Kalender – Komende Gebeure
Lesings word maandeliks aangebied by Midstream se Rolbal Klubhuis.
Ons vergader vanaf 9:30 en die lesing begin om 10:00 en duur gewoonlik ‘n uur met tyd vir vrae en besprekings daarna. Na die lesing verkeer ons gesellig saam en besoekers word uitgenooi om saam te kuier.
21 Januarie 2024 - Jaarvergadering - Prof. Sakkie Spangenberg
Die eerste byeenkoms van die jaar gaan ‘n Jaarvergadering wees waartydens Phil Steyn die voorsitters-verslag gaan voorhou.
Sakkie Spangenberg sal ook kortliks vertel hoe ons beplan om vanjaar die NHN se twee dekades te vier.
Daarna, ‘n kort lesing deur Sakkie Spangenberg getiteld:
’n Reeks toevallige gebeurtenisse: Twee dekades NHN
Woensdag 10 Januarie 2024 skryf Wilhelm Jordaan ’n stuk in Beeld wat my aan die dink gesit het. Dit dra die titel “Ons is deel van die natuur, nie baas daarvan.” Daarin vind hy aansluiting by die Gaia-hipotese soos voorgedra deur James Lovelock (1972). Hy skryf dat die mens nie los staan van alles wat hom/haar omring nie en dat mense moet leer om in harmonie met die natuur te leef.
“Werklike harmonie vereis wel ’n ander manier van praat in die trant van die Gaia-hipotese (…) en dit sê mens en omgewing is nie te skei nie. Dit is ’n lewe-onderhoudende geheel waarvan al die onderdele met mekaar en die geheel verweef is. In die trant van: onverwante dinge is verwant/ in die harmonie van God/ mens buffel ametis/ arend roos selakant.”
Op ’n wonderbaarlike manier het verskeie faktore daartoe bygedra dat lewe op Aarde kon ontstaan en ontwikkel het. Om slegs enkeles te noem. Die planeet Aarde is geleë in ’n sone wat nie te koud en nie te warm is nie. Die sogenaamde “gouelokkies sone”. Ons planeet is nie te naby aan die son, maar ook nie te ver daarvan nie. Vroeg in sy ontstaansgeskiedenis het die Aarde met ’n ander planeet bekend as Thea gebots en uit die botsing is ons maan gebore. Dit was ’n ongelukkige gebeurtenis, maar ook ’n gelukkig een, want die maan stabiliseer die Aarde se wentelbaan om die son sodat dit nie te veel “rondskommel” nie. Dit het waarskynlik ook daartoe bygedra dat die Aarde se wentelas gekantel het sodat ons seisoene op Aarde beleef.
Terwyl ek Jordaan se artikel lees, herinner dit my aan Sean Carroll se boek A Series of Fortunate Events: Chance and the Making of the Planet, Life and You (2022).
Ek gaan aan die hand van hierdie toevallige gebeurtenisse ook nadink oor die toevalligheid van die tot standkoming van die NHN en hoe dit my en ander se denke beïnvloed het.
Na die lesing, ons gebruiklike ete om die gesamentlike tafel.
25 Februarie 2024 - Prof. Hansie Wolmarans
Lesing deur Prof Hansie Wolmarans:
In die Begin was die Gesprek …
Die Nuwe Hervorming Netwerk het begin as ʼn reaksie teen die tradisionele kerklike teologie aan die begin van die een-en-twintigste eeu, asook die effek wat dit op lidmate se manier van dink en doen gehad het (veral bygeloof en onverdraagsaamheid). Desnieteenstaande, was dit en is dit steeds ten diepste ʼn soeke na outentieke menswees binne ʼn demokratiese bestel. Die tydsgees het wêreldwyd soortgelyke bewegings gedurende hierdie era na vore laat kom.
Wat die teologie betref, het die beweging veral reageer teen premisse soos:
- Die Bybel is die onfeilbare woord van God—ten gunste van die Bybel is die feilbare woord van mense oor God.
- Die Bybel moet deduktief gelees word om antwoorde te verskaf op moderne morele probleme — ten gunste van die Bybel moet in konteks verstaan word en moderne wetenskaplike insigte behoort voorkeur te kry en deel wees van die gesprek.
