Asklepios, die Grieks-Romeinse god van genesing, is waarskynlik een van die meer bekende helde onder die gode en halfgode uit die Antieke tyd.

Asklepios en sy dogter Hygieia

Die staf en slang waarmee hy uitgebeeld word, is simbole wat vandag nog met genesing verbind word. Deesdae word ‘n holistiese beskouing van liggaam en gees, asook die besondere gesondheidsvoordele van ‘n doelbewuste benadering tot gesonde menswees algemeen aanvaar. Maar dit is niks nuuts nie. Daar was reeds in die mitologie van die Antieke tyd rondom Asklepios ‘n fokus op die goeie dinge van die lewe en ‘n soort kultus het ontstaan wat nadenke oor medisyne, genesing en “die goeie lewe” stimuleer. Pieter herinner sy gehoor aan ‘n lesing deur Hansie Wolmarans oor die Mitologie, waarin hy na ‘n Demotiese geskrif (vroegste skryfstelsel van oudste heilige Egiptiese geskrifte) verwys het wat as slotgroet ‘n opdrag bevat het “om ‘n goeie dag te vier”.

Asklepios was ‘n held, die seun van ‘n Grieks-Romeinse god en gewone mens-vrou, het ‘n ‘bonatuurlike’ geboorte gehad. Inderdaad kan daar na dié geboorte as die ‘eerste keisersnit’ verwys word! Hoe het dit gebeur? Volgens die mitologie het Zeus se seun Apollo ‘n kind by Coronis verwek. Sy was ‘n prinses van die Thessaliese Koninkryk van Phlegyantis. Vir dié ‘ontrou’ word Coronis doodgemaak. Terwyl die vrou sterwend was, het Apollo die baba uit Coronis se baarmoeder gered en die seuntjie Asklepios na Giron geneem om groot te maak. Die gewelddadige straf van Coronis was ‘n doelbewuste vernedering deur die god Zeus om haar vermetelheid (“hubris”) te straf omdat sy as mens-vrou met Apollo omgang gehad het.

Nota: Hubris was ‘n karaktereienskap van arrogansie of vermetelheid en is beskou as ‘n onregmatige betreding van die ruimte, of oorskreiding van die grens, tussen mens en god. Die straf vir hierdie oortreding was gewelddadige dood.

Giron was ‘n Sentour (in die beeldenarratief uitgedruk as ‘n perdmens-figuur) en seun van die oergod Chrono (broer van Zeus). Giron was volgens oorlewering ‘n bedrewe medikus en opvoeder van die heldegode soos Hercules, Achilles, Asklepios en Hermes. Met Giron as mentor, het Asklepios se helende vermoëns vinnig toegeneem. Hy kon later glo selfs slangbyte genees en wonders verrig. So vaardig het hy as geneser geword, dat hy naderhand die vermoë ontwikkel het om iemand uit die dood op te wek. Hierdie daad van Asklepios het Zeus se woede laat ontvlam. Hy alleen het die reg gehad het om dooies op te wek. In Zeus se oë was Asklepios se “hubris” tegelyk ook sy “Nemesis” (ondergang). Zeus gryp toe ‘n weerligtraal om Asklepios te dood, maar Asklepios bied weerstand en pleit om genade. Tog sterf Asklepios. Maar Zeus kry ‘n bietjie berou en besluit om Asklepios vir al sy goeie werk te vergoed en hom in ‘n sterrekonstellasie te verander wat vir ewig in die hemelruim sigbaar sou wees.

Ná sy dood is daar vir Asklepios ‘n heiligdom (asclepeion) opgerig, omdat baie mense in hom as god en geneser bly glo het. Oor ‘n lang tydperk van die 6de eeu voor die huidige era (HE) tot ongeveer in die 5de eeu ná die huidige era (HE) het hy ‘voortgeleef’, enersyds as kultusfiguur en andersyds as ‘n god wat steeds mense genees. By Asklepios se heiligdom in Griekeland is talle ‘votiewe’ opgerig deur mense wat oor sy genesings getuig en hul dankbaarheid verwoord (soos byvoorbeeld die uitbeelding van ‘n gesonde been en voet met inskripsie gerig aan Asklepios). In die beeldegenre word Asklepios altyd as filosoof of sagmoedige denker uitgebeeld met ‘n naakte bolyf en toga, krullende hare en baard wat ‘n sagte gesig omraam, en met die staf en slang as simbool vir genesing.


