kerkgeboue voorgekom het.

Daar het in die Lae Lande die fenomeen voorgekom van die Beeldenstorm toe Protestante op plunder­togte gegaan het in die 16de eeu en die kuns in Katolieke kerkgeboue gevandaliseer het. In die Domkerk in Utrecht is daar vandag nog ʼn voorbeeld daarvan: daar is ʼn reliëfbeeld in dié kerk waarvan al die koppe van die figure afgebreek is.

  • Musiek

Musiek aan die ander kant het gefloreer. Daar is baie kerkliedere geskep en die gebruik dat die gewone gemeentelede in die diens sing het later oorgegaan na die Rooms-Katolieke kerk ook. Daar was Lutherse komponiste soos Johann Sebastian Bach wat manjifieke kerkmusiek geskep het, en dan was daar ander soos Heinrich Schütz, Jan Pieterszoon Sweelinck, Dietrich Buxtehude, Johann Pachelbel, Felix Mendelssohn-Bartholdy en selfs Johannes Brahms. Luther se ideaal was dat musiek in die kerk die Evangelie moet verkondig en die Skepper moet prys. Dit moes vaardig gekomponeer en vaardig uitgevoer word, en die gemeente moet deel hê daaraan. Hierdie komponiste het in daardie idioom gewerk. Die Hervorming het volgens een bron verder ook ʼn “kultuur van luister na musiek” geskep.

In Engeland was daar Thomas Tallis en Georg Händel wat musiek geskep het in die kerk-kultuur van Henry VIII se Church of England.

  • Die Onderwys

Onderwys was baie belangrik vir Martin Luther sodat elkeen self die Bybel kon lees. Hy het skole begin vir meisies wat nooit tevore ʼn geleentheid vir so iets gehad het nie, en skole is oral gevestig sodat die mense meer geletterd kon word. Die geletterdheid in Duitsland in 1500 was 5%. ʼn Halfeeu later danksy die Hervorming was dit 16%, en nog 200 jaar later was dit 60%. Hierdie inisiatief van Luther was in ander lande nagevolg, en ook in Katolieke lande.

  • Slawerny

Die sosiale gewete betreffende slawerny spesifiek in die kolonies is in Engeland vroeg in die 19de eeu wakker gemaak deur ʼn groep Protestante onder die aanvoering van ene William Wilberforce. Hy was ʼn Britse Parlementslid wat bekeer geraak het en toe die stryd gevoer het vir die afskaffing van slawerny. Die wet wat eventueel dit verpligtend gemaak het was aanvaar in 1833, drie dae voor Wilberforce se dood.

  • Die Amerikaanse Grondwet

Dié Grondwet het ook ʼn interessante verbintenis met Martin Luther. Amerika het in die 18de eeu ʼn episode beleef wat bekend staan as “die Groot Ontwaking”. In die eerste fase daarvan in 1740 was daar ʼn vurige prediker genaamd George Whitefield op die toneel wat ʼn enorme invloed op die bevolking gehad het. Daar is beraam dat 80% van die mense in die destydse 13 kolonies hom ten minste een keer gehoor preek het. Die opstellers van die Grondwet het in daardie tyd daaraan gewerk en dit is in 1787 gefinaliseer. Whitefield se idees het ʼn rol gespeel in die ontwikkeling van die demokratiese denke en van sy idees kan direk terug gevoer word na die filosofie van Martin Luther. Voorbeelde is: gewete en jou trou aan God kom voor jou lojaliteit teenoor die staat; diegene wat Jesus se leringe nie uitvoer nie moet nie gehoorsaam word nie; en elkeen moet vry wees om sy eie geloof te beoefen. Hierdie laaste een staan pertinent in die konstitusie van die nuwe land.