Sterkfontein-uitstappie, Sondag 14 April 2019

In stede van die gewone NHN-byeenkoms op Sondag 14 April, het Johan Talma vir ons ‘n insiggewende uitstappie na die Sterkfontein-grotte, ‘n VN Wêreld-erfenisterrein, gereël. Dit het onder leiding van Prof Francois Durand plaasgevind, ‘n ou bekende en kundige wat reeds dikwels aanbiedings by die NHN kom doen het.

Ons groep van 40, lede van die NHN en die South African Secular Society (SASS) sowel as ander belangstellendes, het vroegoggend by die Sterkfontein-terrein ontmoet.

Die groep kry inligting oor kontinentale drywing en vorming van kontinente

Ter aanvang verduidelik Francois kortliks die menslike evolusie en lig die belang van Sterkfontein uit. Hy noem dat die benaming ‘Wieg van die Mensdom’ egter ietwat misleidend is, want hominiedefossiele word feitlik regoor Afrika gevind. Wat Sterkfontein en omgewing besonders maak, is die geologie, veral dolomietformasies, wat fossiele geredelik deur baie eeue behoue laat bly het. Derhalwe kan gesê word dat die gebied waarskynlik daarop aanspraak kan maak dat dit die wêreld se grootste bron van hominiedefossiele is.

Die voetbene van A. africanus het gewys die spesie het regop geloop

Ons groep het hierná saam met Francois die sogenaamde ‘Timewalk’ na die grotingang gestap, waar die geologie en van die belangrikste fossielvondse in Suid-Afrika op marmerplate in die oopte uitgestal word.

Francois het redelik oor die geografie en geologie van die omgewing uitgebrei, veral grot- en fossielvorming en die lang tydsverloop wat ter sprake is. Een van die plate wys die Andromeda-sterrestelsel sowat 2,6 miljoen ligjare weg, wat beteken dat die lig nie slegs soveel jaar gelede daarvandaan ‘vertrek’ het nie, maar dat iemand wat vandaar na die aarde kyk, die oermens soos Australopithicus africanus op die grasvelde by Sterkfontein sou sien loop.

Hy beklemtoon dat hierdie mens-voorouers nie grotbewoners was nie. Die feit dat hul fossiele in die grotte gevind word, is te danke aan ander faktore. Wilde diere het hul prooi, wat Australopithecus africanus ingesluit het, in die grotte ingedra. Van die aapmense het ook waarskynlik deur sinkgate in die grotdak geval, moontlik tydens ‘n storm wanneer hulle onder bome sou skuil wat digby sinkgate en grotte gegroei het. (Op die Afrika-grasvelde word bome deur veldbrande verwoes, maar die grotte en sinkgate bied altyd ‘n mate van beskerming sodat bome daar floreer).

Volgens Francois was vuur van die uiterste belang vir die ontwikkeling van beskawing. Hoewel suurstof eintlik ‘n giftige gas is, vernietigend vir alle materiale, voed dit vuur wat alle tegnologie aandryf.

Al dieper af in Sterkfontein-grotte

Elk behoorlik toegerus met ‘n haarnet en veiligheidshelm, het ons die grot saam met ‘n gids binnegegaan. By die ingang wys hy fossielbeentjies in die breccia, ‘n woord afkomstig van Italiaans. Dit beteken ‘gruis’, maar in die paleontologie verwys dit na rots bestaande uit klipfragmente in ‘n fyn kalksteenmatriks waarin fossielbene dikwels voorkom.

Die gids wys waar fossielebeendere gevind is
Hy brei eweneens uit oor die geologie van die grotte en hoe werkers vroeërjare dinamiet gebruik het om kalksteen vir die myne los te skiet, wat toe tot die ontdekking van fossiele aanleiding gegee het. Hy kon vir ons wys waar die bekende ‘Little Foot’-fossiel gevind is. Dit is vermoedelik die mees volledige fossielskelet van ‘n Austalopithecus-spesie wat tot nóg toe ontdek is. Later sou Francois vir ons wys waar die vroeëre ‘Mrs Ples’-skedel presies 72 jaar gelede deur Prof Robert Broom gevind is.

Indrukwekkende sale in die grot

(Broom het inderdaad self dinamiet gebruik, wat die skedel beskadig het, maar hy kon die ontbrekende deel vind, sodat die skedel redelik volledig herstel kon word en so behoue gebly het.)

Neem van Francois se kennis in…

By die grotuitgang, waar ‘n bronsbeeld van Robert Broom met ‘Mrs Ples’ in die amfiteater gemonteer is, kon Francois verder oor die geskiedenis van Suid-Afrika se paleo-antropologiese bydrae uitwei. Hy vertel hoe Broom die ontdekker van die Taung-skedel Raymond Dart in 1924 ondersteun het toe groot name in die paleo-antropologie sy vonds ernstig in twyfel getrek het. Veral die Britte kon dit nie aanvaar dat die sogenaamde ‘Verlore Skakel’ in Afrika, deur ‘n jong Australiër (Raymond Dart) ontdek is nie. Hulle het volgehou dat dit eerder ‘Piltdown Man’ is, wat later as ‘n paleo-antropologiese vervalsing uitgewys is. (Daar bestaan natuurlik nie iets soos ‘n ‘vermiste skakel’ nie; ons praat eerder van ‘n bos met verskeie takke).

Beeldjie van Prof Robert Broom en ‘Mrs Ples’ (wie se agterskedel nie korrek is nie…)

Francois noem dat die aanvaarding van evolusie deur die gereformeerde kerke (met bepaalde voorbehoude) nogal in teenstelling staan met die persepsie van die Afrikanergemeenskap se beweerde ontkenning daarvan. Evolusie is lank reeds in die land se museums en skole aangebied, terwyl die huidige bedeling in Suid-Afrika dit eintlik tot groot mate teengestaan het.

Ná ‘n saamkuier in die restourant, waar ons heerlik verder oor die dag se ervaring gesels het, is ‘n groepie van ons saam met Francois na die museum om die hominiede-uitstalling te bekyk.

[Met die skryf van hierdie opsomming het ek tot ‘n groot mate op geheue staat gemaak. Enige foute en waninterpretasie van feite is my eie. Sam J Basch – Red.]

[[Hieronder volg foto’s wat Babs Basson van Johan Talma van verskeie lede ontvang en aangestuur het. Foto’s wat bostaande foto’s dupliseer, is nie weer geplaas nie – webadmin]].