Ons het elkeen ‘n beeld van die wereld. Die vraag is hoe korrek hierdie beeld is gesien die baie konflikterende inligting van baie bronne wat ons ontvang. Ons ervaar ook deesdae dat veral talle politici baie leuens vertel. Baie van die inligting wat ons ontvang fokus op korttermynsake. Alhoewel dit belangrik is spreek dit nie die langer termyn aan nie. Dit is bekend dat sommige baie goed ingeligte skrywers die standpunt inneem dat die wereld tans die beste is van die laaste 220 jaar en sinvolle feite oordra van waarom hul so se.

Een hiervan is Hans Rosling in sy 2018 boek “Factfulness: Ten reasons we’re wrong about the world- and why things are better than you think” Die boek was #1 op die Sunday Times se topverkoperlys en is in 24 tale vertaal. Rosling (1948 tot 2017) was ‘n Sweedse mediese dokter met ervaring van gemeenskapsgesondheid wat later Professor by die Karlinska Instituut, ‘n mediese universiteit, geword het. Hy het in 2005 die Gapminder Foundation gestig met die doel om geskikte data/statistiek oor die wêreld uit bestaande bronne saam te trek en dit in ‘n baie visuele en verstaanbare vorm oor te dra. By die begin van die boek meld hy “This book is about the word and how to understand it”. Hy was ook ‘n vermaarde openbare spreker en het elf lesings by TED gegee (sien lys aan die einde van hierdie opsomming), ook aan die Wêreldbank (WB), Wêreld Ekonomiese Forum, Staatsdepartemente, VVO Agentskappe en talle internasionale besighede.

Feitevraelys

Rosling lei die boek in met ‘n feitevraelys wat hy by meer as 100 lesings gebruik het en wat deur meer as 12,000 deelnemers voltooi is. Die vraelys behels 12 vrae waar drie moontlike antwoorde vir elke gegee word. Indien die leser die vraelys wil voltooi, is die korrkete antwoord aan die einde van hierdie opsomming.

1      Hoeveel meisies sal laerskool in alle lae-inkomstelande in die wêreld voltooi?

  1. A) 20% B) 40%      C) 60%

2      Waar bly die meerderheid van die wêreldbevolking?

  1. A) Lae-inkomste- B) Middelinkomste- C) Hoë-inkomstelande

3      Die gedeelte van die wêreldbevolking wat in uiterste armoede leef, het in die laaste 20 jaar byna…

  1. A) Verdubbel B) Ongeveer dieselfde gebly  C)  Halveer

4      Wat is die lewensverwagting tans in die wêreld?

  1. A) 50 jaar B) 60 jaar  C) 70 jaar

5      Daar is tans 2 miljard kinders in die wêreld tussen 0 en 15 jaar oud. Volgens die VN, hoeveel kinders sal daar in die jaar 2100 wees?

  1. A) 4mj B) 3mj       C) 2mj

6      Die VN voorspel dat teen 2100 die wêreldbevolking met nog 4 miljard sal toeneem. Wat is die hoofrede?

  1. A) Daar sal meer kinders onder 15 wees B) Daar sal meer volwassenes, 15 tot 74 wees C) Daar sal meer oumense bo 75 wees.

7      Hoe het die aantal sterftes per jaar van natuurlike rampe oor die laaste 100 jaar verander?

  1. A) Meer as verdubbel B) Ongeveer dieselfde gebly  C) Met meer as helfte verminder

8      Hoeveel van die wêreld se kinders, 1 jaar oud, is teen sekere siektes ingeënt

  1. A) 20% B) 50%      C) 80%

9      Wereldwyd het mans 30 jaar oud 10 jaar op skool spandeer. Hoeveel jare het vroue van dieselfde ouderdom op skool spandeer?

  1. A) 9 jaar B) 6 jaar    C) 3 jaar

10     In 1996 is tiere, reusepandas en swart renosters as bedreig gelys. Hoeveel van die drie spesies word tans meer krities bedreig?

