(Voordenker en koersaanwyser in die gesprek oor die voortbestaan van die Christelike godsdiens)

Hierdie man het reeds in die sestigerjare van die vorige eeu ’n teologiese storm in Nieu-Seeland veroorsaak met sy stelling dat Jesus se opstanding nie letterlik nie, maar simbolies verstaan moet word.

Sakkie vind dit vreemd dat hierdie man eers in 2008 in sy lewe ingestap het. Hy moes reeds vroeër van hom te hore gekom het, want Geering was vir byna 15 jaar professor in Ou Testament aan twee Presbiteriaanse kweekskole – een in Australië en die ander in Nieu-Seeland, asook professor in Godsdienswetenskap aan die Victoria Universiteit in Wellington. Die ‘ontmoeting’ met Geering het plaasgevind tydens ’n besoek aan die ‘Sea of Faith Movement‘ se naweekseminaar in Liverpool. Sakkie, Johan Badenhorst en Hansie Wolmarans was daar om te kyk of die NHN iets by hierdie beweging kon leer. Die NHN en die ‘Sea of Faith Movement‘ het immers heelwat in gemeen.

Geering, wat al verskeie eretoekennings ontvang het en na regte as ‘Sir Lloyd Geering’ aangespreek behoort te word, is in Rangiora (Nieu-Seeland) gebore. Beide sy ouers het as jong kinders saam met hul ouers na Nieu-Seeland geëmigreer. Sy ouers het in daardie stadium reeds drie seuns gehad toe hy op 26 Februarie 1918 as laatlam gebore is. Volgens hom het godsdiens nie ’n groot rol in hul gesinslewe gespeel nie, maar hy het in die laaste twee jaar van sy hoërskoolloopbaan aan die ‘Otago Boys’ High School’ by die ‘Student Christian Movement’ (SCM) aangesluit en hul etensuurbyeenkomste bygewoon. Hy was ’n skrander leerling en slaag matriek in 1935 met goeie uitslae wat hom universiteitstoelating gewaarborg het.

In 1936 skryf hy vir ’n BA-graad aan die Universiteit van Otago in met Wiskunde, Frans, Latyn, Grieks en Sielkunde as vakke. Wiskunde was een van sy groot liefdes en hy behaal uiteindelik ’n Honneursgraad daarin. Tydens sy studiejare speel hy hokkie en soms ook krieket en is aktief betrokke by die SCM. Volgens hom het die SCM hom aan ’n Christelike godsdiens bekendgestel waarmee hy kon identifiseer. Dit het nie gefokus op kerklike leerstellings nie, maar op ’n Christelike leefwyse. Gedurende sy tweede jaar op universiteit voel hy hom geroepe om ’n predikant van die Presbiteriaanse kerk te word. Sy ma was van Skotse afkoms en die gesin het soms Presbiteriaanse eredienste bygewoon. Hy voltooi egter eers sy BA-graad asook sy Honneursgraad in Wiskunde voordat hy in 1940 met sy teologiese studie begin. In hierdie stadium het die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) reeds uitgebreek en hy vind aanklank by Christene wat pasifisme voorstaan. Hy voltooi sy teologiese studies in 1942 en skryf soos volg in sy outobiografie Wrestling with God (Geering 2007:57):

Did I know more about God than I did before I started? I could answer the questions in a theological examination, but they had to do with theological doctrines and did not necessarily bring one closer to God. I was content to leave ‘God’ as unknowable. (…) For me, ‘God’ was simply the name of the ultimate mystery of life. I felt myself on more solid ground with the person of Jesus Christ as portrayed in the Gospels.

Hy dien as predikant in drie gemeentes. Sy eerste predikantspos was in die dorpie Kurow wat 64 km wes van die ooskusdorp Oamaru, geleë was. Hier trou hy op 22 Mei 1943 met Nancy McKenzie wat hy tydens ’n fietstoer ontmoet het. Hul eerste kind word in Oktober 1944 doodgebore en hy kry die taak om die kind te begrawe. Die gebeurtenis het hom en Nancy diep ontroer en hom met teologiese vrae soos die volgende gekonfronteer: “Wat word van so ’n kind – is hy in die hemel?” Die Bybel gee natuurlik geen antwoord hierop nie!