- Daar is ewige waarhede wat nie bevraagteken mag word nie — ten gunste van daar is niks wat nie bevraagteken mag word nie; dit is oukei om jou vrae te leef.
- God determineer transendent die geskiedenis van mense en individue en “alles gebeur met ʼn doel” — teenoor die geskiedenis en menslike lotgevalle kan verklaar word met immanente oorsaak-gevolg relasies. Toeval speel ʼn beduidende rol.
- God gryp soms in teen natuurwette veral in antwoord op gebed — ten gunste van daar bestaan nie ʼn God wat ooit teen natuurwette ingryp nie.
- Die kosmos is in wese dualisties met sigbare ruimtes en onsigbare dimensies (hemel en hel; liggaam en siel) wat interaktief werk — ten gunste van die siening dat die kosmos en ons liggame in wese enkelvoudig is.
Die NHN het nog altyd gepoog om ʼn veilige ruimte te verskaf waar mense relevante vraagstukke kan bespreek. Enersyds is daar die ateïstiese / agnostiese denkrigting wat argumenteer dat die nie langer sinvol is om die konsep van God te gebruik nie. Andersyds is daar hulle wat meen dat die konsep van God met nuwe inhoud gevul kan word as ʼn simbool van konstruktiewe waardes.
Wêreldwyd word demokrasie ernstig bedreig. Die Afrikanerkultuur waaruit die meeste van ons gegroei het, is in ʼn krisis (soos dit onder meer op RSG en sosiale media funksioneer). Vir my maak dit die NHN meer relevant as ooit tevore.
17 Maart 2024 - Dr. Marthie Momberg
Lesing deur Dr. Marthie Momberg
Die problematiek van Hasbara: “21 Voices” en perspektiewe op ’n pad vorentoe
Op die slagveld van diskoers en in die geveg om persepsies, is feitelike akkuraatheid nie die enigste soldaat nie. Edward Herman en Noam Chomsky (1988) gebruik Walter Lippmann se term “manufacturing consent” om te verduidelik hoe ’n doelbewus-vereenvoudigde weergawe van die werklikheid, aangebied deur invloedryke persone of instansies, die publiek se algemeen aanvaarde waarheid kan word – en hulle dan mislei.
As een van die mees betwiste kwessies van ons tyd, is die konteks van Israel-Palestina een waarin propaganda doelbewus ingespan word om Israel se jarelange sistematiese staatsgeweld te regverdig as ’n dapper en eerbare onderneming.
In hierdie voordrag werp ek die lig op hoe Israel se georganiseerde propaganda (‘hasbara’) doelbewus aspekte van die waarheid, empatie en algemeen aanvaarde veronderstellings gebruik om selfstandige en kritiese denke te ontmoedig en Palestyne te stigmatiseer. Ek sal verwys na algemene mites, voorbeelde uit President Biden se toesprake, asook na insigte in 21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestinian Struggle Matters. Ek sal ook enkele gedagtes deel oor ’n pad vorentoe. Daar is baie op die spel – ook die morele kompas en veiligheid van ’n globale samelewing waarin internasionale menseregte selektief toegepas word.
YouTube video: www.youtube.com/watch?v=2k3kJcW4tC8
21 April 2024 - Prof. Gerrie Snyman
Prof. Gerrie Snyman
Die mens: soewerein (“net minder as ’n goddelike wese”) of heeltemal weerloos (Kain/Judas)?
In my teologiese besigwees probeer ek om met die hulp van weerloosheid ’n antwoord te kry op die vraag hoe ek vanuit die posisie van witwees (dink apartheid, manlikheid, middelklas, Christelike tradisie, sneeuwitwees) kan respondeer teenoor my medelandgenote wat die spit tydens en onder apartheid afgebyt het.
Ek gaan breedweg die volgende begrippe op die tafel sit: dekolonialiteit, morele verwonding, FW de Klerk se siening van apartheid voor sy dood en die kritiek daarop, ongemaklike empatie en weerloosheid.
Tussen-in verweef is die twee verhale vanuit die Christelike tradisie wat voorgehou word as die twee voorbeelde van boosheid en booswigte. Booswigte en boosheid word uit die verhale verwyder: Kain swerf na die land Nod as vlugteling, weg van sy ouers en van Jahweh se aangesig/teenwoordigheid. Judas bely sy bose daad, maar pleeg uiteindelik selfdood.
