Die opstanding van Jesus in konteks
Prof. Hansie Wolmarans
Lesing aangebied aan die Nuwe Hervorming Netwerk 26 Julie 2020
Samevatting
Die Jesus-beweging moes ná die kruisiging doodloop. Die feit dat daar heel spoedig florerende gemeenskappe oor die Romeinse Ryk versprei het, is ʼn aanduiding dat iets fenominaals moes gebeur het. Hierdie artikel argumenteer dat dit ʼn kreatiewe interpretasie van tekste soos Jesaja 53 en Hosea 6:2 was binne ʼn gangbare apokaliptiese wêreldbeeld. Hiervolgens is aanvaar dat die Messias moes sterf en moes opstaan. Die opstandingsverhale is geskryf om narratief uitdrukking te gee aan ʼn baie ou geloofsbelydenis, dat Jesus volgens die skrifte gesterf het, en op die derde dag opgestaan het volgens die skrifte. Dit vertoon al die kenmerke van ʼn etiologiese begrondingsmite.
Inleiding
Tussen die jare 30 en 33 is Jesus in Jerusalem gekruisig. Dit was tydens die Paasfees wat die Jode se bevryding uit Egipte gevier het. Volgens alle aanduidings het sy volgelinge terug Galilea toe gevlug. Dit was so ʼn honderd kilometer vanaf Jerusalem. Kort ná sy kruisiging vind ons dat sy broer, Jakobus, en twee van sy dissipels, Petrus en Johannes, leiersfigure in ʼn geloofsgemeenskap in Jerusalem is. Soortgelyke groeperinge het relatief vinnig na ander sentra in die Romeinse ryk versprei, soos byvoorbeeld Antiochië en Rome. Hoewel hulle steeds Saterdae in die tempel of sinagoges aanbid het, het hulle ook in huise en gehuurde kamers ontmoet, saam aanbid, mekaar met geld en goedere ondersteun, en ʼn gemeenskaplike maaltyd beoefen.
Vanuit ʼn suiwer geskiedkundige oogpunt, moes daar iets ontsettends kragtig gebeur het om te verklaar waarom die dood van ʼn leier nie die einde van ʼn beweging was nie, maar ʼn nuwe begin. Selfs ʼn geweldadige teenstander, Paulus van Tarsus, het ʼn entoesiastiese en bykans fanatiese sendeling geword. Hierdie gemeenskappe het die gekruisigde Jesus as lewendig en gesond ervaar, as deel van hulle voorstelling van God.
Verskillende Verklarings
Navorsers soos NT Wright in Engeland, en Ernest van Eck in Suid-Afrika, asook William Lane Craig in die VSA, verklaar hierdie gebeurtenis as bonatuurlik. Dit het plaasgevind omdat die gebroke en verminkte liggaam van Jesus op die derde dag na sy kruisdood uit ʼn graftombe uitgestap het. Daar is ʼn hele reeks getuies wat die opgestane Jesus gesien het, saam met hom geëet het, en aan hom gevat het. Profesieë uit die Hebreeuse Bybel is akkuraat vervul. Christene het al van heel vroeg af op ʼn Sondag aanbid. Dit is omdat Jesus op dié dag uit die dood opgestaan het. ʼn Unieke bonatuurlike goddelike ingryping is al wat die ontstaan en entoesiastiese toewyding van die eerste Christelike gemeenskappe kan verklaar.
In die vyfde eeu voor ons Gewone Jaartelling het die Griekse historiograaf, Thucydides, geskiedenis geskryf sonder om na God of die gode te verwys. Dit was die begin van wetenskaplike geskiedskrywing wat gebeure in terme van natuurlike oorsake en gevolge ondersoek.
Binne die studieveld van die Nuwe Testament is die histories-kritiese metode ontwikkel. Geleerdes soos Gerd Lüdemann, John Dominic Crossan en Bart Ehrman pas hierdie metode toe, en kom tot die gevolgtrekking dat die opstanding fiksie is: daar is geen enkele ooggetuie verslag is nie. Al die weergawes berus op hoorsê—en soos my oorl’e ouma altyd gesê het Van horenzeggen liegt men veel. Die verhale van Jesus se opstanding is eers 25 tot 70 jaar ná die gebeure neergeskryf. Die oudste bron is Paulus in 1 Korintiërs 15. Lukas en Matteus het Markus oorgeskryf en aangepas. Johannes, teen die einde van die eerste eeu, maak sy eie storie op met vae eggo’s van veral Lukas.
Gevolglik is daar onversoenbare teenstrydighede. Paulus is byvoorbeeld onbewus van ʼn leë graf, of dat vroue dit ontdek het. Volgens sommige bronne het Jesus het in Galilea verskyn, terwyl ander dit rondom Jerusalem lokaliseer. Net Lukas praat van ʼn hemelvaart. Op een plek sê hy dit het op dieselfde dag as die opstanding gebeur (Lk 24:50). Op ʼn ander plek is dit nou skielik veertig dae later (Hand. 1:3). Die waar, die wanneer, die hoe en die wie van die opstandingsnarratiewe verskil wesenlik. Die gevolgtrekking van hierdie groep geleerdes is dat dit fiksie is.
