Ons volgende byeenkoms sal wees op Sondag 16 Oktober weer by R@M Bowls Club, Retire @ Midstream se Rolbal Klubhuis, Madeleinestraat 1, Midstream Estate. GPS: -25.922, 28.191.
Tyd: 09:30 vir 10:00
Ons het weer die gebruiklike tee/koffie vooraf. Om 10:00 kom ons spreker van die dag aan die woord, en daarna is dit ons gebruiklike bring-en-eet saam vir almal wat belang stel om nog te kuier. Bring soos gewoonlik iets vir die gesamentlike tafel om te eet, asook jou eetgerei en drank.
Ons spreker is ʼn ou bekende by die NHN: Dr Eugene Fourie
Titel: GMO. Genetiese modifikasie van plante en diere en die impak op die mens en die omgewing.
“Waarom kan honde katkos eet terwyl katte nie hondekos kan eet nie?
Deur geneties geenmodifikasie, kan honde graankos verteer maar katte nie. Ek sal uitbrei oor modifisering van diere en plante se genoom deur selektiewe teling. Hierdie genetiese modifikasies het ons ons huisdiere, plaasdiere en landbougewasse gegee. Sonder die genetiese modifikasies sou ons nog steeds soos die Boesmans moes lewe. Die bevolkingsontploffing die afgelope tyd is moontlik gemaak deur genetiese modifikasies van landbougewasse. Opbrengste is verhoog deurdat infeksies en infestasies bekamp is. Metaboliese skraging deur geenmanipulasie maak gewasse meer produktief en gedug. Te danke daaraan kan die aarde nou biljoene meer mense onderhou.”
- Volgende byeenkoms: 27 November. Die spreker is Jaco Budricks, en die onderwerp is “Tegnologie-ontwrigtings: die koms van groenkrag en elektriese motors”
- Verjaardae:
Ina Louw 6 Oktober
Chris de Weerdt 24 Oktober
Ané vd Merwe 27 Oktober
ʼn Voorspoedige en vreugdevolle lewensjaar vir julle toegewens.
- Stuur asseblief julle verjaardagdatums aan Johan Talma [083 5568711] as julle wil. Ons wil graag so volledig ʼn lys as moontlik hê.
By ons vorige byeenkoms was die spreker Nico van der Dussen. Nico is betrokke by ʼn organisasie met die naam van “Initiative for a Socio Economic Solutions Alternative for South Africa” (ISESASA) wat iets soos IDASA van ouds is en ʼn onder-na-bo benadering gaan gebruik om die saak van ʼn algemene sosiale toelaag te ondersoek om armoede en ongelykheid te verminder. Die titel van sy praatjie was: “A Democratic Growth Enabler” ─ die sleutel tot die uitwissing van ongelykheid en kriminele armoede in Suid-Afrika.
Die algemene sosiale toelaag word beskryf as ʼn demokratiese groeikatalis wat ʼn suksessleutel kan wees in die skep van ʼn regverdige en volhoubare ekonomie. Die tyd is nog nie gereed om die aksie aktief te propageer nie aangesien koalisiepolitiek eers in Suid Afrika benodig word sodat geen politieke party die saak kan kaap of domineer nie.
ISASASA beplan om alternatiewe idees te versamel, te ontleed, te modelleer en daarna in gesprek met belangstellendes te tree. Dit is tyd vir nuwe idees en die integrering daarvan met nuwe tegnologie, in effek ʼn kollektiewe onder na bo ontwerpproses.
Nico speel van ʼn video van die Nederlandse geskiedkundige Rutger Bregman met die titel van “Why we should give everyone a basic income”, die skakel is https://www.youtube.com/watch?v=aIL_Y9g7Tg0. Dit is by die TEDxMaastricht konferensie in 2016 voorgedra.
