HOOP is eie aan die lewe self, ‘n soort buffer as verdedigingsmeganisme teen die harde werklikheid.
“Without hope, the tension of our life towards the future would vanish, and with it, life itself.” (Paul Tillich)
Mense raak baie emosioneel waar dit by godsdiens kom. Selfs ateïste vind dit moeilik om onemosioneel ongelowig te wees. Die rede volgens Paul Tillich is omdat dit “sake van uiterste belang” beskryf, soos: Is daar ‘n hoër mag? Wat is die aard van so ‘n mag? Wat is die betekenis van lewe? Wat kom na die dood? Wat is die doel vir ons bestaan? …die waarde van godsdiens? Negatief of positief, deel ons almal in hierdie dilemma.
Sielkundiges beredeneer beide ekstreme kante tot die debat. Sigmund Freud (vroeë 1900’s) vergelyk godsdiens met ‘n kinderlike neurose wat nie met die realiteit strook nie, ‘n illusie geskep deur ons meer primitiewe behoeftes; ander as patologies, irrasioneel, straffend uitbuitend, skadelik vir die psige en groei. Daarteenoor sien James in 1902 godsdiens as ‘n moontlike weg tot die realisering van die mens se hoogste potensiaal en ander sien dit as ‘n basis vir geestelike waardes, volwassenheid, gesonde verhoudings en groei.
Op sy kenmerkende deernisvolle en stimulerende manier, en teen die agtergrond van die Christelike godsdiens as die mees verteenwoordigende geloofskultuur in Suid-Afrika, voer Deon sy gehoor tot in die hart van menslike hoop. As mens in ag neem dat die menslike strewe vir lewe en oorlewing die basis van evolusie is, maak dit sin dat selfverdediging of aanpassing (veg/vlug/vries) die basiese instink van alle organismes is.
In die laaste drie dekades het letterlik duisende navorsingstudies in akademiese tydskrifte en joernale verskyn, soos: International Journal for the Psychology of Religion; Review of Religious Research; Journal for the Scientific Study of Religion; en Journal of Psychology and Theology. Hierdie lesing is gerugsteun deur goeie navorsing en bibliografiese verwysings.
Hoop is die kragtigste aanpassingsmeganisme van die mens om die bedreiging van die lewe en vrees vir die dood te oorkom. Hoop vlam die sterkste op in krisistye. Daaruit onstaan die illusie van onsterflikheid as verdedigingsmeganisme. Daarop volg ordening of patroonskepping as teenwig vir chaos, met die doel om eiewaarde (agentskap, integriteit, outonomie) te handhaaf of herstel. Agentskap is ‘n doelgerigte motiveringsenergie wat selfvertroue versterk. Deon wys op die roetes en middele wat daarby nodig is vir aksies op pad na die verlangde doelwit.
Verskeie studies toon aan dat hoop voordele inhou, soos beter kardio-vaskulêre gesondheid, vinniger herstel, laer vlakke van inflammasie en infeksies, laer stresvlakke en beter prestasies, hoër pyntoleransie en meer positiewe emosies en selfvertroue (‘n kuur).
Teen die agtergrond van die Christelike godsdiens, sien mens dat die hele Bybelse narratief rondom hoop sentreer. Hoop vir ‘n beloofde land en ‘n beter toekoms. Talle beloftes en verbonde bring een ding – hoop. (Trouens die volkslied van die staat van Israel is getitel “The Hope”.)
Verydelde hoop word dan gewoonlik gerasionaliseer, verskonings of verduidelikings word gevind. Alles ter wille van oorlewing. Rasionalisasie is dus ook ‘n sielkundige aanpassingsmeganisme (of kruk) wat gevoelens van verleentheid, teleurstelling of angs moet versag.
Toe die beloftes aan Israel nie realiseer nie, moes die profete redes vir die swaarkry vind, soos dat God hulle vir ongehoorsaamheid straf. En dan moes ‘n roete terug na die oplossing gevind word, in die meeste gevalle was dit wetsgehoorsaamheid. Volgens Bart Ehrman was die Bybelse profete hoofsaaklik moraliseerders. Maar Deon voeg by dat hulle, deur hulle moralisering, ook rasionaliseerders was en bewaarders van hoop.
