In sy voordrag het Prof Alex Duffey aansienlik uitgebrei op die ontwikkeling van die Christelike kerk, wat in die vroeë eeue verskeie strominge tot gevolg gehad het. Tot ongeveer 200 n.C. was die meerderheid vroeë Christene Jode en het hulle tot 300 n.C. in relatiewe vrede en voorspoed geleef. Met hul eie huiskerke kon hulle in vrede aanbid. Hulle was leiers in die handel en in die regering; sommige het selfs in die Romeinse weermag gedien. Die groei in die Christendom kan gesien word in getalle: teen die einde van die 3de eeu was daar sowat vyf miljoen Christene in die Romeinse Ryk.
Vroeë Christene het oor die algemeen die Joodse Bybel, die Tanakh, gebruik, wat in Grieks as die Septuagint of in Aramees as die Targum vertaal is. In hierdie tyd was daar twee weergawes van die Nuwe Testament, naamlik die Alexandrynse teks en die Westerse teks met geringe verskille. Biskop Lucianus van Antiochië het aan die einde van die 3de eeu die Novum Testamentum hersien wat toe as die Bisantynse teks bekend geword het en wat later die basis van die Engelse King James weergawe gevorm het.
Die Targum in Aramees geskryf
Soos die aantal Christene vermeerder het, het hul gemeenskappe groter, meer talryk en geografies meer verwyderd geraak. Met die verloop van tyd het sommige Christene ook verder verwyder geraak van die oorspronklike leerstellings van die apostels wat gelei het tot ‘n aantal Christelike sektes, kultusse en bewegings. Dit het ingesluit Gnostiek, Marsionisme, Montanism, Dosetisme, Arianisme en Sabellianisme, wat groot kontroversie en verdeeldheid binne en tussen kerke veroorsaak het.
Diokletianus het in 284 n.C. die hoofkeiser in die Romeinse Ryk geword en dit in die Oosryk en Wesryk gedeel. Hiermee het hy ook die tetrargie ingestel wat vier keisers tot gevolg gehad het. Sy opvolgers het die skrikbewind teen die Christene voortgesit wat wel later onder Konstantyn verander het. Laasgenoemde se Edik van Milaan in 313 n.C. het die Christene se godsdiensvryheid verseker.
Prof Duffey kon in besonderhede uitwys hoe Konstantyn aanvanklik betrokke geraak het in godsdienstwiste, veral met ‘n Donatiste-opstand in Kartage en die Ariaanse vraagstuk oor die goddelikheid van Christus. Gevolglik het hy in 325 alle biskoppe en kerkgeleerdes na Nicaea (die huidige Iznik in Turkye) ontbied. Hier is die Niceense geloofsbelydenis aanvaar, maar die weergawe wat ons vandag ken, is eers in 381 by die Konsilie van Konstantinopel wat keiser Theodosius I saamgeroep is, saamgestel.
Keiser Konstantyn het in 324 besluit om ‘n nuwe hoofstad vir die Christelike ryk te vestig, veral ná sy moeder Helena in ‘n soektog na inligting oor Jesus en die apostels artefakte soos die Christus-kruis ontdek en kerke gestig het. Dit het gelei tot die ontstaan van die sogenaamde Goue Legende, wat onder meer elemente soos die Ou Testament se boom in die Tuin van Eden die met kruis verbind het.
Konstantyn se nuwe hoofstad, Konstantinopel, gebou in ses jaar tussen 324 en 330 n.C.
Die nuwe hoofstad is omskep uit ‘n klein Griekse hawedorpie Bisantium, wat netjies op die kruising van handelsroetes tussen Europa en Asië gelê het. Die asemrowende Konstantinopel is in ses jaar gebou, waar ‘n keiserlike paleis, hippodroom, die ronde forum van Konstantyn en talle Christen-kerke binne die stadsmure opgerig is. Dit het ingesluit die Sancta Eirene, Sancta Sophia (wat later in ‘n Moslem-moskee omskep is) en die Kerk van die Heilige Apostels waarin ‘n sarkofaag vir Konstantyn (die 13de apostel) gebou is. Daar was geen heidense tempels in die stad nie; al die bouwerk was Christen-boukuns.
