Sakkie Spangenberg gee ‘n lesing by die eerste NHN byeenkoms van 2024 in Midstream oor hoe ’n reeks toevallige gebeurtenisse gelei het tot die stigting van die Nuwe Hervorming Netwerk wat vanjaar in September 20 jaar oud word.


‘n Reeks toevallige gebeurtenisse: Twee dekades NHN 2004–2024

Sakkie Spangenberg
21 Januarie 2024

 

  1. Inleiding

Woensdag 10 Januarie 2024 skryf Wilhelm Jordaan ’n stuk in Beeld waarin hy ’n handvol wyshede kwytraak waarby ek aanklank vind. Die stuk dra die titel “Ons is deel van die natuur, nie baas daarvan.” Hy skryf dat die mens nie los staan van alles wat hom/haar omring nie en dat mense moet leer om in harmonie met die natuur te leef. In sy eie woorde:

Werklike harmonie vereis wel ’n ander manier van praat in die trant van die Gaia-hipotese (…) en dit sê mens en omgewing is nie te skei nie. Dit is ’n lewe-onderhoudende geheel waarvan al die onderdele met mekaar en die geheel verweef is. In die trant van: onverwante dinge is verwant/ in die harmonie van God/ mens buffel ametis/ arend roos selakant.

Dis woorde wat duidelik verband hou met die Gaia-hipotese soos voorgedra deur James Lovelock (2016) en Jordaan erken dit ook. Dit is waarom ek aanklank vind by sy woorde, want 24 jaar gelede het Anne Primavesi my aan Lovelock bekend gestel met haar boek Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science (2000). Sy argumenteer daarin dat teologie tans net sinvol beoefen kan word indien dit binne die raamwerk van die evolusie-teorie en die Gaia-hipotese gedoen word en skryf dan soos volg (Primavesi 2000:46):

Even if we confine a certain stand of revelation to the biblical narratives, the Bible as we now have it has evolved over 2–4,000 years; 2,000 years in its original languages and a further 2,000 in its translations. (…) There is, therefore, no possibility of Christian doctrines having been formulated once and for all. As the universe itself has only reached a provisional state, theology in ‘the real world’ must recognize that its formulations too are provisional. All of which makes resistance to a coevolutionary perspective within the churches quite understandable. But costly. For if the evolution of truth is not accepted for fear of the loss of authority, the churches are left in the curious position of prescriptively universalizing a particular authority bound to a particular time, place, people and expressive environment. And of authorizing a concept of God which is both locally determined and determinist.

Dit is ’n mondvol, maar daar sit groot waarheid in haar stellings. Predikante, pastore en priesters dwing leerstellings wat in die Middeleeue geformuleer is op hulle lidmate af sonder om in aanmerking te neem dat die wêreld sedertdien geweldig verander het en ons kennis eksponensieel toegeneem het.

Jordaan se artikel het my ook laat dink aan Sean Carroll se boek A Series of Fortunate Events: Chance and the Making of the Planet, Life and You (2022) wat ek onlangs op aanbeveling gelees het. Die boek handel oor die toevallige gebeure wat tot die ontstaan van lewe op Aarde gelei het en ook tot ons eie bestaan. Op ’n verstommende en wonderbaarlike manier het verskeie faktore daartoe bygedra dat lewe op Aarde kon ontstaan en ontwikkel het. Om slegs enkeles te noem waarvan meeste van julle kennis dra:

  • Die planeet Aarde is geleë in ’n sone wat nie te koud en nie te warm is nie. Die sogenaamde “gouelokkies sone”. Ons planeet is nie te naby aan die son, maar ook nie te ver daarvan “geleë nie.
  • Die rol van ons maan. Vroeg in sy ontstaansgeskiedenis het die Aarde met ’n ander planeet bekend as Theia gebots en uit die botsing is ons maan gebore. Dit was ’n ongelukkige gebeurtenis, maar ook ’n gelukkig een, want die maan stabiliseer die Aarde se wentelbaan om die son sodat dit nie te veel “rondskommel” nie. Dit het ook daartoe bygedra dat die Aarde se wentelas gekantel het sodat ons seisoene op Aarde beleef.
  • ’n Hele aantal ysdraende meteoriete het ook die Aarde redelik vroeg getref en bygedra tot die hoeveelheid water op die planeet en ons planeet se gravitasie kon die water vashou.
  • Wat die ontstaan van ons spesie (Homo sapinens) betref, wys hy op die gebeurtenis 65 miljoen jaar gelede toe ’n reuse asteroïed die Aarde oos van Mexiko op die Yukatán-skiereiland getref het (naby die plek wat ons vandag as Chicxulub ken). Dit het gelei tot die uitsterwing van die dinosourusse en die opkoms van die soogdiere en dus ook tot die ontstaan van verskillende mensspesies waaronder Homo sapiens.

Dinsdag 16 Januarie 2024 verskyn daar weer ’n artikel van Anton van Niekerk met die titel “Kan godsdiens ’n oorlog keer?” Hy het die artikel geskryf na aanleiding van die oorlog in Gasa. Anton wys in sy artikel op die geweldadige geskiedenis van die Christelike godsdiens en vra ’n paar belangrike vrae. Ook hierdie artikel prikkel my nadenke, want 24 jaar gelede het ek soortgelyke gedagtes met koerantlesers gedeel en dit het my in die warmwater laat beland by die NG Kerk. Die titels van my artikels het gelui: “Groot debat vir Christene het maar pas begin” (Rapport, 2 Januarie 2000). Die tweede een dra die titel “Godsdiens-kreatief: Dié met ander geloof is medemens” (Beeld, 10 Januarie 2000). Ek het destyds aanklank gevind by Hans Küng en ander wat toe reeds geargumenteer het dat die Christelike godsdiens sy waarheidsaansprake sal moet temper. Ons leef immers nou in ’n globale wêreld en ons moet die aanhangers van ander godsdienste op gelyke voet ontmoet.