Die Probleem
Die probleem is dus of Jesus werklik liggaamlik opgestaan het, en hoe die welige groei van die Christendom in die beginjare verklaar kan word.
- Om hierdie probleem aan te spreek, behoort ons die wêreldsiening waarbinne die opstandingsnarratiewe funksioneer behoorlik verstaan.
- Dit hou in dat ons weet watter soort wesens in die destydse drie-verdieping heelal aktief was, en hoe hulle inwerk op aardse gebeure.
- Ons moet ook ʼn goeie begrip hê van die godsdienstige milieu.
- Dit is verder belangrik dat ons deeglike kennis dra van Jesus se denke, dié van die oer-Christene, Paulus se mentaliteit, en die denkraamwerk van die evangelieskrywers.
Ek gaan nou stap-vir-stap elkeen van hierdie fasette onder oë neem.
Die Drie-Verdieping Heelal Wêreldsiening
Die Wesens in die Drie-Verdieping Heelal
Die wêreldbeeld waarbinne die opstandingsverhale afspeel, is die tipiese drie-verdieping heelal. God in die hemel determineer die geskiedenis. Profesieë in die Hebreeuse Bybel voorspel die gebeure rondom Jesus. Binne die nie-Joodse siening was daar ook gode in die hemel wat eens op aarde gesterf en opgestaan het. Dionysus, die wyngod, is stukkend geskeur, maar het weer herleef. Die mite personifieer druiwe wat gepars word, en in ʼn nuwe vorm, wyn, herbore word. In Rome, rondom die begin van ons gewone jaartelling, was die god Mithras baie populêr. Hy het gesorg dat die son wat flou skyn in die winter, weer herleef in die lente en somer. Die dies solis, dag van die Son, die eerste dag van die week, was baie belangrik in hierdie kultus.
Daar is geglo dat God of die gode met mense kommunikeer deur hulle as instrumente te gebruik om geskrifte te skryf, deur in visioene inligting aan hulle te openbaar, of in drome aan hulle te verskyn. Mindere wesens, soos engele, kon boodskappe aan mense aflewer. Gode en engele het materiële substansie gehad. In Genesis 6 word vertel dat hemelwesens seks gehad het met mooi meisies op aarde. Hulle het dus tasbare liggame gehad. Genesis 18 vertel van drie engele wat aan Abraham verskyn het. Hulle het saam met hom geët, gedrink, en met hom gesels. Volgens Handelinge 14:12 was Paulus en Barnabas in die dorpie Listra in Turkye. Die mense het Paulus aangesien vir Zeus, en Barnabas vir Hermes, vermomde gode.
ʼn Derde groep wesens, geeste of spoke, het ook materie gehad. Hulle kon gesien word, maar aanraking en kommunikasie was nie moontlik nie. Toe Jesus op die water loop, het sy dissipels gedink dis ʼn spook. Daar is geglo dat die geeste van die afgestorwenes in die onderwêreld (Hades) is.
Die vierde groep wesens het te doen met die duiwel, sy demone, en ander magte en kragte. Hulle was nie sigbaar nie, maar oefen hulle invloed uit deur mense wat onder hulle beheer is, of wat besete is. Tydens Jesus se versoeking in die woestyn, was die aardse koninkryke onder die duiwel se beheer. (Matteus 4:12-17; Lukas 4:14-15).
Die vyfde groep was mense, wat natuurlik materie het en sterflik is. Alle bonatuurlike agente is onsterflik.
Die kelderverdieping van hierdie wêreldbeeld was Tartarus (ʼn gevangenis). Groot sondaars, soos hulle wat in die sonvloed verdrink het, word daar bewaar vir die oordeelsdag (2 Pt 1:20).
Die figuur hierbo is ʼn grafiese voorstelling van die Drie-Verdieping Heelal met die verskillende wesens in elke verdieping.
Hierdie wêreldbeeld leef voort in ons algemene spraakgebruik. Dink maar aan uitdrukkings soos:
- My man het hemel op aarde.
- Sy is ʼn engel.
- Die demone uit my verlede spook by my.
- Ek weet nie wat in my ingevaar het nie.
- Die duiwel is los.
- Die tiener is wêreldwys.
- Sy was in die sewende hemel van geluk.
- Sy verafgod hom.
- Hy aanbid haar.
- Hy het soos ʼn besetene baklei.
- Dis mos nou nie die einde van die wêreld nie!
Die Apokaliptiese Kosmos
ʼn Baie spesifieke variant van die drie-verdieping heelal, is die apokaliptiese kosmos. Op grond van bepaalde tekste uit die Hebreeuse Bybel, het hierdie teologie vier basiese kenmerke:
- Die gemors op aarde, dat dit goed gaan met slegte mense, en beroerd gaan met goeie mense, word veroorsaak deur die duiwel en sy trawante.
