Prof. Hansie Wolmarans van die Universiteit van Johannesburg

1 Veranderende houdings oor homoseksualiteit

In die jaar 2006 is eenslagtige huwelike in Suid-Afrika gewettig deur die Wet op Burgerlike Verbintenisse. Paartjies mag besluit om dit as ʼn “huwelik” of as ʼn “burgerlike verbintenis” te laat registreer. Hulle geniet dieselfde huweliksregte as die partye binne ʼn tradisionele huwelik.

In Time van 26 Jan 2015 (pp. 30-34) het ʼn artikel verskyn “A Change of Heart” deur Elizabeth Diaz. Sy toon aan dat daar ʼn bestendige toename is in tradisionele en evangelies gesinde kerke wat eenslagtige huwelike ondersteun. Dit sluit in die Episkopaalse Kerk in die VSA, die Evangelies Lutherse Kerke in die VSA, Kanada en Duitsland, sowel as die Presbiteriaanse Kerk in die VSA (PCUSA). Maar in Suid-Afrika is daar geen hoofstroom kerk wat hulle leraars toelaat om eenslagtige huwelike te bevestig nie. Mense wat in homoseksuele verhoudings betrokke is, word ook nie in die ampte toegelaat nie.

Dit is veral samelewingsfaktore, inligting wat op die internet beskikbaar is, en debatte wat virtueel gevoer word, wat veroorsaak dat houdings besig is om te verander. Menseregte bewegings regoor die wêreld het ook tot gevolg dat dit al hoe moeiliker word om teen homoseksuele mense te diskrimineer. Verder speel lokettreffers ook ʼn rol om mense se morele bewussyn hieroor te beïnvloed. ʼn Goeie voorbeeld is die film, The Imitation Game, wat in 2014 vrygestel is. Dit handel oor die briljante Engelse wiskundige, Alan Turing, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog daarin geslaag het om die Duitse Enigma Kode te ontsyfer. Dit het die Geallieerde Magte ʼn strategiese voorsprong gegee. Ná die oorlog, in 1952, is hy skuldig bevind aan onsedelikheid met ʼn man. Vanweë sy homoseksuele oriëntasie is hy as ʼn sekuriteitsrisiko beskou en nie toegelaat om langer vir die Britse Regering te konsulteer nie. Ten einde tronkstraf vry te spring, het die hof hom die keuse van ʼn chemiese kastrasie gegee. Hy het dit aanvaar en hormoonbehandeling ondergaan. Dit het hom impotent gemaak, en veroorsaak dat sy borste gegroei het. Hy het in 1954 selfmoord gepleeg. Nege-en-vyftig jaar ná sy dood, in 2013, het die koningin van Engeland hom ʼn kwytskelding verleen.

In Suid-Afrika beroep Christene hulle op die Bybel om aan te toon dat homoseksualiteit ʼn gruwelike sonde is. Die Moreletapark NG Kerk het in 2005 vir Johan Strydom, ʼn musiek dosent in die gemeente se kunste akademie, ontslaan omdat hy in ʼn homoseksuele verhouding betrokke was. Strydom het hom op die gelykheidshof beroep en die gemeente is aan onbillike diskriminasie skuldig bevind. In hulle verweer het die gemeente geargumenteer dat homoseksualiteit volgens die Bybel sonde is. Strydom was in ʼn leiersposisie en het as ʼn rolmodel gefunksioneer. Dit verraai ʼn populêre siening oor homoseksualiteit dat dit aangeleerde gedrag en aansteeklik is. Verder het die gemeente Strydom voor sy ontslag die geleentheid gebied om in te skakel by die kerk se program, H2O (Homosexuality To Overcome). Dit ondersteun hulle teologiese siening dat mense van homoseksualiteit “bekeer” kan word.
Gevolglik is dit tydig om die wyse waarop Christene die Bybel gebruik om homoseksuele gedrag as ʼn sonde te veroordeel, onder oë te neem.

