Deur: Sakkie Spangenberg
Die godsdiensdebatte die afgelope twee tot drie jaar toon duidelik dat twee groepe teenoor mekaar staan. Die een groep beklemtoon die tradisionele Christelike dogmas. Die ander groep beklemtoon die nuwere feite wat drie eeue se intensiewe Bybelnavorsing en wetenskaplike kennis aan die lig gebring het.
Kom ek illustreer die verskille aan die hand van die leerstuk oor die sonde. In die tradisionele sondeleer speel die volgende Bybeltekste ‘n belangrike rol: Genesis 2–3; Psalm 51:7; Romeine 5:12, 18–19. Die kerkvader Augustinus (354–430) is grootliks vir hierdie leerstuk verantwoordelik. Volgens hom was daar ‘n oer-egpaar: Adam en Eva. Hulle was die heel eerste mense en is ongeveer 6 000 jaar gelede geskep. Hulle was perfek en sondeloos. Die tuin waarin hulle gewoon het, was onoortreflik. Daar was nie winde wat huise kon omwaai en reën wat landerye kon verspoel nie. Hulle het nie sonsteek geken nie, ook nie mangel- of blindedermontsteking nie. Hulle wêreld was ‘n perfekte een.
Hierdie perfekte wêreld het egter op ‘n dag in duie gestort. Eva het haar nie gesteur aan God se gebod dat hulle nie van die boom van kennis van goed en kwaad mag eet nie. Die slang het haar met slingse redenasies oorreed om van die vrugte van daardie boom te eet. Sy het geëet en ook vir Adam daarvan gegee. Toe God hiervan te hore kom, het Hy hulle uit die tuin verban en beide swaar strawwe opgelê. Adam sou van toe af hard moes werk en Eva sou swaar aan kinders geboorte skenk. Ook die slang is gestraf. Van toe af moes hy op sy pens seil en hy en die mens was permanente vyande.
Die oersonde het tragiese gevolge gehad — alles en almal was nou stukkend. Niks en niemand was meer heel nie. Oor hierdie pynlike toestand skryf Dawid in Psalm 51:7: ‘Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.’ Eva en Adam se ongehoorsaamheid het soos ‘n virus die totale mensdom besmet.
Paulus redeneer egter in Romeine 5 dat alhoewel Adam se ongehoorsaamheid sonde, ellende en dood in die wêreld ingebring het, het Jesus hierdie dinge omgekeer. In die plek van sonde staan vergifnis en vryspraak. In die plek van ellende is vreugde en voorspoed. En in die plek van die dood, opstanding en ewige lewe.
Dis kortliks die tradisionele Christelike leer oor die sonde.
Bybelwetenskaplikes het egter oor die afgelope driehonderd jaar Genesis, Psalms, Romeine en al die ander Bybelboeke intensief bestudeer. Hierdie studies het uitgewys dat die tradisionele leerstuk oor die sonde op interpretasies berus wat nie steek hou nie.
Ek noem slegs enkele voorbeelde.
Daar is twee skeppingsverhale (Gen 1 en Gen 2–3). Nie een van hierdie verhale kan as geskiedenis geklassifiseer word nie. Daar was dus nie ‘n regtige Adam en Eva nie. Hulle is slegs verhaalkarakters. Genesis 2–3 vertel nie die verhaal van hoe sonde in die wêreld ingekom het nie, maar hoe die mens die kans om vir ewig te kan lewe, verbeur het. Daar was immers ‘n tweede boom in die middel van die tuin — die boom van (die ewige) lewe! Die slang het Eva van daardie boom weggelok en haar vrugte van die boom van kennis aangebied. Die slang is nie die Satan nie. Latere vertellings en dogmatiese leerstellings het hom met die Satan gelyk gestel. Maar volgens híérdie verhaal is hy dit nie. Die slang is ook ‘n verhaalkarakter en soos ander dierekarakters kan hy praat.
In Psalm 51 is ‘n gedig wat kennelik nie deur Dawid geskryf is nie (vgl Ps 51:20), maar deur ‘n onbekende persoon ná die Babiloniese ballingskap (587–539 vC). Die opskrif ‘’n Psalm van Dawid’ is ‘n latere toevoeging. Dit geld ook van die woorde ‘toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Batseba ingegaan het.’ Al die psalms was aanvanklik sonder op- en byskrifte geskryf. Die woorde: ‘Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang’ (Ps 51:7) het niks met erfsonde te doen nie. Ons het hier met hiperbool (oordrywing) te doen. Die digter betreur sy eie geneigdheid om verkeerd te doen.
