MR Byeenkoms: Sondag 20 Januarie 2018
Die NHN beskryf hulself as ʼn netwerk van kreatiewe denkers wat vrylik gesels oor soeke na sin, wat mekaar met idees stimuleer en inspireer en hierdie lewe in die ‘nou’ as ʼn kosbaarheid uitleef.
Hier gesels ons graag, maar ons luister ook graag na mekaar. Soos vandag, hier, nou, in Midrand, op ʼn tyd wanneer sommige van ons geliefdes, vriende, familie en kollegas in die kerk sit.
En dan is dit allermins dat ons nie kerk het nie; dis net eerder soos Coenie de Villiers dit stel:
In my kerk is daar geen dak nie,
geen reliëf of skildery,
geen kandelaar wat hoog moet hang nie.
Almal kan hier toegang kry,
want my koepel is die hemel,
hoog genoeg vir al die sterre,
breed genoeg vir die planete.
In my kerk is daar geen mure
wat die horison beperk nie.
Daar’s geen deure en geen slot nie,
geen register om te merk nie,
want die berge is die suile
waar die arende kan skuilhou.
Ja, die vlaktes is my vloere.
In my kerk is daar geen vensters
wat met brandglaskleure blink,
geen nagmaalbrood wat jy moet breek
of wyn wat iemand nog moet skink nie,
want in my kerk sien jy die kleure
in die skemer as die son sak
en die laaste wolke saampak.
In my kerk is daar geen koor of
orrel wat die rus verstoor nie.
Hier vra niemand vir jou geld nie.
As jy bieg, sal niemand hoor nie,
want die storms is perkussie
en die wind wat nooit wil rus nie
maak musiek in al die bome.
Hier sal jy stilte,
hier sal jy vrede,
hier sal jy rus by My kom kry.
Die “kritiese en verantwoordelike nadenke oor menswees” waarvan ons in die NHN se visie lees, bekyk menswees vanuit vier hoeke; internetbesoekers aan die webblad herken dit as die vier dinge waaroor hier besin word: Religie; Ons plek in die kosmos; Samelewing, en Individu.
So, toe Sakkie my verlede jaar nader hark om te hoor of ek nie ʼn voordrag of voorlesing wil kom lewer nie, het die Afrikaans-onnie wat ek is, dadelik gedink om Afrikaanse tekste te kom deel wat myns insiens aanklank sou kon vind by die denke van die NHN, in die hoop dat die lede op hul beurt wedersyds daarby sou kon aanklank vind – tekste wat egter nie net raakpunte sou kon hê met die denke van die NHN nie, maar ook die ervaringswêreld van die mense wat ek op Midrand-byeenkomsbesoeke leer ken het.
Dis die eerste byeenkoms vanjaar, Krismis is nog nie eers ʼn maand verby nie – wie onthou, soos die digter hier, nie ʼn stille nag nie, maar soos die titel van die gedig lui, ʼn skrille nag:
skrille nag
ete is lemoeneend met donker
sjokoladesous, die wyn vonkel
in geslypte glas, vonkel bont
ligbruggies op die tafeldoek
ons saamtrekke is nou kleiner
en meer ingetoë; kuikenlose
broeipare verteer saam-saam
die teksture van verlies
ons grap flou woordspelings –
die rifrug op die persiese mat
lek sy pere –
en maak of ons lag want ons weet
ons weet die nagkakkerlak sit alreeds
op die trappe en wag vir die kleinste
krummels kaas hierdie derde kersfees
van plastiekbessies in die kunsblarekrans
hier is geen
sneeu nie, geen
vuur in klipkaggels nie
hier luister ons mos
vir skelm geluide teen vensterknippe
vir die ligte roering van jellie
in die trifle
ons hou wag by wit kerse
oor die stad en die veld en die doringbome
skeur die kiewiet se roep
lang repe uit die nag –
kiewietjie dunbeen dra ons
krismisse weg in rooi tone
ons hande kleef soos honger
seekatte aan selfone
ons boodskappe hang
aan drade onder kristalkandelare
middernag stuur ons sms’e
satelliete vol soene
aan ons kinders in kanada
Straks nie middernag Oukersaand nie, miskien dan eerder Oujaar. En ook nie noodwendig Kanada nie.
