Dr Marina Elliott wat Sondag 2 Junie ’n lesing in Engels gelewer het oor die ontdekking van die Homo naledi-fossiele in die Wieg van die Mensdom, is van Kanadese afkoms. Sy het aan die Simon Fraser Universiteit van Brits-Colombië (Kanada) studeer en haar meesters- en doktorsgraad in Antropologie en Argeologie daar behaal.

Tydens haar navorsing vir die doktorsgraad het sy op dr. Lee Berger se advertensie gereageer om in die span te dien wat in die uiters nou rotsgange en -skeure sou kruip om beendere wat speleoloë in een van die grotte in die Wieg van die Mensdom ontdek het te gaan haal.

In haar aansoek, vertel sy, kon sy melding maak van hoe sy in Calgary grootgeword het en lief was om in die “Rockies” te gaan stap en berg te klim. Daarbenewens het sy oor die nodige waagmoed beskik. Voorts is haar liggaamsbou van so ’n aard dat sy deur die nou ondergrondse skeure en rotsgange sou kon kruip. Gevolglik is sy gekies as een van die ses vroue wat die taak moes aanpak. Vier van hulle was VSA-burgers, een ’n Kanadees (sy) en een ’n Australiër. Hulle het in November 2013 met die taak begin en binne drie weke fossiele van ten minste vyftien individue na die oppervlak gebring.

Volgens haar was die besonder nou grotskeure en -gange so intimiderend dat sy soms getwyfel het of sy moes voortgaan. Hulle het in uiters ongemaklike ruimtes gewerk, waar slegs een persoon op ‘n slag kon hurk. Daar is plekke waar hulle die veiligheidstoerusting moes afhaal om te kon deurkruip. Haar skyfies wys die talle skrape en snye wat die span opgedoen het, ondanks hulle beskermende klere.

Binne die ruimte waar enkele beendere sigbaar was, het die span ná ’n aanvanklike oppervlakteverkenning ’n vierkant van 80cm by 80cm afgemerk en dit tot op ’n diepte van 20cm versigtig oopgegrawe. Van die eerste materiaal wat hulle na Lee Berger se span buite die grot gestuur het, was ‘n kakebeen met tande. Later het hulle hierdie area ‘n verdere 20 cm dieper ontgin, maar die meeste beendere was oppervlakkig.

Die fossielbeendere van ten minste vyftien individue was afkomstig van beide volwassenes en kinders. Navorsing het voorts gewys dat daar geen ander beendere as dié van hominiede teenwoordig was nie. Opgrawings van hominiede in die Wieg het tot dusver altyd fossiele van ‘n verskeidenheid ander spesies opgelewer, waaronder oerdiere soos roofdiere, bobbejane, ape, bokke en knaagdiere.

Hoe die hominiedebeendere so diep in die Rising Star-grot beland het, bly ’n raaisel. ‘n Belangrike waarneming was dat die geologie van die grot in die afgelope 300 000 jaar min of geensins verander het nie. Daar is geen aanduiding dat ‘n sinkgat ontstaan het wat later toegeval het nie.

Dit is duidelik dat die oermense nie daar gewoon het nie. Daar was geen knaagmerke aan die beendere wat sou kon aandui dat dit as prooi in die grot ingedra is nie. Ook is geen dierebeendere tussen die opgegrawings gevind nie. ‘n Ander moontlikheid, soos daar soms by ander opgrawings in die Wieg en elders die geval is, dat ‘n waterstroom dit soontoe gespoel het, is ook uitgeskakel weens ontbrekende bewyse.  Dit was ook duidelik dat die afgestorwe individue van die Homo naledi oor ‘n tydperk heen daar beland het.

Omdat geeneen van die vorige verklarings ’n duidelike antwoord kon bied op die vraag hoe die beendere daar beland het nie, postuleer Lee Berger en sy span dat die grot ’n soort ‘grafkelderbegraafplaas’ was. Derhalwe staan die hipotese dat die H. naledi hul afgestorwenes bewustelik in die grot ingedra het.

