Die mens: (“net minder as ‘n goddelike wese”) of heeltemal weerloos (Kain/Judas)?  


Prof Gerrie Snyman
Departement Bybelse en Antieke Studies
UNISA

1.    Inleiding

Wanneer ek oor my lewe en my syn wees dink, kom ek agter ek het tot dusver drie leuses gehad wat my lewe min of meer gerig het. Die eerste leuse of mantra was in my tienerjare wat ek by ’n kongres van die Jongeliede Vereniging van Suid Afrika op Gereformeerde Grondslag gekry het na aanleiding van Prediker 11:9 

Verheug jou, jong man, in jou jeug;

Jou hart moet jou vrolik maak in jou jong dae.

Ek het dit nodig gehad gegewe die soberheid van die Calvinisme en die somberheid van die Gereformeerde teologie. En die swaard van die verpligte weermagdiens wat na matriek gedoen moes word en wat oor my gehang het. Na twee jaar se weermag was my verblyding gekortwiek. Ek het ’n ander Bybelvers my mantra begin maak wat meer standhoudend en opbouend was: Psalm 8:6

U het hom [die mens] minder weinig gemaak as ’n goddelike wese,

U het hom met eer en majesteit gekroon.

Dit het my depressie verlig, maar tog weer my skuldgevoel en skaamheid oor wat in die weermag gebeur het, uitgelig. Later ook toe ek meer oor apartheid begin lees het en polities ontwaak het, was die idee van iets goeds in my wat my staande gehou het, ook toe ek geloofskritiese vrae begin vra het.

Na President Mbeki se berugte toespraak oor die Afrikaheroplewing en die twee nasies in Suid-Afrika in 1998 het ek begin dink hoe kan mens die twee nasies bymekaar bring as dit dan waar is wat Mbeki gesê het. Sy toespraak was binne die omgewing van witheid nogal onthutsend, want ons was rustig in watte verpak met die euforie van die reënboognasie, wat toe blyk eintlik ’n hersenskim was. Ek het toe James Perkinson se boek White Theology: Outing Supremacy in Modernity (2003) gelees. Aan die begin van die boek maak hy twee stellings (2003:3) wat mettertyd my reeks van mantras aangevul het:

Part of coming to consciousness of oneself as white, involves daring to look into black eyes and not deny the reflection.

en

[H]earing and internalizing black critiques [. . .] entail confrontation with the embarrassment of having already been ‘found out’ by one’s (in this case) most frightening other.

Met die val van apartheid was daar niks binne die Afrikanerdom wat op filosofiese, epistemologiese, godsdienstige en sosiologiese vlak kon help met wat aan die gebeur was nie. Die Afrikaanse kerke was reeds uitverkoop aan die ideologie van apartheid en witwees is aan sy eie genade oorgelaat met onsekerheid en vrees. Boonop het FW de Klerk ons in die steek gelaat by die WVK toe hy net regs- of politieke aanspreeklikheid vir apartheid kon aanvaar, maar nie morele aanspreeklikheid nie. Sy siening oor apartheid dat dit nie ’n vergrype of misdaad teenoor die mensdom is nie, het my laat wonder wat dit in sy denke was wat hom verhoed het om verskoning vir apartheid te vra.

Antjie Krog het in ’n opiniestuk op News24 gesê sy siening oor apartheid toe en nou (2020) het van witwees kansvatters gemaak: mense wat nie glo dat apartheid of kolonialisme korrup en vernietigend, verkeerd en onvergeeflik was nie. Mens kry die idee hy was polities strategies, maar het nie ’n morele bedoeling gehad om apartheid af te skaf nie. Sosiale geregtigheid was nie in sy visier nie. In hierdie opsig was hy die produk van die PU vir CHO se interpretasie van Dooyeweerd se soewereiniteit in eie kring waar ras een van die soewereine kringe geword het, iets wat Dooyeweerd self verwerp het in die 1950s toe hy die PUK besoek het.