Ek het hier ʼn digbundel in my hand, Groen – gedigte oor die omgewing. (onthou, ons besin oor ons plek in die kosmos) Ek maak oop by ʼn gedig. Enige gedig. Weet iemand wat hier staan? Nee, niemand nie, want dis woorde op papier, ink op papier – dit beteken niks nie, beteken nog niks nie. X sal jy vir ons lees wat daar staan:
Mammoete was harig,
mammoete was groot
Maar ek voel so aardig
Want almal is dood.
Mooi! Wie het betekenis aan die swart inkmerke op wit papier gegee? X, wat die woorde gelees het, Ons wat na X se woorde geluister het? Wie gee betekenis aan ʼn gedig? Nie die digter nie – die digter gee vir ons woorde op papier. Ons gee betekenis, maak sin, ons eie sin, vanuit ons perspektief.
(Wys ‘n kaart.) Hier is Waverley, waar my eerste pos was, hier is my skool, hier het ek gebly, en dis die pad wat ek skooltoe gery het. Hier is die pad van daar bo af skool toe. Ek was lief om vir die kinders te vertel hoe onverantwoordelik en vinnig ek die vorige nag daar afgery het, sonder om eers by een van die stopstrate te stop, so haastig was ek. Ek dink nie ek het al ooit, trouens ek dink nie iémand het al ooit so vinnig, kwart voor sewe in die aand, in Fry-straat afgejaag nie.
Dan vra ek hoe vinnig ek gery het. Hier antwoord een 120, daar 140, party raak waaghalsig, vergeet ek ry ʼn Volksie en antwoord 160. ʼn Ander vermoed onraad en waag 70. As ek so 6 of 7 verskillende antwoorde op my vraag in die hoed het, dan ruk ek die haas uit: my maksimum spoed, nie dat ek dit vir ʼn uur sou kon volhou nie, was hoogstens 30 kilometer – ek was op my fiets.
Dan snap die leerders, die betekenis wat hulle aan ʼn gedig se woorde heg, is nie noodwendig die betekenis wat die digter aan dieselfde woorde geheg het nie. Die leser werk met woorde op papier, nie met die digter se gedagtes nie. Die digter heg sy of haar betekenis aan die woorde, die leser sy of haar eie betekenis.
Ek foeter daarom weer Krismis toe, nie moedswillig nie, maar omdat dit hierdie pas afgelope gedagte mooi kan illustreer. Hierdie keer lees ons nie van skrillenag nie, maar wel die meer bekende stillenag – en aan die woord is Eveleen Castelyn, ʼn nou al oorlede ouma, wie se kleinkinders die laaste paar jaar by my skool onder die skoolbanke inskuif:
Vaderkrismis
rekordverkope:
stillenag weergalm
geldklokkies lui
vaderkrismis op ʼn vergulde stoel
in die O.K.-basaar, verleen
oudiënsie aan die kinders,
sweet van sy aanskyn
tap oor sy wang
op die wattesoom
van ʼn rooi pousrok,
voetsole brand,
weerprofete bring die goeie
tyding: dit sneeu in Bethlehem!
die Merrykrismiskind
is weer gebore
vir die bloedige fees
van silwerstukke en soene
Eveleen, diep gelowige Christin wat sy was, sou beslis wou dat lesers die afwesigheid van Christus in die Kersfees wat sy hier skets sal raaklees. Die wat met ander, minder ortodokse oë, na Kersfees kyk, lees dit ook raak, maar vir een staan die verwording van die eietydse Kersfees eerder uit, vir ʼn ander die kommersialisering van die gebeure.
Die NHN kan lieflik met Castelyn in gesprek tree, sy besin ook oor ons plek in die kosmos:
Gestorwe planeet – Eveleen Castelyn
Aërosolkannetjies pons gaatjies
in die dun osoondoek rondom
die aarde gespan –
toe smelt die pole,
seevlakke styg, uitgelate
gifgasse klim van onder
tot bo in die Hemel
en die Here alleen weet
wat het geword van die groen
gordels reënwoude
wat Hy geplant het.
Stofgepoeierde karkasse draf
oor die ver verlate vlaktes,
in die skoot van die skatkamers
edelgesteentes en minerale
rus dromme kernkragafval
TOT IN DOOMSDAY
Tjernobil en Three Mile Island
se halfleeftyd-uitstraling!
