Die “sielkunde van plek” – hoekom raak ons so verknog aan bepaalde plekke?

(H Viviers)

Inleiding

Die foto van die avonturier Kingsley Holgate en sy gesin spreek boekdele, veral oor die betekenis van plek. Die Holgates het reg rondom die kuslyn van die Afrika-kontinent gereis op ‘n epiese tog om muskietnette teen malaria te versprei (“one net one life”). Na langer as ‘n jaar weg van Suid-Afrika af het hulle, direk na hulle deur die grenspos by Kosibaai is, die grond uit dankbaarheid gesoen – “There’s no place like home” sê hy. Op ‘n ligter noot (waarskynlik net ‘n staaltjie) word ook vertel van die Pous wat elke keer as hy in Rome geland het, die grond gesoen het. Hy het destyds met die ou Italiaanse Alitalia gevlieg met die vliegtuigvloot al ‘n bietjie oud. Toe mense hom vra oor die grondsoenery en bespiegel het dat hy dalk so lief is vir Rome waar die Vatikaanstad is, het hy geantwoord – “Ek soen die grond, want ek vlieg met Alitalia!”.

Ons verknogtheid aan plek gaan waarskynlik terug na ons vroeë evolusionêre geskiedenis. Wilhelm Jordaan noem dit die “territoriale imperatief” (op voetspoor van Robert Ardrey), die afbakening en beskerming van ‘n bepaalde gebied waar daar volop voedsel, water en skuiling is en dit jou voortbestaan verseker. Dit is iets wat ons as menslike diere met nie-menslike diere deel, gebiedsafbakening. ‘n Mooi voorbeeld van die territoriale imperatief is Swartwildebeeste. Hulle is besonder territoriaal en sal hulle lappie aarde meedoënloos verdedig, ook teen mense. Boere gebruik hulle soms as “waghonde” op hulle plase. Donkies is ook soortgelyk baie territoriaal.

Ons as rasionele/simboliese wesens ontwikkel ook dieper psigiese bande met gebiede, wat diere waarskynlik nie doen nie, hoewel dit moeilik is om dit by hulle te bepaal. Ons het taal wat ons gebruik om diepsinnige gedagtes te deel, hulle het dit nie, maar dit sluit nie uit dat daar dalk iets meer is as net instinkte wat hulle dryf nie. Elise Tempelhoff het so ‘n rukkie terug in Beeld verslag gedoen oor wetenskaplike bewyse dat olifante mekaar waarskynlik “name” gee (‘n bepaalde geluid vir ‘n bepaalde olifant waarop net hy/sy reageer, dus “simboliese” denke). Ons moet ons naby familie, die diereryk, nie onderskat nie.

Die kognitief-emosionele bande wat ons met bepaalde plekke smee, en wat diep in ons psige ingebed lê, beteken gewoon ons dink (rasioneel) en voel (emosie) diep oor sulke plekke wat dan vir ons baie spesiaal is. Dit het drie fokuspunte, naamlik “persoon”, “plek” en die “psigologies proses”. As ‘n “individuele persoon” mag ek oor ‘n lang tydperk aangename herinneringe opbou oor ‘n grootwordhuis of vakansieplek waarvan die voorkoms, geluide en reuke by my ingesink het en hierdie ervaringe byna deur flitsgeheue (sg “flashbulb memory”) opgeroep kan word. As a “kollektiewe persoon” is ek dalk deel van ‘n paar geslagte (selfs hulle wat dood is) wat sosiaal sinvol saamgeleef het. ‘n Bepaalde “plek” het so dan ook ‘n sosiale betekenis, van ‘n ondersteunende gemeenkap (die sg. “village”-gedagte). Maar fisies is die plek ook belangrik want daar kon ek veilig bly en ‘n lewe daar maak. En die psigologiese voordele wat ‘n bepaalde plek my bied is baie. Dit voed my geheue, laat my tuis en veilig voel, help my om selfonderhoudend te wees, laat positiewe emosies soos geluk, blydskap en trots in my opwel, laat my vry voel op mý plek, gee aan my privaatheid, help my om tot verhaal te kom, help my om te reflekteer en te mediteer om my geestelik te verryk. Geen wonder ek wil die grond soen van so ‘n plek en dit oppas ten alle koste.

