Ons volgende byeenkoms sal plaasvind op Sondag 12 Februarie by Retire @ Midstream se Rolbal Klubhuis, Madeleinestraat 1, Midstream Estate. GPS: ‑25.922, 28.191. Die tyd is 09:30 vir 10:00, en daar is die gewone tee en koffie beskikbaar vooraf.
Ons spreker is prof Pieter Labuschagne: Walus en Tsafendas: Wanneer is straf blote weerwraak?
Daar was bitter reaksie na hoofregter, Raymond Zondo, se vroeëre beslissing in die konstitusionele hof dat Januzs Walus op parool vrygelaat moet word. Walus was amper 30 jaar in die tronk na sy sluipmoord op die bevrydingsheld Chris Hani.
Limpho Hani, eggenoot van wyle Chris Hani, het ʼn striemende aanval na die hof se uitspraak geloods. Sy het bitter verklaar dat die ‘einde van die land is’ indien Walus, ʼn veroordeelde moordenaar, op parool vrygelaat sou word.
Dié aandrang dat Walus nog langer in die tronk moet bly, is die absolute beskouing van straf, wanneer dit suiwer oor vergelding (wraak) gaan. In dié beskouing is daar geen voorsiening vir die relatiewe teorie, wat elemente van rehabilitasie en selfs ‘vergewe’ insluit nie.
In die gesprek sal die absolute beskouing van straf, asook die relatiewe beskouing van straftoemeting bespreek word. Een van die kernvrae is: Wanneer is daar genoeg ‘gestraf’ en moet daar ruimte vir rehablitasie gelaat word? Daar word ook in die gesprek illustratief gekyk na die wyse waarop Tsafendas na sy sluipmoord op dr HF Verwoerd behandel is, teenoor Walus se paroolaansoeke.
Daarna is almal genooi om nog te bly. Elkeen bring iets om te drink en iets om te eet en ons kuier nog verder.
Verjaardae in Februarie:
Hein Reitmann 26 Februarie
Johann Basson 28 Februarie
NHN-Ledegeld vir 2023:
Dit is nou betaalbaar. Die bedrag is R400 per persoon, of R500 per gesin.
Die bankbesonderhede is:
Bank: Nedbank
Tak: Wonderpark – dit was tevore Pretoria-Noord
Takkode vir EFT betalings: 198765
Rekeninghouer: Die Nuwe Hervorming Netwerk
Rekeningnommer: 1621207811
Tipe rekening: Lopend
Die ledegeld word aangewend vir: Huur van die perseel; honorarium vir die sprekers; die maak van videos; verversings; die webblad; die seminaar (hierdie jaar) en bankkostes.
Vorige byeenkoms: Sakkie Spangenberg oor die digkuns van Antjie Krog.
Sakkie het Antjie Krog [wat verlede jaar 70 geword het] se werk ingedeel in vier afdelings:
- Eerste periode: nadenke oor verlief-wees, vrouwees en tekens van verset
- Tweede periode: nadenke oor ideologie en mag
- Derde periode: nadenke oor die nuwe politieke bestel
- Vierde periode: nadenke oor geloof, veroudering en dood
Antjie kom uit ʼn geslag Afrikaanssprekendes wat nie geassosieer het met die bestaan politieke bestel en die ideologie van apartheid nie, en die gedigte uit haar tweede en derde periodes is voorbeelde van verset-poësie in Afrikaans.
Haar gedigte spreek van nadenke oor menswees, oor die hier-wees in Suid-Afrika, oor godsdiens, veroudering en dood.
NHN-groete
Johan Brink