Hoe verwerk ek met integriteit wat aan my voete gelê word as kwaaddoener (“perpetrator”) (voordeel en ondersteuning van rassisme) teenoor die swart ander persoon in wie se oë ek elke dag kyk en uitgevang voel deur hulle terugblik? Dit laat my ongemaklik en weerloos, veel weinig minder as ’n goddelike wese.
YouTube video: www.youtube.com/watch?v=rHuDpyCfg3Y
19 Mei 2024 - Prof. Pieter Botha
Toevallige opmerkings oor geskiedenis, politiek, geestesgesondheid en godsdiens
In sulke oorsigtelike gesprekke, soos wat ons Sondag 19 Mei gaan voer, is dit maar altyd vier temas wat (volgens my siening) belangrik is: wetenskap, geskiedenis, sielkunde, en godsdiens.
Vir hierdie rondte is dit hoofsaaklik geskiedenis en godsdiens. Daardie twee punte behels eintlik net dat ek iets oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en iets oor die historiese vroeë Christendom sal sê. Onderliggend aan my gesprek is die tema “kritiese denke” — dit is immers die behoefte aan “oop, kritiese gesprek”, maar veral ook die strewe na daardie soort gesprekke, wat gelei het tot die stigting van die NHN en nog steeds ons oogmerk en beoogde bydrae is. Die “toevallige” moet beklemtoon word: dit is maar mý perspektief, mý herinneringe en mý verwagtinge wat saamval met die geskiedenis en proses van “ons” NHN.
YouTube video: www.youtube.com/watch?v=lBRaUITEio0
23 Junie 2024 - Prof. Hennie Viviers
Prof. Hennie Viviers
Die sielkunde van “plek” – hoekom raak ons so verknog aan bepaalde plekke?
Ons hoor dikwels dat mense hulle alles sal gee om ’n bepaalde plek soos ’n huis, woonbuurt, vakansieplek (bv. Krugerwildtuin), land, ens., te bewaar. Hulle is selfs bereid om te sterf vir so ’n plek, amper asof dit ’n “mens” is. Hoekom is dit so?
Die “sielkunde van plek” leer ons dat ons diepe verknogtheid aan ’n bepaalde plek drie fokuspunte het: “persoon” (wie smee hierdie bande, soos wat hulle individueel en kollektief gevorm is), “plek” (die fisiese en sosiale betekenis van bepaalde plekke) en dan veral, die “psigologiese proses” hoe die betekenis van plek geïnternaliseer word. Hierdie proses het te make met kognisie (hoe ons dink, glo en onthou), die ervaring van positiewe emosies (geluk, blydskap, trots, hoop) en ook optrede teenoor ’n bepaalde plek (“rentmeesterskap” om dit in stand te hou en te bewaar). As al drie hierdie faktore saamkom, dan smee ons diep-gesetelde kognitief-emosionele bande met ’n bepaalde plek.
’n Kort fokus op “Nabot se wingerd” (1 Konings 21) en die gedig van IL de Villiers, “By ’n sterwende kindjie,” sal illustreer hoe hierdie skrywers intuïtief die diepe betekenis van plek gesnap het.
YouTube video: www.youtube.com/watch?v=mRh6JTDlm1A
21 Julie 2024 - Prof. Piet Meiring
“In daardie tyd was daar reuse …”
Die aanbieding handel oor sy boek met dieselfde titel wat die afgelope tyd heelwat aandag getrek het. In die boek vertel hy van “reuse” wat hy op sy lewensreis ontmoet het, van bekende en ook onbekende mans en vroue wat op sy lewe – en ook op die lewens van baie ander in Suid-Afrika sowel as in die buiteland – ʼn groot invloed uitgeoefen het. Op die lys van reuse verskyn die name van kerkleiers en teoloë soos Ben Marais, Johan Heyns, David Bosch en Beyers Naudé. Daar is ook die name van politieke leiers, van Nelson Mandela tot en met Eugene Terreblanche met wie hy ʼn besondere pad gestap het. Piet Meiring het deur die jare ʼn hegte vriendskap met Aartsbiskop Desmond Tutu opgebou, veral toe hy op die Waarheids- en Versoeningskommissie gedien het. Interessante gegewens en soms humoristiese anekdotes maak deel van die verhaal uit. Terwyl Piet van die “reuse” vertel, word dit duidelik dat dit nie net sy storie is nie, maar ook die verhaal van die NG Kerk en van Afrikaners – eintlik van ons almal – wat oor die loop van baie dekades ons plek in ʼn nuwe en soms uitdagende wêreld moes vind.