Hierdie artikels het daartoe bygedra dat ek ’n gespreksgroep aan huis begin het vir Christene wat nie meer tuis was binne die tradisionele formulerings van die Christelike geloof nie. Die nuwe politieke bedeling het vrae by lidmate wakker gemaak — vrae waarmee hulle al geruime tyd geworstel het. In my eie lewe het die verandering in geloofsperspektief in 1996 in alle erns begin.

 

  1. Toevallige gebeurtenisse 1996–2004
  • Dit het begin met Jona 1996

Ds. Mike Smuts (snr.) het die NG Sinode van Wes-Kaapland wat in 1995 vergader het, versoek om duidelikheid te verskaf oor hoe die boek Jona verstaan behoort te word. Is dit ’n historiese verhaal, of bloot ’n fiktiewe een? Sedert Ferdinand Deist se boekie Die God van Jona (1981) verskyn het, was sommige lidmate en predikante onthuts, want Deist se oortuigings het hulle herinner aan die Du Plessis-saak van die dertigerjare.

Johannes du Plessis (1868–1935) was professor in Nuwe Testament aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch en het ’n teologiese tydskrif met die titel Die Soeklig op die been gebring waarin het hy en ander verligte predikante allerlei teologiese vraagstukke bespreek het. Soms het hy as redakteur lesers aan meer as net nuwere teologiese insigte bekend gestel. Só het hy nie geskroom om oor die evolusieteorie te skryf en te vertel van die ontdekking van die Taung-skedel in 1924 nie.

In een van die eerste uitgawes van Die Soeklig het hy onder andere die interpretasie van die boek Jona aangeroer. Die verhaal bevat heelwat metafore, het hy geargumenteer, en alles in die boek kan nie letterlik opgeneem word nie. Heelwat predikante en lidmate was onthuts oor wat hy geskryf het. Die konserwatiewes het gevolglik hulle eie teologiese tydskrif met die titel Die Ou Paaie tot stand gebring. Die doel was duidelik om Du Plessis se sienings teen te staan en die ou standpunte te herverwoord en as die meer korrekte sienings voor hou. Die teologiese botsing van destyds het daartoe gelei dat Du Plessis van dwaallering aangekla is. Die konserwatiewes wou hom uit sy pos as professor in Nuwe Testament laat verwyder. Hierin was hulle suksesvol, want die NG Sinode het Du Plessis uiteindelik van sy pos onthef, maar hy het hom op die Hooggeregshof beroep en geargumenteer dat die Sinode nie korrek volgens sy eie reëls gehandel het nie. Die burgerlike hof het hom gelyk gegee. Die Sinode het egter na die hofsaak hom meegedeel dat die verhouding tussen hom en die NG Kerk onherstelbaar verbrokkel het. Hulle het nie kans gesien om hom in sy pos aan die Teologiese Seminarium her aan te stel nie. Hy het dit só aanvaar. Sedertdien staan hierdie gebeure bekend as die Du Plessis-saak in die NG Kerk.

Toe die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika hulle jaarlikse kongres in 1996 op Stellenbosch hou, het ek besluit om ’n referaat met die titel “Die Ned Geref Kerk, die boek Jona en religieuse pluralisme” voor te dra. Ek wou aantoon dat sowel Du Plessis as Deist korrek is met hulle interpretasie van die Jona-verhaal. Die verhaal behoort nié as geskiedenis gelees te word nié. Maar ek wou meer as dit doen. Ek wou predikante se aandag daarop vestig dat ons in ’n nuwe bedeling leef en dat daar ander sake is wat die kerk se aandag verdien. Die gesprek waaroor dit tans moet gaan, is die vraag: “Wat is die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste?” Ek was van mening dat die boek Jona hiertoe ’n bydrae kon lewer. Inderwaarheid was daar wêreldwyd al ’n gesprek aan die gang oor die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste. Drie boeke wat ek byvoorbeeld in die tyd gelees het dra die volgende titels Pluralism: A New Paradigm for Theology (Gillis 1993), Christianity without Absolutes (Bernhardt 1994), en The Rainbow of Faiths: Critical Dialogues on Religious Pluralism (Hick 1995).

Die referaat sou waarskynlik géén rimpelings in die NG Kerk veroorsaak het nie as dit nie was dat Johan Retief daaroor in die koerant verslag gelewer nie. Retief was op daardie stadium die kerksakeverslaggewer by Die Burger en enkele sinne van my referaat het die koerant gehaal. Ek het in die slot van my referaat geskryf: “Die Ned Geref Kerk staan aan die begin van die 21ste eeu voor twee groot uitdagings: Die eerste een het te doen met die kerk se siening van die Bybel, en die tweede een met sy siening van ander godsdienste.” Op daardie stadium het die NG Kerk nog in sy amptelike dokumente na Islam verwys as “’n Valse godsdiens”, danksy ’n sinodale besluit in die tagtigerjare geïnisieer deur dominee Colyn, kapelaan in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Enkele weke na die kongres het ek my referaat vir publikasie in die teologiese tydskrif van Stellenbosch aangebied, maar dis sonder opgaaf van redes afgekeur. Wat bedoel was as ’n uitnodiging tot gesprek en debat is misverstaan en dit het later gelei tot ’n klag van leerdwaling wat aan my adres gerig was.

Die klag teen my argumente en sieninge is nie gehandhaaf nie, maar ek het in dié tyd besef dat ek nie meer langs die tradisionele gereformeerde lyne oor die Bybel en die Christelike godsdiens dink nie. Die waarheid van Günther Weber se woorde het ook tot my deurgedring (Weber 1998:195):

Theologians who in their thinking, questioning and research arrive at results which diverge from the official line of church teaching must expect to be suspect, and to be disciplined with measures at a variety of levels. They can only avoid difficulties if they disguise their divergent understanding and do not give voice to it.

