Nuusbrief #12 van 2023

Ons volgende byeenkoms:
Datum: Sondag 19 Oktober     NB: die datum is met een week vervroeg van dié wat verskyn op die NHN-kalender.
Plek:      Rolbal Klubhuis, Retire @ Midstream, Madeleinestraat 1, Midstream Estate.  GPS: ‑25.922, 28.191.
Tyd:        09:30 vir 10:00. Tee en koffie is vooraf beskikbaar. 

Vandag se spreker: Willem Semmelink

Die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus lui “Wat is jou enigste troos in lewe en dood?” Waarin is ons wat afskeid van die tradisionele Christelike geloof geneem het, se “troos” geleë?

Waaroor sal die lesing gaan? Willem fokus op die inleidende vraag van die Heidelbergse Kategismus wat vir Protestantse Christene die essensie, of samevatting van hulle geloof verteenwoordig. Omgekeerd wys hy daarop dat daar sedert die 1960’s in die Weste ’n wantroue ontstaan het in die ortodokse begrip van troos. Daar het spanning ontstaan tussen die lewe wat die kerk as fatsoenlik en ‘reg’ beskou en die lewe wat mense graag wil leef en inderdaad leef. Mense twyfel aan die tradisionele geloof, raak kerklos, is “spiritueel maar nie godsdienstig nie,” mediteer, leef in die nou. Uiteindelik laat dit die vraag: Wat “troos” werklik in sulke alternatiewe? Waarin anker sekulêre mense hul lewens?

Willem gaan ’n warrelwind-oorsig oor die tyd tot en met die 19e eeu bied: faktore wat die ou Ortodokse denke laat skuif het en die tradisionele troos verwater het: rasionalisme, natuurlike teologie, deïsme, godsdiensfenomenologie, liberale teologie, historiese kritiek, modernisme. Hy kyk ook ewe kortliks na pogings in die 20e eeu om nuwe troos in die Christelike godsdiens te vind: Nieu-ortodoksie, debatte oor verwysing in taal, postmodernisme, proses- en sosiale teologie, sekulêre teologie, en eindelik, die invloed van Rudolf Bultmann (1884–1976).

Op hierdie punt verklaar Willem dan dat die Christelike godsdiens ewe veel ’n nood of behoefte het aan troos as wat tradisioneel aan sekulêre of nie-gelowige gemeenskappe toegedig word. Mense verlaat nie godsdiens oor hulle troos verwerp nie; hulle verlaat godsdiens oor godsdiens jou géén troos bied nie.

Willem gaan twee sekulêre skrywers se boeke, een deur A.C. Grayling en een deur M. Hägglund, kortliks bespreek en wys hoe hierdie skrywers se perspektief op ’n humanistiese of sekulêre lewe lyk. Hy sal die vraag “Is daar ’n raamwerk, of lewensfilosofie wat sekulêre troos onderlê en motiveer?” probeer beantwoord.

Willem sal die praatjie afsluit met vyf “blomme” anderkant die hek van nie-geloof. Hoe lyk ’n sekulêre “troos” in die dood, in liefde, in geloof(?), in ’n lewe met risiko’s, en die politieke implikasies van humanisme.

Vorige byeenkoms op 22 Oktober: Ons spreker was Prof Kobus Kruger, wat verbonde was aan die Departement Godsdienswetenskappe by UNISA.  Kobus se onderwerp was Oorwegings voor gesigseinder – Onderweg op die Agtvoudige Pad. 

Hy het onlangs twee boeke die lig laat sien – die titels van die boeke verskyn hier onder.  Kobus het ʼn jaar in Sri Lanka deurgebring waar hy onder andere die uitgestorwe taal Pali aangeleer het, en sy nuutste boek bevat vertalings in Afrikaans uit Pali.  Ons het in sy praatjie ʼn blootstelling gehad aan die mistieke leefwêreld van die Boeddhisme, aan van die epogale omwentelings wat ons tans ervaar, hoe daar saamgeleef kan word met hierdie veranderings.  Die Boeddistiese en Christelike benaderings tot sommige van hierdie aspekte toon ʼn ooreenkoms, en by ander bestaan daar verskille.  Een voorbeeld van verskille is die twee Groot Gebooie wat bestaan in die Christendom; in die Boeddhisme is die Eerste Gebod nie van toepassing nie, en die Tweede Gebod is uitgebrei tot liefde vir alle lewe. 

Van die ander onderwerpe wat bepreek is is daar onder andere: ekologiese veranderinge; die kosmologie; die teologie van bo-aardse wesens en opperwesens; die verband tussen lewe en bewussyn; wat is mitologieë – is dit slegs “stories”; drome en naby-dood ervarings; boosheid – is dit dalk ʼn oer-dualisme tussen twee magtige wesens; etiek – hoe kan mens goed lewe.

Dan het Kobus ook gepraat oor die verskillende religieë en dan meer spesifiek ook die Christendom en die Boeddhisme.  Hy het die term “religieuse apartheid” gebruik, wat beteken dat elke geloof sê dat hulle en slegs hulle oor die volle waarheid beskik.  Ons het ʼn krities-konstruktiewe benadering nodig ten opsigte van ander gelowe.  Alle gelowe het per slot van sake ʼn hunkering na ʼn onbereikbare, na ʼn uiteindelike swye, en na ʼn omvattende vrede.  Die dood vir almal is ʼn terugkeer na die kosmos waarvandaan ons gekom het.

Die titels van die twee boeke is:
Oorwegings voor gesigseinder (uitgegee deur Naledi Uitgewers)
Verskyning en verdwyning van ‘n verligte mens (uitgegee deur AOSIS in Kaapstad).

Albei is verkrygbaar by die Pretoria Kunsvereniging in Mackiestraat.

Verjaardae:
Geluk aan die volgende NHNers wat in November verjaar:

Deon van Zyl en  Johan Talma 6 November
Nita Heyns 8 November
Don Roos 10 November
Maryke Kruger 22 November
Annamarie Steyn 26 November
En ook geluk aan Desember se verjaardagvriende:
Jan Viljoen 7 Desember
Jan Horn 10 Desember
Sustra Jacobs 11 Desember
Johan Jacobs 17 Desember
Johan Brink 24 Desember
Edelweiss Schieke 28 Desember

Die NHN wens hierdie lede ’n voorspoedige nuwe lewensjaar toe.

Lief en leed:  Lage Vitus is oorlede op 27 Oktober.  Ons wens alle sterkte toe aan Driekie vir die tyd wat nou voorlê.

Soos gebruiklik is almal genooi om daarna nog te bly.  Elkeen bring iets om te drink en iets om te eet en ons kuier nog verder.

NHN-groete
Johan Brink