 

Kom ons bekyk die psigologie van die betekenis van plek ‘n bietjie van naderby en in meer detail.

Die psigologie van plek

Oor die laaste klompie dekades of so het daar ‘n magdom studies verskyn binne die breë veld van die sielkunde van plek, laasgenoemde wat op sy beurt weer deel vorm van die breër veld van omgewingsielkunde en inpas in die nog breër veld van positiewe sielkunde. Om die belangrikste van hierdie studies te inkorporeer het die sielkundiges Leila Scannel en Robert Gifford so ongeveer tien jaar gelede, ‘n multidimensionele model ontwikkel wat die belangrikste aspekte van plek-sielkunde saamvat. Hulle noem dit die “persoon-plek-proses” raamwerk.

 

“Persoon”

“Persoon” behels die wie wat betrokke is by plekgebondendheid en sluit in die individu maar oor groter sosiale kollektiewe groeperinge. ‘n Individu se plekverknogtheid word bepaal deur ‘n klompie faktore: die tyd wat deurgebring is by ‘n bepaalde huis, woonbuurt, plaas, vakansieplek of waarookal. Hoe langer jy daar gebly en geleef het hoe sterker word die bande daarmee, en hoe meer voel jy, jy hoort daar (kongruensie). Eienaarskap vorm ook sterker bande, dis tog jou eie en daar kan jy tot selfvervulling kom. Wat gender/geslagtelikheid betref lyk dit of vroue sterker bande met plekke vorm as mans, maar dit het waarskynlik meer met die sosiale en sosialisering te make – vrouens is sterker verhoudingswesens as mans. Van nature verskil ons nie so veel nie. Ouderdom kan tydelik ‘n rol speel om aan ‘n bepaalde plek gebonde te wees, bv ‘n jong paartjie met kinders verkies ‘n groter huis en oueres wat weer ‘n kleiner ruimte verkies. Oor die algemeen egter smee jonk en oud dieselfde sterk bande met ‘n vakansieplek byvoorbeeld, en put daaruit dieselfde psigologiese voordele (herinneringe, positiewe emosies, ontspanning, vermaak, refleksie, ens.).

“Persoon” beteken ook jy is deel van ‘n sosiale groep. Hier kan genealogie of die verbondenheid oor geslagte heen ‘n sterk rol speel, bv ‘n familieplaas waarop dieselfde familie al vir baie jare die grond benut en geniet met dikwels ook die klein familie-begraafplaas daar. Scannel en Gifford trek hier ook in die teorie van “Plek Identiteit” waar die grense tussen die plek en groep vervloei, “wie ons is bepaal waar ons is”. As ek ‘n Bloubul-ondersteuner hier in Pretoria is, dan snoer dit ons saam, ons bloed is blou en Loftus word amper “heilige grond.” Herman Holtzhausen wat op Ubuntu gewerk het praat van swart boere wat treffend praat van grond wat in hulle eienaars gestalte kry, “farmers’ identity with land, as people who are the land walking”. Kosmologiese betekenis wat aan plekke toegeken versterk die betekenis van so ‘n plek. ‘n Bepaalde plek word beskou as die middelpunt van die heelal, Jerusalem vir die Jode en Mekka vir die Moslems, waarheen graag pelgrimstogte gedoen word om identiteit te herbevestig en hierdie gelowiges verbind aan ‘n onsigbare, groter werklikheid.  Hierdie sentrums word self beskou as “persone”/karakters in eie reg. Jerusalem in Ps 122 se welsyn is ook haar inwoners s’n, gaan dit met “haar” goed, gaan dit met almal goed. Maar sekulêre pelgrimstogte word ook na spesiale plekke gedoen, Wimbledon en die gepaardgaande room en aarbeie, en Loftus en die brandewyn en coke (grappie, die ou dae toe studente daar vreeslik gedrink het). Hierdie plekke is meer as net materie, maar kry spesiale status deur die betekenisse wat ons aan hulle toeken, byna “agensie”/subjekte/persone wat ‘n invloed op hulle besoekers het. Thomas Tweed is reg: “We might say playfully: spaces are people too … that exert agency. We might re-imagine them as characters, evoking moods and emotions”. Daarom dat ons die grond so soen, asof dit ‘n geliefde is.