  • Perspektiewe op die Bybel 1998

Nadat die stof oor my referaat oor Jona gaan lê het, het ek besef dat my veranderde siening van die Christelike godsdiens verband hou met my veranderde siening van die Bybel. Maar hierdie veranderde siening het ook saamgehang met die verandering in my omgewing. Gilles (1993:66) is dus korrek wanneer hy skryf  “Theologians do not create their environment; they are created within it.” Suid-Afrika het in 1994 verander van ’n soort oligargie na ’n volwaardige demokrasie. ’n Oligargie word gedefinieer as ’n regering deur ryk of adellike families. In ons land was dit nie ryk en adellike families wat regeer nie, maar ’n blanke minderheid wat hulleself die reg toegeëien het om oor ander burgers se lotgevalle te besluit.

Die apartheidsbeleid was ongetwyfeld gegrond in Westerse rasmeerderwaardigheid. Hierdie meerderwaardigheid het verband gehou met die siening dat dit moontlik is om mense op grond van hulle velkleur (en hulle sogenaamde beskawingspeil) hiërargies te orden. Diegene met wit velle (Wes-Europeërs) staan bo-aan die leer en die res van die mensdom benede hulle. Hierdie hiërargie is onteenseglik verknoop met die Christelike godsdiens. Die Christelike godsdiens (Westerse godsdiens) is beskou as die enigste ware godsdiens en die res is as “valse godsdienste” — selfs as afgodery — getipeer. Karl Barth (1886–1968), dié Protestantse teoloog van die twintigste eeu, was een van die groot geeste wat hierdie siening voorgestaan het. Volgens hom is die Christelike godsdiens nie ’n godsdiens nie. Dis die enigste ware evangelie! Ons het die waarheid beet — die res hang die leuen aan. Die Barthiaanse teologie het ’n negatiewe invloed uitgeoefen op inter-religieuse gesprekke in die Protestantisme. Die Katolieke teoloë was die Protestantse teoloë gevolglik vooruit in soverre dit nadenke oor die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste betref. Neem die insigte van die Katolieke teoloog Hans Küng (1928–2021) as voorbeeld. Hy het die volgende stellings gemunt en dit staan voorin sy trilogie wat oor die Abrahamitiese godsdienste (Judaïsme, Christelike godsdiens en Islam) handel (Küng 1992, 1995, 2007)

No peace among the nations

without peace among the religions.

No peace among the religions

without dialogue between the religions.

No dialogue between the religions

without investigation of the foundations of the religions.

Theo Salemink het met sy boek Die Afrikaanse Mythe (1997) ook bygedra tot my veranderde insigte. Sy boek is gegrond op sy navorsing oor hoe Katolieke Europeërs en Europese sendelinge oor ’n tydperk van 100 jaar (1867–1968) oor Afrikane gedink en gepraat het. Teen die einde van sy boek vra hy hierdie retoriese vraag: “Kan die leer van die mensdom horisontaal neergelê word as die leer van die godsdienste orent bly staan?” Kan ons rassisme werklik oorwin terwyl ons voortgaan om vas te hou aan die oortuiging dat die Christelike godsdiens die enigste ware godsdiens is en dat dit bo die ander godsdienste uittroon as die enigste ware een?

Vir die volgende drie jaar lees ek intensief na oor hoe godsdienswetenskaplikes en teoloë oor die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste dink en skryf. Telkens kom ek tot die gevolgtrekking dat ’n persoon se Bybelbeskouing bepalend is vir sy/haar siening van die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste. Maar ek besef ook dat ’n mens nie met ander Christene ’n sinvolle gesprek oor dié onderwerp kan voer tensy julle min of meer dieselfde oortuigings deel nie.

Om sinvol met Christene oor die Christelike godsdiens se waarheidsaansprake te kan praat, sal ’n mens by punt A (Skrif-/Bybelbeskouing) moet begin. Ek het gevolglik gaan sit en ’n boek oor die paradigmaveranderinge in die Bybelwetenskappe geskryf en ook ’n diagram ontwerp waarin ek die veranderinge histories probeer plot het. Voorts het ek — soos Hans Küng — probeer uitwys dat die veranderinge dikwels stol tot ’n spesifieke tradisie wat Skrifbeskouing betref. Ek het drie Skrifbeskouings geïdentifiseer: (1) Woord van God (die tradisionele Katolieke en Protestantse Skrifbeskouing), (2) God se Woord in mensetaal (die Skrifbeskouing wat met die histories-kritese benadering verband hou), en (3) Woorde oor God (die Skrifbeskouing wat voortvloei wanneer mens die Bybel as literatuur lees) (Spangenberg 1998:6–28).

Vir die eerste keer kon ek verstaan en vir myself motiveer waarom ons nie na die Christelike godsdiens kan verwys as die “Bybelse godsdiens” nie, en ook nie na die Drie-eenheid as “die Bybelse God” nie. Die Bybelboeke skets nie vir ons net één prentjie van God nie, maar verskeie. Die wyse waarop die skrywer van die boek Prediker oor die God van Israel praat, verskil radikaal van hoe die skrywers van Jesaja oor die God van Israel praat. Hulle verskil op hulle beurt van hoe Jesus in die sinoptiese evangelies (Matteus, Markus en Lukas) oor die God van Israel praat. Voorts is daar na regte nie sprake van net één godsdiens in  die Bybel nie. Die Bybel vertel na regte die verhaal van drie godsdienste: (1) Jahwisme (die vroeë vorm van die Israelitiese godsdiens); (2) die vroeë Judaïsme (die godsdiens van Israel na die Babiloniese ballingskap), en (3) die vroeë Christelike godsdiens (die godsdiens wat stadig maar seker uit vroeë Judaïsme ontwikkel het en waarvan ons spore in die Nuwe Testament vind).