De Klerk kon nie insien dat apartheid misdadig was nie. Vir hom het die misdadigheid in die buitensporige gruweldade gelê. Die reaksie op sy siening kort voor sy dood was voorspelbaar. Die afwesigheid van ’n gevoel vir sosiale geregtigheid het ons opnuut verdeel in slagoffers en oortreders, die harde ervaring van eersgenoemdes en die onskuld van laasgenoemdes, van nie-weet-nie of nie-wil-weet-nie. En uiteindelik speel dit af in die spektakel van die opening van die parlement in Februarie 2020, ’n groteske petalje van wit onskuld se bevoorregting en swart woede se aansprake.

 

2.    Kansvatters: Kain en Judas?

Ek vermoed in ons onderbewussyn is ons bang om verantwoordelikheid te neem vir ons eie oortredings. En sekere Bybelverhale het alles daarmee te make: Kain en Judas se verhale. As ons sien wat met hulle gebeur, ten spyte daarvan dat hulle verantwoordelikheid geneem het vir hulle dade, dan skop onsself bietjie tee. Kain word van die toneel verwyder deur ’n vlugteling te word en Judas pas selfdood toe.

 

2.1    Kain

Kain pleeg moord en ’n identifikasie daarmee sou alleen by verstek kan geskied in die mate wat apartheid en kolonialisme sistemies is en die swart Ander hulle lewens verloor het. Indien ek weerloosheid in ag neem, sou my verstaan van Kain simpatiek wees en selfs assosiatief in die mate waarin ek my in sy skoene probeer verbeel, maar glad nie bewonderend nie. As leser in die 21ste eeu voel ek tog vervreemd van Kain, hoewel ek myself binne die sfeer van katartiese identifikasie kan vind omdat Kain uiteindelik ‘n spieëlbeeld word waarmee ek die Ander in die oë kan kyk.

In die Christelike resepsiegeskiedenis van die Kainverhaal in Genesis 4 word daar hoegenaamd nie met Kain geïdentifiseer nie, maar word Kain as die oermodel van boosheid beskou. Dit is enersyds te wyte aan die vroeg-Christelike resepsie van die verhaal soos vergestalt in Hebreërs 11:4 waar Kain se geloof as minderwaardig geag word en as rede aangevoer word vir die aanvaarding van Abel se offer, en andersyds Judas 1:11 waar Kain met boosheid vereenselwig word en op ’n pad van ondergang dui. 1 Johannes 3:12 dig eweneens boosheid aan Kain toe as gevolg van die broedermoord. Die vroeg-Christelike skrywers was ook nie juis simpatiek teenoor Kain nie. Iranaeus vergelyk hom met die moordenaars van Jesus terwyl Augustinus dit ook doen, maar die argument verder voer na die Jode as moordenaars van Jesus. Hierdie interpretasies het uiteindelik anti-Semitisme binne die Christendom versterk en ook rassisme vanaf die sestiende eeu begin voed.

Die Bybeltekste se interpretasie oor Kain stem ooreen met die laat Judaïsme se siening oor hom as ‘n verlore moordenaar, soos in die Targum Pseudo-Jonathan vermeld word. Philo beskou Kain as die hoogtepunt van boosheid, teenoor Abel as die toppunt van heiligheid. Tog word daar in Targum Onkelos, Targum Neofiti en Genesis Rabba 22 meer genadige interpretasies oor Kain gevind, met dien verstande dat hy vergewe word maar nie die straf vryspring nie.

2.2    Judas

Matteus, Markus, Lukas en Johannes vertel die verhaal van Judas se verraad teenoor Jesus, maar net Matteus en Lukas in Handelinge vertel van Judas se dood. Handelinge vertel die verhaal in ’n parentese maar nogtans in ongure detail. Matteus se vertelling is meer verteerbaar. Papias, in die 4de eeu van ons tyd meen Judas se selfdood was onsuksesvol en hy het bly leef maar met die allerverskriklikste gevolge. ’n Evangelie van Judas uit die 2de eeu van ons jaartelling probeer Judas meer genadig wees van uit ’n gnostieke oogpunt en gee Judas ’n positiewe funksie in die kruisiging van Jesus.