Konstantyn het groot moeite gedoen met die versiering van die stad waar alle openbare ruimtes met antieke beelde gevul is. In die ronde forum het hy ‘n massiewe porfier-pilaar met ‘n beeld van homself opgerig.
In ‘n wedywering met Rome, waar slegs die beendere van Petrus en Paulus bewaar is, het hy die oorskot van Andreas, Timotius en Lukas na Konstantinopel gebring. Om die kerk in sy ryk te laat groei, het hy 50 Bybels vir die kerke by Eusebius van Nicomedia uit Alexandrië bestel. Die vroegste oorblywende van hierdie skrifte vandag is die Codex Vatikanus 300-325 n.C., die Codex Sinaitikus (330-360 n.C.) en die Codex Alexandrinus (400-440 n.C.).
Hoewel die Bisantynse kerkvaders ‘n kloof tussen die Christendom en heidendom geplaas het, het hulle vir die uiterlike vorm van hul kerke op Romeinse voorbeelde teruggeval. Die basilikavorm is gebaseer op Romeinse geregshowe (byvoorbeeld Santa Maria Maggiore in Rome) en die gesentraliseerde tipe (Santa Costanza in Rome 353 n.C.).
Santa Maria Maggiore in Rome
Kort ná 330 n.C. het Konstantyn die ou Sint Peterskerk in Rome laat bou en die Sancta Sophia (bekend as die Magna Ecclesia) in Konstantinopel wat in die tyd van sy seun se regering ingewy is.
Die Sancta Sophia, ook bekend as die Magna Ecclesia in Konstantinopel
Die inhoud van die Bisantynse kuns het uit die Christendom en die Griekse mitologie gekom en is in die Hellenistiese styl en ikonografie weergegee. In die Bybelse ikonografie is simboliese voorstellings vervang deur historiese verhalende voorstellings, soos die uitbeelding van Christus se intog in Jerusalem en die huwelik in Kana.
Met die verklaring van die Konsilie van Efese (431) dat Maria die moeder van God is, is sy as sodanig in die kerkkuns uitgebeeld. In die vroeë 5de eeu is die geboorte van Christus uitgebeeld sonder die herder. Sy plek is ingeneem deur Josef wat op ‘n klip teenoor Maria uitgebeeld word, waar hy soms sy kop op onbetrokke wyse wegdraai.
Ná die 6de eeu word Maria die tweede fokuspunt naas die Kind in die uitbeelding van die Christus-geboorte.
Mosaïek-uitbeelding in die Haggia Sophia, Istanboel
In hierdie tyd (6de eeu) is die goud, wierook en mirre as geskenke geïnterpreteer vir Christus as Koning, God en mens. Hier word een van die Wyse Manne altyd uitgebeeld as wysend na die ster, en in die mosaïek in San Apollinaire Nuovo in Ravenna het hulle nou name gekry: Melchior, Kaspar en Balsasar. Hulle word ook voorgestel volgens die drie leeftye van die mens, naamlik die ou man met ‘n wit baard, die middeljarige man met ‘n donker baard en ‘n baardlose jongman.
Mosaïek-uitbeelding van die Drie Wyse Manne
Terwyl Konstantyn alle kruisigings verbied het uit respek vir Christus se dood, is die vroegste uitbeelding van die kruisigingstoneel in die 5de eeu op die sipres-houtdeure van die Santa Sabina-kerk in Rome (425 n.C.) aangebring.
Kruisigingstoneel op die houtdeure van die Santa Sabina-kerk, Rome
Vanaf die 5de eeu word Christus uitgebeeld met ‘n lendekleed en oë wawyd oop, sonder enige teken van lyding om die oorwinning oor die dood aan te dui. Ná die 6de eeu is Christus ‘n majesteuse lewendige figuur in ‘n lang kleed, ongeskonde as duidelike simbool van die opstanding.
Met hierdie oorsig het Prof Alex Duffey die aanloop en kuns van die vroeë Christene gedurende die eerste 500 jaar uiteengesit.