2 Aannames

Voordat ek my ondersoek begin, is dit nodig om ʼn paar aannames uit te spel. In die eerste plek is seksuele oriëntasie en hoe dit bepaal word, uiters kompleks. In sommige ondersoeke is byvoorbeeld gevind dat ongeveer 40% van die mans wat ondervra is, erken het dat hulle al ʼn orgasme bereik het deur kontak met ʼn ander man. Tog het die oorgrote meerderheid van hierdie mans hulleself nie as homoseksueel geklassifiseer nie. Dit wil verder voorkom asof seksuele oriëntasie nie in antitetiese terme as óf homoseksueel óf heteroseksueel beskryf kan word nie. Daar is persone wat biseksueel is, net soos wat daar persone is wat met beide manlike en vroulike geslagsorgane gebore word (hermafrodiete). Dit sal interessant wees om te verneem watter raad Christene wat hulle op die Bybel beroep aan hermafrodiete sal gee oor hoe om hulle seksualiteit uit te leef. Indien dit sou wees om hulleself te aanvaar soos God hulle fisies geskape het, dan sou dit moeilik wees om te argumenteer dat mense wat fisies aangetrokke voel tot dieselfde geslag, hulleself moet bekeer.

In hierdie studie gaan ek my egter beperk tot homo- en heteroseksualiteit en nie ingaan op die breër kwessies wat deur die akroniem LBGTQ aangedui word nie, ‘Lesbian, Bisexual, Gay, Transgender, Queer.’ In beginsel dink ek nie dat geloofsgemeenskappe die reg het om voorskriftelik te wees oor die wyse waarop mense hulle seksualiteit uitleef nie (mits dit natuurlik nie op kriminele wyses is nie).

Verder wil ek dit duidelik stel dat die Bybel nie deur God dikteer is nie. Die moderne Bybelwetenskappe het uitgewys dat daar té veel weersprekings in die Bybel voorkom (insluitende Goddelike voorskrifte wat bots met ons morele bewussyn). Die Bybel is ʼn produk van mense. Dit is nie as ʼn pasklaar produk afgelewer nie, maar dit bevat verskillende geskiedkundige lae. Uiteenlopende skrywers het vorige skrywers se werk aangepas, verander en inligting bygevoeg. Die Bybel weerspieël dus verskillende historiese en sosiale kontekste. Tipies sou dit byvoorbeeld menslike samelewingspatrone wat as suksesvol geag was, toeskryf aan God se instruksies  ‒  soos byvoorbeeld kriteria vir volksidentiteit, die posisie van vroue, in- en uitgroepe, seksuele gedrag, die mens se heerskappy oor die natuur, en hoe om kinders groot te maak (met genadelose lyfstraf en deur onderdrukking van hulle unieke individualiteit).

Vir my is “God se woord” nie in boeke en bladsye nie; dit is ʼn gebeure. Die Bybel behoort dus op ʼn konstruktiewe manier krities gelees word  ‒  net soos wat Jesus dit gedoen het. Hy het telkens gesê: “Daar staan geskrywe  ‒  maar ek sê vir julle.” Jesus het self vernuwend met sy tradisie omgegaan, en ons wat hom navolg is verplig om dieselfde te doen. Jesus staan dus sentraal. Dit is vir ons belangrik om te weethoe hy met mense omgegaan het en hoe hy die godsdienstige voorskrifte van sy dag herevalueer het. Wanneer ons in liefde met ander, insluitende die gestigmatiseerdes, saamleef, word God se Woord sigbaar.

Kwessies wat ondersoek gaan word

In hierdie bespreking van seksuele oriëntasie gaan ek vyf sake ondersoek. Eerstens, wat die wetenskap ons leer, tweedens hoe ons ‘sonde’ teologies werkbaar kan definieer, derdens watter Bybelse argumente gebruik word om homoseksualiteit as sonde uit te wys, vierdens watter populêre argumente in die debat gebruik word, en vyfdens hoe ons ontmoeting met Jesus ons houding teenoor homoseksueles beïnvloed.