- Daar gaan ʼn dag kom dat God kragdadig gaan ingryp. God se teenstanders gaan vernietig word, en die verdrukte regverdiges gaan beloon word.
- ʼn Hemelse persoonlikheid sal hierdie nuwe tyd inlui. Terme soos die Seun van die Mens (Dan 12:1-3; die apokriewe Henog 46:2) asook Messias (Mashiach in Hebreeus, Christus in Grieks, en Gesalfde in Afrikaans) word vir hom gebruik. Daar is verwag dat hy uit die geslag van Dawid sou wees, die stamme van Israel sou verenig, hulle vyande sou vernietig, en ʼn Messiaanse tydperk van universele vrede sou inlui. Hierdie nuwe bedeling is met die term Koninkryk van God aangedui.
- Met die koms van hierdie Messias sou daar ʼn algemene opstanding uit die dood plaasvind, sodat gestorwe sondaars gestraf, en regverdiges beloon kon word (Dan. 12:1-3). Dit beteken dat alle mense wat alreeds dood was, uit die dood sou opstaan om geoordeel te word.
Hierdie siening was baie gewild onder die Jode omdat hulle eeue lank deur verskillende volke onderdruk was. In die tyd van Jesus, was dit die Romeine. Die arm en agterlike Galilea was ʼn broeiplek van rewolusionêre bewegings. Die idee van ʼn algemene opstanding het nie by nie-Jode voorgekom nie. Toe Paulus volgens Handelinge 17:32 met die Grieke in Athene hieroor praat, het hulle hom uitgelag. Individuele helde kon sterf en opstaan. Dit was aanvaarbaar. ʼn Algemene opstanding was egter vir hulle belaglik.
Jesus
Die Evangelies teken Jesus as ʼn apokaliptiese profeet.
- Hy veg teen die duiwels deur hulle uit mense uit te dryf.
- Die heel eerste woorde wat Jesus in die vroegste Evangelie sê (Markus 1:15), is: Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die goeie nuus. As voorbereiding hiervoor moes mense in medelye met mekaar saamleef (sien veral die saligsprekinge in Mt 5:3-12; Lk 6:24-26).
- In Markus 9:1 gee Jesus ʼn tydsaanduiding: Dit verseker ek julle: daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sal sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie.
- Jesus sien homself as die Seun van die Mens, as die beloofde Messias. In Markus 14:61-62 vra die hoëpriester Jesus pertinent, Is jy die Christus …? Jesus antwoord, Ek is. En julle sal die Seun van die mens sien waar hy sit aan die regterhand van hom wat magtig is … In Lukas 22:30 en Matteus 19:28 belowe Jesus sy volgelinge dat hulle in die nuwe koninkryk op twaalf trone sal sit. Jesus se bydrae tot die apokaliptiese wêreldbeeld is dat die armes en verdruktes daar sal regeer (Mt 20:16—die eerstes sal laaste wees, en omgekeerd).
- Daar kom ʼn algemene opstanding en ʼn oordeelsdag. Volgens Matteus 25:41 wag daar vir die onregverdiges ʼn ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is.
Die Krisis met Jesus se Kruisdood
Jesus se lewensreis het Jerusalem as eindpunt voor oë gehad. Hy en sy dissipels het verwag dat Jesus daar die verwagte apokolaptiese koninkryk sou inlui. Dit was Paasfees ongeveer die jaar dertig. Die Jode het hulle verlossing uit Egipte gevier. Die idee van ʼn apokaliptiese verlossing tydens hierdie fees was aantreklik.
Al vier die evangelies (Mk. 11:15; Mt. 21:12-17; Lk 19:45-48; Jn 2:13-22) vertel dat Jesus moles gemaak het in die tempel deur die handel in offerdiere en ander goedere totaal te ontwrig. Hy het die tafels van die geldwisselaars omgegooi. Volgens die evangelies, is dit is die enigste daad van fisiese geweld wat Jesus ooit gepleeg het.
Hierdie daad van rebellie en rewolusie was die katalisator vir die Joodse Raad om hom aan te kla. Hulle het korrek verstaan dat Jesus simbolies hulle posisie en status bedreig. Waarskynlik het Judas hom uitgelewer, teleurgesteld omdat die Koninkryk toe nie gekom het nie. Die Romeinse goewerneur, Pilatus, het hom aan hoogverraad skuldig bevind. ʼn Stukkie papirus is aan die kruis vasgespyker: INRI, Iesus Nazarenus Rex Iudaeorum, Jesus van Nasaret, koning van die Jode. Op hierdie wyse het die lewe van Jesus op ʼn vernederende en ontnugterende wyse tot ʼn einde gekom.