Deon verwys na bekende voorbeelde van hoe hierdie dinamika by die profete tot godsdienstige KRUKKE, KURE of KRANKHEDE kon lei: Jeremia (Klaagliedere, Deuteronomium en die ballingskap); Jesaja; Joël, Sagaria; Daniël). Tydens ‘n krisis wys hulle ‘n ‘kwaal’ aan (soos hulle dit sien) en rasionaliseer die oorsake (gewoonlik ongeloof en ongehoorsaamheid). ‘n Hoopvolle toekoms word dan geskets (God se seën, bevestiging van beloftes toekomsverwagting). Hoe erger en meer herhalend die terugslae, hoe feller die kognitiewe dissonansie; hoe intenser die rasionalisasie, hoe sterker word die hoop geformuleer. Dit is dan ook hoe die apokaliptiese literatuur en eskatologieë (eindtyd-teologieë) ontstaan het.
Hierdie kringloop word versterk deur groeiende kognitiewe dissonansie wat mense ervaar wanneer die eksterne realiteit nie met die verwagte uitkoms strook nie (Leon Festinger,Sosiale Sielkundige). Hierdie teenstelling wek sterk emosies (teleurstelling, verleentheid, angs, hartseer). Dit ontlok ‘n rasionalisasie en word dikwels opgevolg met ‘n sterker bevestiging van geloof en hoop.
Festinger se navorsing oor Marian Keech se VVV-eindtydskultus kultus in 1956 dui soortgelyk aan hoe die kultus se voorspelling van wegraping op 21 Desember 1956 nie gebeur het nie en hoe hulle rasionalisasie – “dat die lig van die groep se geloof die wêreld van ‘n globale vloed gered het” – die meeste van die groepslede se geloofsoortuigings en verkondiger versterk het.
Onsterflikheid en permanensie: Een van die areas van navorsing wat deesdae baie aandag ontvang, is die “Terror Management Theory” (TMT) van Pyszczynski & Solomon as teenwig vir lewensbedreiging en doodsangs. Deon wys op Burke, Martens, and Faucher (2010) se meta-analise van 164 artikels met 277 eksperimente wat oor 20 jaar strek, oor TMT in “Pers Soc Psychol Rev “ 2010, asook Pyszczynski & Solomon (2015) se oorsig van 30 jaar se TMT navorsing en teorie “Advances in Experimental Social Psychology” (2015). In ‘n onlangse soektog deur net een jaar se Psych Info vaktydskrifte het hy 53 publikasies en tesisse gevind, proefskrifte uitgesluit.
Die mens is uniek in die gebruik van verbeelding om die toekoms te antisipeer. Ter wille van hoopvolle toekomsplanne om bedreiging te weerstaan en ‘n beter toekoms na te jaag, skep ons prentjies van uitkomste wat nie noodwendig bestaan nie, maar in die toekoms waar mag wees.
Die “terror” verwys dus nie na algemene vryvloeiende angstigheid nie, maar na ‘n spesifieke vrees, aangewakker deur die menslike bewussyn van sy eie sterftelikheid. TMT sê die mens hanteer hierdie buitebewuste doodsangs met geloofspatrone (kulturele of gesamentlike sienings) om die angs te verlig en eiewaarde te herstel. So verseker hulle hulle voortbestaan of onsterflikheid.
Hierdie patroonskepping kan beide sekulêr/simbolies of letterlik/godsdienstig gerig wees:
Om eiewaarde en permanensie simbolies/sekulêr te vestig is om aksies te neem wat jou integriteit en outonomie (agentskap) beskerm; waardes, beginsels en persoonlike kwaliteite uit te leef wat familie en vriende met deernis sal onthou; bydraes tot die samelewing te maak met prestasies soos kuns, kultuurgoedere, produkte, publikasies, kommersiële of besigheidssuksesse en finansiële rykdom, wat na jou dood soos enige nalatenskap en volgens eie beskouing van permanensie kan voortbestaan.
Eiewaarde en permanensie wat wat letterlik/godsdienstig benader word, kan o.a. deur ‘n kultureel-gedeelde geloof in die voortbestaan van die mens na die dood of die hiernamaals gevestig wees. Navorsing toon in die geval van godsdiens dat doodsangs die volgende kompenserende of bufferende geloofseffekte het: toenemende geloof in die hiernamaals; spirituele skeiding tussen liggaam en gees; bonatuurlike agente (gode, spoke ens.); behoeftebevrediging vir oorlewing (voedsel, reën, beskerming teen eksterne bedreigings); charismatiese eksklusiwistiese leierskap en patriotisme, en liefde vir eensgesindes in geloof teenoor vyandskap met alle ‘ander’.
