(Nota: hierdie berig is saamgestel uit Pieter Botha se PowerPoint-aanbieding en nota’s van Johan Talma, asook internetbronne – Red.)

Om die bydrae van Augustinus tot die Westerse denkwêreld te verstaan, moet ‘n mens sy lewensverloop (354-372) – en selfs die voorafgaande geskiedenis oor etlike eeue – in oënskou neem.

Dit is waarom Pieter in sy inleiding verwys na die “verstommende” verskeidenheid van invloedryke denkers wat St Augustinus as ‘n formatiewe Christelike kerkvader hoog aangeskryf het. Onder hulle tel Anselmus van Kantelberg, Thomas van Aquino, Dante Alighieri, Willem van Ockham, selfs Nicola Machiavelli, Jean-Jacques Rousseau, Blaise Pascal en Martin Heidegger. Benewens Luther en Calvyn, was daar ook Hannah Arendt, Jean-Paul Sartre, J.R.R. Tolkien, Ludwig Wittgenstein en vele ander.

Vir Pieter was Augustinus “vreemd” – in soveel aspekte van die lewe van hierdie histories belangrike persoon, waarby ons weldra sal uitkom, insluitend die ironie van die slaweprojek.

Vóór sy geboorte was daar die Imperiale Krisis van 235 tot 288, ‘n periode waarin die Romeinse ryk byna ineengestort het onder die kombinasie van invalle deur barbare en migrasies in die Romeinse grondgebied, burgeroorloë, rebellies, politieke onstabiliteit, ekonomiese insinking en selfs siekte-epidemies. In die halfeeu tussen 235 en 284 was daar nie minder nie as 20 keisers wat aan bewind gekom en geval het.

Intussen het daar ook nuwe godsdienstige strominge of denkrigtings in die 3de eeu na vore gekom, soos onder andere deur Mani (216-274) en Donatus Magnus (280-355) verkondig.

Augustinus is in 354 in Tagaste in die Noord-Afrika-provinsie van Numidia (in die huidige Algerië) gebore van ‘n Romeinse pa, Patricius, en ‘n Berber-Christen ma, Monica. Die gesin was relatief welaf en deel van ‘n Latynse minderheid. Augustinus het op skool Latynse letterkunde geniet. Sy pa het groot finansiële opofferings gemaak om vir sy intelligente seun ‘n goeie skoolopleiding te verseker.

In hierdie tyd (361 tot 364) was daar veranderinge van keisers, soos Julian wat Constantius II opgevolg het, wat weer deur Valentinianus I vervang is. Laasgenoemde wat tot 378 regeer het, was die laaste keiser wat Arianisme aangehang en ook Christen-praktyke toegelaat het.

Augustinus het in 366 onderrig in Madauros, naby Tagaste, ontvang, veral in die kuns van retoriek wat vir professionele beroepe, soos die regswese en openbare lewe, belangrik geag is.

Kort hierna moes hy egter sy studies vir ‘n jaar lank opskort sodat sy pa weer voldoende fondse vir sy studies kon bekom. Hierdie jaar van leeglê het ontaard in losbandigheid en seksuele avontuur wat Augustinus in sy latere Confessiones sou uitlig.

Sy pa neem in 370 die Christelike geloof op sy sterfbed aan, waarna Augustinus aan die “universiteit” van Karthago gaan studeer; die begin van ‘n wilde lewe van seksualiteit en waar hy met ongure vriende omgaan. Dis hier waar hy ‘n minnares ontmoet by wie hy ‘n seun het, Adeodatus (‘God-gegewe’).

Hy word ‘n Manigeër, wat ‘n pseudo-Christen sekte is gebaseer op die dualistiese fundamentalisme van lig en donker, waar die goeie manifesteer in die lig: kennis, gees en siel. Insgelyks is die bose gesetel in die duister, naamlik onkunde, materie en die liggaam. Die dualisme van die menslike natuur spreek tot Augustinus, want dit laat hom toe om verantwoordelikheid vir sy losbandige leefwyse te vermy. Manigeërs het ook die Ou Testament verwerp, was krities oor aspekte van die Nuwe Testament, en Augustinus het gedeel in hul vervolging van Katolieke.

Mettertyd raak hy geïnspireer om filosofie te bestudeer en verlaat die regsberoep wat sy pa vir hom beoog het. Hy lees Cicero se Hortensius wat waarsku teen die najaag van lyflike plesier. Tog volstaan hy by sy liefde vir sy minnares en die Manigeër-sekte wat hy nog vir bykans ‘n dekade aanhang, maar waarmee hy toenemend ontnugter raak.

Teen 383 gaan hy na Rome om in retoriek klas te gee en verhuis later na Milaan, waar sy ma Monica ‘n jaar later opdaag. Sy probeer hom oorhaal om verloof te raak aan ‘n Katolieke dametjie wie se ouers daarop aandring dat hy sy minnares verlaat. Sy seksuele aptyte bly in konflik met sy geestelike behoefte om metafisiese waarheid te vind.

In Milaan begin hy ‘n tydperk van kategisme in die Katolieke Kerk onder die invloed van Biskop Ambrosius wie se preke misties is met neoplatoniese konsepte van die siel. Dit bring ‘n mens by ‘n sin vir goddelike bestemming (‘divine destiny’) deur suiwering van vleeslike wellus.