  • Rapport 2000

Gedurende November 1999 nader Anne-Marie Mischke my en vra of ek vir hulle ’n artikel sal skryf vir die eerste uitgawe van Rapport in Januarie 2000. Sy was op daardie stadium ’n senior journalis by Rapport. Ek moes daarin besin oor die rol van die Christelike godsdiens in die nuwe millennium. Ek het ingestem en my artikel het verskyn onder die titel “Groot debat vir Christene het maar pas begin” (Rapport, 2 Januarie 2000). Hierin het ek weer geargumenteer dat die nuwe bedeling van Christene in Suid-Afrika vra om te besin oor die waarheidsaansprake van die Christelike geloof. Ons leef nou in ’n ander bedeling waar ons grondwet Suid-Afrika as ’n sekulêre staat beskryf waarin godsdiensvryheid gewaarborg word, en waar daar nie aan één godsdiens voorrang gegee word nie. Burgers is vry om hulle godsdiensoortuigings uit te leef, maar die staat gaan nie vir een godsdiens kies en Suid-Afrika beskryf as ’n Christelike staat nie. Ek het pertinent gevra: “Is die waarheid nét in die Christelike geloof te vind, of het ander godsdienste ook aanspraak op waarheid?” In my argument het ek daarop gewys dat die mensspesie Homo sapiens ongeveer 200 000 jaar oud is terwyl die Christelike godsdiens nie eens 2 000 jaar oud is nie. Uitgedruk as ’n breuk, bestaan die Christelike godsdiens maar 1/100 (een honderdste) van die tyd wat Homo sapiens die Aarde bewandel. Wat het dit te sê vir die waarheidsaansprake van hierdie godsdiens? Vir seker kan die waarheid nie net in hierdie godsdiens te vind wees nie. Ek het op die gevare van Christelike fundamentalisme gewys wat die Bybel as die “ewige en onfeilbare Woord van God” beskou en die Christelike leerstellings as verhewe bo enige kritiek.

  • Beeld 2000–2005

My artikel in Beeld waarin ek ook besin het oor die Christelike godsdiens, het voortgevloei uit ’n uitnodiging van Neels Jackson om vanaf Januarie 2000 op ’n paneel van godsdiensskrywers te dien. Hy was op daardie stadium kerksakeverslaggewer by Beeld en ons het mekaar geken. Ons en hulle was lidmate van dieselfde gemeente en was op ’n stadium lede van dieselfde gemeentelike selgroep. Ek het die geleentheid aangegryp en ingestem om deel te wees van agt skrywers wat al om die agste week ’n artikel met ’n godsdienstige strekking publiseer. Dit was vir my ’n lekker ervaring, want ek is uitgedaag om my kennis in eenvoudige taal weer te gee. Klaarblyklik het ek daarin geslaag, want per geleentheid verneem ek dat ’n onderwyseres aan een van die Afrikaanse skole in Pretoria een van my stukke in haar klas vir ’n Afrikaanse begripstoets gebruik het.

Wat die artikel in Beeld betref, het ek ook gevra vir ’n herbesinning oor die idee dat net Christene die waarheid beet het. Ek het godsdienste vergelyk met die aanleer van ’n taal. Net soos jy ’n taal binne ’n familiekring aanleer, leer jy ’n godsdiens binne dieselfde familiekring aan. Net soos ek nie daarop kan aandring dat alle mense Afrikaans moet praat nie, net so kan ek ook nie daarop aandring dat alle mense die Christeliek godsdiens moet beoefen nie. Voorts, is dit ’n feit dat tale oor die eeue verander en dikwels verskillende dialekte het. Dit geld ook van godsdienste. Godsdienste ontwikkel oor die eeue heen en vertoon daarom ook variasies. Daar is Katolieke, Ortodokse en Protestantse Christene. Daar is bestaan onder Protestante ’n groot variasie van sieninge. Is net één hiervan reg en het net één die waarheid beet? Is godsdiensoorloë ons voorland in die nuwe millennium omdat ons nie ander hulle sienings en oortuigings gun nie?

  • Aanklag van leerdwaling 2000

Ek het ook spoedig beleef dat nie almal hou van wat ek skryf nie. Die NG Gemeente Meyerton het ’n klag teen my ingedien by die NG Ring van Lyttelton en dit soos volg geformuleer:

Spangenberg mense en lidmate (insluitend ons) lei om tot een, meer of almal van die volgende gevolgtrekkings te kom:

  • Mense is nie verlore as hulle nie jou geloof (Christelike geloof) deel nie;
  • Jesus is nie die enigste weg na saligheid nie;
  • Daar kan nie gesê word dat ’n ander godsdiens verkeerd is omdat dit nie die Christelike godsdiens is nie;
  • Dat ander godsdienste deur God aanvaar word, omdat, soos Prof. Spangenberg vra: “Waarom word almal nie Christene as God dit dan so wil hê nie?”
  • Dat die vrug van die evangelieverkondiging aan almal en aan die Moslemlande enkel alleen van die wil van die aanhoorders daarvan self afhang, omdat Prof. Spangenberg dit so insinueer deur die volgende vrae te vra: “Waarom word almal nie Christene as God dit dan so wil hê nie”, asook “in Moslemlande maak die Christelike geloof nie eintlik enige vordering nie. Moet ons nie liewer daarmee volstaan dat daar altyd ’n variasie van godsdienste sal wees nie.”
  • Dat God mense van ander godsdienste ook deur diesulkes se eie godsdienste red, omdat Prof. Spangenberg dit so insinueer deur die volgende vrae te vra: “Is dit nie deel van God se veelkleurige genade nie?” asook “As die Christelike geloof die enigste weg is, beteken dit net dié mense wat in die tweeduisend jaar sedert Christus geleef het, God kon ken? In die geskiedenis van die mensdom is dit ’n kort tydjie. Ek begin al hoe meer sê: daar is een God, en Hy was oor die eeue met alle mense besig.”
  • Dat God mense van ander godsdienste die verlossing wat Christus bewerk het, skenk en toereken sonder dat dit nodig is om aan hulle die evangelie van Jesus Christus te verkondig of dat hulle die evangelie van Jesus Christus hoor.