Soos Kain word Judas in die Christelike tradisie gedemoniseer en geteken as booswigte in die ergste graad. Matteus en Lukas in Handelinge gee aan Judas ’n grusame dood, want sy verraad durf nie ongestraf bly nie. Die twee verhale voldoen aan die literêre konvensies van die Griekse en Romeinse tyd oor teodisee: ’n booswig sal altyd grusaam tot ’n einde kom. Papias doen dit ook en maak Judas se einde eintlik absurd. Die evangelie van Judas argumenteer dat sonder die verraad van Judas sou daar geen kruisiging gewees het nie.

In Matteus 27:3-10 vertel Matteus, nadat Jesus in hegtenis geneem is en sy lot eintlik verseël is, dat Judas besef het dat Jesus gaan sterf. Hy word vreesbevange en doen ’n berouvolle belydenis oor sy skuld daaraan dat hy onskuldige bloed vergiet het. Hy bring die dertig silwerstukke terug maar die hoofpriesters is min gesteur deur hom. Hulle stuur hom weg en gaan koop ’n stuk grond waar vreemdelinge begrawe kan word. Dié grond kry die naam Bloedgrond. Judas pas dan selfdood toe.

Lukas, in sy evangelie self, skryf dat Judas deur Satan in besit geneem is toe hy met die hoofpriesters begin onderhandel het om Jesus te laat in hegtenis neem. Na die verraad lees ons eers weer in Handelinge 1 van Judas: hy het ’n deel van die bediening besit en het self die grond gekoop wat hy vir sy verraad gekry het. Dit is op hierdie grond wat hy gestaan het en vooroor op sy kop geval het en sy middel oopgebars het sodat sy binnegoed uitgepeul het. Die grond kry dieselfde naam, Bloedgrond, oftewel, Akeldama.

Papias skryf soos volg:

Judas walked about in this world a terrible example of impiety; his flesh swollen to such an extent that, where a wagon can pass with ease, he was not able to pass, no, not even the mass of his head merely. They say that his eyelids swelled to such an extent that he could not see the light at all, while as for his eyes they were not visible even by a physician looking through an instrument, so far had they sunk from the surface. His genital was larger and presented a more repugnant sight than has ever been seen; and through it there seeped from every part of the body a procession of pus and worms to his shame, even as he relieved himself.

After suffering an agony of pain and punishment, he finally went, as they say it, to his own place; and because of the horrible smell the area has been deserted and no one has lived there up until now; in fact, even to the present no one can go by that place without holding his nose. This was because the discharge from his body was so great and spread so far over the ground.

Binne die Christelike kulturele tradisie dui Kain en Judas aan wat met oortreders kan gebeur.

Michael Rothberg praat van implicated subjects wanneer hy verwys na die Jode wat in die konsentrasiekampe die Duitsers moes help om Jode te vergas en die liggame te verbrand. Die geïmpliseerde subjek werk in wat Primo Levi noem die grys area (grey zone): “The implicated subject serves as an umbrella term that gathers a range of subject positions that sit uncomfortably in our familiar conceptual space of victims, perpetrators, and bystanders.”

Die geïmpliseerde subjek word verbind aan kollektiewe deelname aan verwonding en uitbuiting van asook oorheersing oor ander. Dit geskied nie altyd regstreeks nie, maar word wel verbind aan ’n magsheerskappy wat hulle bevoordeel het. Jode in daardie posisie kon wel ’n rukkie langer leef, totdat hulleself vanweë uitgeputte liggame deel geword het van die vergassing en verbranding. As ek dit nou gebruik na analogie van kolonialisme, rassisme en apartheid, dan dui die geïmpliseerde subjek op sodanige optredes of gebrek aan optrede wat tot ander se pyn en lyding bygedra het, in hierdie geval, die swart ander. Die term geïmpliseerde subjek is eintlik net ’n analitiese instrument om die verleentheid te hanteer as mens jou eie bydrae tot ongeregtigheid moet begryp en verdiskonteer. Ons het hier te doen met verantwoordelikheid om te besef hoe die stelsel van oorheersing gestruktureerd was en hoe dit kollektiewe politieke aanspreeklikheid impliseer. 