3.1 Wetenskaplike insigte

Wat wetenskaplike ondersoek betref, is daar geen eenstemmigheid oor hoe menslike seksuele oriëntasie ontwikkel nie. ʼn Komplekse samespel van biologiese, psigologiese en sosiologiese faktore word aangedui.Daar is egter nie ʼn enkele erkende mediese, psigiatriese of sielkundige beroepsvereniging wat homoseksualiteit as ʼn patologie beskou nie  ‒  as ʼn afwyking wat behandeling of genesing vereis nie. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters het uitdruklik verklaar dat hulle gekant is teen enige behandeling of bekeringsterapie wat probeer om mense se seksuele oriëntasie van homoseksueel na heteroseksueel te verander. Dit waarsku dat hierdie terapie die risiko inhou om pasiënte ernstige skade te berokken, angs en depressie kan veroorsaak, en selfvernietigende gedrag tot gevolg kan hê. Mense is al byvoorbeeld met aversie terapie behandel (insluitend die toediening van elektriese skokke), testikeloorplantings is probeer, asook die verwydering van die klitoris. Bekeringsterapie wat deurgaans op onhoudbare aannames berus, is niks anders as verbruikersbedrog nie. Jong mense is al sielkundige skade berokken omdat hulle in isolasie gehou is of met vrees vir die hel, gekoppel aan Bybelversies, gedreig is. Daar bestaan die totaal onhoudbare aanname dat seuns wat gay is ʼn dominante moeder en ʼn swak vaderfiguur het. In sommige godsdienstige programme word jong mans aangemoedig om hulle ma’s te vervloek. Dit kan permanente geestesletsels veroorsaak.

Wetenskaplikes beskryf homoseksualiteit baie soos linkshandigheid. Jy kan nie kies om linkshandig te wees nie. Jy kan dit nie verander nie. Jy kan nie ander mense aansteek om linkshandig te word nie, al is jy ʼn rolmodel. Oningeligte mense het al probeer om linkshandige mense regshandig te maak. Linkshandige mense lei produktiewe lewens. Dit is teenwoordig in ʼn klein gedeelte van alle bevolkings, tussen agt tot vyftien persent.

3.2       Twee definisies van sonde

Noudat wetenskaplike feite op die tafel is, kan ons teologies kyk wat sonde is, en wat nie. Baie gelowiges aanvaar dat sonde ʼn oortreding is van wat God in sy Woord sê. Dit is ʼn uiters problematiese definisie. Ek het reeds gestel dat die Bybel nie deur God dikteer is nie. Wat maak ons byvoorbeeld met Eksodus 21:7‒11 waar God sê ʼn pa mag sy dogter as ʼn seksslaaf verkoop? Natuurlik kom die woord “seksslaaf” nie in die NABvoor nie; die vertaling is ongelukkig oor die algemeen redelik ontsmet. Verder sê God ook dat vroue nie onderrig mag gee nie (1 Timoteus 2:12). Hierdie lys kan uitgebrei word na bladsye toe. Al hierdie voorskrifte bots met ons gewetens. Ons beskou nie langer vroue en hulle seksualiteit as besittings van mans nie. Die meeste Protestantse kerke aanvaar ook dat vroue in kerklike leearampte mag dien. Gevolglik is die eerste definisie totaal onwerkbaar.

Ek wil ʼn alternatiewe definisie voorstel, wat, meen ek, klop met wat Jesus geleer het: Sonde is enige daad wat jouself, ander mense, of die omgewing skade aandoen. Dit meen ek is die beginsel waarvolgens Jesus Ou Testamentiese voorskrifte herinterpreteer het. Toe mense gekla het dat hy nie die Sabbat letterlik onderhou nie, het hy geantwoord dat die mens nie vir die Sabbat gemaak is nie, maar die Sabbat vir die mens. Die beginsel is duidelik: enigiets wat jy op jou gekose rusdag doen wat jou laat ontspan, is nie sonde nie. Volgens hierdie definisie is slawerny wel sonde, want jy skaad die persoon van ʼn ander mens. Om aktief homoseksueel te wees is nie ʼn sonde nie, want dit doen niemand skade nie. Homofobie, waar mense ʼn beperkte lewensruimte en lewensvervulling voorskryf aan homoseksueles, is wel ʼn sonde.

Hierdie definisie kom baie naby aan wat Jesus gesê het dat ons nie aan ander moet doen wat ons nie aan onsself gedoen wil hê nie. Dit gaan egter verder, omdat die omgewing en alle lewe hierby ingesluit word.

3.3 Ses Bybelse tekste

Teen die agtergrond van hierdie definisie, gaan ek nou kyk na die ses bybelse tekste wat gebruik word om homoseksualiteit as ʼn sonde te verklaar. Tensy anders aangedui, haal ek aan uit die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAB). Reg aan die begin wil ek dit duidelik stel dat die Bybel geen kennis dra of insig vertoon in die moderne siening dat homoseksualiteit ʼn oriëntasie is nie. Oor die algemeen ken die Bybel nie die aantrekkingskrag wat vroue vir vroue het nie. Vir die Bybel gaan dit oorwegend om homogenitale kontak tussen mans.