Tydens die lees van die klag het ek besef dat lidmate van die NG Kerk (en waarskynlik ook ander gereformeerde kerke) die politieke verandering in 1994 nog glad nie verwerk het nie. Hulle het nog glad nie gesnap dat ons in ander tye leef nie. Karl Jaspers (1883–1969), ’n Duitse filosoof, se woorde het egter in my kop bly maal: “Both in its motive and in its consequences this claim [absoluteness] is a disaster for human beings. We must oppose this fatal claim for the sake of the truth and the sake of our souls” (Bernhardt 1994:6).

  • Kantaantekeninge 2000–2005

Met die wysheid van nabaat weet ek vandag dat die laat negentigerjare vir ’n kreatiewe oomblik in my lewe gesorg het. Dit was nie in die eerste plek ’n besef van verganklikheid wat die kreatiwiteit aangewakker het nie. Dit was meer ’n oortuiging dat ek iets te sê gehad het. Ek het iets te sê gehad oor die Bybel en die uitleg daarvan asook oor die gevolge wat die nuwe politieke bestel vir die teologie inhou. Noudat ons nie meer in ’n uitsluitlik Christelike staat woon nie, moes ons tog anders begin dink en praat as voorheen. Ek het soos Dorothee Sölle (1929–2003), die Duitssprekende vroulike teoloog wat die Tweede Wêreldoorlog beleef het, gevoel. Sy’t in een van haar opstelle die volgende geskryf: “I have never understood how a theology after Auschwitz can be precisely the same as before.” Hoe kan ons in die post-apartheidsera voortgaan met dieselfde Skrifbeskouing wat die apartheidsideologie ondersteun het? Hoe kan ons voortgaan en die Christelike godsdiens as die enigste ware godsdiens voorhou, terwyl ons nou in ’n land woon waarvan die grondwet gelyke regte aan alle burger en hulle godsdienste toeken?

Tydens hierdie woelige jare in my lewe sterf Ferdinand Deist (1944–1997) onverwags in Duitsland. Enkele maande daarna sterf  Riempies Prinsloo (1944–1997) ’n Ou-Testamentikus by UP. Nog enkele maande daarna deel Jimmie Loader (1945–…) ons by Unisa mee dat hy ’n pos aan die Universiteit van Wene in Oostenryk aanvaar het. Ons jonger kollegas het dit as gróót verliese beleef — veral ook omdat Willem Vorster (1941–1993), die knap Nuwe-Testamentikus, enkele jare tevore gesterf het.

Die ouer kollegas na wie ons opgesien het, was binne enkele jare nie meer deel van ons wêreld nie. Nou moes ons die pad self loop en die vraagstukke wat ons reken belangrik is, op tafel sit. Vir my het die kwessie van hoe Christene met die Bybel omgaan, voorop gestaan. Daarmee saam ook die kwessie van die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste.

Na my uitsprake soos in koerante weergegee, het ek verskeie briewe ter ondersteuning ontvang. Selfs een van Willem de Klerk wat in 1998 die boek Die vreemde God en sy mense gepubliseer het. Maar daar was in dié tyd twee ander boeke wat my oog ook gevang het. Die een van Annelie Ferreira met die titel Die dag toe ons God gevang het: ’n Persoonlike soektog na sin (1996) en die een van Tienie Swanepoel My hart wil Afrika (1997). Ferreira het as gewone kerklike lidmaat indingende godsdienstige vrae gevra. Swanepoel wat ’n antropoloog in KwaZulu-Natal was, het met sy verwoording van sy dienspligervaring en sy werk in KwaZulu-Natal my regop laat sit. Hier was ’n persoon wat ’n aanvoeling gehad het vir die nuwe era wat in Suid-Afrika aangebreek het. Hier was iemand wat my oë geopen het vir die onreg wat reeds vóór 1948 gepleeg is. Alle skuld vir wat in hierdie land fout gegaan het, kan eenvoudig nie op die Afrikaner se brood alleen gebotter word nie.

Ek het met De Klerk, Ferreira en Swanepoel geskakel en hulle genooi vir ’n gesprek by Unisa onder die vaandel van die C.B. Powell-Bybelsentrum. Hulle moes elkeen kom vertel van hulle sienings. ’n Groot aantal mense het die aand na die gesprekke by Unisa kom luister en daarna geoordeel dat ons die gesprekke nie nie daar kan laat nie. Ons moes met mekaar kontak behou en die wiel aan die rol hou. Só is die pamflet gebore wat ons “Kantaantekeninge: ’n Nuusbrief vir diegene wat nadink oor godsdiens, geloof en spiritualiteit” gedoop het. Ek en my kollegas Gerrie Snyman en Frances Klopper het om die beurt verantwoordelikheid aanvaar vir ’n nommer van die pamflet en vir ses jaar dit bly publiseer.

  • Die Bybellennium 1999 en die boek Daniël

Een van die gevolge van die aanklag teen my, was dat Chris Johnson direkteur van CUM-Uitgewers nie gelukkig was dat ek op die paneel van skrywers vir die eenvolume Bybelkommentaar bekend as die Bybellennium, gedien het nie. Hy het ’n gesprek met my en Wil Vosloo wat as redakteur van die Ou-Testamentiese gedeelte opgetree het, aangevra. Vosloo het my destyds genader om oor die boek Daniël te skryf en my stuk oor Daniël was reeds voltooi en ingedien. Dit was duidelik dat Johnson my nie daar wou hê nie, maar Vosloo het hom oortuig om my stuk te behou aangesien dit reeds voltooi was en dit die proses van publikasie sou vertraag. Met die tweede uitgawe van die Bybellennium is ek bloot meegedeel dat my kommentaar vervang gaan word. Kort hierna het ek gehoor dat Marius Nel van die AGS die taak ontvang het om kommentaar op Daniël te skryf. Vosloo was toe reeds dood en ek meer omstrede.

