Henk Bouwman, professor by Noordwes Universiteit (Potchefstroom-kampus), is ’n natuurwetenskaplike. Hy en mede-navorser Carina Verster werk op die gebied van besoedeling en die nadelige uitwerking op menslike gesondheid en die seelewe, soos koraal, visse en ander organismes wat op die seebodem lewe.

Prof Bouwman, voorheen dosent in natuurwetenskappe en landbou, se fokus het oor jare verskuif na die navorsingsveld van besoedeling en toenemende skadelike invloed daarvan op die planeet en lewende organismes.

Wat veral opvallend is en die emosies aangryp, is die uitwerking wat plastiek en besoedeling op die seelewe, soos koraal, visse en ander organismes het wat in die see en op die seebodem lewe. Maar soos met alle nadelige effekte is dit nodig om kennis te neem van die gevare van dinge wat die oog nie sien nie.

Hy wys ter aanvang ’n pragtige tropiese eiland met wit sand en turkoois-see. Dit is die St Brandon-atol noordoos van Mauritius, waar hy in 2012 navorsing gedoen het. By nadere ondersoek kom ’n ander prentjie van die prageiland na vore: plastiekbesoedeling. Van plastiekbottels, -sakkies en -plakkies (‘flip-flops), tot sigaretaanstekers en vislyn lê op die strande.

Neem in ag dat die halfleeftyd van ’n plastiekbottel 400 jaar is en ‘n mens besef hoe erg die probleem is.

Nog meer gevaarlik is buisligte wat ‘n geringe hoeveelheid kwik bevat, wat natuurlik gevaarlik vir mens en dier is. Trouens, hy herhaal dat navorsing reeds lankal wys dat kwik in vis voorkom wat ons gereeld eet.

Tydens sy navorsing op St Brandon en die meer noordelike Agalega-eiland wat ook aan Mauritius behoort, is meer as 3 miljoen stukke plastiek, rubber, polistereen, visnet, nylonsakke, glas en hout versamel. Die grootste hoeveelheid van dié besoedeling was plastiekmateriale.

Bouwman wys dan ook rekenaarmodelle om die omvang van plastiekbesoedeling in die oseaan aan te toon; die sogenaamde kolke in die Stille- en Atlantiese-oseane. Soortgelyke kolke begin ook in die Indiese-oseaan vorm. Die grafieke wys ‘n eksponensiële toename vanaf 2010 tot 2025 en waarskynlik meer in die jare daarná.

Wat Suid-Afrika betref skat hy en sy navorsingsassistent Carina Verster dat tussen 14 000 en 64 000 ton plastiek jaarliks in die oseaan gestort word – en dit is ‘n rowwe skatting.

Die plastieknywerheid in ons land dra 1,6 persent tot die BBP by; sowat 1 800 maatskappye is betrokke en verskaf formele en informele werk aan meer as 60 000 mense. Die omset in 2014 was R3,6 miljard en in 2015 is meer as 1,5 miljoen ton nuwe plastiek vervaardig.

Bouwman wys daarop dat ons wel die goeie rol van plastiek in ag moet neem, soos die bewaring van kos en ander noodsaaklikhede (medisyne). Die gebruik daarvan moet egter oordeelkundig wees.

Dink aan al die gebruike: van voertuigbande (rubber is ook ’n vorm van plastiek), buitelugmeubels, bottels, pype, drukkersink, naellak, foelie en verpakking tot vloere, droë mure en alternatiewe vir glasplaat in die konstruksiebedryf.

Waar die gevare onder andere inkom, is byvoegings. Dit maak plastiek meer buigbaar, versterk dit, beskerm dit teen ultraviolet-bestraling of sonlig, maak dit minder ontvlambaar of gee dit kleur (pigment). Van hierdie byvoegings is egter toksies.

Carina Verster wat besig is met haar meestersgraad in besoedeling, spesifiek op mikro- en nanoplastiek, vul die lesing aan met insiggewende gegewens uit die nuutste navorsing. Sy verwys na talle navorsingsgroepe en organisasies (soos Plastics SA, Petco, African Marine Waste Network en die SABS) wat waardevolle werk op die gebied doen, soos om verbruikers van inligting te voorsien en produkte te merk wat met sorg hanteer moet word.