Daarom ervaar ek dit as akademiese oneerlikheid dat die vertalers van die NAB Hebreuse en Griekse frases vertaal as “homoseksuele verhoudings”. Dit is nie wat in die teks staan nie, en dit sê, myns insiens, meer oor die vooroordele van die vertalers, as die Bybelse tekste self.

Genesis 1 en 2 se skeppingsverhale

Die eerste teks waarna verwys word is die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2. Die argument is dat God die eerste paartjie as Adam en Eva geskape het, en nie as Adam en Stefan, of ‘Madam and Eve’ nie. Homoseksuele verhoudings is dus ʼn sonde teen God se ‘skeppingsorde’.

Vandag aanvaar bybelwetenskaplikes oor die algemeen dat die skeppingsverhale van Genesis 1 en 2 nie letterlik gelees moet word nie. Hulle is mites, of stories wat mense uitgedink het om te verklaar hoekom dinge is soos dit is. Daar is twee skeppingsverhale wat in vele opsigte van mekaar verskil.

Die eerste storie wil verklaar hoekom daar ʼn sabbatdag is  ‒  want God het die skepping in ses dae afgehandel en op die sewende dag gerus. (Die volgende vraag, hoekom God rus nodig gehad het, word natuurlik nie behandel nie!) Die tweede storie verklaar hoekom mense sterflik is  ‒  want hulle was aan God ongehoorsam toe hulle nog in die paradys was. (Hoekom ons gestraf word vir Adam en Eva se ongehoorsaamheid, word weereens nie in die storie aangedui nie!)

Die tweede verhaal wil ook verklaar hoekom vroue onderdanig aan hulle mans is, en hoekom hulle met moeite kinders in die wêreld bring. Eenvoudig: Adam is eerste geskape, en Eva as sy hulp; verder was dit Eva wat vir Adam verlei het, en nie andersom nie. (Hoe dit is dat ʼn man in Genesis aan ʼn vrou geboorte gegee het, kan alleenlik met die ribbebeen addendum verklaar word! Die storie is duidelik deur ʼn man geskryf wat die patriargale samelewing struktuur wou versterk). Beide skeppingsverhale wil ook verklaar waar mense vandaan kom. Heel duidelik is ʼn man en ʼn vrou daarvoor nodig.

Binne die Griekse kultuur was daar ʼn groter verdraagsaamheid teenoor homoseksualiteit. Die rede was eenvoudig: hulle het ʼn ander skeppingsverhaal gehad. Daarvolgens was daar oorspronklik drie soorte menslike wesens, elk met vier arms, vier bene, en twee gesigte. Die drie wesens het bestaan uit ʼn man-man kombinasie, ʼn vrou-vrou kombinasie, en ʼn man-vrou kombinasie. Die gode was bang hulle word te sterk. Gevolglik het Zeus een van sy hare gebruik en hulle in twee gesny. Hy het die wond toegebind by die naeltjie (dis hoekom ons almal een het). Van toe af soek ons na ons ander helfte: oorspronklike man-man kombinasies na ʼn man, vrou-vrou kombinasies na ʼn vrou, en man-vrou kombinasies na iemand van die teenoorgestelde geslag.

Dit wys hoe sterk die invloed van sulke fondasiemites op mense se wêreldsienings is. Dit het niks te doen met God se wil nie. Ons kan Genesis dus glad nie teologies gebruik om te praat oor die sondigheid al dan nie van eenslagtige verhoudings nie.

Genesis 19: Die vernietiging van Sodom

Die volgende teks wat nogal sterk in die debat funksioneer, is Genesis 19. Dit word aanvaar dat die rede waarom God Sodom vernietig het, hulle onbeteuelde homoseksualiteit was. Toe Lot twee manlike besoekers ontvang het, wou Sodom se mans hulle verkrag.

Die verhaal is egter oor gasvryheid. Die gasvrye Lot is gered, maar die bose, ongasvrye inwoners is vernietig. Die storie weet nie van vroue wat met mekaar seksueel verkeer nie; die manlike skrywer ken net manlike homogenitale kontak. Dit storie het niks te doen met die liefdevolle verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag nie; dit handel oor eenslagtige, manlike bendeverkragting.