  • Die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns 2000

Ek het nie net populêre artikels oor die interpretasie van die Bybel en die Christelike godsdiens se verhouding tot ander godsdienste geskryf nie, ek het ook akademiese artikel hieroor geskryf. So lewer ek in 2000 ’n referaat oor die onderwerp “Beleef die Christelike Teologie soos met die vorige eeuwending weer ’n paradigmaverandering?” by ’n kongres van die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wat daardie jaar in Bloemfontein behou is. Ek het geargumenteer dat, volgens my insig, die teologie wél so ’n verandering beleef en dit gemotiveer deur onder andere na die Du Plessis-stryd in die NG Kerk aan die begin van die 20ste eeu te verwys. Du Plessis het die resultate van die histories-kritiese studie van veral die Ou Testament nie net met studente gedeel nie, maar ook met geïnteresseerde lesers van sy tydskrif Die Soeklig. Hy het spoedig die wind van voor gekry en sy waagmoedigheid is aan bande gelê deurdat hy van dwaalleer beskuldig is. Dit het ’n goeie veertig jaar geneem voordat Ferdinand Deist op die toneel verskyn het en op ’n baie wyse manier die histories-kritiese bestudering van die Bybel in Suid-Afrika laat herleef het.

Vir my word dit in 1998 so duidelik soos daglig dat die Bybelwetenskappe teen die einde van die 19de en die begin van die 20ste eeu ’n paradigmaverandering beleef het dat ek daaroor ’n boek geskryf het. Ek vind nie net by Mark Noll ondersteuning vir die oortuiging nie, maar ook by ander navorsers. So begryp ek toe ook waarom professor Johannes du Plessis (1868–1935) van die Teologiese Seminarium op Stellenbosch in die dertigerjare van die vorige eeu van kettery beskuldig en afgedank is. Hy was maar net een van vele professore in Europa, die VSA en ook Suid-Afrika wat rondom daardie eeuwending van kettery aangekla is.

Volgens my oortuiging is die Christelike godsdiens in die proses om ’n paradigmaverandering te beleef. Die Augustiniaanse paradigma van sondeval-verlossing-eindoordeel oortuig nie meer nie.

  • God? Geloof in ’n postmoderne tyd 2000

In 2000 nader Annemarie Mischke van Rapport my met ’n versoek om ’n resensie-artikel oor Ben du Toit se boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd (2000) te skryf. Ek het Ben van universiteitsdae af geken. In sy boek argumenteer hy dat ons wetenskaplike kennis ons voor uitdagings plaas. Ons sal anders oor God moet begin dink en praat. Nie almal het gehou van wat Ben in sy boek geskryf het nie en hy moes bont staan om ’n klag van leerdwaling af te weer.

  • Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God 2001

’n Jaar nadat Ben du Toit se boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd verskyn het, publiseer Andries van Aarde die boek Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God (2001). Vir die eerste keer in die geskiedenis publiseer ’n Afrikaanssprekende Nuwe-Testamentikus ’n boek wat oor die historiese Jesus handel. Wanneer mense van die “historiese Jesus” praat, bedoel hulle die historiese persoon ágter die karakter in die evangelies. Die Joodse Jesus. Ons kan duidelik drie Jesus-persone onderskei: (1) die historiese Jesus (die mens agter die verhale) , (2) die vertelde Jesus (die karakter[s] in die evangelies), en (3) dogmatiese Jesus (die goddelike persoon van die kerklike leerstukke).

Die evangelieskrywers vertel na regte nie ’n geskiedenisverhaal van Jesus nie. Hulle vertel ’n verhaal gegrond op herinneringe wat mense van Jesus gekoester het en hulle doen dit só dat elkeen se Jesus-karakter anders lyk.

Wanneer navorsers oor die “historiese Jesus” skryf, probeer hulle dus om agter die evangelievertellinge in te kom. Dis egter nie maklik nie. Maar deesdae is daar wel meer inligting oor die Judaïsme van Jesus se tyd beskikbaar en kan navorsers ’n beter profiel skets van die Joodse man wat aan die begin van ons jaartelling in Palestina geleef en gepreek het.

Volgens Van Aarde hou die historiese Jesus se optrede en prediking verband met die feit dat hy hoofsaaklik vaderloos grootgeword het. Ons lees bitter min van sy vader Josef in die evangelies, maar tog baie van Maria sy moeder. Dit het volgens Van Aarde ’n invloed op sy prediking uitgeoefen. Dis waarom Jesus begaan was oor die effek van die Romeinse oorheersing op sy Joodse volksgenote.

In dieselfde jaar wat Van Aarde se boek verskyn het, besoek John Dominic Crossan (1934–…), een van die bekendste navorsers oor die historiese Jesus, die Universiteit van Pretoria. Kort hierna nooi Van Aarde ’n aantal akademici vir ’n gesprek oor hoe ons die nuwere navorsing aan gewone mense kan deurgee. Die uitvloeisel hiervan was ’n lesingreeks waarby ek, Pieter Botha, Pieter Craffert, Hansie Wolmarans en Piet Muller betrokke was. Van Aarde het hom vroeg onttrek, want sy boek is met agterdog in die NH Kerk van Afrika bejeën en daar was gerugte van ’n klag van leerdwaling. Ons lesings is hierna saam met ander skrywers se artikels in boekformaat gepubliseer. Dit dra die titel: Die Nuwe Hervorming” (Muller 2002). Hiermee het ons heelwat Christene hulle gemoedsrus ontneem, want hulle het begryp wat ons kommunikeer het.

Ons het die bynaam die “Nuwe Hervormers” gekry en verskeie gemeentes het verklarings teen ons uitgereik. Daar is selfs boeke geskryf om Christene te waarsku teen die afwykendes en hul sienings. Hulle het beklemtoon dat die Jesus wat die kerk deur die eeue verkondig het, die ware en historiese Jesus is. Ons is besig om valshede te verkondig en waninligting te versprei. Ons ondermyn die kerklike leerstellings.