  1. A) Twee van hulle B) Een       C) Geen

11     Hoeveel mense in die wereld het ‘n mate van toegang tot elektrisiteit?

  1. A) 20% B) 50%      C) 80%

12     Globaal glo klimaatskundiges dat die gemiddelde aardtemperatuur oor die volgende 100 jaar sal…

  1. A) Toeneem B) Dieselfde bly   C) Afneem.

‘n Kitsopname is via Facebook en e-pos plaaslik onderneem en het gemiddeld 25 response ontlok. Die resultate word in die volgende staafgrafiek saamgevat, waar die linker blou staaf die vir die Rosling opname is en die rooi lyn die wat in Suid Afrika verkry is en elke staaf een vraag verteenwoordig. Die gemiddelde korrekte antwoord is 28% en 36% respektiewelik waar die ewekansige antwoord 33% is. Vrae 4 (lewensverwagting), 7 (sterftes agv natuurrampe), 9 (jare wat vroue onder 30 op skool was) en 12 (styging van aardtemperatuur)  is die beste deur die SA groep beantwoord. Waarom is die oorwegende reaksie laer as ‘n ewekansige antwoord? Dit dui op ‘n oorwegende negatiewe wêreldbeeld soos gevorm deur opvoeding, ouerhuis, omgewing, kultuur, persoonlikheid, breinfunksie, emosie en ideologie waar die media en meningvormers ‘n baie belangrike rol speel en waar rasionale denke as’t ware verplaas word.

Die boek beskryf kindersterftes voor die ouderdom van 5 jaar as ‘n barometer van hoe dit in ‘n land gaan en meld “This measure takes the temperature of a whole  society … children are very fragile.. .children are killed by germs, starvation, violence , and so on”. Die syfer was 181 per 1,000 geboortes in 1990 in Sub Sahara Afrika en 72 in 2018 en 11 en 4 in Wes Europa. Die syfers dui groot verskille tussen lande aan maar ook aansienlike verlagings oor tyd soos moeders leer hoe om hul kinders beter groot te maak en die nodige middele daarvoor meer word.

Een van die eerste sake wat aangespreek word is die van ‘n gaping tussen ons en hulle, ryk en arm, Weste en res, Noord en Suid, onwikkel en ontwikkeld. Rosling toon deur middel van grafieke aan dat hierdie gaping die laaste 40 jaar aansienlik vernou het en stel eerder ‘n stelsel van vier vlakke, gebaseer op inkomste, voor. Die WB en VVO het hierdie voorstel aanvaar en in werking gestel. Die stelsel word in die diagram hiernaas geȉllustreer, waar L1 staan vir Vlak 1, L2 vir Vlak 2, ens. Hy beskryf die lewe van mense in elk van die vlakke as volg:

Vlak 1, Inkomste 1$/dag, jou vyf kinders spandeer ure kaalvoet om met ‘n enkel plastiese emmer water by ‘n vuil watergat ‘n uur weg te gaan haal, heen en weer. Op pad terug versamel hulle brandhout en jy berei grys pap voor wat elke dag en elke ete julle hele lewe op die spyskaart is, behalwe die maande wat die swak grond geen opbrengs gee nie en julle honger gaan slaap. Een dag ontwikkel jou jongste dogter ‘n hoes; rook van die vuur beinvloed haar longe. Jy kan nie antibiotika bekostig nie en sy sterf ‘n maand later. Hierdie is totale armoede, jy sukkel aan. Wanneer die opbrengs goed is verkoop jy van die surplus en verdien $2 ‘n dag en dit beweeg jou na die volgende vlak.  Een miljard mense leef vandag so.