Hy word hierná na die Presbiteriaanse gemeente van Opoho in Dunedin beroep. Aan die einde van sy eerste bediening het die vraag of hy God beter leer ken het, hom weer te binne geskiet en soos voorheen moet hy erken dat God steeds vir hom ’n misterie bly. Geen menslike uitsprake oor God kan God werklik omskryf nie.


 Lloyd Geering tot ridder geslaan deur Nieu-Seelandse Goewerneur-generaal, 2009 – Foto: Ross Setford

Vroeg tydens sy tweede bediening word hul seun Jonathan (“Johnny”) gebore en werk hy aan ’n BD-Honneursgraad in Ou Testament wat hy in 1946 voltooi. Dié jare bring egter ook groot hartseer, want met Nancy se derde swangerskap met hul dogtertjie Judith (“Judy”) ontdek dokters dat sy akute pulmonêre tuberkulose het. Sy word in ’n sanatorium opgeneem, maar sterf ’n jaar later vanweë mediese nalatigheid. Geering is skielik ’n jong wewenaar met twee klein kinders en vrae oor die lewe en die dood.

Ná sowat ’n jaar ontmoet hy Elaine Parker, ’n spraakterapeut. Hulle vind onmiddellik aanklank by mekaar. Dit geld ook die twee klein kinders. Haar ouers was egter ontsteld en het haar afgeraai om met die verhouding voort te gaan. Om met ’n wewenaar-dominee met twee klein kinders te trou, was vir hulle totaal onaanvaarbaar! Teen haar ouers se wil trou hulle wel later, maar eers nadat Geering ’n beroep na die St James Presbiteriaanse gemeente in Wellington aanvaar het. Elaine skenk tydens hierdie jare geboorte aan haar eersteling Elizabeth. So het Geering dus een seun en twee dogters.

Hy was vyf jaar predikant van die gemeente in Wellington voordat hy aansoek gedoen het vir ’n pos as professor in Ou Testament in Brisbane (Australië), waar hy in 1956 daar aangestel word. Dis hier waar hy kennis maak met die boeke van die Nuwe-Testamentikus, Rudolph Bultmann (1884–1976) en die Sistematiese Teoloog, Paul Tillich (1886–1965). Oor Bultmann skryf hy soos volg (Geering 2007:108):

Having already learned how to reinterpret the myths and legends in the book of Genesis, I was open to Bultmann’s scepticism about much of the New Testament material and attracted to his assertion that much of the language and assumptions reflected in the New Testament belonged in the category of myth rather than history.

Met sy koms na Australië het Geering aanvaar dat hulle vir ’n aantal jare in Brisbane sou bly, want daar was slegs ’n paar Presbiteriaanse instansies waar die vak Ou Testament aangebied was. Akademiese poste was skaars en jy moes hou wat jy het. Maar tot sy verbasing adverteer die Knox Kollege in Dunedin (sy ou Alma Mater) gedurende 1959 ’n pos in Ou Testament. Hy word in 1960 in die pos aangestel en kort voor lank aangewys as hoof (dekaan) van die Knox Teologiese Kollege in Dunedin.

Die sestigerjare was, wat die teologie betref, interessante jare. John Robinson se boek ‘Honest to God‘ is in 1963 in Brittanje gepubliseer en het byna alle Engelssprekendes aan die praat gehad. Geering was nie baie beïndruk daarmee nie, want dit was grootliks ’n verwerking van Paul Tillich (1886–1965) en Dietrich Bonhoeffer (1906–1945) se sienings. Voorts was dit nie baie goed geskryf nie. Tog het die boek, na sy oordeel, waarde gehad: dit het gewone mense bewus gemaak van wat in die teologie aangaan. Robinson publiseer twee jaar later ’n tweede boek met die titel ‘The New Reformation?‘ Geering het hierby aanklank gevind en daarop voortborduur in ’n artikel wat hy op uitnodiging vir die Presbiteriaanse kerklike tydskrif Outlook geskryf het. Dit was met die oog op Hervormingsdag (31 Oktober 1965). Daarin vra hy die volgende vraag (Geering 2005:131):

Is the Christian faith inextricably bound up with the world-view of ancient mankind, which has now been superseded, or can the substance of it be translated into the world-view of the twentieth century mankind?