Levitikus 18:22; 20:13

Dit bring ons by Levitikus 18:22 en 20:13. Die NAB vertaal dit as ‘Jy mag nie ʼn homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ʼn afstootlike sonde.’ (Lev. 18:22). ‘Hulle moet doodgemaak word…’ (Lev. 20:13). Dit is ʼn foutiewe vertaling want die vertaling impliseer dat die skrywers homoseksualiteit as ʼn seksuele oriëntasie van mans en vroue geken het. Die Ou Vertaling is beter: “Met ʼn manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ʼn mens met ʼn vrou het nie. Dit is ʼn gruwel.”

Dit gaan hier duidelik oor homogenitale kontak. Oor die algemeen is Levitikus se reëls deel van die sogenaamde “heiligheidskode”: die Jode moet ‘heilig’ wees soos God ‘heilig’ is. In gewone taal beteken dit dat hulle anders moet lyk en optree as hulle buurvolke. Dit is amper soos om ʼn uniform te dra wat jou laat saamkliek met mense wat soos jy aangetrek is. Dit is hoekom Levitikus 19:27,28 sê “Julle mag nie … die hare voor die ore en die wangbaard” knip nie, of “snye en tatoëermerke op julle liggame maak nie”. Ons lees ook in Deuteronium 23:1: “Iemand wie se geslagsorgane verbrysel is of iemand wat ontman is, mag nie ʼn lid van die gemeente van die Here wees nie.” Lukas in die Nuwe Testament het goed verstaan dat hierdie nie ewige insettinge is nie. Hy skryf in Handelinge 8:38 hoe Filippus ʼn ontmande persoon gedoop het.

Ander voorskrifte in Levitikus is soms onsinnig, of dit bots met ons gewetens. Levitikus 21:20 sê dat mans met gesigs- (oog) probleme nie godsdienstige ampte mag beklee nie. Volgens Levitikus 19:20-22 is dit aanvaarbaar om ʼn slawemeisie te verkrag; as sy nie jou eiendom is nie, moet jy ʼn boete betaal.

Ons kan dus nie die voorskrifte van Levitikus op gesigswaarde neem nie. Hulle het baie te doen met reinheids- en identiteitvoorstellings. Dit is ook teologies oneerlik om slegs dié tekste in Levitikus te selekteer wat jou eie vooroordele ondersteun.

Romeine 1:2627

Wanneer ons nou by die Nuwe Testament kom, kry ons vir die eerste en enigste keer ʼn verwysing na vroulike homogenitale kontak. Paulus sê in Romeine 1:26‒27:

“Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ʼn teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar mans ook die natuurlike omgang met vroue en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelike dade met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.”

Dit word gesê van heidene wat eenslagtige seks het. Paulus sê dit is God se straf omdat hulle afgode aanbid. Mense het nie beheer hieroor nie. Die straf is oënskynlik dat dit vrugbaarheid ondermyn, want kinders kan nie uit sulke verhoudings gebore word nie.

Paulus se argument is foutief. As dit God se straf vir afgodediens is, hoekom is alle afgodedienaars nie homoseksueel nie? En as jy ophou om afgode te dien, beteken dit dat jy heteroseksueel sal word? Hoekom is daar Christene wat nie afgode dien nie, maar togaangetrokke voel tot mense van dieselfde geslag? Hoekom beskryf ouers van homoseksuele kinders dat hierdie kinders vir hulle net ʼn groot seën en vreugde is, en nie ʼn straf nie?

Paulus gebruik ʼn ad hoc argument om sy lesers gunstig teenoor hom te stem. Dit weerspieël Joodse vooroordele (afkomstig uit Levitikus) dat eenslagtige seks net by heidene voorkom.

 1 Korintiërs 6:9 / 1 Timoteus 1:10

Hoewel Paulus hoogswaarskynlik nie 1 Timoteus geskryf het nie, maar wel 1 Korintiërs, is die problematiek by beide dieselfde. In 1 Korintiërs 6:9 lys Paulus sekere mense wat nie aan God se koninkryk deel kan kry nie naamlik “onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers”. Dit word gevolg deur twee Griekse terme wat albei na mans verwys: malakoi en arsenokoitai. Letterlik vertaald beteken dit ‘sagte mans’ en ‘mans wat by mans slaap.’ Die vertalers van die NAB stel hulle eie vooroordele bloot deur hierdie Griekse terme foutiewelik te vertaal met “mense wat homoseksualiteit beoefen”.

