Oorwegings voor gesigseinder – onderweg op die Agtvoudige Pad
Ons spreker was Prof Kobus Kruger, wat verbonde was aan die Departement Godsdienswetenskappe by UNISA.
Hy het onlangs twee boeke die lig laat sien – die titels van die boeke verskyn hier onder. Kobus het ʼn jaar in Sri Lanka deurgebring waar hy onder andere die uitgestorwe taal Pali aangeleer het, en sy nuutste boek bevat vertalings in Afrikaans uit Pali. Ons het in sy praatjie ʼn blootstelling gehad aan die mistieke leefwêreld van die Boeddhisme, aan van die epogale omwentelings wat ons tans ervaar, hoe daar saamgeleef kan word met hierdie veranderings. Die Boeddistiese en Christelike benaderings tot sommige van hierdie aspekte toon ʼn ooreenkoms, en by ander bestaan daar verskille. Een voorbeeld van verskille is die twee Groot Gebooie wat bestaan in die Christendom; in die Boeddhisme is die Eerste Gebod nie van toepassing nie, en die Tweede Gebod is uitgebrei tot liefde vir alle lewe.
Van die ander onderwerpe wat bepreek is is daar onder andere: ekologiese veranderinge; die kosmologie; die teologie van bo-aardse wesens en opperwesens; die verband tussen lewe en bewussyn; wat is mitologieë – is dit slegs “stories”; drome en naby-dood ervarings; boosheid – is dit dalk ʼn oer-dualisme tussen twee magtige wesens; etiek – hoe kan mens goed lewe.
Dan het Kobus ook gepraat oor die verskillende religieë en dan meer spesifiek ook die Christendom en die Boeddhisme. Hy het die term “religieuse apartheid” gebruik, wat beteken dat elke geloof sê dat hulle en slegs hulle oor die volle waarheid beskik. Ons het ʼn krities-konstruktiewe benadering nodig ten opsigte van ander gelowe. Alle gelowe het per slot van sake ʼn hunkering na ʼn onbereikbare, na ʼn uiteindelike swye, en na ʼn omvattende vrede. Die dood vir almal is ʼn terugkeer na die kosmos waarvandaan ons gekom het.
Die titels van die twee boeke is:
Oorwegings voor gesigseinder (uitgegee deur Naledi Uitgewers)
Verskyning en verdwyning van ‘n verligte mens (uitgegee deur AOSIS in Kaapstad).
Albei is verkrygbaar by die Pretoria Kunsvereniging in Mackiestraat.