  • Die aanval op die Wêreldhandelsentrum 2001

Baie mense het gehoop dat die nuwe millennium vreedsamer sou wees as die twintigste eeu. Daar was heelwat hoopvolle tekens – soos die val van die Berlynse muur in 1989 en die vrylating van Nelson Mandela in 1990. Die eerste dekade van die een-en-twintigste eeu het hierdie hoop egter gou verpletter. Die mensdom bly maar ’n wrede en geweldadige klomp en dít kan nie net aan godsdienstige oortuigings toegeskryf word nie. Ons moenie die grypsug van Europeërs vergeet nie. Die onstabiliteit in die Midde-Ooste hang saam met die rolle wat Brittanje en Frankryk na die ondergang van die Ottomaan-Turkse Ryk in daardie geweste gespeel het. Hulle het daardie deel van die wêreld gou-gou onder hulle twee verdeel en state in die lewe geroep wat voorheen nie bestaan het nie. Daar was nie net ’n “Scramble for Africa” nie, maar ook ’n “Scramble for the Near East”. Sirië, Libanon, Jordanië en Irak is die uitvloeisel van hierdie grypsug.

  • KKNK en die Burgerlesingreeks 2001

My standpunt oor die Bybel wat sedert die Jona-lesing meer rugbaar geword het, lei daartoe dat ek genooi word om aan ’n gesprek oor die Bybel by die KKNK in Oudtshoorn deel te neem. Frits Gaum en Christina Landman was die ander gespreksgenote. Die tema van die gesprekke was “Menslike of Goddelike waarheid: Hoe lees ’n mens die Bybel vandag?” Ek was verbaas oor die opkoms en die steun wat my standpunt ontvang het. Die verandering in ons land het klaarblyklik ’n positiewe invloed op Afrikaanssprekendes gehad – of dalk was die tyd bloot ryp vir ’n veranderde siening van die Bybel.

  • LitNet en SêNet 2002–2003

Maar dit was nie al nie. Van November 2002 tot Julie 2003 word daar op LitNet in die afdeling SêNet gesprekke en debat gevoer oor God, die Christelike godsdiens, die Bybel en kerklike leerstellings. Hierdie gesprekke en debatstukke is uiteindelik gepubliseer onder die titel Die omstrede God: Bestaan God of nie? Die groot debat op www.litnet.co.za (Mollett, Grundling, & Van Heerden 2004). Ek het ook hieraan deelgeneem en vanuit ’n kritiese benadering standpunt ingeneem teen veral diegene wat vanuit ’n fundamentalistiese vertrekpunt die Christelike geloof probeer verdedig het. Ek was op daardie stadium nog ’n toegewyde NG Kerk-lidmaat.

  • UOVS se Teologiese Dag 2003

In 2002 nooi die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat my om deel te neem aan hulle opedag wat in Februarie 2003 gehou sal word. Ek en twee ander sprekers moes praat oor die tema wat Christene in ons dag nog kan glo. Op 4 Februarie lewer ek ’n referaat met die titel “Wat kan ons weet en wat moet ons nog glo?” Dis later in die Stellenbosse teologiese tydskrif  (Ned Geref Teologiese Tydskrif 44, 147–160) gepubliseer. Agterna het Piet Strauss vir my gesê dat die NG Kerk nooi my standpunt sal kan aanvaar nie. Dit is net te “liberaal”.

  • Stigting van NHN 2004

In 2003 word ek weer aangekla, maar dié keer omdat ek die erfsondeleer nie meer onderskryf het nie. Ek het ’n aantal artikels daaroor geskryf – onder andere een in Beeld  wat in 2002 onder die titel “Adam, Eva, slang verhaalkarakters: Die mens nie ’n sondaar weens húl sondes.” Die aanklag lei daartoe dat ek in 2004 uit die NG Kerk bedank het. In dieselfde jaar kom die Nuwe Hervorming Netwerk tot stand. Verskeie mense het die “Nuwe Hervormers” versoek om ’n beweging in die lewe te roep waarby hulle kon aansluit. Meeste van hulle was self nie meer tuis binne hulle onderskeie kerke nie. Ons open ’n internet-webwerf waarop ons artikels publiseer en mense hulle verhale kon vertel. Voorts stel ons hulle bekend aan die “Jesus Seminar” van die VSA en die “Sea of Faith”-beweging van Brittanje en Nieu-Seeland. Ons was nie die enigstes ter wêreld wat anders gedink en geglo het nie. Verskeie oorsese Bybelwetenskaplikes en teoloë het oor die probleme wat die moderne wetenskaplike kennis vir die Christelike godsdiens bied, geskryf. Onder hulle tel John Shelby Spong, Don Cupitt, Lloyd Geering, Gerd Lüdemann, Cees den Heyer, Bart Ehrman, Daphne Hampson, Dorothe Sölle en nog vele ander.

Meeste mense wat die moderne wêreldbeeld aanvaar, voel hulleself nie meer tuis binne die tradisionele Christelike godsdiens nie. Die leerstellings van hierdie godsdiens is immers verweef met die antieke wêreldbeskouing van hemel-aarde-onderwêreld. Jesus kom uit die hemel, word op aarde gebore, sterf en daal neer na die hel. Hierna staan hy weer op, leef vir ’n kort periode weer op aarde en vaar dan terug na die hemel. Hy maak ’n volledige reis deur die drieverdieping-heelal! Ons weet dat ons nie in ’n drieverdieping-heelal leef nie, maar in ’n uitdyende een. Voorts weet ons ook dat daar nie vroeër ’n perfekte wêreld bestaan het wat deur Adam en Eva se toedoen in duie gestort het nie. Dit is ook nie só dat dood vir die eerste keer na Adam en Eva se ongehoorsaamheid ons wêreld betree het nie. Dood is deel van ons planeet en die ganse heelal. Sterre word gebore, groei en sterf. Planete word gebore, groei en sterf. Diere en plante word gebore, groei en sterf. Selfs kontinent op aarde word gebore, groei en sterf. Kontinentplate skuif immers rond en word selfs gehersirkuleer.