 

“Plek”

“Plek” het het ook twee aspekte, naamlik sosiaal en fisies. Uit wat reeds gesê is het die sosiale dimensie van plek alreeds na vore gekom. Mense is sosiale wesens en gereelde sosiale kontak op ‘n bepaalde plek gee aanleiding tot sg sosiale kapitaal. Pre-industriële mense het, toe gereedskap nog min was, graag gereedskap by mekaar geleen (vandag steeds so met jou bure). Hulle het ook strategiese inligting met mekaar gedeel, soos voedsel- en waterbronne, weervoorspellings en veiligheid as die gemeenskap bedreig word. Waar vroeë mense mondelings met mekaar gekommunikeer het, doen ons dit vandag nog steeds met ons WhatsApp-groepe en deel allerlei belangrike inigting met mekaar, tot welsyn van die onmiddellike gemeenskap. Dit skep orde en goeie ondersteunende naasbestaan, insluitend emosionele onderskraging.

Wat die fisieke aspek van plek betref onderskei Scannel en Gifford ses tipes (geografiese/estetiese) plekke met hulle bepaalde psigologiese aantreklikheid: ‘n manipuleerbare ruimte so groot soos die liggaam, bv ‘n gemakstoel/kantoorstoel. Hoewel hierdie beperkte ruimte geliefd kan raak, lyk dit of ons eerder dieper bande smee met ruimtes groter as die liggaam; ‘n nie-manipuleerbare ruimte soos ‘n kantoor vir privaatheid, persoonlike groei en vryheid; omgewingsruimte (“environmental space”) soos ‘n huis, woonbuurt of park wat positiewe emosies ontlok en gemak, veiligheid, vermaak en natuurbelewenis verskaf (lg as jy in a “leafy suburb” bly). Die woonbuurt is die meeste nagevors in plek-sielkunde en beeld treffend mense se verknogtheid daaran uit. In een studie in ‘n ietwat verwaarloosde woonbuurt in ‘n groot stad in die VSA is mense alternatiewe (beter verblyf) aangebied sodat die woonbuurt opgebou en opgegradeer kon word. Hulle het geweier om te trek, want dit sou die karakter van hulle woonplek vernietig. Distrik Ses in die Kaap is ‘n soortgelyke voorbeeld, en naby waar ek woon in JHB is Sophiatown (voorheen Triomf) ook ‘n voorbeeld; geografiese plek soos groot stede, provinsies en lande ontlok moeiliker direkte bande, maar wel ‘n “ek hoort daar” – gevoel (“belongingness”) en ook herinneringe; panoramiese ruimte en ook ruimtes op ‘n kaart is te abstrak om enige bande mee te vorm.

 

“Psigologiese proses”