 

3.    Die geïmpliseerde subjek

Vir die konteks waarbinne ek praat of skryf, is die geïmpliseerde subjek daardie een wat bevoordeel is deur die beleid van apartheid, dit is oorgeërf en as dit nie verdiskonteer word nie, gaan dit aanhou om sosiale geregtigheid te kortwiek. Mahmood Mamdani, in sy boek Neither Settler nor Native. The Making and Unmaking of Permanent Minorities (2020) vra die volgende vraag: 

Which is more difficult: to live with past perpetrators of an evil; or its present beneficiaries? If perpetrators and victims have a past to overcome, do not beneficiaries and victims have a present to come to terms with?

Kain en Judas word verwyder, maar hier te lande moet die swart slagoffers van apartheid elke dag die wit oortreders wat voordeel uit die sisteem getrek het, in die oë kyk.

Twee woorde kom nou by my op: Wokeness en fragility. Die woord woke het sy oorsprong in die Afro-Amerikaanse kultuur waar swart Amerikaners opgeroep word om bewus te wees en weg te bly van rassediskriminasie. Fragility word veral weer aan wit manlikheid toegedig wanneer laasgenoemde enigsins kritiese opmerkings maak. So word wit onskuld of wit onkunde opgeroep.

Die krag van wit onskuld moenie onderskat word nie. Gloria Wekker, in haar boek White Innocence (2016) verbind wit onskuld in die eerste plek aan die Christelike godsdiens se siening van Jesus as die ikoniese onskuldige mens wat deur baie Christene nageboots word. Verder word onskuld ook verbind aan kinders wat van die bose beskerm word en waarmee kinderlike geloof beklee word, “om soos ‘n kind te glo,” terwyl kinders eintlik in die Ou Testament nie veel regte gehad het nie. Kyk maar hoe Elisa die bere oproep om die kinders te verskeur. Onskuld het ook ’n vroulike kant volgens Wekker, in die sin van liefderyk wees teenoor (manlike) aggressie wat vermy word. Dit behels ook ’n ontkenning van die geweld waarmee kolonialisme en moderniteit voortstu en ’n nie-verstaan van die rasepistemologie wat daarmee gepaard gegaan het nie.

Na my mening voed wit onskuld eerder ’n nostalgie waarmee wit oorheersing verdoesel word waar wit mense gewoon net omstanders was van wat gebeur het en geensins deelnemers was nie. Ons was egter aktiewe deelnemers en geensins net omstanders nie. Ons word al die pad geïmpliseer as dit oor apartheid of rassisme gaan. Ons gewetes is geraak as ons gemaklik busry en die swart rye gesien het om hulle busse te bestyg, oorvol. Ons gewetes is geraak as ons by die poskantoor se wit ingang ingeloop het, of by die drankwinkel se wit ingang. Die beleid van apartheid het ons moreel skade aangedoen. Vir mans van my ouderdom, is die morele skade dalk nog dieper en het dit letsels agtergelaat as gevolg van grensdiens of gevegte in Angola. Die verpligte militêre diens van een en later twee jaar het vir menige seun van sewentien ’n inisiasie in manlikheid geword, met dié verskil dat ons nie fisies besny is nie, maar op ander manier verwond geraak het.

Apartheid, en veral verpligte militêre diens het menige persoon morele verwonding toegedien. Morele verwonding hang saam met PTSD, post-traumatic stress disorder, wat weer verband hou met die terugkerende soldate uit die Viëtnam-oorlog. Menige jong man is deur grensdiens en konflik sonder begeleiding. Daardie trauma word in ons liggame ingegraveer. Die uiteinde kan selfdood wees. Ons gemeenskap is egter so geprogrameer dat soldaat wees nie mens se karakter kan vernietig nie. Dis hoekom ons op eie stoom moes klaar kom. Jonathan Shay definieer in sy boek (1995)  Achilles in Vietnam. Combat Trauma and the Undoing of Character  PTSD as verraad teenoor dit wat reg is deur ’n persoon met aansien (of hoë rang) waar lewens van die allergrootste belang is.