Afgesien van ons veranderde wêreldbeeld het ons mensbeskouing ook verander. Ons weet tans dat die spesie Homo sapiens maar eers onlangs hul verskyning op aarde gemaak het. Voorts weet ons dat ons genetiese materiaal deel wat van ander diere en selfs plante afkomstig is. Ons is ingebed in die boom van lewe soos dit op aarde ontstaan en geëvolueer het.

Die moderne studie van die Bybel het navorsers se oë ook geopen vir hoe die Bybelboeke tot standgekom het en hoe daardie skrywers oor hulle wêreld en oor die gode in hulle wêreld nagedink het. Voorts weet ons dat Jesus soos alle ander mense op aarde verwek is. Hy is nie deur ’n godheid verwek nie. Antieke mense het sulke verhale oor hulle helde en regeerders vertel, maar die werklikheid was anders. ’n Man en ’n vrou moes seks gehad het om ’n baba te kon verwek.

Danksy die kritiese studie van die Bybel weet ons ook dat die Drie-eenheid nie in die Bybel vermeld of veronderstel word nie. Die Drie-eenheid is ’n filosofies-teologiese skepping van Christenteoloë wat in die vierde en vyfde eeu van ons jaartelling geleef het.

 

  1. Slot

Philip Kennedy is korrek met sy stelling dat die ou Christelike verhaal van sondeval-verlossing-eindoordeel soos die Berlynse muur tot ’n val gekom het. Mense is tans besig om ’n nuwe verhaal te skep en die NHN het dit die afgelope twee dekades hier op eie bodem gedoen. Ek is is dankbaar vir die ruimte wat die NHN my en ander gegee het om ons sienings oor die Bybel en die Christelike godsdiens voor te dra sodat ander mense met ons in gesprek kon tree. Na twintig jaar staan die NHN nie meer waar dit in 2004 gestaan het nie. Ons het almal gegroei en ook van standpunt verander. Oor hierdie verandering hoop ons om vanjaar na te dink.

 

Bibliografie

Aucamp, H. Pluk die dag: Aforismes en ander puntighede. Kaapstad: Tafelberg.

Bernhardt, R. 1994. Christianity without Absolutes. London: SCM Press.

Carroll, S.B. 2022. A Series of Fortunate Events: Chance and the Making of the Planet, Life and You. Princeton: Princeton University Press.

De Klerk, W. 1998. Die vreemde God en sy mense. Kaapstad: Human & Rousseau.

Du Toit, B. 2000. God? Geloof in ’n postmoderne tyd. Bloemfontein: CLF-uitgewers.

Ferreira, A. 1996. Die dag toe ons God gevang het: ’n Persoonlike soektog na sin. Kaapstad: Queillerie.

Gilles, C. 1993. Pluralism: A New Paradigm for Theology. Louvain: Peeters Press.

Hick, J. 1995. The Rainbow of Faiths: Critical Dialogues on Religious Pluralism. London: SCM Press.

Jordaan, W. 2024. Ons is deel van die natuur, nie baas daarvan. Beeld, 10 Januarie 2024.

Küng, H. 1992. Judaism. London: SCM Press.

Küng, H. 1995. Christianity: Its Essence and History. London: SCM Press.

Küng, H. 2007. Islam: Past, Present and Future. Oxford: OneWorld.

Lovelock, J. 2016. [1979.] Gaia: A New Look at Life on Earth. Oxford University Press (Oxford Landmark Science.)

Mollett, T., Grundling, E. & Van Heerden, E. (Samestellers) 2004. Die omstrede God: Bestaan God of nie? Die groot debat op www.litnet.co.za. Stellenbosch: African Sun Media.

Muller, P. (red.) 2002. Die Nuwe Hervorming. Pretoria: Protea Boekhuis.

Noll, M.A. 1991. Between Faith and Criticism: Evangelicals, Scholarship, and the Bible. Leicester: Apollos.

Primavesi, A. 2000. Sacred Gaia: Holistic theology and earth system science.London: Routledge.

Salemink, T. 1997. De Afrikaanse Mythe. Kok: Kampen.

Sölle, D. 1997. Dorothee Sölle. In Moltman, J. (ed.), How I Have Changed: Reflections on Thirty Years of Theology, 22–28. London: SCM Press.

Spangenberg, I.J.J. 1996. Die Ned Geref Kerk, die boek Jona en religieuse pluralisme. ’n Referaat gelewer tydens die kongres van die Ou-Testamentiese Werkgemeenskap van Suid-Afrika. 3 September 1996.

Spangenberg, I.J.J. 1998. Perspektiewe op die Bybel: Gods Woord in Mensetaal. Pretoria: J.L. van Schaik.

Spangenberg, I.J.J. 2000a. Groot debat vir Christene het maar pas begin. Rapport, 2 Januarie 2000.

Spangenberg, I.J.J. 2000b. Godsdiens-kreatief: Dié met ander geloof is medemens. Beeld, 10 Januarie 2000.

Spangenberg, I.J.J. 2002a. Die Bybel en die Nuwe Hervorming, in Muller, P. 2002, Die Nuwe Hervorming, 88–111.

Spangenberg, I.J.J. 2002b. Beleef die Christelike Teologie soos met die vorige eeuwending weer ’n paradigmaverandering? Hervormde Teologiese Studies 58, 100–117.

Spangenberg, I.J.J. 2003. Wat moet ons weet en wat kan ons nog glo? Ned Geref Teologiese Tydskrif 44, 147–160.

Swanepoel, T. 1997. My hart wil Afrika. Kaapstad: Queillerie.

Van Aarde, A. 2001. Fatherless in Galilee: Jesus as Child of God. Harrisburg: Trinity Press.

Van Niekerk, A. 2024. Kan godsdiens ’n oorlog keer? Beeld, 16 Januarie 2024.

Weber, G. 1998. I Believe, I Doubt: Notes on Christian Experience. London: SCM Press.