Hy beklemtoon ook dat mense wat in die twintigste eeu leef, nie meer twee wêrelde ken nie – die natuurlike en die bonatuurlike, oftewel die sigbare en onsigbare. Hulle ken net één wêreld: die sigbare. Wie oor die ‘onsigbare wêreld’ praat, het die moderne wêreldbeeld nog nie hul eie gemaak nie. Verder het hy uitsprake oor Jesus se opstanding gemaak en ’n letterlike verstaan daarvan afgewys. Die opstanding moet simbolies verstaan word, het hy beklemtoon. Dit was hoe dáárdie mense hul hoop op ’n beter toekoms verwoord het. Laastens het hy uitsprake oor die Bybel en die gesag daarvan gemaak. Die Bybel is nie die letterlike Woord van God nie. God het nie die verhale en boeke vir die skrywers gedikteer nie.

Hierdie uitsprake het ’n teologiese storm ontketen en Geering moes bontstaan om sy uitsprake oor veral die opstanding te verduidelik. Alles loop uiteindelik uit op ’n klag van leertug teen hom, maar die Presbiteriaanse Sinode van 1967 vind hom onskuldig.

Die stof het skaars oor die kwessie van Jesus se liggaamlike opstanding gaan lê toe ’n nuwe saak opduik. Geering het op uitnodiging die akademiese jaar van die Victoria Universiteit in Wellington gaan open met ’n preek uit die boek Prediker. Hiertydens raak hy die idee van ’n onsterflike siel terloops aan en wys dit af. Heelwat konserwatiewe Christene was weer eens ontsteld en daar was predikante wat van mening was dat Geering duidelik die Westminster Belydenis van die Presbiteriaanse kerk weerspreek het.

En toe gebeur die totaal onverwagse. Die Victoria Universiteit in Wellington adverteer in 1970 ’n leerstoel in Godsdienswetenskap. Dit was die eerste van sy soort in Nieu-Seeland. Geering doen aansoek omdat hy gevoel het dat hy ’n verleentheid vir sy teologiese kollegas geword het. Van hulle het hom probeer oorreed om te bly, maar Geering was daarvan oortuig dat sy dae in die kerk getel was en dat hy liefs ’n loopbaanverandering moes maak. Só word hy die eerste persoon in Nieu-Seeland om ’n leerstoel in Godsdienswetenskap te beklee. In dieselfde jaar verskyn sy boek ‘Resurrection: A Symbol of Hope‘ (1971) wat hy geskryf het in reaksie op al die boeke wat gepubliseer is om sy sienings te weerlê. Die boek het nie soveel stof opgeskop nie, want teen hierdie tyd was Geering nie meer by teologiese opleiding betrokke nie.

Hy was van 1971 tot met sy aftrede in 1983 professor in Godsdienswetenskap aan die Victoria Universiteit in Wellington. Gedurende hierdie jare het hy een boek en verskeie koerantartikels oor godsdiens in die moderne wêreld geskryf. Ná sy aftrede word hy deel van die Jesus Seminaar in die VSA en publiseer verskeie populêre teologiese boeke. Hy het ’n groot bydrae gelewer tot die gesprekke oor die Christelike geloof in die moderne wêreld – nie net in Nieu-Seeland nie, maar in die ganse Westerse wêreld. Hy was in 1985 op uitnodiging van professor Martin Prozesky van die Universiteit van Natal (Pietermaritzburg) in Suid-Afrika.

Diegene wat meer van hom wil weet, kan gerus die volgende internetskakel besoek: “Lloyd Geering” https://en.wikipedia.org/wiki/Lloyd_Geering en “The last Western heretic” https://www.youtube.com/watch?v=sf-8edICzmg.

Die gegewens vir hierdie opsomming is verkry uit sy outobiografie met die titel Wrestling with God: The story of my life (Exeter: Imprint-Academic, 2007).