Paulus dra geen kennis van die weeksdag waarop Jesus gekruisig is nie. Die sinoptiese evangelies plaas dit op ʼn Vrydag; Johannes op ʼn Donderdag. Die kruisiging was bedoel as ʼn afskrikmiddel. Gekruisigdes is vir minstens twee dae lewendig aan hulle kruise laat hang terwyl soldate hulle opgepas het. Dié wat nog geleef het, is dan doodgemaak. Familielede is nie toegelaat om die lyke te verwyder nie. Waarskynlik is Jesus in ʼn vlak graf begrawe. Tot op hede is slegs een enkele geraamte gevind wat tekens dra van ʼn kruisiging—en dit is omdat gekruisigdes nie behoorlik begrawe was nie.
Jesus se volgelinge het gevlug, die mans sowel as die vroue, terug Galilea toe. Geeneen het die kruisiging gesien nie. Soos tipies van baie ander Messiaanse bewegings, moes alles hier geëindig het, want ʼn regte Messias word nie deur sy vyande doodgemaak nie.
ʼn Ou Teks word Nuut Gelees
Dit het toe nie gebeur nie. Binne ʼn paar jaar was daar verskillende florerende Jesus-gemeenskappe in plekke soos Jerusalem, Antiochië en Rome. Waarom het die Jesus-beweging herleef? Dit was nie die opstanding van Jesus nie, maar die opstanding van ʼn nuwe interpretasie van ʼn baie ou teks uit die sesde eeu vGJ. Dit het Jesus se vriende laat glo dat die Messias moes sterf en dan moes opstaan. Hierdie teks was Jesaja 53 in die Griekse vertaling, die Septuaginta[1].
Kom ons kyk na ʼn paar verse.[2] Vers 5 lees: Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel. Die Messias moes aan ʼn kruis sterf om die straf te dra vir mense se sondes. Dit is die oorsprong van die Christelike mantra: ‘Jesus het vir ons sondes gesterf.’
Vers 9 sê Hy het ʼn graf gekry by goddeloses, hy was by sondaars [die Griekse vertaling sê rykes] in sy dood … Markus het rondom hierdie vers die storie uitgedink van hoedat die ryk lid van die Joodse Raad, Josef van Arimatea, Jesus se liggaam in ʼn graftombe gaan neerlê het.
Dit bring ons by vers 11: Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien … Jesus sou uit sy donker graf opstaan.
Jesaja 53 is tydens die ballingskap van die sesde eeu voor ons Gewone Jaartelling geskryf. Dit kan nie as ʼn profesie gelees word nie, want die verlede tyd word telkens gebruik. Die lydende Kneg van die Here is niemand anders nie as die groepie ballinge wat die spit moes afbyt vir die sondes van die hele volk. Vers 6 lees: ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom [lees: die ballinge] laat afkom. Jesaja troos hulle dat hulle eendag sal terugkeer.
Jesus se volgelinge het dit op Jesus toegepas. Die gedagte het toe onstaan dat Jesus sommer baie gou sou terugkom om finaal sy werk klaar te maak. So het die idee van die Parousia, die Wederkoms van Jesus, ʼn nuwe element in die Christelike apokaliptiek geword. Waar sou Jesus terugkom? Talle tekste, soos Sagaria 14, verbind Jerusalem met die Messias (bv Sag 14:8-9). Twee dissipels, Petrus en Johannes, asook Jakobus, Jesus se broer, en ander is toe terug na Jerusalem om vir Jesus te gaan wag (Gl. 2:9).
Hosea 6:2 is ook op Jesus toegepas: Hy sal ons na twee dae ʼn nuwe lewe laat begin. Hy sal ons op die derde dag weer krag gee sodat ons in sy teenwoordigheid kan leef. Dit verwys binne konteks nie na ʼn persoon of na Jesus nie. Dit verwys na Juda en Israel wat uit ballingskap bevry sou word. Die nuwe interpretasie sê, die Messias sal op die derde dag opstaan.
Dit is hoedat kreatiewe teksinterpretasies nuwe lewe geblaas is in die Jesus-beweging. Hulle het hulleself nie as afsonderlik van hulle Joodse godsdiens beskou nie. Oral waar hulle gekom het, het hulle steeds Saterdae by die sinagoges ontmoet. Op ander dae het hulle in huise of gehuurde kamers bymekaar gekom om mekaar te ondersteun in die wagperiode vir die wederkoms. Dit wil voorkom of die nie-Joodse godsdienstige milieu die vroeë Jesus-mense ontvanklik gemaak het vir die idee van ʼn goddelike wese wat sterwe en herrys.
Dionysus het gesterf en is nuut gebore. Hierdie figuur op ʼn vaas teken hom en sy jonger, opgestane, alter ego. Sy mitologie het mense hoop gegee op onsterflikheid. Dit verpersoonlik dat druiwe vertrap word en herbore word as wyn. Ná sy opstanding, het hy teruggekeer na sy geboorteplek, Thebe, toe om wraak te neem.
Dionysus en sy nuutgebore alter ego
Sonde met die Bure
Hierdie nuwe interpretasie van die Messias figuur het die Jesus-mense in botsing met tradisionele Jode gebring. Die Romeinse geskiedskrywer, Suetonius, maak ʼn raaiselagtige stelling in sy boek oor Keiser Claudius (25): Hy [Claudius] het die Jode, wat voortdurend in oproer was omdat hulle deur Chrestus aangehits was, uit Rome verban.