Psigologiese proses, die derde been van Scannel en Gifford se raamwerk, het te make met hoe die plek-band geïnternaliseer word en ook realiseer. Hulle het dertien psigologiese voordele uitgewys wat mense kognitief-emosioneel bind aan ‘n bepaalde plek, dit wil sê hoe ons denkend oortuig daarvan is dat die plek spesiaal is en dan die gehegtheid wat verder versterk word met ons sterk gevoelens daarvoor. Van hierdie voordele oorvleuel hier en daar, en soos hulle hier gelys word, word ook die persentasies gegee van die voordele wat die swaarste weeg: 69% mense plaas herinneringe bo-aan die lys. Aangename herinneringe van ‘n plek kan deur flitsgeheue (“flashbulb memory”) opgeroep word, byna asof jy ‘n foto/video van die plek in jou geestesoog sien. Hiermee saam gaan ook die sintuiglike ervaring (sien, hoor, aanraak, proe, ruik) wat mense gehad het van so ‘n plek. Dit is verstommend dat ons selfs plekke kan “onthou” waar ons nog nooit was nie, maar ons voorouers wel. Rupert Sheldrake noem dit “morphic resonance” (“vorm-resonansie”): “The brain-mind has a self organizing system (as other phenomena) that can be inherited without cultural transmission … a transfer of form … rather than a transfer of energy … almost similar to Jung’s collective unconsciousness”. Dit het hy agterkom by voëls se kleintjies wat kan rigting hou wanneer hulle migreer sonder dat die ouers hulle dit geleer het. Die ouers moes desnoods vroeër vertrek voor die kleintjies self behoorlik kon vlieg en tog hou hulle agterna rigting op hulle eie. Ons deel hierdie vermoë met die diereryk. Hierdie “vorms” in ons breine resoneer met bepaalde plekke en die kollektiewe geheue voor ons, selfs al was ons nog nooit daar nie, en verklaar die déjá vu gevoel van “ons was al daar”; 54 % beleef “tuishoort” (“belonging”) of geanker aan ‘n bepaalde plek; 49% beleef ontspanning of die herstel van mentale moegheid/uitputting en stres, as’t ware om jou batterye weer te herlaai. ‘n Stappie deur jou tuin of nabye park bied ‘n ideale geleentheid om jou brein se gefokusde werksfunksie vir ‘n wyle te laat rus en dan met die verwonderingsbreinfunksie tot verhaal te kom (ART en “walking”); 38% mense beleef positiewe emosies soos blydskap, geluk, trots, hoop en dikwels ook verwondering by jou gunstelingplek; 33% ervaar aktiwiteitsondersteuning (“activity support”) soos werksgeleenthede, stokperdjies en belangstellings by hul gekose plek; 31% beleef gemak en sekuriteit soos voedsel, klimaat en algemene veiligheid by hulle plek; 22 % beleef daar persoonlike groei, naamlik insig en self-refleksie; 19% beleef vryheid, want dit is hulle plek om te kan maak en doen soos hulle wil, waar hulle “outonome” mense kan wees; 19% geniet die vermaaklikheidswaarde van hul omgewing wat hulle aandag en belangstelling prikkel en hulle oor opgewonde raak; daar is ook 11.5% wat ‘n band met die natuur beleef waar hulle bly, 9% geniet hulle woongebiede se geriefsvoordele, naamlik winkels en diensleweraars, 7% hou van hul plek se stilte en privaatheid (“peace of mind”) en 7% het ‘n estetiese waardering vir die skoonheid van hul onmiddellike omgewing. Scannel en Gifford noem dat ‘n baie klein persentasie mense (waarskynlik 5%) nie veel van ‘n aantrekking vir ‘n bepaalde plek het nie, maar verkies om eerder saam met ander mense te wees, ongeag waar dit is.

 

“Rentmeesterskap”

Rentmeesterskap is ‘n natuurlike gevolg nadat “persoon”, “plek” en “psigologiese proses” interaktief en kruisbestuiwend ons diepe gebondenheid aan plek laat realiseer. As ons so oortuig is van die heilsaamheid van ‘n bepaalde plek dan is dit vanselfsprekend dat ons dit ook sal bewaar. As ons bereid is om die grond te soen moet ons dit ook koester en op pas. In ‘n interessante studie deur Quin en Halfacre kom die personifiering van plek, die beskouing van ‘n plek amper as ‘n mens, mooi na vore. Hulle gebruik sg “attachment theory of security and exploration” (in navolging van John Bowlby en Mary S Ainsworth), ook soms genoem “caretaker-infant theory” (“oppasser-kind”-teorie), om die intieme verhouding tussen ‘n klompie Amerikaanse plaasboere en hulle plase te belig. Die teorie van ‘n oppasser en kind behels dat eersgenoemde laasgenoemde op pas en versorg en so aan die kind sekuriteit gee. Mettertyd begin die oppasser die kind se horisonne verruim deur hom/haar toe te laat om die omgewing eers beperk en later al meer te verken, en bou so al meer selfvertroue en selfstandigheid. Die kind bly ook onvoorwaardelik lojaal aan die oppasser. Toegepas op die boere, word die plaas die “oppasser” om sekuriteit en verkennings- (verruimings-) moontlikhede aan die boer, die “kind”, te verskaf. Rolle ruil ook om sodat die boer die “oppasser” word wat nou die “kind,” die plaas versorg en bewaar – “wrap your arms around it”, sê die boere.

 

Nabot se wingerd (1 Konings 21)

Die verhaal van Nabot se wingerd ken ons goed, van die swakkeling-koning Agab en sy bose Sidoniese vrou, Isebel, wat teen Nabot saamgesweer het. Hy het geweier om sy wingerd aan Nabot af te staan, en op die ou end met sy lewe geboet. Hierdie ou verhaal illustreer plek-verknogtheid baie treffend, en weerspieël byna al die insigte oor die band met plek hierbo uitgewys. Die skrywer(s) van hierdie verhaal het natuurlik nie die wetenskaplike sielkundige insigte oor plekgebondenheid gehad wat ons vandag het nie, maar illustreer nietemin die belang van plek. Ons vandag en hulle destyds deel dieselfde breine om sin te maak van plek, en wat hulle toé intuïtief aangevoel het word vandag deur die moderne sielkunde bevestig.