Hier is wat Norman McClaren skryf in sy boek (2022) Across the border. Surviving the secret war in Angola. Onthou, dit was ’n tyd toe ons ouers geensins ingelig is oor die besetting van die suide van Angola deur die SAW nie. Ons briewe is gesensor en ouers het menigmaal net die aanhef en die slot van briewe gekry. Dink watter angs ons moeders deurgegaan het.  Apartheid het sy merk gelaat op witwees, ’n morele wond wat onbewustelik op almal afgedruk is vanweë die trauma wat wit jong beïnvloedbare seuns van 17 of 18 vol testosteroon ondergaan het. McFarlane som dit só op:

Inasmuch as I bitterly resent how those of us returned physically unscathed were simply cast adrift to deal with our demons as we picked up the pieces of our civilian lives, I am outraged that comrades [. . . ] by comparison grievously wounded physically and mentally, were cut loose to deal with their psychological monsters unaided.

Selfs al was jy polities meer verlig en het VP gestem, het jy immuun geraak in die gevegte vir bloed en stukkende liggame: McFarlane (2022:163 Kindle version): “I’d become inured to the sight of mangled bodies and the stench of decay, and like my equally hardened comrades, I was more interested in what souvenirs I could find.” Tot hy later ’n koplose dodelik gewonde liggaam van ’n Kubaanse soldaat gesien het. (McFarlane 2022:” 185 Kindle version): “[i]t was like a watermark through which I viewed every aspect of my life, until I eventually sought the help I needed to slay the demons I had collected during that short but terrible war.” Dít was die moment van sy morele verwonding. Hy som op wat met mense soos hy (en ek) gebeur het in die middel van die 70s tot die einde 80s:

We were young and impressionable, easily misled, and the prospect of fighting a war was beguiling, exciting, exhilarating. (…) [A]s the euphoria of returning home largely unscathed (or so many of us thought) gradually dissipated, to be replaced by anger, bitterness, an abiding sense of betrayal and the stark realisation of having been sold out down the river. (McFarlane 2022:306)

Many South African [white] men to this day live with the dichotomy of having fought in an ‘immoral, inexplicable, illogical and politically inspired war’, yet have a fierce pride in the sense of camaraderie which they experienced with their fellow combatants. (McFarlane 2022:307 Kindle version)

 I am, in so many ways, a stereotypical South African [white] male, incapable of acknowledging or admitting any vulnerability, any weakness. (McFarlane 2022:310 Kindle version)

En na die twee jaar, is ons in die samelewing losgelaat, op ons eie, met geen begeleiding van enige aard nie, nie die weermag nie, nie die kerke nie, nie ons ouers nie. Ek kan nie laasgenoemde verwyt nie, want hulle het nie die instrumente gehad nie. Vir die kerke was ons waarskynlik helde, want ons het kommunisme teruggehou. En vir die weermag was ons uiteindelik maar net deel van die kanonvoer.

En dan die herinnering: “Verbly jou in jou jeug, o jongeling.” Nee Prediker, die regering het my my jeug ontneem.

Dubula Dubula aw dubul’ibhunu. “Kill a Boer, kill a farmer.”

My bloed kook as ek dit hoor, want dit maak die wit man die bron van boosheid. En dan as ek in swart oë kyk, dan sien ek ook ’n jeug wat hulle verblyding in hulle jeugdigheid ontneem is, en ek is die gesig van die mag wat dit veroorsaak het. En ek voel weerloos, die mat onder my uitgepluk, gevul met skande en skuldgevoelens. En ek is bang, want ek weet wat met die oortreder in verhale gebeur, veral in die Bybel: hulle word uit die weg geruim.

