Wanneer iemand ‘n rivier wil oorsteek, kan hy of sy ‘n boot of vlot bou wat hom veilig aan die anderkant besorg. Maar wanneer sy die oorkantste oewer bereik het, is die boot oorbodig. Om dit dan saam te dra, veral as jy jouself dan in ‘n onvriendelike omgewing soos ‘n woestyn bevind, is om jou dood te soek.

So begin Abel met die NHN-gehoor oor Spiritualiteit praat. Godsdiens is die boot wat jy gerus kan laat waar jy jouself nou bevind, want jy het dit nie meer nodig nie. Jy kan steeds spiritueel leef sonder daardie bagasie.

Hy vind egter dat hy dikwels van twee kante aangeval word. Die groep wat hy as gelowiges bestempel, wat een of ander godsdiens aanhang, beskuldig hom van die bedryf van ‘n sekte wat mense mislei. Die ongelowiges of ateïste beskuldig hom eweneens van misleiding en dat hy oneerlik is.

Dit is omdat mense verskil in hul verstaan van Spiritualiteit. Eintlik is alle mense op ‘n reis in hul soeke na sin in die lewe. Derhalwe verskil mense in hul opvattings oor wat hulle op die reis beleef.

In die Zen-Boeddisme is daar die vinger wat na die maan wys, wat jou aandag op die maan vestig. Dis ‘n fout om te fokus op die vinger. Jy moet jou pad self vind deur te let op dít waarna die vinger wys.

Abel begin dan te verduidelik wat Spiritualiteit is. Hy verwys ons na twee ateïste wat hieroor skryf. Sam Harris se boek ‘Waking Up’ handel spesifiek oor spiritualiteit sonder godsdiens. Insgelyks skryf Barbara Ehrenreich hieroor in die boek ‘Living with a Wild God’ en beide sien Spiritualiteit as dít wat natuurlik is; dít wat rondom ons is, en nie die bonatuurlike nie.

Hulle sien Spiritualiteit in die ‘hier en nou’ waar die natuurlike ons omgeef; waar daar geen sprake van gode en demone en dergelike verskynsels is nie. Dit is soos om in die woud te stap en ‘n diep belewenis te ervaar, wat feitlik “heilig” is. Dit is om spontaan, eerlik en diep te leef.

Vir Christene, Moslems en ander formele godsdienste is Spiritualiteit iets anders.

Die Fransman André Compte-Sponville probeer in sy boek ‘Little Book of Atheist Spirituality’ juis definieer dat Spiritualiteit ‘n eenwording met alles is, sonder god.

Ongelukkig is die woord so lank gelede as in die 13de eeu deur die Kerk en godsdienste gekaap. Ons moet dit terugneem.

Spiritualiteit kom van die Latyns ‘spiritus’ en die Grieks ‘pneuma’ wat ‘asem’ beteken. Asem verbind ons met die lewe; dis ‘n direkte kontak met lewe.

Breyten Breytenbach, bekende Suid-Afrikaanse kunstenaar en digter, het gesê “die lewe is ‘n asem lank.”

Asem is die essensie van die lewe. Ons moet weet wat jou laat asemhaal en tegelyk moet ons weet wat ons versmoor.

Vanaf die vroegste tye is godes en mites geskep, soos die verhaal van Zeus wat afgekom het aarde toe waar hy met ‘n maagd gemeenskap gehad het, waaruit Hercules gebore is. Dit toon sterk ooreenkomste met die Jesus-verhaal en daar was nog ander soortgelyke ouer stories met dieselfde strekking: gode wat met die menslike bestaan verweef is. Hierdie stories is mites, maar is in feite omskep.

Só is Spiritualiteit vreemd gemaak. Die bekende Amerikaanse astronoom-wetenskaplike Carl Sagan het gesê: “We must reclaim good words and put them to good use. That is what I intend to do with spirituality.”

Hy het verwys na die skoonheid (‘beauty’) van die heelal en dat dit vir ons op die sin van die lewe wys. Daar is ‘n sinvolheid wat ons moet ervaar. Ons is klein in vergelyking daarmee, maar dit bring juis vir ons ‘n gevoel van ontsagwekkendheid (‘awe’) mee.

Juis dít is Spiritualiteit. Ons beleef dit in kuns; in die skoonheid van ‘n gedig, simfonie, beeldhou of ander kunsvorm. Só ervaar ons Spiritualiteit in alles.