Daar is reeds ‘n ‘Plastic Pact’ wat die industrie en ander rolspelers betrek om die impak van plastiek te beheer.

Hulle wys hoe produkte soos tandepasta, stortgel, waspoeiers, verf en ‘n magdom dergelike gebruiksartikels mikro- en nanoplastiek bevat wat in ons liggame ingaan. Die omvang van die skade is nog nie behoorlik bepaal nie. Carina se navorsingsresultate oor waterbesoedeling met hierdie mikroplastiek het wye mediadekking geniet – en is selfs in die Parlement bespreek.

Neem in ag dat die grootte van fyn plastiekstowwe, soos nylonvesel in klere en matte, mikroskopies van aard is. Dit word ingeasem, veral binnenshuis.

Die grootste probleem in die gebruik van plastiek is die omvattendheid van aanwending (verbruik) en die gebruik van olie in die vervaardigingsproses (nageslaan, blyk dit 8—10% van die totale olieproduksie te wees) met die nadelige newe-effekte op die osoonlaag – dus menslike impak.

Oorbevolking: Interessant het navorsing bewys dat arm lande se gebruik van plastiek en gevolglike besoedeling baie laer is as ryk lande (VSA se probleem is verreweg die grootste). Arm lande se bevolkingsgetalle groei egter baie vinniger teenoor ‘n negatiewe groei in sommige ryker lande.

Die afbreekproses (oa ook die proses van herwinning) stel nadelige gasse vry wat op die gesondheid van mense en van alle lewende organismes, die krimpende osoonlaag (en aardverwarming), stygende seevlakke, ens. inwerk. Mikrodeeltjies en “pellets” (gebruik in fabrieke en laaisones soos dokke, verbode in sekere lande!) is veral nadelig omdat dit selfs deur die lug en met grondwater versprei (waarneembaar in die ondersoeke van organismes diep in die see en die sediment van die seebodem).

Feitlik alle plastiek is nadelig. Die meeste breek af tot fyn deeltjies of stof, maar bly vir jare nadelig. Die heraanwending van plastiek vertraag slegs hierdie proses en is nie die finale oplossing nie.

In Suid-Afrika is die hoër inkomstegroepe se storting van munisipale afval meer as 2 kg per capita per dag, teenoor 0,6 kg in die lae inkomstegroep. Dit is ook die hoër inkomstegroepe wat van beter behoort te weet en verantwoordelik met plastiek moet begin omgaan.

Tog moet ons kennis neem: (a) die opskorting van plastiekvervaardiging kan baie poste en lewens van werkers in die gedrang bring, en (b) plastiek het ook voordele en die vervaardiging kan dus nie heeltemaal verbied kan word nie (soos vir mediese toerusting).

Daarom moet verbruikers eerder bewusgemaak word van die oormatige en onnodige gebruik van plastiek, die storting van plastiek op vullisterreine, verantwoordelike hersirkulering, asook kreatiewe ontwikkeling van verpakkingsmateriaal en houers (bv vir bewaring van kosprodukte).

Is ons reeds verby die “tipping point”?

Ja! Daar is egter nog hoop wat ’n “astronomiese poging wat regerings, die sakesektor, nywerhede en die burgerlike samelewing insluit” gaan verg om wal te gooi teen hierdie katastrofiese besoedelingsproses wat ons in die gesig staar.

Prof Bouwman en Carina Verster sluit af met die slotsom dat die huidige geslag jongmense die belangrikste generasie in die mens se geskiedenis is. “Hulle het die taak om die probleme en uitdagings wat die vorige generasies agtergelaat het, op te los.”

’n Vraag uit die gehoor: Daar is ’n opgewondenheid onder sommige mense oor die moontlikheid wat nuwe industrieë inhou om herwonne plastiek te gebruik, soos in die maak van paaie, dat dit moontlik “die oplossing” mag wees. Hulle is van mening dat dit nie die antwoord gaan wees nie: i) Nuwe industrieë moet gevoed word met grondstowwe (plastiek) – afvalplastiek sal nie voldoende wees nie tensy meer en meer plastiek gemaak en gebruik word; ii) heraanwending stel maar net die afbrekingsproses uit; iii) bykomende besoedeling; iv) bykomende afhanklikheid van die bedryf; v) bykomende skade aan gesondheid en aardverwarming…