 

4.    Weerloosheid 

Is die weerloosheid wat ek ervaar negatief of positief? Gegewe die omgewing waaruit ek kom, ’n neerdrukkende Suid-Afrikaanse interpretasie van Calvinisme gepaard met ’n bepaalde rasepistemologie waarin die werklikheid verdeel word tussen wit en swart, en waar laasgenoemde in ’n negatiewe weerloosheid van armoede, gebrekkige onderrig en sosiale status ingebed is, iets wat wittes tog net nooit mag ervaar het nie, dan sou ek moet toegee dat my aanvanklike reaksie dui op ’n negatiewe weerloosheid. Ek is uitgevang, en uitgelewer. Ek wil tog net nooit in die posisie kom waarin ons die swart persoon geplaas het nie. Ek moet myself ten alle koste nie weerloos stel nie. Ek moet onkwetsbaar wees. Op sy beste beteken dit soewereiniteit.

Erinn Gilson in haar boek The ethics of vulnerability (2014) definieer onkwetsbaarheid, oftewel, invulnerability, as ’n subjektiewe bevoorregting in ’n kapitalistiese sisteem, ’n proto-tipe van die aanmatigende, self-voldane, onafhanklike onkwesbare meestersubjek. Vir apartheid het dit beteken dat die wette van afsonderlikheid gedurig aangepas en verfyn moes word ten einde die wit sfeer te beskerm teen die ongemaklikhede, nadele en lastige aspekte van weerloosheid. So was dit ook in belang van witwees om mense van sekere soorte kennis te weerhou, sodat ’n ge-wil-de onkunde gekweek is. Onkunde berei die weg voor vir onderdrukking in verskeie vorme: uitbuiting, marginalisering, magteloosheid, kulturele imperialisme, geweld. Ons kom van so ’n plek af en is nog steeds in so ’n posisie, ten spyte van die magsverandering. Die kleur kon dalk net plek-plek verander het.

Hierteenoor stel ek ’n hermeneutiek van weerloosheid voor. Die basis van ons syn in ’n gemeenskap is dat ons optrede of dade betekenis dra. Ons optrede binne die gemeenskap is betekenisvol vir ander mense in daardie gemeenskap. En vir my is die beginpunt van ons syn in die samelewing weerloosheid. ’n Hermeneutiek van weerloosheid reageer op of gee gehoor aan weerloosheid self ten opsigte van die self en die ander persoon of persone. Dit is ’n kritiese ingesteldheid wat vrae vra oor hoe ons weerloosheid sien en hanteer met die doel om selfgenoegsaamheid, beheer, sekerheid te vervang met interafhanklikheid, onsekerheid en dubbelsinnigheid.

Met só ’n hermeneutiek wil ek iets bewerk wat na die Tweede Wêreldoorlog in teologie bereik is: Na WWII word daar gepraat van ’n teologie na die Holocaust. Ons moet begin praat van ’n teologie, of nadenke, ná apartheid. Apartheid het ’n epistemiese breuk veroorsaak en ons moet dit in ons denke verreken. Dit gaan nie oor politieke korrektheid nie, maar ’n nugterheid oor wat wit teenwoordigheid in Afrika beteken.

Dit het beteken dat geen sinvolle teologie bedryf kan word as die Holocaust nie in berekening gebring word nie. Hier te lande, beteken dit gewoon dat geen sinvolle teologie bedryf kan word as die effek wat apartheid op mense se lewens- en wêreldbeskouings gehad het, nie verreken word nie.

Dis egter makliker gesê as gedaan. Op politieke vlak kry apartheid nog gereeld die skuld vir die gemors in die land (en dit word selfs teruggevoer na Jan van Riebeeck), maar dan maak ons vanuit witwees ons rug reguit en vra hoelank nog moet apartheid die skuld dra. Aan die een kant hou ons, heeltemal tereg, die nuwe politieke heersers in wie se hande die mag nou geplaas is, verantwoordelik vir wat sedert 1994 gebeur het, veral as dit by korrupsie kom. Maar ons het nog nie vanuit die posisie van witwees gekyk na ons eie verantwoordelikheid gedurende apartheid nie. Ons het nog nie gedink oor hoe diep apartheidsdenke in onsself gesetel is nie. Die moment wat ons in konflik met ’n swart persoon kom, gaan ons beide onmiddellik terug na ’n veg- of vlug-reaksie wat deur rassisme bepaal word. Hierdie rassisme hou verband met hoe ons, swart en wit, opgevoed is, ideologies gebreinspoel is en geleer is op skool.