18 Augustus 2024 - Prof. Pieter Craffert
Die NHN vergader weer op Sondag 18 Augustus om 10:00 by Retire@Midstream se rolbalklub. Prof Pieter Craffert sal by die geleentheid praat oor die onderwerp “Hoe oop is die NHN vir oop gesprek?” Hieroor skryf hy soos volg:
Sakkie se e-pos aan my was kort en kragtig: “Sien jy kans om op 18 Augustus jou indrukke van die afgelope 20 jaar te gee?” Hierdie is dus nie ’n lesing oor ’n spesifieke onderwerp nie, maar my indrukke. Ek gaan dit doen rondom die tema van “oop gesprek.” Volgens die reglement wat ons in 2004 aanvaar het, was die doelstelling van die NHN “oop religieuse gesprek.” Op die webblad word dit vandag bemark as “Netwerk vir oop gesprek oor menswees” en die temas sluit in wetenskap, mens en kosmos, diversiteit, realiteit en die brein.
Ek sal my indrukke van die NHN struktureer aan die hand van drie aspekte wat die karakter van oop gesprek rig: die “dat,” die “wat” en die “hoe” van oop gesprek. Die “dat” van oop gesprek dui op vryheid van spraak, oftewel, die reg om oor sake te praat. Die “wat” van oop gesprek het te doen met taboe-onderwerpe (oftewel, die moed van jou oortuiging om oor kontensieuse sake te praat). Die “hoe” van oop gesprek is die moeilikste en handel oor die kuns van kritiese dialoog te midde van onoorbrugbare verskille. Wanneer is ’n kritiese gesprek werklik “oop”? Dus: Hoe oop is die NHN vir oop gesprek?
YouTube video: www.youtube.com/watch?v=MTrByDIsh7E
15 September 2024 - Dr. Leon Stander
Filosofie as gids vir die lewe in goeie en slegte tye
Vir Socrates en sy antieke opvolgers was filosofie grootliks lewensfilosofie en het hulle dit beskou as terapie vir die siel. Dit was ’n gids vir die lewe en moes die mens begrond in goeie tye en anker in slegte tye.
Leon beoog om jou op ’n filosofiese toer te neem van Delphi tot Athene; van Rome tot Herculaneum; van Carnuntum langs die Donou om straks op Robbeneiland te eindig. Ontmoet vir Socrates, Zeno van Kitium, Epicurus, Cicero en Marcus Aurelius op die pad — dalk ook vir Benedict de Spinoza en Nelson Mandela.
Besin saam oor die ondersoekende lewe, oor ’n lewe in ooreenstemming met die natuur (die Logos), oor die kardinale deugde as morele kompas, en oor dit wat by ons berus teenoor dit wat nie. Besin onder andere ook oor wêreldburgerskap en oor selfbeskikking, oor voorbeskikking en atome, oor dood en selfdood. Verneem oor Stoïsynse oefeninge soos afstandneming, vooruitbepeinsing van euwels, en herinnering aan sterflikheid.
YouTube video: www.youtube.com/watch?v=uAnYtZ0cKBs
26 Oktober 2024 - NHN 2 Dekades Verjaardagviering
NHN 2 Dekades Verjaardagviering
Plek: Die GEMS saal by Irene
Tyd: 09:30 vir 10:00
Lesing deur Dr. Deon van Zyl: “Die nagdrome van Ian Player – wêreld-bekende natuurbewaarder”
Die praatjie gaan primêr oor Ian Player se nagdrome, en sekondêr oor wat dit vir ons sê oor hoe ons met ons natuurlike tuiste en ons eie drome behoort om te gaan.
24 November 2024 - Prof Dirk Kotze
Hoe lyk die wêreld na die VSA verkiesing?