Menslike faeces in die bergstrome:
riviere mond uit in ’n riooloseaan,
perdjies met blink
gekamde olieswart kuiwe
en skuimende rasende bekke
slaan dood neer, gevrekte visse
en voëls soos skulpe uitgespoel
op die strande, sing die swanesang
van ’n verlore paradys – gestorwe
planeet gemaak
met mensehande!
Ek snoer my onniebek, maar ek wil net met u die kontrasterende prent van Poseidon se kragtige wit hingste deel wat elke keer in my gedagtes kom as ek lees van die “perdjies met blink gekamde olieswart kuiwe en skuimende rasende bekke” wat dood op die strand neerslaan.
Eveleen Castelyn kyk ook saam met ons na die problematiek van die eietydse samelewing en die moderne mens in die stad. En ek herinner aan DJ Opperman wat al gesê het: Skrywers sal al hoe meer en meer van sprokies gebruik moet maak om die waarheid te vertel.
hansie en grietjie
daar was eendag ’n woud
aan die kant van die son,
die maan is ’n flou olielamp,
saans brand honderde kersies,
die volgende môre word die kindertjies
afgelaai by die heks se huisie
hulle huil tot vanaand
na-vyf, na-werk kom die
stiefmammies en -pappies hulle haal
met ’n ysterswaan
die nuutste model blaas rook
en jaag oor riviere teer
tot by kelders parkering
dan word hulle opgehys
gebad en gevoer in ’n hok
moet hulle soet gaan slaap
een nag het hansie en grietjie
weggeloop, bo-oor die tralies geklim
en fyn en flenters geval
op die paadjies sement
ver van die huis af
In die Afrikaans-klas, doen ons poësie, wys ons die kinders altyd daarop dat dit nogal ʼn bonus is as die vorm van die gedig (die HOE van die gedig) gelyk is aan, ooreenstem met, aansluit by, die inhoud van die gedig.
By hierdie gedig sal ons byvoorbeeld wil dat die leerders insien dat die afwesigheid van strofebou, rym, hoofletters, die wisselende verslengtes en volgehoue enjambement, mooi aansluit by die moderne, gejaagde lewe in die stad.
Ek vra in 1990 vir ʼn matriekklas voor my, dat die kinders na die vorm van die gedig moet kyk en my dan sê hoe dit by die inhoud aanpas. Nadat ons reeds al die moontlike raakpunte op die tafel had, gaan regs agter in die hoek ʼn hand op – en dan moet u weet: onnies sien nie sommer die hande in die agterste hoeke opgaan nie – daar is redes hoekom party hande die agterste, kanthoeke van die klas kies om te gaan sit. En daar gooi een van die minder skerp messe in die laai, nie ʼn Stuiwer in die armbeurs nie, maar ʼn Riksdaalder wat ek vandag nog onthou – hy het so laag, op sy stuitjie op die stoel gelê: “Meneer,” sê hy, “as Meneer die bladsy vat en jy draai hom links om op sy sy, dan lyk die vorm van die gedig nogal soos die buitelyne van ʼn stad.”
So ʼn antwoord buite die boksie verdien mos spesiale vermelding.
***
Genoeg van die Ouma wie se kleinkinders by my in die skool is, maar ek is nog nie klaar met die skool óf met Kersfees nie.
Stefan Bouwer het in 1967 by ons op Menlopark matriek geskryf. Hy was hier in die tagtigerjare verantwoordelik vir seker Afrikaans se mees bekende graffiti. Dié wat daardie jare op die RAU geswot het, sal dit onthou, onder teen die onderste wit muur by die SAUK, daar waar mens regs draai RAU se kant toe: “Hezkiël 2:13: God weet, so kan dit nie aangaan nie!”
Dit wás die 1980’s, die groot krokodil was aan bewind en die oorlog op die grens was op pad townships toe.
Gedurende sy studentejare skryf ook hy ʼn Kersfees-gedig – en hy noem dit: Weer op Ouma Pollie se plaas
Kersfees is nie meer dieselfde nie… en tog
Dis dieselfde ou plaas
En dieselfde ou boom
Wat weer vanjaar in die voorhuis staan
Maar die tertjies en die gemmerbier
Het saam met my ouma minder geword
En vanjaar was daar niks
Net die liedjies van die volkies.
Maar die vlaktes
En die lug wat te veel sterre het saans
Laat my keel toetrek
Ek verlang na die grootstad
En my vriende.