Met die eerste oogopslag lyk dit asof ʼn sekere Chrestus die Jode aangehits het om teen die keiser in opstand te kom. ʼn Ander moontlikheid is dat Suetonius nie mooi verstaan het hoekom die Jode so onder mekaar baklei het nie. Daar was binnegevegte oor die vraag of Jesus nou die beloofde Christus was of nie. Ons lees in Handelinge 18 dat Paulus van hierdie bannelinge in Korinte ontmoet het, naamlik Priscilla en Aquila. Hulle het saam met hom gereis, en is later terug Rome toe (Rm. 16:3,4). Dit moes gebeur het tussen die jare 41-54.
Volgens Cassius Dio, 60.6.6-7 het Claudius ook die Jode verbied om op Saterdae bymekaar te kom.
Dit lyk my dat dit op hierdie punt was dat die Christene begin het om op die eerste dag van die week, die Dies Solis, die dag van die Son, bymekaar te kom. Dit sou hulle laat inpas by groepe soos die Mithras kultus wat die son aanbid het, en hulle onderskei van die Jode. Sondag, die dag van die son se verrysenis, is natuurlik simbolies van ʼn opstanding.
Heel moontlik was dit in hierdie periode dat die opstanding van Jesus aan ʼn spesifieke dag gekoppel is. Dit verklaar waarom Markus (15:42) veertig jaar na die kruisiging sou skryf dat Jesus op ʼn Vrydag gekruisig is, want dit sou Jesus op die derde dag uit die dood laat opstaan, ʼn Sondag.
So, Christene kom nie bymekaar op Sondae omdat Jesus op dié dag opgestaan het nie; nee, Jesus is op ʼn Sondag laat opstaan, omdat Christene begin het om vanweë politieke redes op dié dag te aanbid!
Die Songod is in Rome aanbid. Die eerste dag van die week is na hom vernoem.
Paulus
Dit bring ons by Paulus. Hy het eers die Christene vervolg, en toe ʼn ywerige en fanatiese sendeling geword. Hy was oorspronklik ʼn aanhanger van die Joodse apokaliptiek. Jesaja 53 het hom oorreed dat die Messias moes sterf, opstaan en terugkom as regter tydens ʼn algemene opstanding uit die dood. Sy apokaliptiese wêreldbeeld is kan afgelei word uit sy eerste brief aan die gelowiges in Thessalonica.
Dit is die oudste geskrif in die Nuwe Testament, so tussen 50-52 van ons Gewone Jaartelling geskryf. Die grootste deel van die gemeenskap was voorheen politeïste (1 Tess 1:9). Die brief weerspieël ʼn primitiewe apokaliptiese teologie. Ons weet dat daar ʼn tempel vir Serapis was, een van die gode wat gesterf het en herrys het. Die eerste lede sou dus geen probleem hê om in Jesus se dood en opstanding te glo nie.[3] Hulle het wel, soos die Grieke op die Areopagus heuwel, ʼn probleem met die idee van ʼn algemene opstanding gehad. Van hulle lede het gesterf vóór die beloofde apokaliptiese wederkoms. Die sentrale idee van die brief was dus om hulle te oorreed dat daar wel ʼn algemene opstanding uit die dood gaan wees. Hy skryf (1 Tess. 4:16-17):
Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.
Net soos Jesus, verwag Paulus die einde binne sy eie leeftyd. Hy praat ook van die Satan wat teen hom werk. In Romeine 8:38 verwys hy na bose kragte. Hy deel dus die siening van God se komende ryk, van demoniese magte as God se teenstanders, dat Jesus die Messias is, dat hy sal terugkom as regter, en dat daar ʼn algemene opstanding sal wees gevolg deur ʼn oordeelsdag. Hy sien egter die koninkryk as hemels. Dit is sy kreatiewe bydrae tot die apokaliptiek.
1 Korintiërs 15
Die vroegste en belangrikste dokument oor Jesus se opstanding is 1 Korintiërs 15, meer as vyf-en-twintig jaar ná Jesus se kruisdood geskryf. Paulus het minstens vier briewe aan die Korintiërs geskryf. Hy en ander persone het dit hersien. Waarkynlik is die tweede brief ʼn sameflansing van dele uit sy ander briewe. Ons sit dus met dokumente wat verskillende vlakke van redigering vertoon.
Die probleem wat Paulus aanspreek is presies dieselfde as in Thessalonica: die idee van ʼn algemene opstanding. Ons lees dit in vers 12: … hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie. Almal het aanvaar dat Jesus opgestaan het, maar ʼn algemene opstanding is ontken.