Bregman meld dat die toelaag gemik is op basiese behoeftes van kos, verblyf en opvoeding. Daar is geen voorwaardes aan die ontvanger van hoe dit aangewend moet word nie. ʼn Aantal suksesvolle eksperimentele projekte is in talle lande uitgevoer met die doel van ʼn vermindering van ongelykheid, armoede, kindersterftes, mediese uitgawes en misdaad en beter skolastiese prestasie en ekonomiese groei.
Die resultate sover is dat dit die mees effektiewe, goedkoopste en menslikste manier is om armoede te verlig. Hy maak die stelling dat armoede nie ʼn gebrek aan karakter is nie maar wel ʼn gebrek aan geld. Ons leef ook in ander tye waar die 4de nywerheidsrevolusie nuwe eise aan werkers stel omdat robotte en kunsmatige intelligensie talle werkgeleenthede oorneem.
Drie algemene besware word gemeld en Bregman spreek die teendeel van elk aan:
- Dit is te duur.
- Met gratis geld sal mense ophou om te werk.
- Die idee is te groot en radikaal, dit gaan/kan nie gebeur nie.
Hy meld dat die geskiedenis toon dat sekere utopiese idees ʼn geneigdheid het om weldra waar te word. Voorbeelde is slawerny, gelyke regte vir vroue en demokrasie. Nico meld dat hy al Bregman se boeke gelees het en al die plaaslike eksemplare gekoop en aan ander gegee het om te lees.
Suid Afrika het ʼn politieke oorgang beleef, maar nog nie ekonomiese demokrasie nie. Ons het ʼn goeie Grondwet maar ons kan dit nie eet nie, en ongelykheid het nie afgeneem nie. Die Universele Basiese Inkomstetoelaag (UBI) moet bekostigbaar wees, gesond in terme van algemeen aanvaarbare fiskale en monetêre kriteria en die belastinglas op die middelklasbelastingbetaler (die hoogste in die wêreld) verminder. Die grootste weerstand is nie van die 1% rykstes nie maar die huidige politieke elites.
Die huidige treurige situasie is nie net toeskryfbaar aan die aktiwiteite en beleid van die huidige regering nie. Die geskiedenis speel hier ook ʼn baie beduidende rol en sake soos die goud en mielie-alliansie, die Bambata rebellie, Uniewording in 1910, nagtreine vanaf Mosambiek om mynwerkers na die Rand te vervoer, die afbreek van die ontwikkeling van geïntegreerde gemeenskappe deur trekarbeid, verstedeliking en die vermindering van werkgeleenthede word gemeld.
Die konsep van ʼn UBI is nie nuut nie en kom van ekonomiese kenners van links en regs van die politieke spektrum, selfs van ʼn baie groot ekonoom soos Keynes en suksesvolle entrepreneur soos Musk. Daar word daaroor gepraat omdat daar baie werklose mense in die wêreld is en sekere soorte werk as nonsens beskou word. Hierdie radikale oplossing mag nie vanaf die radikale linkerkant van die politiek kom nie en moet praktiese oplossings moontlik maak wat nie met radikale slagspreuke bereik kan word nie.
Belangrike sake is die ingesteldheid en gepaardgaande narratief. Dit moet die welvaartnarratief en -houding doodmaak. Dit gaan nie oor ʼn swart meerderheid teenoor ʼn wit minderheid nie. Indien die nodige en die moontlike gedoen word kan die onmoontlike bereik word en kan dit as ʼn “lappieskombers” vir die reënboognasie beskou word.
Gepaardgaande boeke:
Bregman, R Utopia for Realists and How we can get there, 2018.
Diamandis P & Kotler S The Future is faster than you think, 2014.
Heimans, J & Timms, H New Power: How Power Works in our Hyperconnected World- and how to make it work for you, 2018.
Kelton, S The Deficit Myth: Modern Monetary Theory and the Birth of the People’s Economy, 2020.
Schumacher, E F Small is Beautiful, 1971, 2010.
Varoufakis, Y Adults in the Room: My battle with the European and American Deep Establishment, 2017.
NHN-groete
Johan Brink