Kersfees en ek
Is nie meer dieselfde nie.
Ek kom’n bietjie later weer terug na die gedig, maar wil net eers ʼn draai in my eie studentejare maak: Ek het op die PUK geswot en daardie jare had ons van ons tweedejaar ʼn verpligte vak – Interfakultêre Wysbegeerte. Hierdie vak moes dan nou die C in die PU vir CHO, Christelike Hoër Onderwys, sit. Ek onthou een les goed: Dr Peet van Rensburg het gekom en ʼn berg op die bord geteken.
Ek het hier die berg by Fort Mistake in Natal wat ek in standerd 5 op die skool se Natal-toer moes uitklim. Ons het onder gestaan en gesien wat ons moes op, maar toe ons bo kom, toe sien ons daar is ʼn tweede opte, en toe ons dié ook op is, toe wag daar ʼn derde opte wat laas nie sigbaar was nie – en toé nóg een, maar toe bly ek agter want ek het gehoor hulle gaan almal weer dieselfde pad moet afkom.
Toe teken hy ʼn pad wat na die berg toe lei, met ʼn mannetjie en vertel my presies wat ek in standerd 5 aan eie bas gevoel het. Aan die begin kyk jy na die berg, en wat jou opval, wat jy raaksien, is dit.Later fokus jy lank nie meer daarop nie, nou sien jy dit raak. Nog verder, nog later, betrag jy die berg so – weer ander horisonne.
U sou opmerk die mannetjie het nie bergop soos ons by Fort Mistake gestap nie – bloot verder op die pad. “Want die berg is nie ʼn berg nie,” het Dok Peet gesê, “dis ʼn gedig, ʼn skildery, ʼn boek, ʼn opera, ʼn standbeeld. En die mannetjie op die pad is nie maar net ʼn mannetjie op ʼn pad nie, dis jy op jou lewenspad.”
En dis hoekom ʼn fliek soos The Champ, of Terms of Endearment, jou vreeslik kan aangryp, maar kyk jy dit tien jaar later weer, is jy teleurgesteld en kan jy nie glo dat jy laas so snot en trane getjank het nie – dis dieselfde fliek, dieselfde akteurs, niks aan die fliek het verander nie – dis jy wat verander het, dis jy wat nie meer dieselfde is nie.
En dis die slotsom waartoe Stefan Bouwer rondom daardie Kersfees op Ouma Pollie se plaas kom. Kersfees, en ek, is nie meer dieselfde nie.
Jy kan, soos Heraklites gesê het, nie twee keer in dieselfde rivier stap nie. En dit het niks met die water wat verby is te doen nie, maar met jou – jy is nie meer dieselfde een as laas nie.
ʼn Herbesoek aan of herontmoeting met byvoorbeeld ʼn gedig hóéf natuurlik nie noodwendig op teleurstelling uit te loop nie. Jy het gegroei en ontgroei, jy kom tot nuwe insigte, ander insigte, en ja dit is moontlik dat sommige aansigte op die berg jou nooit beskore sal wees nie.
Hier by die NHN het ons aangestap, maar ons vergeet nie waarvandaan ons kom nie. Partykeer kan ons ook omkyk, terugkyk, omdat ons al verby gestap het en steeds verwonderd bly staan, al praat ons en die teks lank nie noodwendig meer uit een en dieselfde mond nie.
Dis wat ek graag doen met twee gedigte van ʼn propper dopper en eertydse rektor van die Teologiese Skool Potchefstroom, PW Buys. Hy noem sy gedigte Sinekdogee 1 en Sinekdogee 2. Sinekdogee, vir die van ons wat in jare nie met stylfigure in die letterkunde te doen had nie, is die stylfiguur waar die gedeeltelike gebruik word om die geheel op te roep: Die Wit Huis het oorlog verklaar, en dan bedoel ek Amerika en nie Trump nie. Die vrou het haar hare gekartel en as sy by die werk kom vra ʼn kollega: “En watse bos hare kom nou hier aangestap”. Jy noem jou meisie Sproetjies, (liefling en ek neem saggies haar hand.)
Eintlik verklaar die aanhaling wat Sinekdogee 1 se titel vergesel, dit goed:
To see a world in a grain of sand And heaven in a wild flower
Hold infinity in the palm of your hand And eternity in an hour ̶ Blake
In die begin het God hemel en aarde uit niks
geskep
− Toe was hy daar.