Om hulle te oorreed, maak Paulus van die argumentsvorm indien x dan y gebruik. Indien Jesus opgestaan het, dan is daar ook ʼn algemene opstanding. Hy verduidelik dit met ʼn vergelyking. As daar eerste vrugte is, dan moet die oes volg. Jesus se opstanding is die eerste vrug; daarom moet daar ʼn algemene opstanding volg (vers20). Hy maak ook van ʼn mitologiese verduideliking gebruik. Indien Adam veroorsaak het dat alle mense sterf, moes die tweede Adam veroorsaak dat alle mense opstaan (vers 21). Sy argument kan skematies soos volg voorgestel word:
Paulus se Argument in 1 Korintiërs 15
Al wat Paulus dus as premis van sy argument benodig, is die oudste geloofsbelydenis waarvan ons weet. Dit kom in formulaïese taal voor in verse 3-4. Want ek het aan julle bo alles oorgelewer wat ek ook [van God] ontvang het, dat Christus gesterf het ter wille van ons sondes volgens die Skrifte, en dat hy begrawe is, en dat hy op die derde dag opgestaan het volgens die Skrifte. Dit is die oudste en eerste verwysing na Jesus se opstanding in die vorm van ʼn credo. Hy sinspeel op tekste soos Jesaja 53 en Hosea 6:2.
Wat die verdere lys getuies in verse 5-11 betref, kan ons dit uit die argument uit weglaat sonder om die strekking daarvan te verander. Dit is waarskynlik later bygevoeg. Paulus verdedig sy titel as apostel. Hy lys nie net Petrus en die apostels nie, maar ook Jesus se broer, Jakobus, as getuies van Jesus na sy opstanding. Aan die einde van sy lys verskyn sy eie naam. In 1 Tessalonisense 2, hier, en in 2 Korintiërs 11:13 praat Paulus van apostels wat teen hom werk. Gevolglik gebruik hy die geleentheid om sy apostoliese gesag te verdedig as ʼn ooggetuie van die opgestane Jesus—nie om Jesus se opstanding te ‘bewys’ deur getuies op te noem nie.
Waar die vyf honderd broers vandaan kom, weet niemand nie. Paulus noem geen naam nie. Hy stel bloot dat sommiges reeds dood is. Dit is uiters onwaarskynlik dat sulke groot kerklike byeenkomste in daardie tyd plaasgevind het. Dit is net Paulus wat dit noem[5]. Moontlik pas dit in by sy argument, soos in 1 Tessalonisense, dat hoewel gelowiges reeds gesterf het, dit hulle nie uitsluit van die algemene opstanding nie.
In vers 3 sê hy dat hy die inligting wat hy ontvang het getrou oorlewer. Waar kry Paulus sy inligting? Beslis van mense soos Petrus, Jakobus en Johannes wat hy in Jerusalem ontmoet het nie (Gal 1:18,19; 2:9). Wanneer hy oor die nagmaal praat (1 Kor. 11:23), verklaar hy prontuit dat Jesus self vir hom vertel het wat tydens die laaste maaltyd gebeur het. Ek het van die Here ontvang … In Galasiërs 2:11 sê Paulus onomwonde dat die evangelie wat hy verkondig nie deur mense aan hom deurgegee is nie. … Jesus Christus het dit in ʼn openbaring aan my gegee. In 2 Korintiërs 12:1-6 beskryf Paulus ʼn visioen wat hy in die hemel gehad het, en verwys ook na ander gesigte en openbarings.
Op grond hiervan kan daar nie veel waarde geheg word aan Paulus se lys van getuies nie. Gesigte, visioene en openbarings is nie toetsbare getuienis nie.
Markus
Ek wil kortliks ʼn paar opmerkings maak oor Markus se evangelie. Dit is die oudste, geskryf teen die jaar 70, en die ander het hoofsaaklik by hom afgeskryf (Matteus en Lukas in die laat tagtiger, vroeg negentiger jare, met Johannes die laatste een aan die einde van die eerste eeu.)
Markus sit die oudste geloofsbelydenis om in ʼn storie. Vir die oudste Christene was dit voldoende om te verklaar dat Jesus volgens die Skrifte gesterf en opgestaan het. Markus wil teen die tradisionele voorstellings van die Messias bewys dat Jesus MOES sterf en MOES opstaan. Gevolglik laat hy Jesus drie keer voorspel dat hy volgens die skrifte moes ly en opstaan (8:31; 9:31; 10:32-34).
Markus plaas ook die kruisiging en dood van Jesus op ʼn Vrydag, sodat Jesus op die Sondag, die derde dag, kon opstaan.[6] Daarvoor benodig Markus ʼn graf, en, as alwetende verteller, skep hy die fiktiewe karakter van ʼn ryk en invloedryke Josef van Arimatea. Hy kry dit reg om Pilatus te oorreed om die liggaam vry te stel. Jesus was ʼn vreemdeling in Jerusalem en sou geen toegang tot ʼn rotsgraf gehad het nie. Die vraag is nou, hoe die leë graf ontdek kon word, veral aangesien die dissipels weggevlug het. Die vroue in die groep, volgens Markus, was dapperder as die mans. Hulle het agtergebly, die kruisiging aanskou, en gesien waar die liggaam begrawe was. Dit was vroue se werk om lyke te versorg. Toe die Sabbat verby is, op die derde dag, Sondag, die eerste dag van die week, en die spesifieke dag waarop Markus se lesers kerk gehou het, het hulle toe die graf leeg gekry.