Dit is ‘n kontensieuse aanspraak wat deur ander kundiges en ‘leunstoel’-kundiges bevraagteken word, noem dr. Elliott. Sy vertel dat die skedel van Homo naledi daarop dui dat die breingrootte ongeveer een-derde van dié van moderne mense is, dus so groot soos ‘n lemoen – wat die vraag laat ontstaan of hierdie oermense die ingesteldheid sou hê om hul dooies te ‘begrawe’.

By gebrek aan ‘n ander verklaring volstaan die span by hul hipotese.

Wat die vonds besonders maak, is die talrykheid daarvan en dat die beendere bykans volledige skelette verteenwoordig. Daar is 15 050 fossielbeendere, een volledige individu, ’n feitlik volledige voet en hand asook drie klein binne-oorbeentjies gevind. Laasgenoemde is uiters belangrik, aangesien slegs twee sulke beentjies tot dusver in ander wêrelddele gevind is.

Dit is ook interessant dat van die lang bene gebreek was, en boonop dat navorsing getoon het dat dit “post-mortem” (nadoods) gebeur het, selfs nadat die sagte weefsel vergaan en die bene droog geword het. Die span het nie ‘n verduideliking hiervoor nie, behalwe moontlik drukking van die grotsediment. Dis egter ‘n vae moontlikheid, aangesien die opgrawings gewys het dat die beendere slegs tot op ‘n diepte van 20cm gevind is.

Tydens die bestudering van die beendere het dit duidelik geword dat die navorsers hier met ’n nuwe mensspesie te doen het. Hulle het dit Homo naledi gedoop. Die Sepedi-woord “nalêdi” beteken “ster” en daarom sou ’n mens na die spesie as “die stermens” kon verwys.

Volgens Marina het die spesie waarskynlik tussen 335 000 en 236 000 jaar gelede op die vlaktes van suidelike Afrika geleef. As ons aanvaar dat die spesie Homo sapiens reeds teen 300 000 jaar gelede bestaan het, dan sou die twee spesies naasmekaar bestaan het.

Hierdie ontdekking bevestig die feit dat ons nie aan die menslike evolusie moet dink as ’n reglynige ontwikkeling van die een Homo-spesie na ’n volgende nie. Sommige Homo-spesies het in dieselfde tydperk naas mekaar geleef en dalk ook vermeng. Homo naledi, H. heidelbergensis, H. neanderthalensis en H. sapiens was waarskynlik tydgenote.

Dit is ook nie moontlik om die klip- en ander werktuie wat al gevind is, slegs met één spesie te verbind nie. Geen van die werktuie is in dieselfde omgewing gevind waar van die mensfossiele gevind is nie. Voorts is nog geen mensfossiele gevind met ‘n handwerktuig in die hand nie!

Wat ons vandag wel weet, is dat die Homo-spesies hul oorsprong in Oos- en Suidelike Afrika het en dat die spesies van daar oor die res van die wêreld versprei het. Alle mense wat vandag op aarde leef, is dus een spesie, naamlik Homo sapiens. Waarom die ander spesies verdwyn het, is nie duidelik nie. Sommige navorsers meen dat H. sapiens die ander uitpresteer het of eenvoudig in hul gemeenskappe opgeneem het, met ander woorde deur inteling slegs een spesie tot gevolg gehad het. Neem in ag dat die moderne mens ‘n klein persentasie Neanderthal- of Denisova-DNS in hom dra. Volgens Marina het ‘n DNS-toets bepaal dat sy inderdaad ook Neanderthal-DNS het.

Dr. Elliott se aanbieding, toegelig met baie interessante skyfies van hul werk in die Rising Star-grot en die fossielbeendere wat daar en in ‘n nabygeleë grot gevind is, het heelwat vrae en bespreking uit die gehoor ontlok.

Lees gerus die artikels wat by die volgende skakels te vind is:

https://www.maropeng.co.za/news/entry/historic-new-homo-naledi-discoveries-unveiled-at-maropeng.

http://factsanddetails.com/world/cat56/sub400/entry-5984.html