In April 387 word Augustinus saam met sy vriend Alypius gedoop. Dit is nie slegs ‘n keerpunt in sy lewe nie, maar die land beleef burgeroorlog en Augustinus is verplig om saam met Monica in die hawe van Ostia oor te bly vanwaar hulle na Afrika wou reis. Dis hier waar hulle ‘n mistieke visie beleef wat verband hou met die “stilte waarin God gehoor kan word” as die wêreldse aanbod verstil.

Monica sterf enkele dae later en Augustinus begin verskeie monastiese gemeenskappe ondersoek. Hy verhuis saam met sy seun Adeodatus en Alypius, terug na Tagaste waar hy sy patrimonie weggee, behalwe die huis wat hy as ‘n kloostergemeenskap inrig en ‘n beskouende (‘contemplative’) lewe as “dienaar van God” uitlewe.

Die dood van sy seun Adeodatus laat hom verpletter en hy reis na Hippo (in die huidige Algerië) met die oog op ‘n kloosterlewe daar. Onder die invloed van die biskop wat die onderdrukking van die Katolieke belig, word hy ‘n priester in Hippo. Hy sou die res van lewe hier bly.

In Desember 393 word Augustinus as priester – in ‘n hoogs ongewone stap – gevra om die biskoppeberaad toe te spreek wat hy as uitstekende orator passievol doen. Gedurende hierdie tyd, en tot 405, spreek hy hom op skrif sterk teen die Manigeërs uit met wie hy nou totaal breek.

Binne enkele jare word Augustinus ‘n biskop, ‘n posisie wat hom in staat stel om die Donatiste en ander Christensektes te beveg en uit Hippo te verdryf.

Terwyl Augustinus die gemeenskap in Hippo soos ‘n vaderfiguur lei, preek hy gereeld, en in hierdie tyd skryf hy terselfdertyd vele boeke, insluitend Confessiones wat uit verskeie dele bestaan en rondom 401 voltooi is.

Dit is geskryf in die vorm van ‘n lang gebed direk aan God gerig, maar ewe belangrik; dit spreek van ‘n formidabele geheue en wat in besonderhede persoonlike dade, gebeure, persone en idees uiteensit wat die tekstuur van sy lewe gevorm het.

Ander boeke, soos ‘On the Trinity’, het hom 20 jaar geneem om te skryf; een van sy mees diepgaande teologiese skripsies, waarin hy die foute van die Manigeërs, Donatiste, Pelagiane en Ariane uitwys.

Augustinus se teenkanting van die Britse monnik, Pelagius, het berus op laasgenoemde se siening van ‘n vrye wil, waarmee die mens self kan besluit oor sy dade en sodoende saligheid bereik. Volgens hom bestaan daar geen oorspronklike sonde nie; sondige optrede is ‘n voorbedagte daad.

Daarenteen sien Augustinus ‘n gevalle menslike natuur met gebreke en foute, hulpeloos in sonde by gebrek aan die intervensie van God se genade.

Hierdie tyd bring egter invalle van Hunne en Visigote op Romeinse dorpe en stede. Die Gotiese generaal Alarik val Rome self in 410 binne en laat groot dele in puin.

In Hippo bly Augustinus aan’t skryf, ook met spesifieke verwysing na die barbaarse invalle wat hy beskou as ‘n noodsaaklike dissipline van die menslike gemeenskap. Dit publiseer hy onder meer in De civitate Dei (‘The City of God’), met verwysing na Rome as die ‘Ewige Stad’.

Vier jaar vóór sy dood in 430, publiseer Augustinus sy Retractiones, in effek ‘n herbesinning oor sy rigtinggewende denke en wat hy gedurende sy lewe geskryf het.

Vanweë ‘n gebrek aan tyd was Pieter nie in staat om in besonderhede Augustinus se onderskeie invloedryke idees uit te lig nie. Onder die talle sulke idees uit sy pen, regverdig die volgende onderwerpe waarskynlik verdere beligting:

Erfsonde; vrye wil; Filioque (dat die Heilige Gees uit die Vader sowel as die Seun kom, sonder dat dit aan enigeen ondergeskik is); voorbeskikking (predestinasie); Jus bellum justum (geregverdige oorlog); wellustigheid; Teodisee (God almagtig, onverklaarbaar); Amillinniasme (Gods koninkryk vir ewig); Limbus infantium (die hipotetiese permanente status van die ongebore baba); en natuurreg (ius naturale, lex naturalis)(die mens se ingebore kennis van goed en kwaad).

Pieter sluit af met ‘n kort bespreking van ‘Augustinianisme’ wat ‘n somber mensbeeld en diepgaande spiritualisme impliseer. Dit verwys na Augustinus se doktrine van die verdorwenheid van die mens (nie in staat om níé te sondig nie), en die alles-oorheersende genade van God, ongeag God se ondeurgrondelike lukraakheid.

Met sy besondere oorredingskrag het Augustinus ‘n verreikende invloed op Westerse denke gehad, wat tot in die huidige tyd voortbestaan.