Die asclepeion by Epidavros was seker die mees gevierde genesingsentrum in die Griekse wêreld. Dit was ‘n plek waar siek mense gegaan het met hoop vir genesing. Dit is ‘n duidelik ‘n mistieke omgewing waarheen siekes gestroom het om deur dokter-priesters behandel te word. Hierdie kundiges het die werk van Asklepios, die Griekse god van medisyne, voortgesit. Om die beste diagnose te kry, het hulle as ‘n reël die eerste nag in ‘n groot slaapsaal oornag. Die verwagting was blykbaar dat die god van genesing in hulle drome sal verskyn en aan hulle bekend maak hoe hulle van hulle kwale kon genees.

Benewens die droomsentrum was daar ‘n gimnasium vir oefening of terapie, ‘n sportstadion en ‘tolos’ – doolhowe met baddens wat deur varswater uit fonteine gevul is. Daar was warmbron- en kouewaterswembaddens. Die kompleks bevat ‘n groot gastehuis met oornagfasiliteite vir 160 mense. ‘n Klein teater (benewens die groot teater op die berg), waarskynlik waar siekes hulle verhale vertel of laat uitspeel het deur famililede of gehuurde akteurs. Benewens die gimnasium, is daar tuine waar die pasiënte kon ontspan. Die ‘abaton’ word tans vir toerisme gerestoureer.

Bewysstukke van verfynde operasie-apparaat wat opgegrawe is, dui op redelik komplekse snykunde wat uitgevoer is … en vir kwale sonder oplossing (of langtermyn kwale) is daar die Tempel van Asklepios. Tussen die gebouekompleks deur loop ‘n marmerpad van 800 meter met ‘n pilaargang wat saam met die res van die kompleks deur ‘n geleidelike proses van restourasie gaan. Bo teen die hange van die hoogte langs die kompleks is ‘n reuseteater vir sowat 14 000 toeskouers in die jaar 3 gebou met die ongelooflikste akoestiek – ‘n gewilde besoekpunt vir toeriste.


Oorblyfsels van die Asklepios-tempel op die eiland Kos

Besoekers ervaar steeds ‘n besondere gewydheid in Asklepios se heiligdom. Vanuit die Christelike konteks dui die basilikus (kerk) en droomsentrum in die kompleks daarop dat droomterapie ‘n aanvaarde metodiek was vir geestesgesondheid. Dit is bekend dat Christene nog tot in die 6de eeu aktief gemoeid was met geïndusseerde droombehandeling.

Eenkant staan ‘n diptigon van olifantivoor wat tussen 420 en 430 in Rome gemaak is, wat Asklepios se dogter Hygieia, wat ook ‘n geneser was, uitbeeld. (Sien die woord ‘higiëne’ in haar naam). Slange was as mistieke wesens in die Antieke wêreld beskou, as tussengangers tussen mens en god. Dit is waarskynlik hoekom Hippokrates, die ‘vader’ van medisyne, wat glo by die heiligdom van Asklepios op die eiland Kos gestudeer en daar sy beroep begin het, ook die slangesimbool gebruik het en die Eed van Hippokrates begin het met die woorde: “Ek sweer by Apollo, die Geneesheer, by Asklepios, by Hygieia, by Panaceia en alle gode en godinne, as getuies, om na my vermoë en oordeel hierdie eed en verbintenis uit te voer: Dat ek hom wat my die geneeskuns geleer het, gelyk sal stel met my ouers, my huis en goed met hom sal deel…”

In 293 was daar ‘n plaag in Rome en die Romeinse Staat het ‘n biddag uitgeroep. Volgens oorlewering het mense vanuit Epidavros beelde van Asklepios aangedra en ook ‘n slang wat ‘n plek sou aanwys vir ‘n heiligdom vir Asklepios. Spartacus het ‘n brug gebou sodat die toerusting vir bouwerk aan die tempel vir Asklepios kon plaasvind. Ook in dié tempel het mense gesond geword. In Rome is vandag ‘n kerk op hierdie heiligdom gebou, die Kerk van die heilige Bartholomeus, met oorblyfsels onder die kerk, soos baddens.


Asklepios-tempel by Villa Borghese, Rome

In samevatting kan ‘n mens nie help om verwondering te lug oor hierdie mense se insig in gesondheidsorg en welsyn nie. Toe al is onderskeid getref tussen dokter en geneser, diagnose en prognose, dogmatiste en empiriste, en hoe hulle mekaar se rolle kon aanvul in die behandeling van die totale mens, drome en die rol van refleksie of selfinsig, die gebruik van Demotiese skrif en die genesende krag van gesprekvoering en uitbeelding, die gebruik van votiewe – om aan persoonlike belewenis soos pyn en lyding, genesing en dankbaarheid uitdrukking te kon gee in ‘n soort getuienis – dus om nie net die kwaal te genees nie, maar om die totale mens te help, liggaam en gees as ‘n geheel.

Die NHN het weer eens ‘n “goeie dag gevier”.