Vlak 2, $4/dag, Jy het dit gemaak, jy vervierdubbel jou inkomste, nou koop jy kos wat jy nie self produseer nie, ook hoenders en het dus eiers. Jy spaar en koop sandale vir die kinders, ‘n fiets en meer plastiese emmers. Net 30 minute per dag is nou nodig om water te haal. Jy koop ‘n gasstoof sodat jou kinders skool toe kan gaan. Wanneer die elektrisiteit  aan is doen hulle skoolwerk by lig, dit is te onstabiel vir ‘n yskas. Jy spaar vir matrasse om nie op moddervloer te slaap nie. ‘n Enkele siekte en jy verkoop van jou besittings vir medisyne, dan is jy terug by Vlak 1. Indien jy werk in die plaaslike klere-nywerheid kry is jy die eerste lid van jou familie wat ‘n salaris verdien. 3 Miljard mense leef tans so.

Vlak 3, 16$/dag, jy het meervoudige werk, jy werk 16 uur per dag, sewe dae per week. Jou spaargeld is indrukwekkend en jy installeer ‘n koue kraan. Dit is nie meer nodig om water te gaan haal nie. Met stabiele elektristeit verbeter die kinders se huiswerk en jy koop ‘n yskas waarmee jy kos kan berg en elke dag ‘n ander dis bedien. Jy kan ‘n motorfiets koop waarmee jy na ‘n beter betaalde werk in ‘n fabriek in die stad kan reis. Jy het een dag ‘n ongeluk en moet die geld wat jy vir skoolgeld gespaar het trek om die mediese rekening te betaal. Jy herstel, maar danksy jou spaargeld val jy nie ‘n vlak terug nie. Twee van jou kinders begin hoërskool. Indien hulle kwalifiseer sal hulle beter betalende werk kan kry wat jy nooit gehad het nie. Om dit te vier neem jy die gesin op julle eerste vakansie, een middag op die strand. 2 Miljard mense leef tans so.

Vlak 4, meer as $32/dag. Jy is ‘n ryk verbruiker en $3/dag maak min verskil aan jou daaglikse lewe. Jy het meer as 12 jaar se opleiding, en was al op ‘n vliegtuig vir ‘n vakansie. Jy kan eenmaal ‘n maand uiteet en kan ‘n motor koop. Natuurlik het jy warm en koue water in jou huis. Jy ken hierdie vlak omdat jy hierdie boek kan bekostig en lees. Indien jy die vlak van inkomste ken, verstaan jy moeilik die enorme verskil tussen die ander vlakke, jy sukkel ook om die realiteit van die lewe van die ander 6 miljard mense in die wêreld te verstaan. Een miljard mense leef tans so.

Dit is duidelik dat mense op Vlak 4 geen benul het van die lewe op die laer vlakke nie. Een van die insiggewende produkte van die Gapminder ontwikkeling is die “World Health Graph”, soos links getoon. Die horisontale as is die inkomste in konstante $ per jaar en die Vlakke aan die bokant en die lewensverwagting op die vertikale as. Die grootte van die land word deur die area van elke sirkel verteenwoordig en die kleur die wêrelddeel soos op die klein kaartjie regs op die diagram getoon. Dit is mootnlik om enige jaar vanaf 1800 op die diagram te toon en selfs die progressie vanaf 1800 tot vandag te animeer soos Rosling in van sy TED lesings aantoon. Die direkte korrelasie tussen welvaart en lewensverwagting is duidelik. Dié sagteware maak dit moontlik om talle parameters op beide die vertikale en horisontale asse te wysig en so ander veranderlikes te ondersoek en dit ook oor tyd te laat afspeel. Let op Suid Afrika se posisie so 60% op die inkomste-as en 40% op die lewensverwagtingsas, wat dui op onderprestasie met laasgenoemde wat waarskynlik deur die plaaslike HIVsituasie veroorsaak word.