Hoe skep ons ’n postapartheidwêreld wanneer in ons taalgebruik ons onderbewussyn deurglip, want na 1994 het daar nie veel gekom van wat ’n nie-rassige samelewing se waardes behoort te wees nie. So elke nou en dan haal wit rassisme die koerante en spreek die kommentaar in Netwerk24 se webwerf boekdele. ’n Mens skrik as jy daarmee gekonfronteer word en dan wonder jy of iets enigsins verander het.

My ongemak. Dit is hoe ek nou voel op hierdie Herfssondag 2024: verleë, ongedurig, skugter, terughoudend, selfs sku, veral vir witwees. Hoekom? Die “ek” wat voel, is wit en manlik, twee aspekte van ’n identiteit wat aan die suidpunt van Afrika geweeg en te lig bevind is. Die skuldgevoel is soos ou klere wat toiïngs geword het, vol gate en skuur- of skaafmerke, plek-plek uitgerafel, opgedra, miskien vertroostend omdat dit bekend is, maar mens voel tog skaam as dit in die openbaar gedra word. Mens dra dit by die huis, waar niemand behalwe jou huisgenote dit dalk kan sien nie.

Vanwaar die ongemak as dié klere dan vertroostend is? Die klere is met skandes bevlek, verkeerde goed wat gebeur het, immorele optredes. Dit impliseer die draer se gedrag in die geskiedenis. Dit impliseer die bydrae van wit manlikheid tot ’n politieke bestel van apartheid, ’n patriargale samelewing waar die vrou nie tot haar reg kon kom nie, ’n heteronormatiwiteit wat homoseksuele gedrag gekriminaliseer het en tot sonde verklaar het.

Die geskiedenis het aan ons ’n warm patat gegee binne die gesprek van dekolonialiteit. Soos wat Europa in die vorige eeu hulle kolonies begin prysgee het, en soos die Sovietunie begin opbreek het in afsonderlike republieke, het ’n proses van onafhanklikheid begin. Maar dit het nie beteken dat die koloniale magte enigsins hulle magte ingekort het nie. Dit het net op ander maniere voortbestaan. Die dekoloniale wending probeer die mag wat die koloniale moondhede nog het, blootlê, want dit oefen nog ’n groot invloed op die wese en welwese van die voormalige kolonies uit. Die koloniale moondhede word gesien as ’n matriks van mag en die dekoloniale wending probeer om as teenvoeter menslikheid op die agenda te plaas en die hiërargie van verskille wat menslikheid ontneem, op te los. Met ander woorde, dekolonialiteit probeer om die wêreld oop te maak vir ander soorte van syn in die wêreld. Moet egter nie die EFF en ANC se politieke beleid as dekolonialiteit sien nie. Hulle gebruik van dekolonialiteit is opportunisties.

Dekolonialiteit is ontsetelend, want dit vra van ons wat deel van die koloniale sisteem is of was, om ons kulturele, politieke en epistemologiese vooronderstellings krities te benader. Die gevolg is dat alles omgedraai en uitgeskud word: ons bevoorregting word bevraagteken en ons twyfel in onsself en aan wat ons eens op ’n tyd as kleinode beskerm het. Dit skep “race trouble”, maar dit vra van ons kritiese betrokkenheid deur byvoorbeeld ’n epistemologiese herkonfigurasie. Dit vra ’n epistemiese weerloosheid. Dit is ’n positiewe weerloosheid wat nie gemik is op verwonding nie. Dit vra ’n eerlikheid tussen mense, want waar mense bymekaar is, is hulle bymekaar spreekwoordelik nakend, soos ’n weeskind, sonder enige verbintenis. Die een vra die ander “Moet my nie doodmaak nie.” Weerloosheid in hierdie opsig beteken empatie wat ons van stryk af bring, as ’t ware ontsetel, maar wat lei tot openheid en ’n gevoelsmatigheid vir welwillende verandering.