Vulkane het hom gloeiend uit
die ingewande van die aarde
opgespuit,
berge van gestolde lawa, kiesel en basalt
met hom gebou.
Oervloede het oor hom
gespoel,
hom eroderend losgewikkel en –gewoel
en afgeskeur uit sy verband;
riviere het hom meegesleur,
hom in die bedding neergelê
en as versteende neerslag daar vergeet.
Orkane het millenniums lank oor hom
gewaai,
die bruin sedimentêre rotse fyn gemaal
tot ʼn woestyn.
Die nagwind het hom êrens
opgetel
en na ʼn swerftog van miljoene jare
vroeg vanmore op my vensterbank
laat val.
Hy rus
nou doodstil op my hand,
die korrel sand,
ʼn oomblik
en
ʼn ewigheid.
Sinekdogee 2 het as onderskrif ʼn sinsnede van Marsman: atoom en kosmos beide
Die korrel sand
wat op my handpalm lê,
is van die kluit, die sooi,
die akker, en die land,
die plaas en die distrik,
provinsie, vaderland,
die kontinent van Afrika,
die aardbol en die sonnestelsel,
Melkweg met miljoene sterre,
groot heelal
waar pulsars flikker
en biljoene blink vuurballe
onmeetlik op hul bane snel
tot aan die grense van ruimte en tyd
waar lig in duister eindig
ʼn onderdeel.
En die verband:
U hou dit alles in die holte van u hand.
Ons kyk met ander oë en weet: wat ons klein silwerige planeetjie betref, is baie, meeste, alles vir so lank ons dit toelaat, in ons hand. En dit is asof alles nie so veilig in die holte van ons, die mens, se hand is nie, laat staan nog in ʼn god se hand.
Dis Saul Barnard in Dalene Matthee se Kringe in ʼn bos wat my aan die bloubokkie bekend gestel het: “’n Bloubokkie se gal sit nie in sy kop nie.”
Oor dié bloubok skryf Johan Lodewijk Marais, julle het al ʼn uitstappie met die man gehad, só:
BLOUBOK
Hippotragus leucophaeus
Ek wil in my vers ’n bloubok laat loop
in vlaktes Kaapse gras voor die invoer
van skape in 400 n.C.
en ons klein historie van skiet en skiet
om trofeë op die voorstoep te hang.
Voor geweerskote sou klap, wiele rol
en hartbeeshuise diep die binneland
intrek, het in klein troppies of alleen
dofblou, byna grys, die bloubok gewei.
Die kop (bruin voor en ligter aan die kant)
sal hy flink optel om te kyk na klip
en grasveld tot teen die gekartelde
horison waar gletsers talmend skuif.
In Smithers se taksonomie geskryf
hy (volledig) smal, gepunte ore
’n liggekleurde bolip en die mooi
geriffelde horings se egalige
kurwe (kyk bl. 699).
Die bene met strepe aan die voorkant
en die donker stert wat by die hak hang,
verdof in ’n glaskas in ’n museum.
Dan tree hy luiters wei-wei uit die tyd
asof hy loskom uit gesoute velle,
opgestop en onsigbaar vasgenaai,
werkliker as uit François le Vaillant
se kwas van 1781.
Van die bloubok se draf oor sagte gras
en sy spore oor die vlaktes bly slegs
die taksidermie van die vers intakt.
Kyk waar kuier ons vandag? Op Midrand. Wie onthou dat daar vir jare langs die N1 snelweg, naas nou Halfweghuis, net twee besighede tussen Pretoria en Johannesburg was? BMW en Johnstone & Johnstone. My ouers het daardie jare vertel die dag gaan kom dat Sodom en Gomorra en Pretoorsdorp eendag één gaan wees. Let ‘n bietjie op na die pad as u ʼn bietjie later huis toe ry.
SJ Pretorius verwoord die stadsuitbreiding naby Darrenwooddam só:
Stadsuitbreiding Naby Darrenwooddam Vir Anna
Kyk oor dié laaste lappie kosmos:
geen enkele skoenlapper nie! Ook dáár,
die melkbosplaatjie: niks, niks nie!
Maar vroeër! Kan jy nog onthou hoe was dit hier
een wufte vlindervlerkballet;
kleurkermis; één geluksbasaar
waar rooiswart-en-geel-onderbaadjievinke
skerts en baljaar
en langswartvlegselflappe sleep oor gras?