Niemand sien Jesus nie. ʼn Engel sê hulle moet die dissipels en Petrus gaan vertel dat Jesus hulle in Galilea sal ontmoet. Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang (Mk. 16:8). Met hierdie woorde eindig die oudste evangelie.[7]
Vrae kom natuurlik na vore. As die vroue vir niemand vertel het nie, hoe weet Markus daarvan? Dit het Markus nie bekommer nie. Sy doel was om ʼn narratief te skep wat die belydenis onderskryf. Ons noem dit ʼn etiologiese mite, ʼn mite wat verklaar waarom dinge is soos dit is. Dit is ʼn tipiese en een van die belangrikste funksies van mites.
Die Ander Evangelies
ʼn Groeiende en Onstabiele Tradisie
SKRIFGEDEELTE | DIE GETUIES | DIE ENGEL(E) | VISIOEN | JESUS PRAAT MET HULLE | HULLE VAT AAN JESUS | JESUS EET SAAM MET HULLE | JESUS VRA DAT HULLE SY WONDE AANRAAK |
1 Kor. 15(55 GJ) | Petrus, die 12, 500+ broers; Jakobus, broer van Jesus, die apostels,
Paul |
+ | |||||
Mk. (70 GJ) | 2 vroue | 1 engel | |||||
Mt. (80 GJ) | 2 vroue,
wagte, Die Elf |
1 engel
Aardbewing |
+ | + | + | ||
Lk. (90 GJ) | Groep vroue,
Petrus, Die 11, plus Mnr en Mev Kleopas |
2 engele | + | + | + | + | |
Jn. (98 GJ) | Maria Magdalena
Die 11 minus Tomas. Die 11 met Thomas 7 dissipels |
1 engel | + | + | + | + | + |
Hierbo is ʼn eenvoudige tabel van hoe die ander evangelies vergelyk met Paulus en Markus.
Die plusse in die tabel toon hoedat die storie deur die dekades heen gegroei het. Die verhale verskil oor watter getuies daar was, hoeveel engele, of Jesus verskyn, of Jesus met hulle praat, of hulle aan Jesus vat, of Jesus saam met hulle eet, en of Jesus hulle vra om sy wonde aan te raak. Jesus ontwikkel vanaf ʼn idee, tot ʼn visioen tot ʼn tasbare hemelwese.
Dit is ʼn heel duidelik ʼn onstabiele tradisie. Markus stel net belang om narratiewe uitdrukking daaraan te gee dat Jesus volgens die skrifte gely, begrawe is, en opgestaan het. Die bonatuurlike engel plaas die verhaal in ʼn mitologiese konteks[8].
Matteus gebruik die verhaal om die Jode verdag te maak: hulle koop die wagte om om stil te bly. Hy eindig sy verhaal met Jesus se woorde dat alle mag in hemel en op aarde aan hom gegee is. Dit is om sy Messiasskap te bewys.
Lukas is geïnteresseerd dat die evangelie van Jerusalem na Judea na Samaria tot aan die eindes van die aarde versprei word. Daarom is Joanna, ʼn nie-Jood, onder die vroue, en verskyn Jesus eerste aan die twee Emmausgangers, weg van Jerusalem af.
Johannes wil die Geliefde Dissipel voorrang laat kry bó Petrus; hy is eerste by die graf, en glo voordat hy gesien het. Hoe later die storie is, hoe meer praat en doen Jesus. Johannes (in navolging van Lukas) teken Jesus ook by uitstek as ʼn hemelse wese wat tasbaar is, eet, praat en kan verskyn en verdwyn.
Ek het reeds gemeld dat ʼn belangrike funksie van mites etiologies is; dit wil sê, dit gee ʼn rede waarom dinge is soos dit is. Die latere evangelies het uitgebreide verhale oor wat Jesus gesê en gedoen het. Hulle het byvoorbeeld die liturgie van hulle Sondagsaanbidding teruggelees in die opstandings-narratiewe, en só ʼn fondasie gelê vir sondagbyeenkomste.
Volgens Lukas was daar ʼn seëngroet, die voordrag van ʼn belydenis, Die Here het opgestaan en aan Simon verskyn, ʼn uitleg van tekste uit die Hebreeuse Bybel wat op Jesus se lyding, sterwe, opstanding en wederkoms van toepassing gemaak is, die viering van die nagmaal, ʼn herinnering aan die sendingsopdrag, die toesegging van sondevergifnis, en ʼn seënbede.
Johannes het ʼn seëngroet, skriflesings, ʼn Christologiese uitleg, die vergifnis van sondes, die nie-ekstatiese ontvangs van die Heilige Gees, ʼn geloofsformule, ʼn saligspreking, Gelukkig is hulle wat nie gesien het nie, maar tog glo en ʼn seënbede.