Dieselfde gebeur in 1 Timoteus 1:10. Hier is dit ʼn lys van mense wat die wet nodig het, naamlik ontugtiges, ontvoerders, leuenaars en dié wat meineed pleeg. Die woord arsenokoitai verskyn ook hier, en word in die NAB vertaal met “mense wat homoseksualiteit beoefen.”

Die vertalers is, myns insiens, weereens akademies oneerlik. In altwee kontekste gaan dit heel duidelik oor sondes wat die sosiale orde bedreig. Gevolglik is meer verantwoordelike vertalings van die betrokke Griekse terme eerder iets soos “seksuele perverte” of “pedofiele”. Die sondelysie is weereens onbewus van vroulike homogenitale kontak.

4 Ses populêre argumente teen eenslagtelike huwelike

Dit is vir my duidelik dat ʼn mens nie binne ʼn verantwoordelike teologie homoseksualiteit as ʼn sonde kan beskryf nie—veral nie deur ʼn beroep op sekere Bybelse tekste nie. Daar word egter in die handel en wandel sekere populêre argumente gebruik. Ek wil nou kortliks daarna kyk.

4.1 Homoseksuele verhoudings is onnatuurlik

Paulus sê in Romeine 1:26 dat sulke seksuele drifte “onnatuurlik” is. Hierdie argument word nogal dikwels gehoor. Dit berus nie op korrekte inligting nie.

Albatrosse word tot sewentig jaar oud.Een derde van die paartjies vorm lewenslange eenslagtige verhoudings. Eenslagtige seksuele gedrag is bekend in meer as vierhonderd-en-vyftig spesies, van flamingo’s tot bisons, besies tot vlakvarke,dolfyne tot oerangoetangs, seekatte tot wurms. Boere is daarvan bewus dat sommige bulle en skaapramme weier om met koeie en ooie te paar. Agt persent bokramme verkies ander bokramme.

Homoseksuele gedrag kom dus in die natuur voor. Dit is ʼn normale weerspieëling van die verskeidenheid in God se skepping.

“Homoseksualiteit kom in meer as vierhonderd-en-vyftig spesies voor;
homofobie slegs in een spesie. Besluit self wat is onnatuurlik en wat nie.”

4.2 Homoseksuele verhoudings duur nie lank nie

Daar is ook ʼn populêre wanopvatting dat homoseksuele verhoudings oor die algemeen kortstondig is. Dit word deur die feite weerspreek. Leonardo da Vinci en Giacomo Caprotti het ʼn lewenslange verhouding gehad. J Edgar Hoover en Clyde Tolson was vir langer as veertig jaar bymekaar. Bruce Mero, ʼn danser, en Gean Harwood, ʼn komponis, het ʼn boek geskryf oor hulle verhouding, The Oldest Gay Couple in America. Hulle het in 1929 ontmoet en was bymekaar tot Mero in 1995 oorlede is.

4.3 Dit is ʼn onrealistiese verheerliking van romantiese liefde

Mens hoor die argument dat moderne mense te veel romantiseeroor die liefde. Om paartjies bymekaar te hou is iets meer, soos kinders, nodig. Eenslagtige huwelike moet nie toegelaat word nie, want daar kan nie kinders geproduseer word nie.

Dit is ʼn onhoudbare argument. Daar is getroude paartjies met kinders wat skei. Daar is eenslagtige paartjies wat kinders het, óf aangenome, óf deur kunsmatige inseminasie voortgebring. Ons het nie ʼn probleem met tradisionele kinderlose huwelike nie. Waarom moet dit anders wees met eenslagtige huwelike?

4.4 Kinders met eenslagtige ouers het ʼn agterstand

Sommiges beweer dat kinders wat in ouerhuise grootword waar beide ouers van dieselfde geslag is, die lewe met ʼn agterstand begin. Soliede navorsing bewys egter dat hierdie kinders geen agterstand het ten opsigte van hulle intelligensie, algemene ontwikkeling, morele oordele, persoonlike identiteit, sosiale vaardighede en geslagsidentiteit nie.

