MR Byeenkoms: 3 September 2017

Jurie skets ter inleiding die dilemma van mense wat hulle om verskillende redes van die Kerk onttrek, iets wat heelwat spanning in huisgesinne en families kan veroorsaak. Dikwels is die Kerk se onbeholpenheid met sensitiewe sake soos die “gay-kwessie” die rede tot onttrekking.  Jurie self het opgegroei met die Kerk se gebruike maar vertel met ‘n vonkel dat hy waarskynlik die beste boodskappe gekry het in die destydse “Cowboy Flieks”. Baie mense vra hom hoekom hy nog lid is van die Kerk en skryf oor die Kerk (sy huidige boek verwys). Sy antwoord: “Ek het grootgeword in die Kerk en die Christelke tradisie en dit sal altyd deel van my wees.”

‘Wat moet ons met die Kerk doen?’ is sy onlangse boek wat veral die impak van wetenskaplike ontwikkeling, evolusie en biologiese kennis op die Kerk belig.
Vir ‘n beter verstaan van ons kerklike tradisie, en veral die rol van die NG Kerk in die opheffing van Afrikaners ná die Tweede Vryheidsoorlog, verduidelik Jurie hoe daar toentertyd voorsien is in die Afrikaner se behoefte om ’n eie identiteit te ontwikkel. Die godsdiens is as’t ware aangepas om die Afrikaner ten gunste te wees. Gustaf Preller wat baie aktief in die Kerk aktief was, was ’n ware beeldpoetser van die Afrikaner. Professor GBA Gerdener het in “Die Handboek by die Katkisasie” (1927-1931) geskryf oor die groot euwel van Dans wat (glo betekenisvol) met dieselfde letter begin as Donkerte, Dood en Duiwel. Maar, wys Jurie uit, Dominee, Diaken en Dogma word verswyg! Afrikaners se versugting na grond, wat hulle vryheid sou simboliseer, het die herdenking van die Groot Trek in 1938  en die verskyning van verskeie gewilde plaasromans tot gevolg gehad. Die temas: “Die Ideale Afrikanerman” en “Terug na die Verlede” is by alles betrek, van sport tot ontspanningsaktiwiteite.

Die Kerk, “met die rug gekeer op die gees van die tyd”, het maar telkens na die verlede gereik. Hy verwys na Ferdinand Deist se Unisa-artikel, “Objektiewe Skrifuitleg: Kantaantekeninge by Skrifuitleg in die Ned Geref Kerk 1930-1960″, oor sogenaamde”boere-calvinisme” as teenvoeter vir “verbastering”; Geoff Cronje ea se “Toring van Babel”, oor ‘verbastering’ (wat eintlik as grondlegging van Apartheid beskou was); Koot Voster wat in The Star ’56 beweer het Evolusie is oorbodig; die Pongola Vrouens (Kerkbode ’81) – met hulle Christen-klag teen Evolusie en die TV-program ‘Kosmos’ van Carl Sagan; die Vroue-aksie van die Vryheidsfront wat (2014) wat evolusie aan die Satan gelyk stel; Marius Smit wat die Genesisverhaal in elke skoolvak verpligtend wou maak; die Katkisasieboek van 1950 wat geloof as die “vaste bewys” verklaar en reken evolusie het geen bewyse nie; die Kerkbode (27 Mei 1981) waarin ds SJ Eloff eis dat “Evolusionisme” in geen handboek mag voorkom nie. Die hegenomistiese verbintenis tussen Kerk en Staat was baie duidelik.

Jurie sien morele kodes en ingesteldheid as kulturele oorwegings wat saam met kulture oor tyd kan verander. So kan gesindhede oor taalvermoë, kanibalisme, rookgewoontes, vroueregte en homoseksualiteit mettertyd verander na mate die vermoë tot waardebeoordeling, keuses van alternatiewe optrede en vrye wil volgens ontwikkelingsvlak en intelligensie gewysig word. “Ons kan die werklikheid van evolusie nie meer ignoreer nie.” Hy tref ‘n interessante onderskeid tussen moraliteit en etiek: ‘n etiese ingesteldheid is ‘n persoonlike beskouing van wat werk en nie werk nie, wat reg of verkeerd is volgens eie oortuiging. Jurie verwys in die verband na die boek DRIVEN: How Human Nature Shapes our Choices (Paul Lawrence & Nitin Nohria).

As voorbeeld van die Kerk se onwilligheid om aan te pas, verwys Jurie na gay-wees. Sy insiggewende illustrasie van die ontwikkelende geslagstelsel van ‘n baba skakel sterk met die gesprek oor evolusie en gay-wees. Maar die Kerk wil dit nie wil aanvaar nie – die “ideale Afrikaner” kan nie gay/lesbies wees nie. Hy stem ook saam met Bertus (Osbloed) van Niekerk se siening oor Groen Teologie: “Daar is nie meer genoeg suurstof in die Kerk nie.” Tog is Jurie passievol oortuig dat die Kerk wel kan verander en oor kerkwees en die dringende eise van ons tyd nuut kan dink.

Hy verwys na Maurice Merlean-Ponty wat klem gelê het op die fenomenologie  van waarneming en sê, ons morele meetsnoere moet dus ons biologiese herkoms in ag neem. Ons is mens; ons moet ons menswees in berekening bring, ons liggaamlikheid. Die brein as orgaan – en onder andere die korteks en neokorteks moet as ‘wagter’ dien om die reptielbrein in toom te hou en so ons belewenis van die werklikheid, die ‘nou’, in ag te neem.

[Opsomming voorsien deur Babs Basson]