Op hierdie wyse het die opstanding deel van die kerklike leer, belydenis, en liturgie geword. Die vraag na Jesus se wederkoms het na die agtergrond verskuif, en Jesus se teenwoordigheid is in die liturgie self ervaar.
Slotsom
In hierdie voordrag het ek aangedui dat die katalisator vir die groei van die vroegste Jesus-gemeenskappe ʼn kreatiewe interpretasie van Jesaja 53 was. Jesus het homself gesien as die Messias wat die nuwe tyd van God se koninkryk sou inlui. Toe hy tragies gesterf het, het sy volgelinge tekste soos Jesaja 53 en Hosea 6:2, gebruik om die Messiasbeeld van die tyd aan te pas. Hieruit is afgelei dat die Messias moes sterf en moes opstaan. Hierdie tekste is nie akkuraat uigelê nie.
Paulus verander Jesus se koninkryksverwagting na ʼn hemelse Koninkryk, en bevat die vroegste credo. Die idee van ʼn sterwende en herrysende godheid, wat terugkeer, is waarskynlik by die nie-Joodse misteriekultusse oorgeneem.[9]
Markus, gevolg deur die ander evangelies, gee narratiewe uitdrukking aan die credo en vestig die opstandingsverhale as ʼn etiologiese funderingsmite vir die eredienste op ʼn Sondag—nadat Jesus-mense vanweë politieke oorwegings nie langer op Saterdae bymekaar gekom het nie.
Jesus word uitgewys as ʼn hemelwese wat tasbaar is, en kan eet en drink. Die latere evangelies verklaar ook hoekom die Messias se wederkoms nie binne hulle tyd plaasgevind het, soos verwag is nie. Die teenwoordigheid van Jesus is verplaas na die Sondag liturgie toe.
Dit wil voorkom of persone wat die opstandingsnarratiewe as histories betroubaar aanvaar, die oorkoepelende konteks ignoreer. Hulle gebruik ʼn uitgediende vorm van geskiedskrywing, waar bonatuurlike karakters menslike geskiedenis determineer. Hulle verstaan nie dat Paulus nie probeer het om die opstanding van Jesus te bewys nie, maar well ʼn algemene opstanding uit Jesus s’n probeer aflei het. Hulle verstaan nie dat Paulus sy inligting in visioene en openbarings verkry het nie, wat histories nie betroubaar is nie.
Die genre van die opstandingsnarratiewe is nie geskiedskrywing nie, maar mitologie. Dit is sinvol om die opstanding as ʼn tipiese mitologiese simbool te verstaan. Dit kan die boodskap dra dat vernuwing moontlik is selfs in ons donkerste dae. Met die dood en verwoesting van die Covid-19 pandemie, kan dit ʼn simbool van hoop wees dat die mensdom kan opstaan na ʼn nuwe toekoms. In die Winter van ons wanhoop is daar ʼn ontluikende lente.
[1] In die eerste eeu GJ was die vroeë Christene se Bybel die Septuaginta. Dit was beslis nie die Hebreuse oorspronklike nie. Die teks van die Septuaginta verskil partykeer wesenlik van die Hebreuse manuskripte.
[2] Die Nuwe Afrikaanse Bybel word gebruik, behalwe waar anders aangedui.
[3] Die tyd is gekenmerk deur sinkretisme; ʼn bereidheid om oop te wees vir vreemde godsdienste.
[4] Dit is ʼn vertrekpunt wat sowel Paulus as sy lesers aanvaar, sonder dat dit bewys hoef te word.
[5] Historici praat van testis unus, testis nullus, een getuie is soos geen getuie. Geen ander bron verwys na die 500 nie; dit is dus histories onbetroubaar. Paulus se stelling kon ook nie deur mense van sy tyd ondersoek word nie, omdat hy geen name noem nie. Persoonlik dink ek ʼn kopiis van die teks het dit ingeskryf. Ons vroegste kopieë van Griekse manuskripte van hierdie brief dateer aan die begin van die derde eeu GJ.
[6] Latere skrywers het begin spekuleer hoekom Jesus nou juis op die derde dag moes opstaan. Volgens 1 Petrus 3:19 het Jesus die oordeel oor die gevangenes in Tartarus gaan verkondig in die periode tussen sy kruisdood en opstanding.
[7] Dit is volgens die oudste manuskripte. Latere kopiiste het gevoel Markus se einde is te stomp, en toe ʼn sameflansing van die ander evangelies aangeheg.
[8] Die gangbare definisie van ʼn mite is dat dit ʼn verhaal is wat bonatuurlike karakters, soos engele, bevat.
[9] Op dieselfde wyse sou Matteus en Lukas Jesus se wonderbaarlike geboorte skoei op verhale van heldegeboortes in die misteriekultusse, en tekste in die Hebreeuse Bybel vind om dit te begrond.