Mossiegeslskap in die fluitjiesriet;
vinkborrelgeselligheid! En tortelduiwe
wat druiftrosklanke hang aan ligpriële
en herfsdae, slaapstil ure lank,
yl kokkewietkerjuin oor stoofstil bulte
en kiewietliede wat sonblink aandglase
fyn met goudfiligraan versier.
Onthou jy ook nog hier
hoe dié stroompie skertsendsag
tussen die blomme deur gelag,
waar hy nou vuilgekors,
geelsugtig, wurgend sukkel tussen klippe,
blikke, stukke plastiek en skrootgemors?
– Heeldag stofstert die swaar vragwaens verby
en staal stootskrapers skerpioen
en vaal kruiptrekkers dol en hol
met bekkevol molgrond en voëlnespolle!
En o! Onthou jy nog die ou kommandovoëls se lied
wat ons so baie jare snags kon hoor
crescendostygend teen die maanverskiet,
nou als doodstil geword voor ʼn gerommel
soos waar ʼn honger reus graaf in ʼn trommel?
En hierdie yl korhaangeroep
wat ons nog teen die voordaggloed
kon hoor, vol landelike vrede
soos vyftig jaar gelede,
kom teen die stadsgedruis
nou daagliks heimweesagter ruis,
totdat ons weet, in groeiende weemoed,
dis eindelik van hul oer-ou huis
en ons, vier goed
hul afskeidsgroet.
Ek weet nooit van watter paradysvoël ek ʼn prentjie moet oproep in George Louw se gedig, Paradysvoël nie. Is dit sommer ons Afrikaanse Flap of een van die propperse Birds of Paradise. Hy skryf:
Paradysvoël suig die heuningdou,
seun sluip nader, vas van klou.
Paradysvoël dartel hangstert verder
seun lê aan: laksman, spelbederwer.
Paradysvoël lig en vrolik, borrel
oor van kleur. Seun vat foutloos korrel.
Paradysvoël sidder, hap die lug, plegstatig:
wees die dom seun tog genadig.
Maar met die laaste Vuurwerk, eeue later,
Paradysvoël, is Jy terug: volmaakter.
ʼn Vers, om af te stap van die omgewing, waar ons onnies mal gaan oor VORM = INHOUD, is Johann de Lange se KROKODIL
KROKODIL
Vir Ina Rousseau
Die krokodil hang
aan sy gemmer oë
van die watervlak
— oë van ‘n kat
vertikaal gekeep —
hang aan sy snoet
’n growwe stuk
boomstomp
die romp en pote
dryf roerloos
onder
roofdier
van die water
op wag
vir die wulp
of ekster
die vet kikvors
op die kaaimansblom
die bont rietpadda
met kwikbene
beweeg hy
dan trappel
die stert en pote
‘n ligvoetse
onderwaterse ballet
op land
sy maag laag
teen die sand
krink sy hakke
in ‘n komieklike
lomp waggel
hy lê in die son
met sy bek oop
met sy antieke
tydlose gryns
om hom klik
en gons insekte
sy lê eenkant
haar eiers slu
in die grond
uitoorlê selfs
die sluwe maraboe
met sy snoeperige
snawel –
opgesnipper
en uitgeknip
gepoleer gepatroon
en fyn gestik
word hy iets ligs
oor ‘n vroulike
skouer geglip
maak hy oop
en toe
om allerlei
kleinighede te sluk.
As ʼn mens dan nou Johann de Lange se Krokodil langs De Waal Venter se Maraboe sit, dan wonder ek altyd of De Lange wat VORM betref nie by De Waal gaan kers opsteek het nie.
Wat inhoud betref, wil De Waal weliswaar geensins met ons in gesprek oor die natuur tree nie – ons beweeg oor na die samelewing-been waaroor die NHN gesels, in besonder van die ooms wat ons Boetmans en Oususse in ons lewe so goed leer ken het.
Die Maraboe
Die
Maraboe
se kop
is vol
ou donse
boe boe
Maraboe
hy
loop en
knik met
sy vaal bene
hy
kom vir
my ʼn
sedepreek
preek
en
my bekeer
sy
beenderige
ou
bek knabbel
aan
halfvrot
woorde
wat op
die grond
lê
en verlep
Dan is daar ook woorde wat ons nié op die grond kan los om te verlep nie – soos byvoorbeeld as die munisipale werkers praat.