 4.5 Eenslagtige huwelike maak tradisionele huwelike goedkoop

Mense voel eenslagtige huwelike moet nie toegelaat word nie, omdat dit ʼn bespotting maak van hulle eie heteroseksuele huwelike. In werklikheid neem talle homoseksueles hulle verhoudings baie ernstig op en sien dit as lewenslank. Daar is heteroseksuele persone wat dit nie doen nie. In Suid-Afrika is daar realiteits televisie programme waar die prys ʼn huwelik is (gewoonlik ʼn gesogte oujongkêrel wat kan kies uit ʼn span vroue wat moet kompeteer vir sy guns). Vir my is dit sulke programme wat die huwelik vervlak.

4.6 Noem dit eerder ʼn “Burgerlike Verbintenis”

Die wat meer verdraagsaam wil voorkom, sê ʼn huwelik is vir heteroseksueles. Hulle is bereid om iets soortgelyks vir homoseksueles te aanvaar, mits dit ʼn “burgerlike verbintenis” genoem word. Wanneer mens met homoseksuele paartjies gesels kom jy agter dat hulle verbintenis in alle opsigte is soos ʼn tradisionele huwelik. Deur ʼn afsonderlike term te gebruik, skep ons ʼn skadelike kloof tussen “ons” en “hulle”; dit ondersteun en moedig vooroordeel aan.

5 Die houding van Jesus

Kan wat Jesus gedoen het ons help om teologies verantwoordelik te redeneer oor homoseksualiteit? Jesus het randfigure wat as onrein beskou is ingetrek. Dit was die melaatses, ʼn Samaritaanse vrou, tollenaars en sekswerkers—die wat gestigmatiseerd was.

In die geskiedenis van die Christendom was daar mense wat Jesus se werk voortgesit het. Hulle het geveg vir die afskaffing van slawerny, die feministe beweging ondersteun, opgekom vir menseregte en kinderregte, en beywer hulle vir ekologiese verantwoordelikheid.

Jesus was ook krities oor sinnelose regulasies, soos die definisie van ‘werk’ op ʼn Sabbat. Hy en sy dissipels het ook nie godsdienstige vaste onderhou nie.

Vir my is die Jesusbeginsel dus: ʼn Daad is nie sondig as ʼn bybelversie dit as sondig verklaar nie. Dit is verkeerd as ʼn rede verskaf kan word. As die rede nie langer geldig is nie, en geen ander rede verskaf word nie, hoe kan dit steeds sondig wees? Paulus se woorde in 2 Korintiërs 3:6 is belangrik: dat die letter dood maak, maar die Gees lewend.

Na my mening moet ons ophou om die Bybel te misbruik as ʼn verskoning vir ons eie onverdraagsaamheid, seksisme en homofobie. Daar is genoeg van liefde, genade en onvoorwaardelike aanvaarding in die Bybel om ʼn siek samelewing en siek kerke profeties aan te spreek.

6 Slotsom

Ek het hierdie ondersoek uit vyf invalshoeke gedoen: wetenskaplike insigte oor homoseksualiteit; ʼn teologiese definisie van sonde; ses bybelse tekste; ses populêre argumente; en Jesus se houding.

Die wetenskap sê seksuele oriëntasie is nie ʼn patologie nie en kan nie verander word nie. Dit is baie soos linkshandigheid. ʼn Werkbare teologiese definisie is dat sonde dit is wat jouself, ander of die omgewing skade aandoen. Homoseksualiteit is dus nie ʼn sonde nie; homofobie is.

Hoewel die Bybel homogenitale kontak ken, en dit oorwegend afwys, is dit duidelik dat die Bybel homoseksualiteit nie as ʼn oriëntasie verstaan nie. Die Bybelskrywers, almal mans, is oor die algemeen onbewus van vroue wat tot mekaar aangetrokke voel. Die Adam en Eva fondasiemite is waarskynlik een van die groot redes vir die vooroordele binne die Jodendom en die Christendom teen homoseksualiteit. Populêre argumente berus ook op vooroordeel en gebrekkige inligting. Jesus het dié wat as onrein en gestigmatiseerd beskou is, ingetrek. Ons behoort dieselfde te doen. Christelike kerke behoort die moed van hulle oortuiging te hê om eenslagtige huwelike te bevestig, homoseksueles in hulle ampte te verwelkom, en die LGBTQ’s van ons wêreld pastoraal te versorg.

Miskien is ʼn aangepaste vorm van Galasiërs 3:28 van toepassing: “Daar is nie langer Jood of Griek, slaaf of vry, daar is nie langer man of vrou; straight of gay nie; want julle almal is een in Christus Jesus.”