Algemene Jaarvergadering (AJV)

Johann Basson wat as Tesourier vir die UK optree, het uitgewys dat die NHN se finansiële situasie vir die jaar 1 Januarie tot 31 Desember 2017 gesond is, ofskoon ‘n geringe tekort weerspieël word. Dit is hoofsaaklik te wyte aan uitgawes vir die video-opnames, wat beteken dat die NHN uit sy beleggingsrekening tap om bedryfskoste te finansier. Om te verseker dat ons begroting klop, is dit ‘n saak wat in die nuwe jaar aandag sal verdien.

Lokaalbydraes wat by wyse van die ‘blou sakkies’ by die deure ontvang word, is ook steeds onvoldoende om die Midrandbyeenkomste te dek. Die jaarlikse NHN-fooie sal deur die nuwe UK bepaal word.

In haar Voorsittersverslag lig Johan Talma uit dat die NHN ‘n redelike suksesvolle jaar agter die rug het. Sy verwys na die groot verskeidenheid aanbiedings, waarvan sommige hoogs stimulerend en interessant was, asook die Seminaar, die Nuusbrief, webblad en Facebook.

Sy spreek die mening uit dat die NHN ‘n randverskynsel is, weliswaar ‘n positiewe een. Dit verklaar dat ondanks ons uitreikpogings na enersdenkende groepe, ons getalle steeds klein bly. Ook hier sal aandag nodig wees, omdat enige organisasie van welke aard ookal, noodwendig móét groei om nie te stagneer nie.

Onder leiding van Pieter Botha is oorgegaan tot die verkiesing van ‘n nuwe UK. By die eersvolgende UK-vergadering sal ‘n nuwe voorsitter aangewys word. Die lede is (alfabeties volgens voornaam):

Annamarie Steyn Johan Talma
Babs Basson Phil Steyn
Gerrit Genis Sakkie Spangenberg
Jaco Budricks Sam Basch
Janneke Erasmus Willem Semmelink

Hierná het ons heerlik saam gekuier om die kostafels tydens die eerste gesamentlike ete van die jaar.

Europatoer 2019
Op inisiatief van die UK wat Pieter Botha verlede jaar genader het om ‘n toer na Europa of Turkye te lei, het hy ‘n kort aanbieding gemaak gefokus op ‘n moontlike besoek aan Italië. Dit is die bestemming wat meer geredelik vir ongeveer 18 dae tussen Maart en Mei 2019 gereël kan word.

Instede van ‘n toergids in die tradisionele sin van die woord, sal Pieter as uitnemende kundige ons eerder blootstel aan die Romeinse kultuur en hoe dit tot stand gekom het. Dit lê soveel van die Westerse kultuur waaruit ons kom ten gronde.

Hoewel ons sover moontlik alle reëlings self sal tref om koste te beperk, maan Pieter dat dit steeds ‘n duur onderneming sal wees waarvoor ons nou reeds moet begin spaar. Ons is tans besig met navorsing oor logistiek en akkommodasie (wat darem van ‘n behoorlike standaard sal wees). Vir die lang trajekte soos Rome na Florence, en Rome na Napels, sal ons van Italië se moderne Frecciarossa (Rooi Pyl) sneltrein gebruik maak, en waar nodig ander openbare vervoer of die huur van ‘n bussie.

Daar is reeds belangstelling en ons beoog binnekort ‘n eerste byeenkoms om reëlings te bespreek. Die volgende Nuusbrief sal meer inligting verskaf.

Heelwat van die beplanning word beïnvloed deur getalle. Diegene wat dus voorlopig beoog om die toer mee te maak, moet asseblief onverwyld met Johan Talma (talma@mweb.co.za) skakel. Dit sal jou in hierdie stadium nog nie verbind nie!