Die munisipale werkers praat
Ons is die manne met die blou overalls
wat in die koue winters
met winterhande lang slote in die aarde grawe.
Ons is die manne wat in nat overalls sweet.
Drie dae in die jaar sien ons die see.
Die res van die jaar werk ons.
Ons verdien ons sweet Vrydag,
Kanne, kanne vol sweet.
Maandag skree die lanie: “Heit, Tamie!!
Staan krom boy, hou jou krom!”
Ons is die anties met die doek om die kop
met die Nylon-overalls wat rose moet plant.
Ons pay twee keer minder as dié van die mans
tog kom ons Vrydag met meer in die sak terug.
want: ons drink nie meer nie
ons rook net Cavalla
en Vrydag mors ons twee rand in die jol.
Ons is die anties met die doeke om die kop
alhoewel ons sukkel om van hand tot mond te leef,
maak ons môre se leaders groot!
En dan is daar Antjie Krog se stem roepende nie in die woestyn nie, in ʼn wilde wildernis:
ek sê dit vooruit
hard
ek staan vir niks
ek skaar my by nêrens
niemand kom my naby
almal lyk dieselfde
almal is mans almal
is nekke almal
peule van mag
die generale en brigadiere en ministere
en hoofmangenerale sit en pielevleg
en bebliksem ʼn hele land met omruilbare gesigte
van politiek en geweld
almal is slu
almal voel fokol
Here waar kom ons hulp vandaan?
in die wandelgange lê geld en glas
stopstrate van vleis
taxi’s word bloedgargoyles
en almal wil hê
en almal wil hou
tussen niemand word niks nêrens heel nie
tussen nêrens en niemand bly niks oor nie
niemand bied niks
niks
soos wasem
niks
balsems
niks iets
helends
iets sagsinnig
iets milddadig mens
ek sê vooruit
ek staan vir niks
ek skaar by niemand
ek weersin volkome
ʼn Ander belydenis van haar bied deurgang tot die Religie-been waaroor die NHN besin.
ongelowig is nie die regte woord nie
ek’s gevul met geloof maar nie ʼn Christen
nie ek glo nie aan sonde of die hiernamaals
of Christus nie ek glo nie aan God soos hy
vertel word deur die Bybels of die kerke nie
ons drink almal soos babas aan ʼn bors ons
voel die tepel tussen ons tandvleise en sê: dis
God – voel die ooreenkoms! die bors, dan sê ons:
Christus! teologies bely ons die melk as Gees
intussen skiet vanuit die tepel ʼn hele bos
buise ʼn onverklaarbare klierstelsel in fact
nog ʼn bors en daaragter ʼn hele liggaam eie
lewe dimensies denke maar ons korrel
na die tepel met ons breintjie en
ongekoördineerde oë: ghoe ghoe-ghoe
ʼn Kernelement van die Christelike liturgie wat in kerke uitgevoer word, is die geloofsbelydenis wat ʼn opsomming van die Christelike geloof is. In ʼn nuwe era is daar egter ook sprake van inhoudsverskuiwings in die geloofsbelydenis en van nuwe, eietydse belydenisse waarin die spreker se ongeloof verklaar word. Kom ons luister na ʼn paar. Ons trek weg met die meer Godvererende belydenisse en beweeg gaandeweg tot belydenisse van ongeloof waarin God en geloof afgewys word.
“Pelgrimsgebed” (Amanda Strydom)
Vader God,
U ken my naam.
My binnegoed en buitestaan.
My grootpraat en my klein verdriet.
My vashou aan als wat verskiet.
U ken my vrese en my hoop,
die pad wat ek so kaalvoet loop.
Die pad het U lankal berei,
U maak die pad gelyk vir my.
Alle pelgrims keer weer huis toe.
Elke swerwer kom weer tuis.
Ek verdwaal steeds op die grootpad,
soekend na U boardinghuis.
Die volgende gedig word nie as ʼn geloofsbelydenis aangebied nie, maar dit bied insae in ʼn hedendaagse verklaring van die geloof van iemand wat hom vervreemd voel van die tradisionele godsdienstige oortuigings.
“Kinderlike ongeloof” (Johan Steyn)
Ter plaasvervanging van besnydenis
was ek as kleuter al vol sonde
bedink uit ʼn belydenis
en Sondae in die kerk
lank voor my peslike karbonkels
was ek draer van die Kainsmerk.