Die kortaf “nee”-antwoord van Nabot (enigste keer dat hy praat), nadat hy Agab se aanbod van ‘n ander wingerd of geld (silwer) geweier het is van belang:  vs 3 “Mag die Here my daarvan weerhou dat ek ooit die erfgrond van my voorgeslagte aan u gee!” ‘n Paar kort opmerkings oor “plek”, “proses” en “persoon”: die wingerd is ‘n woonbuurt/klein dorpie (“village”) tipe plek, waar Nabot sosiaal vir geslagte lank reeds aan sy voorsate gebind is (genealogie hierbo), soos hy sopas gesê het. Dit was die gebruik dat voorsate op dieselfde grond of daar naby in die uitgekapte kalksteenrots-grafte te ruste gelê is, en met wie daar steeds verhoudinge lewend gehou is (bv gereelde besoeke). Fisies was die wingerd deel van die vrugbare Jisreël-vallei, ‘n belangrike “broodmandjie” destyds en op belangrike handelsroetes geleë, en wat dus ook Nabot en sy familie se lewensbestaan verseker het.

Wat “proses” of die psigologiese voordele van die wingered betref, staan herinneringe en geankerdheid/“tuishoort” voorop in vs 3, toevallig die voordele wat die hoogste persentasies in plekgebondenheid kry. Dan is daar ook identiteit (Nabot, die Jisreëliet, telkens herhaal), trots (Nabot een van die gesienes van sy dorp), geluk, tevredenheid, gemak, gemoedsrus, privaatheid en kontemplasie. Die skildery van James Smetham (1821-1889) beeld dit treffend uit en eggo die idilliese prentjie van Miga 4:4 “…elke man sal onder sy wingerd en onder sy vyeboom sit, sonder dat iemand hom opjaag”.

Wat “persoon” betref skets die skrywer(s) van die verhaal,  eintlik die “implisiete outeur” of sg “authorial voice” deur karakterisering, plot, ens., vir ons ‘n waardebepaling van “plek”. Ons is reeds “oorgewen” deur die karakter Nabot se sentimente jeens sy wingerd (en teen Agab en Jesebel), maar een belangrike “karakter” kyk baie lesers mis, die wingerd self waarmee die verhaal begin. Nabot en die wingerd versmelt byna, “sy” word ook die versinnebeelding van sy familie en die groter familie, Israel self. In Jesaja 5 word Israel ‘n wingerd genoem. Ten diepste is die stryd oor die wingerd ‘n botsing tussen die ideologieë van Jahwisme (Elia) en Baälisme (die koningspaar), om Nabot en sy wingerd te na te kom is om dit aan Jahweh en sy land Israel te doen (Russel). Die wingerd word ‘n stilswyende, passiewe “toeskouer” van hierdie geveg, soortgelyk aan die karakter “Aarde” in Gen 1-3 waar die eerste drama in die nuwe skepping sigself afspeel (aldus Norman Habel van die Earth Bible-reeks). Nabot snap hierdie grootsheid van sy “oppasser”-wingerd en daarom is hy bereid om selfs vir haar te sterf.

Eddie, kan jy my hoor?
Dis ek, oom Dominee
Jy moenie bang wees nie,
die Here Jesus sal jou self kom haal,
jou handjie vat
Jy is mos lief vir Hom
Weet jy, die stad waar Hy woon
is so mooi, met pêrelpoorte
en fonteine, Sagaria, die profeet, sê
oral op die pleine en die strate
speel die kindertjies
Moet ek dit vir jou lees?
Jy wou iets sê
Wag, ek kom nader-,
kon nie mooi verstaan nie.
Jy wil nie gaan nie.

Lees self die gedig op die skerm en let veral op na die afsluitingsreël:
“Jy wil nie gaan nie”.

Ten diepste weet ons intuïtief waar óns spesiale “plek” is, sonder dat ander dit vir ons hoef te sê.