In Romeine 5 speel die Wet ‘n oorheersende rol en stel Paulus die tweede Adam (Jesus) teenoor die eerste Adam. Wat opval is dat Paulus Eva nie vermeld nie. Waarom? Eva kan nie die teenhanger van die manlike Jesus wees nie. Vroue is halfwas mense. Mans is die eintlike mense. Paulus se beheptheid met die Wet hou verband met die feit dat hy vroeër ‘n Fariseër was. Die Wet het vroeër sy geloof gedefinieer en sy lewe gerig. Volgens Paulus is daardie tyd vir goed verby. Jesus se kruisdood en opstanding definieer nou sy geloof en rig sy lewe. Volgens Paulus het die Wet geen rol meer te vervul nie. Dit verdien geen plek meer in mense se verhouding met God nie.
Misken toegewyde Bybelwetenskaplikes sonde? Allermins. Hulle sê: ‘Lees die Bybel weer — mense is nie sondaars omdat hulle só gebore word nie, maar omdat hulle verkeerd kies en handel . Ons ís nie sondaars vanweë die misstap van ‘n oervoorouer nie, maar ons kan daagliks sondaars word.’
Hier is ‘n aantal aanhalings uit onlangse publikasies as bewys dat ander geleerdes die oortuiging deel dat die Bybel (en spesifiek Genesis 2–3) nie gewag maak van erfsonde nie. Die gedeelte voer ook nie aan dat die dood deur Adam en Eva se toedoen in die wêreld gekom het nie. Luister hoe stel Alastair G Hunter (‘n Skotse Ou-Testamentikus) dit:
We were not ( pace Augustine) created evil; our birth is not inevitably contaminated by the genetic inheritance of a mythic fall from grace. It has always puzzled me that intelligent people, who are well aware of the nature of genetic processes and evolutionary biology, can still propound the inexpressible nonsense that, because some legendary forefather and mother committed wrongdoing, bad blood has somehow entered the human race.
James Barr (‘n ander bekende Skotse Ou-Testamentikus) skryf soos volg hieroor:
The thought that all death, at all times and in all circumstances, is due to a primeval fault is difficult to take seriously, and all the more so when we perceive that Old Testament scripture by no means supports this idea. Similarly, the belief that God really, on the ground of a fault committed by two humans in the beginning of the world, ordained death as a destiny for all later humanity, throughout history, has truly staggering effects on the idea of God.
Now modern Old Testament scholarship has, I think, been agreed that the auline use of the story (we should call it a use rather than an interpretation) does not fit the actualities of the text. In that sense, even if Brunner may have brushed aside Köhler’s judgement in 1926, competent scholarship has continued to conclude that, at least on the negative side, Köhler was right. The story of Adam and Eve was not the story of the ‘Fall of Man’ in the traditional sense. At the end of a survey of mainstream modern scholarship, Sibley Towner (1984:81) pronounced it as ‘univocal in all the literature of the main stream’ that:
There is no Fall in scripture, if by Fall one means the doctrine of the shattering of the divine image in humankind, the loss of immortality at an early moment in human history, and the inexorable transmission of the original sin through human genes ever after. There is no account of the origin of evil and no primeval encounter with Satan.
En hier is ‘n paar sinne uit die pen van Anne Primavesi (‘n vroulike teoloog):
Since the time of Augustine, mainstream Christianity has held that without Adam’s sin, there would be no death. But because Adam sinned and left us prey to the power of death, we need a saviour. The ‘anthropo-logic’ implies, indeed states, that we human beings were distinguished from all others by being created by God to live forever. Our salvation by Christ means that God’s purpose stands, and that we alone, out of all species, are to be exempt from death.
Die leer oor die erfsonde en die leer van die dood as ewige straf op sonde is uitgediende leerstukke wat in ‘n argief hoort. Augustinus se kennis van Hebreeus was gering en hy het op grond van die Griekse en Latynse vertalings hierdie rare leerstelling geformuleer. Sy siening berus nie op goeie eksegese nie, maar op filosofiese aannames wat ons nie meer kan onderskryf nie. Evolusionêre biologie en die studie van menslike gene maak dit ook vir ons onmoontlik om aan hierdie leerstelling te bly vasklou.
Opgedateer op : Wo 25 Jan 12