‘n Algemene negatiewe siening is dat die wereld slegter word, tog is daar talle positiewe tendense oor tyd soos groot afnames in slawerny, oliestortings, koste van sonpanele, HIV infeksies, sterf van kinders, slagveldsteftes, aantal lande met doodstraf, brandstof wat lood bevat,  kinderarbeid, kernwapens, pokke, rookdeeltjies in lug, osoonbeskadiging en hongersnood. Goeie dinge  wat vermeerder is nuwe flieks en musiek, beskermde natuur, stemreg vir vroue, wetenskapsartikels, landbou-opbrengs, geletterdheid, lande wat aan die Olimpiese spele deelneem, kinders wat kanker oorleef, meisies wat langer op skool bly, elektrisiteit, water, internet en immunisering. Sien die boek vir gepaste grafieke. Een van die dramatiese ontwikkelinge die laaste 220 jaar is die afname van absolute armoede, dus die persentasie van mense wat op Vlak 1 probeer oorleef , tot 9% van die totaal tans.

‘ n Deel van hierdie tendens is die toename oor tyd van die mense van die wêreld se lewensverwagting soos die grafiek hieronder toon. Spesifieke situasies het die kurwe na onder afgetrek, voorbeelde is pandemies, oorloë of ernstige hongersnood wat ‘n korttermyneffek het soos gesien kan word.

Een van die gepaargaande tendense is die afname van die aantal kinders per moeder, ook vanaf ongeveer 1950 in Afrika en Asie (grafiek regs bo). Die totaal is tans 2.3 vir die wereld waar dit in 1965 vyf was. Rosling skryf  “Educating girls has proven to be one of the world’s best-ever ideas. When women are educated, all kinds of wonderful things happen in societies. The workforce becomes diversified and able to make better decisions and solve more problems. Educated mothers decide to have fewer children and more children survive”.

Die VVO beraam dat die aantal kinders gaan afplat en dat ouer menses sal bly toeneem soos die kinders ouer word, maar dat die totaal teen 2100 ongeveer 11 miljard sal wees en dan daar sal bly of begin daal.

Die aantal steftes van natuurrampe (storms, droogte, aardbewing, epidemie, hoe temperatuur, vloed, vulkaan, brand) neem vanaf 1900 af behalwe vir die spits in 1920 as gevolg van die Spaanse griep en wys op die mensdom se ontwikkelde vermoë om hierdie krisisse beter te bestuur.  Die wereldbevolking in die vier hoofkontinente tans en in 2100 word hieronder getoon, elke mannetjie verteenwoordig 1 miljard mense.

Die bevolkingsverdeling in 2100 het enorme implikasies, die meerderheid van die mendsom bly dan in Afrika en Asie wat dui op ‘n groot skuif in markte, ekonomië en mag. Hoe gaan die huidige Weste dit hanteer, met wysheid of met konflik soos die geskiedenis ons geleer het?

Demokrasie het ook vinnig toegemeen, vanaf 1% van die wêreldbevolking in 1816 tot 56% in 2015. Heelwat aandag word aan die bestemmingsinstink gegee wat lees “The destiny instinct is the idea that innate characteristics determine the destiny of people, countries, religions or cultures. It’s the idea that things are as they are for ineluctable, inescapable reasons: They have always been this way and will never change”.  Dan word spesifiek na “Afrika kan opvang”  verwys en gemeld dat stadige vordering nie beteken dat geen vordering plaasvind nie, dat Tunisie, Algerië, Morocco, Libië en Egipte goeie vordering maak endat die lande suid van die Sahara eers vanaf 1960 onafhanklikheid gekry het. 50 Jaar gelede was China, Indië en Suid Korea slegter daaraan toe as Afrika suid van Sahara tans, daar is groot verskille tussen individuele Afrikalande. Lande wat goed presteer trek pensioen- en beleggingsgeld wat lei tot verdere groei en ontwikkeling. Die boek meld ook ‘n aantal voorbeelde van beduidende kultuurverandering . Die twee “Wealth Graphs”  hieronder toon die korrelasie van lewensverwagting (toenemend) en babas per moeder (afnemend) vir alle Afrikalande in 2018.

