In Maart vanjaar het die NHN sy lede gevra om hulle versie van die Bybel se “Onse Vader” en die “Saligsprekinge” op te skryf. Elkeen kon sy skepping vir die kompetisie instuur en daarmee ‘n boekprys wen.

 Hierdie “Onse Vader” van André Ludick het die boekprys gewen.

Onse Vader, van wie ons hoegenaamd niks weet nie,

Openbaar uself aan ons, sodat ons kan verstaan

wat u naam is, wat heiligheid beteken en of u heilig is,

of u ‘n koninkryk het, en of dit vir u belangrik is,

of u u wil, wil laat geskied,

of daar wel ‘n hemel is, waarna ons só op aarde smag, en of dit vir die mensdom beskore is,

of u brood en lone uitdeel, aan die wat daarna vra,

presies wat sonde behels, en ja, moet ons in hemelsnaam nie vergewe, as ons self nie daartoe in staat is nie,

of u belang daarby het dat versoekings nie oor ons pad kom nie; anders, stuur dit tog maar, dat ons daaraan kan proe en die goeie behou en,

of die Bose wat,onverstaanbaar, blykbaar ‘n passie het om alles te verswart, ‘n werklike entiteit is.

Want ná so ‘n openbaring, sal ons ons met gemak na u kan keer, en weet dat die koninkryk, die krag, en die heerlikheid, vir solank as wat die uitspansel bestaan, aan u behoort.

In kort – openbaar asseblief uself aan ons, sodat dit moontlik is om in u te glo.

Amen

 

 

Hierdie vers van ‘n lid wat anoniem wil bly, is as die tweede beste gekeur:

Onse Verantwoordelikheid

Onse verantwoordelikheid

Is vir hierdie aarde

Laat die implikasies daarvan gedebatteer word

Laat die reikwydte daarvan uitgebrei word

Laat die uitvoering daarvan gedeel word

Soos onder die volgelinge

So ook onder die leiers

Gee ons vandag die moed van ons oortuigings

En verlos ons van ons kinderlikheid

Aangesien dit so verlammend is.

En lei ons nie in selfverontskuldiging nie

Maar verlos ons van ons verskonings

Want daarin bestaan ons menslikheid

ons krag

en                               ons heerlikheid

Nou of nooit!

Amen

 

 Wat die ‘Saligsprekinge’ kompetisie betref, is Babs Basson se ‘berggesprek’ as wenpoging aangewys:

 

Die berggesprek

Eendag het ‘n man teen ‘n hoogte uitgeklim en gaan sit om met ‘n groepie mense te gesels. Hulle het hom in die veld in gevolg om te luister na die nuwe dinge waaroor hy graag praat. Nadat gaan sit het, sê hy vir hulle:

“Gelukkig is almal wat die lewe waardeer en die beste daarvan maak.

Dit is hulle wat die aarde versorg en die wêreld ‘n beter plek maak.

“Gelukkig is almal wat verby hulle eie hartseer die swaarkry van ander raaksien.

Oop harte en oop hande bring nuwe hoop.

“Gelukkig is mense wat nie dink hulle is beter as ander nie.

Hulle leef gelukkig met almal saam en deel hulle lewensgenot.

“Gelukkig is hulle wat begaan is oor ander mense se lewensomstandighede en dit wil verbeter.

Hulle leer die volheid van die lewe ken.

“Gelukkig is almal wat omgee vir mens en natuur.

Dit is ‘n gesindheid wat  uitkring en ‘n samelewing versterk.

“Gelukkig is mense wat hulleself krities beskou.

Hulle neem kennis van hulle eie tekortkominge en besef ook wat hulle het om uit te deel. Hulle dink onafhanklik van ander en neem makliker verantwoordelikheid vir hulle eie bestaan.

“Gelukkig is almal wat aktief vrede bo vyandskap verkies.

Hulle lewe is sinryk en hulle nalatenskap groot.

“Gelukkig is mense wat voortdurend nuwe dinge leer en inligting versprei, al wil die ouer ordes hulle aankla en vervolg.

Mense wat aan die verlede bly kleef, vrees gewoonlik alles wat nuut en uitdagend is. Hulle emosies dryf hulle selfs tot geweld.

“Wees geanker in die goeie lewe en gegrond in wysheid. Behou oneindige geduld. Steun op beproefde bevindings en regspraak.

“Vier die lewe met blydskap en oorgawe! Want die beloning lê in die hier en die nou, in alles wat julle om julle kan sien en beleef. Ook die dood is deel van die siklusse van vernuwing. Gryp die geleenthede aan en leef voluit.”

Julle taak in die wêreld

“Julle is die sout van die aarde. As julle lewe nie tot voordeel van ander kan wees nie, is julle goeie invloed op die aarde gering.

“Julle is ’n lig in die donker; julle wysheid moet ander verlig. Die kennis wat julle versamel, is soos ’n stad op ‘n hoë berg. Geen mens sit ’n lig aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Nee,  julle moet soos ’n lig die donkerte in hierdie wêreld verdryf. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat die lewe groot en mense goed kan wees. So eer ons alles wat leef en lewe gee, en vrees ons nie die lewensiklusse van kom en gaan nie.”

Kan mens aan die ou maniere verknog bly?

“Hoe gemaak met voorskrifte van ons voorgangers,  die geloofsverhale uit ou kulture? Verwerp ons dit met minagting? Geensins! Die mens bly immers mens. Ons fokus het net verbreed; die horisonne van kennis lê versprei. Die ingeligte mens waag met vaster tred, is dapperder, steun op die beste navorsing, neem meer verantwoordelikhede op. Met groeiende insig sal ons altyd nuwe maniere vind om met ons diepste menswees en die omgewing om te gaan. Met nuwe ontdekkings van die wetenskap kan ons verwondering net meer word. Soos mense se verhale en prestasies aangroei, so maak ons al meer die bande los wat ons menslikheid beperk. ‘n Vry mens is instaat om ander vry te stel. Soos mense se kennis en selfbewussyn groei, sal ook hulle besordheid oor ander toeneem, totdat die mensheid ‘n nuwe waardigheid binnegaan.

“Die vernuwing van ons denke en die manier wat ons met vreemdelinge en die aarde omgewing omgaan, gee sin en betekenis aan ons voortbestaan.”

Is daar ook ‘n donker kant?

“As jy dit sou ontken dat jy ‘n mens soos ander mense is, en as jy sou kies om die wette van lewe te ignoreer, hoe onbenullig dit ook mag lyk, plaas jy jou eie menswees op die spel. En as ander jou op so ‘n pad sou volg, staar julle ‘n vervreemding van die lewe self in die gesig. Aan die ander kant: as jy die lewe in waarheid en werklikheid omhels, sal jou verwondering en blydskap toeneem, jou verhoudings met mense verdiep en jou waardering vir die omgewing nuwe hoogtes bereik. Jy sal ’n nuwe bewussyn vir alles wat lewe en jou besondere plek in die kosmos ontwikkel.”