Dit is net met so ’n hermeneutiek van weerloosheid dat ons ons eie geïmpliseerdheid in die geskiedenis kan hanteer. Ons is grootliks implicated subjects maar in die mate wat ons aktief aan die onderhouding van apartheid meegewerk het, was ons inderdaad aktiewe deelnemers aan onderdrukking. 

 

5.     Slot: Kain en Judas

Hoe help Kain my om anders te dink in die huidige konteks in Suid-Afrika? Kain was ’n boosdoener toe hy Abel vermoor het. ’n Minder vyandige verstaan van Kain (altans minder vyandig as wat hy in die Nuwe Testament, vroeg-Christelike dokumente  en in sommige Joodse geskrifte geteken word) kan hom meer opbouend verbeel, sodat hy iemand word wat beweeg van wederstrewigheid na skulderkenning soos blyk uit sy opmerking waarop hy die merk ontvang het. Hy beweeg van broosheid (“Is ek my broer se wagter?”) na weerloosheid (“My straf is te groot om te dra”). Aan die einde van die verhaal lyk dit tog of daar vir Kain hoop is.

Binne ’n Suid-Afrikaanse konteks maak die verhaal my uiters bewus van my eie sosio- en geopolitieke plek in die land se geskiedenis en sosiale lewe. Die verhaal suggereer eweneens ’n bepaalde weerloosheid waarmee ek die demone van my eie apartheidsverlede moet besweer. As ek deur die oë van die slagoffers van apartheid kyk en dan my eie spieëlbeeld sien, sien ek ook die praktyk van witwees sedert 1948 en die gewelddadige verwonding van diegene wat nie wit is soos ek nie. Die gruwels van kolonialisme maak dat ek myself nie graag in die spieël wil sien nie. Ek staan verleë. Kan ek enigsins my “Kain-wees” omhels? Só ’n omarming sal my rusteloos, ongedurig, ongemaklik, onseker laat. Ek het nêrens om weg te kruip nie. Dit is inderdaad die moeilikste deel: om my eie aandeel in die sistemiese struktuur van onderdrukking raak te sien en te besef dat dit die rede is vir die voorregte wat ek geniet. 

Judas word van meet af aan as verwerplik geteken. Hy is die skurk en die leser bly afsydig teenoor hom. Hy is nie innemend nie. As Matteus en Lukas in Handelinge sy dood beskryf, voel mens hy oes wat hy gesaai het. Maar Matteus se weergawe stel ons voor die keuse om empatie te hê. Hy gaan deur ’n paar fases wat mens herinner aan die fases van rou (ontkenning, woede, onderhandeling, depressie en dan aanvaarding). Lukas se weergawe laat mens dink aan Antjie Krog se siening oor kansvatters en diegene wat sukkel om te besef dat kolonialisme en apartheid korrup en vernietigend was. De Klerk het nie die moed gehad om morele verantwoordelikheid vir apartheid te vat nie. Maar Matteus se Judas vat volle verantwoordelikheid.

Judas word van die toneel verwyder, maar ons as geïmpliseerdes van apartheid kyk ons slagoffers elke dag in die oë. Dit krap mens om, dit maak mens onseker van jouself. Wat kan mens doen om ons verleentheid om uitgevang te word, te oorkom? Dalk kan ons begin deur ons eie broosheid of fragility te oorkom as deel van die rouproses van die verlies aan mag. Judas in Matteus mag dalk help. Lukas se weergawe verlustig hom in sy dood. Matteus maak die deur oop na weerloosheid as ’n oopheid vir verandering en gevoeligheid. Judas erken sy skuld en reageer deur sy eie lewe te neem — hy kon nie meer met homself leef nie. 

Ek verstaan Judas se selfdood binne die raamwerk van eer en skande wat gegeld het toe die skrywers hulle verhale opgeteken het. Sy uiteindelike weerloosheid is ontstellend vir die stappe wat hy geneem het. Sy berou is nie erken deur die hoofpriesters nie. Sy berou was disenfranchised. En dis hier waar witwees vir hom/haarself ’n plek moet skep om te rou oor die verlies aan mag en voorreg, vir die ontneming (disenfranchising?) van die menslikheid van ander.