Die meganisme werk dus soos ‘n weegskaal: As eiewaarde aangetas en permanensie bedreig word, verhoog die frekwensie van gedagtes oor dood en sterflikheid en angsvlakke styg. Sodra eiewaarde versterk word en bevestiging van geloofsoortuigings gebeur, verminder die gedagtes rondom sterflikheid en dood en angsvlakke daal. Die fokus van die studie val op die hantering van doodsangs, om die frekwensie van doodsgedagtes en potensiële verskrikking te demp. Hierin slaag godsdiens, as middel en toegang tot ‘n ewige paradys, dikwels uitstekend as teenmiddel vir vrees.
Ons mag moontlik sê dit is eenvoudig nie waar nie, maar Stephen Asma sê: dan mis ons mis die punt. Die geloof in die hiernamaals en heling van die fisiese liggaam na die dood is moontlik nie waar nie, maar, en hier is die kruks, die emosionele en geloofsbrein gee nie om nie! Hierdie deel van ons funksioneer nie op grond van reg of verkeerd, waar of onwaar nie. Dit wil net die oorweldigende angs verlig, veiligheid skep, balans herstel en jou weer laat aanpas en funksioneer in jou omgewing.
Hierop volg ‘n reeks interessante studies as voorbeelde waar godsdiens as ‘n sielkundige verdedigingsmeganisme (of kruk) aangewend word. Maar weereens is die term aanpassingsmeganisme meer gepas, omdat die optredes en geloofsoortuigings die proses van aanpassing en voortgang met die lewe ondersteun. Of ‘n kruk ook as ‘n kuur kan dien omdat dit met aanpassing help, bly ‘n ope vraag.
Betekenisvol is verskillende reekse studies wat toon dat godsdiens se aanpassingsmeganismes in krisistye beide konstruktief of destruktief/skadelik kan wees. Een van die meer gedifferensieerde studies is diè van Pargament (1995—2011). Hy onderskei as volg:
Konstruktief: ‘n Veilige verhouding met God; glo dat swaarkry beteknis kan dra, dat tweede kanse daaruit kan spruit; geestelike groepsondersteuning; vergifnis en oorgawe.
Destruktief: ‘n Kastydende God; onderwerping aan begenadiging en uitredding van buite; bedreig deur die wêreld; godsdiens-in-stryd.
‘n Onlangse oorsig van honderde studies wat o.a. ‘n meta-analise van 49 van die studies (Ano, 2005) insluit, toon dat positiewe godsdienstige aanpassingsmetodes deurgaans in krisistye en tydens ingrypend negatiewe lewensgebeure, positiewe geestesgesondheid bevorder – KRUK/KUUR. Vele studies toon weer dat negatiewe godsdientige aanpassingmetodes skadelik vir geestesgesondheid is, as addisionele bronne van stres dien en selfs psigopatalogie en swakker fisiese gesondheid in die hand werk – KRANKHEID. (Baie van hierdie studies is op Christene gedoen, maar onlangs is ander godsdienste soos Islam, Hinduïsme en Judaïsme ook betrek, met soortgeyke resultate.)
In hierdie sin speel godsdiens dieselfde rol as kognitiewe beoordeling van ‘n situasie, wat bepaal hoe mens daarop reageer. Natuurlik kan dit weereens delusioneeel wees, maar sommige outeurs reken dat die aanpassingresultaat belangriker is as die metodes wat gebruik word.
Deon wys laastens op ‘n paar aspekte van godsdiens wat beslis as ‘n sielkundige krankheid gesien kan word. ‘n Uitgebreide studie oor fundamentalisme kom tot die gevolgtrekking dat dit ‘n sielkundige versteuring is wat behandeling benodig. Verder sien Deon die verhoog-hipnotiese tegnieke wat deur Benny Hinn en sg. profete in Afrika gedoen word as manipulatief en uitbuitend. Die ergste graad van krankheid wat aan boosheid grens is natuurlik die molestering van kinders binne die Rooms Katolieke kerk. Eugene Drewermann, ‘n voormalige Rooms Katolieke priester maar huidiglik ‘n psigoanalis en outeur van talle boeke, sê die kerk se onderdrukkende houding teenoor seksualiteit veroorsaak dat die priesters nie seksuele volwassenheid bereik nie, en daarom meer kwesbaar vir pedofilie word.
SLOTGEVOLGTREKKING
SIELKUNDE (Kruk/kuur op voorwaarde dat dit die persoon/gemeenskap help om aan te pas en weer lewensbetrokkenheid te hervat) |
NEGATIEF OOR GODSDIENS (Krankheid) |
|
|
So, is godsdiens dus ‘n sielkundige kruk, kuur of krankheid? Nou, na ons die kompleksiteite van navorsing en teorie-formulering bekyk het, kan ons met oortuiging sê “JA”, al drie.