Hy verwys na die Amerikaanse psigo-analis en geestelike leier Ram Dass (gebore as Richard Alpert) wat die Harvard-universiteit oorgehaal om in sy lesings met dwelms soos LSD te eksperimenteer. Uiteraard het die klasse baie gewild geword, totdat Harvard dit verbied het. Wat Ram Dass wou bepaal, is hoe die brein juis met behulp van dwelms die verligte staat bereik wat meditasie en geestelike leiding meebring.

Dit kan wel die geval wees, maar jy het geen konteks nie. Sonder die konteks, raak jy bloot verslaaf.  ‘n Mens moet ‘n lang pad loop om “true enlightenment” te bereik; dít waarna die Boeddah verwys as ‘Nirvana’. Om dit te bereik, behels harde werk.

Abel sê dat hy sterk voel oor meditasie, maar dit is harde werk – waarvan hy nie juis hou nie. Net soos draf en oefen harde werk is, moet jy maar volhard. Om enigiets suksesvol tot ‘n hoër vlak te neem, soos om viool te leer speel, behels eweneens baie ure se harde werk en toewyding.

Op hierdie manier leer jy om na jou eie stem te luister. Jy word uiteindelik diep aangeraak – maar nie deur ‘n hand van Bo nie. Jy het dit binne-in jouself.

Só sal jy ook ‘n oomblik beleef wat iets in jou oopbreek. Dit kan skoonheid wees, soos wat jy in die natuur opmerk, of selfs ‘n erge Trauma. Maar dit stop jou in jou voetspore.

Dit is Spiritualiteit wat jou tot stilstand bring. Soos die filosoof Ken Wilbur geskryf het: “Spirituality is a direct experience of spirit and not mere beliefs or ideas of spirituality.”

Godsdienste het dit verpak as ‘n Damaskus-oomblik, of soos Moses wat by die brandende braambos tot stilstand geruk word. Dit is egter nie wat Spiritualiteit behels nie. Spiritualiteit is juis daardie “direct experience” sonder die goddelike.

Abel beveel aan dat jy stadiger leef, meer gefokus, soos die huidige klem op “mindfulness”. En belangrik, sê hy, die ego moet sterf.

Die direkte belewenis kan wees in die vorm van joga, meditasie, stap, speel met jou diere, skoonheid ervaar in welke vorm ookal. “Reverence of the ordinary”, soos hy dit stel.

Juis hieruit het die sogenaamde ‘slow movement’ ontstaan, waar mense weer hul eie brood bak, wyn en bier maak, selfs jenewer, en dit op oop straatmarkte te koop aanbied. Ons beweeg weg van die gejaag, waar ons kontak met die gewone verloor het. Ons het ‘n plastiek-bestaan begin voer.

Spiritualiteit is dus die gewone, wat “heilig” is. Ons moet die diepte vind in die ‘hier en nou’ – jou lewe is hier waar jy jouself nou in tyd en plek bevind.

Maak nie saak waarin jy glo nie, dit is ook reg en goed. Soos Abel se eie ma haarself nog in die Christelike geloof uitleef, vind hy dit in orde. Dis eers wanneer dít wat jy glo destruktief vir ander mense raak, dat dit verkeerd is. Hy noem die voorbeeld van diegene wat glo die man is die hoof van die huis en die vrou moet ondergeskik wees. Dit is onaanvaarbaar en verkeerd. Dit verteenwoordig nie Spiritualiteit nie.

Ons moet wegkom van beoordeling; om ander te oordeel. Sam Harris skryf: “The deepest goal of Spirituality is to be free in this moment, in the midst of your life.”

As jy vry is, help jy ander om vry te word. Jy moet dieper leef te midde van ‘n selfsugtige, vlak wêreld wat mense beoordeel, “judgemental” is. Christenskap het dit gedoen en groot skade aan mense veroorsaak, soos ander godsdienste ook.

Karen Armstrong het geskryf dat godsdiens juis daarop uit was om mense te help om aan hul ego te sterf. Ongelukkig het dit gefaal en die ego is juis laat herleef deur die fokus op die sogenaamde ‘hiernamaals’.

Abel sluit af met ‘n verwysing na sy eie gedig waarin hy skryf oor hoe niks eintlik gebeur het nie, maar alles het verander. Dit is Spiritualiteit vir hom.

(Opsomming: Sam Basch)