‘n Video in April 2020 van die hoog aangeskrewe Economist tydskrif meld “How Africa could one day rival China” en toon aan dat laerskoolbywoning in Ethiopie vanaf 2000 tot 2015 van 34% na 81% toegeneem het en dat die kinders per ma met geen opleiding 6 was, 4 vir die met primêre opleiding en 2 vir die met sekondêre opleiding. Dieselfde video wys dat die bevolking teen 2100 tussen 2 en 5 miljard kan wees as funksie van spesifieke ontwikkelingscenario wat uitspeel. Die slotsom is dat die kernelement die is van die regeerkunde in hierdie lande wat die “high development” moontlik kan maak.

Godsdiens speel amper geen rol in die korrelasie tussen die vlakke van ontwikkeling en babas per ma nie, soos die diagram regs toon.

Met die lees van die boek is ek getref deur die rol van internasionale agentskappe in baie van hierdie positiewe ontwikkelings/tendense. Met die deurwerk van die indeks kon ek die name van 23 liggame neerskryf. Ons weet dat van hulle tans baie kritiek verduur vanaf sekere bronne met ‘n antiglobliseringsiening.

Ander bronne van inligting oor die tendense/situasie is die boeke van Steven Pinker met die titels van “Better Angels of our Nature: Why violence has Declined”, 2011 en “Enlightened Now: The case for Reason, Science, Humanism & Progress”, 2018. Ook die boek van Michael Schermer “The Moral Arc: How Science makes us better People”, 2017 en Rutger Bregman se “Humankind: A Hopeful history”, 2020.

Om op te som op wereldvlak vanaf 1800 is daar ‘n aansienlike toename in inkomste per persoon, lewensverwagting, skoling van meisies, afname in kindersterftes, kinders per ma en armoede, die beter hantering van natuurrampe, talle slegte dinge wat afneem en ander positiewe tendense, ook die groei van demokrasie. Baie van die sake is natuurlik onderling verwant. Om dit beter te verstaan is dit nodig om aandag te gee aan die sentrale rol van data/inligting. Ons wêreldbeeld is dikwels gebrekkig maar daar is goeie redes daarvoor (intern en ekstern).

Ons kan dit regstel, maar spesifieke aksies is nodig: lees byvoorbeeld “Factfulness” en ander boeke hieroor, kyk na die Gapminder webblad, luister na die Rosling TED videos, soek/kry die korrekte feite vir elke standpunt en maak werk van ‘n feite-gebaseerde wêreldbeeld

Ongelukkig maak vandag se “geraas” (populisme, Trump se vreemde sienings, anti-globalisme, Covid 19, BLM, swak wêreldekonomie, ANC se politieke ideologie en hul “Command Council” se irrasionaliteite) ons onseker oor die toekoms. Maar ons moet onthou dat hierdie dinge korttermyn van aard is en verby sal gaan en dat die langertermyntendens sal voortgaan.

Inligtingsbronne vir die wat verder wil speur

  1. gapminder.org- vir gereedskap, videos, aflaaibare inligting/grafieke/fotos
  2. gapminder.org/tools-offline, Program self, v.5.0.0
  3. YouTube- verskeie Gapminder videos
  4. Facfulness boek, Kindle @ $3.44, TakeALot @ R149 plus posgeld.

Lys van TED Lesings

  1. How not to be Ignorant on the World, 2006
  2. New Insights on Poverty, 2007
  3. Insights on HIV, 2009
  4. Asia’s Rise, 2009
  5. A Fact based World View, 2009
  6. Let my Dataset Change your Mindset, 2010
  7. Winning the War against Poverty, 2010
  8. Global Population Growth, 2010
  9. Religion & Babies, 2012
  10. The Magic Washing Machine, 2014
  11. Best statistics you have ever seen, 2014

Korrekte antwoorde vir Feitevraelys

1=C; 2=B; 3=C; 4=C; 5=C; 6=B; 7=C; 8=C; 9=A; 10=C; 11=C; 12=A.