Dan lees Pa plegtig uit Romeine
terwyl ons kinderoë pleit:
sê tog, sê ons is nie Syne.
Na al die Christendeugde
waarin niemand deel nie
sing ons skor van hemelvreugde
waarna ons net nog banger
na buitekamerbeddens sluip,
die nagpad soveel langer.
Maar gewisser as ʼn kateldood
was die alewige gebed
wat afsluit met ʼn “vuil en snood”
En soggens voor ons lig kan sien,
sluk ons en dan kots ons
heilige strignien.
Nee dankie dus vir so ʼn Jesus;
ek trap self lig vir slange
en baai my voete in die kraal se mis.
[the mark that God set upon Cain now refers to a person‘s sinful nature]
Dan is daar MM Walters wat die gewone argument op sy kop draai en suggereer dat die mens as ‘t ware gelowig gebore word, maar mettertyd sy geloof verloor weens die optrede van ander gelowiges:
“Ongelowiges” (MM Walters)
Ongelowiges word nie gebore nie, ongelowiges word gemaak
deur totalitêre tiranne van die gees wat die mens dryf
tot verset teen ʼn beeld van god wat tuishoort
tussen oorblyfsels van rotstekeninge, versteende
verbeeldinge van stommelinge …
Ongelowiges sê: ― Moenie alles aanvaar en glo nie.
Soetkoekstories is populêr geprese, maar ten slotte onbewese.
Kennis van die bonatuurlike is nie moontlik.
Wees eerlik, dink logies en bly soek en wonder,
vol hoop, maar leer ook om te leef daarsonder.
Tot so ver dan die geloofsbelydenisse, want ons moet uitkom by die laaste been waaroor die NHN besin – die individu.
Ek weet nie of die twee individue vandag hier is nie, maar ek deel graag hul twee weergawes van die Onse Vader: André Ludick skryf:
Onse Vader, van wie ons hoegenaamd niks weet nie,
Openbaar uself aan ons, sodat ons kan verstaan
wat u naam is, wat heiligheid beteken en of u heilig is,
of u ʼn koninkryk het, en of dit vir u belangrik is,
of u u wil, wil laat geskied,
of daar wel ʼn hemel is, waarna ons só op aarde smag, en of dit vir die mensdom beskore is,
of u brood en lone uitdeel, aan die wat daarna vra,
presies wat sonde behels, en ja, moet ons in hemelsnaam nie vergewe, as ons self nie daartoe in staat is nie,
of u belang daarby het dat versoekings nie oor ons pad kom nie; anders, stuur dit tog maar, dat ons daaraan kan proe en die goeie behou en,
of die Bose wat, onverstaanbaar, blykbaar ʼn passie het om alles te verswart, ʼn werklike entiteit is.
Want ná so ʼn openbaring, sal ons ons met gemak na u kan keer, en weet dat die koninkryk, die krag, en die heerlikheid, vir solank as wat die uitspansel bestaan, aan u behoort.
In kort – openbaar asseblief uself aan ons, sodat dit moontlik is om in u te glo.
Amen
Die volgende vers is van ʼn lid wat anoniem wil bly: Onse Verantwoordelikheid
Onse verantwoordelikheid
Is vir hierdie aarde
Laat die implikasies daarvan gedebatteer word
Laat die reikwydte daarvan uitgebrei word
Laat die uitvoering daarvan gedeel word
Soos onder die volgelinge
So ook onder die leiers
Gee ons vandag die moed van ons oortuigings
En verlos ons van ons kinderlikheid
Aangesien dit so verlammend is.
En lei ons nie in selfverontskuldiging nie
Maar verlos ons van ons verskonings
Want daarin bestaan ons menslikheid
ons krag
en ons heerlikheid
Nou of nooit!
Amen
Ek roep halt met daardie “heerlikheid, nou of nooit” want dit het ons terug by die begin, by die NHN se Wie ons is: “Ons is ʼn netwerk van kreatiewe denkers wat vrylik gesels oor ons soeke na sin, mekaar met idees stimuleer en inspireer en hierdie lewe in die ‘nou’ as ʼn kosbaarheid uitleef.”
Want dit is soos die stem in die laaste gedig sê: Dis NOU, of nooit.