MR Byeenkoms: 6 Augustus 2017

“Wat is die mens?” Om oor die die misterie van menswees na te dink, kan interessante definisies oplewer. Gewoonlik begin enige nadenke by die fisiologiese en hoe dit van ander soogdiere verskil. Pogings van navorsers om ‘n volledige spektrum van die eienskappe van die mens saam te stel ‒ van die opvallende fisieke of stoflike eienskappe tot die besondere prestasievermoëns, behoeftes, reaksies en interaksies ‒ het telkens onderstreep dat die menslike verskeidenheid veel meer is as die som van enige kategorisering.

Don verwys byvoorbeeld na Alexis Carrel, Franse sjirurg, filosoof en psigoloog van die vroeë twintigste eeu en sy boek, ‘Man the Unknown’. Hy was oortuig dat die mensdom verbeter kon word deur navorsing te konsentreer op mense met besondere goeie prestasievermoëns. So het Herman Dooyeweerdt, juridis, filosoof en psigoloog uit min of meer dieselfde tyd, vyftien fasette of ‘modaliteite’ van menswees geïdentifiseer waarmee hy sin wou maak uit die wese van die mens. Ook hy het tot die slotsom gekom dat die mens veel meer is as die som van alle menslike eienskappe. Don fokus sy gesprek hoofsaaklik op een van hierdie fasette, dié van die mens as sosiale wese.

Sosialisering is die manier waarop mense met ander mense en in hulle omgewing omgaan en sin aan hierdie interaksie verleen. Kyk ‘n mens na die geskiedenis van die mens is dit opvallend dat vooruitgang direk met sosialisering te make het. Afsondering is dan ook deur die eeue as straf gebruik, terwyl gesonde sosialisering duidelik verband hou met aanvaarding, gesondheid, sukses en geluk. ‘n Goeie oorsig oor die historiese ontwikkeling van menswees (sedert hulle grotwonings, die ontdekking van vuur, die maak van gereedskap, taalontwikkeling, kuddevorming, tot die bou van stede…) belig die rol van sosialisering as dié kernelement van gesonde vooruitgang en ontwikkeling.

Navorsing het bevind dat mense in groepe drie keer meer lag as ander wat meestal alleen is. Om gelukkig te voel en te lag bevorder die afskeiding van endorfiene, ‘n hormoon wat pyn en spanning verlig, ‘n gevoel van veiligheid skep en ‘n gesonde breinontwikkeling bevorder (Daniel Coleman: “We are wired to connect.”).So kan babas reeds prenatale reaksies toon op ouers se gesindhede van(rustigheid, vrede en geluk. Gou na geboorte begin babas om gesigsuitrukkings te ‘lees’.

Wat groepsdinamika betref, wys Don daarop dat die sosiale ruimte tussen verskillende kulture verskil. Dit is egter algemene gebruik om etes en sosialisering te kombineer. Aristoteles het gesê: “Man is a social animal by nature.” Sosiale saamwees skep ideale geleenthede vir gesprek en luister. Die waarde van luister in die proses van sosialisering mag veral nie onderskat word nie. Oor Oscar Wilde is glo gesê: “He knew the psychological moment when to say nothing.”

Don vat saam deur na drie boeke te verwys wat hy in die verband geniet het: Scott Peck se bekende ‘The Road Less Travelled’; Tom Peters se ‘In Search of Excellence’, en “Thriving on Chaos’.

Die gesprek wat na die lesing gevolg het, het soos gewoonlik besondere bydraes opgelewer, onder andere: Jan Viljoen wys daarop dat alles oor oorlewing gaan en selfs bakterieë saamkoek vir oorlewing; Deon van Zyl noem die nadele van skeiding tussen ma en baba net na geboorte, soos tydens ‘n keisersnitoperasie en hoe belangrik dokters dit deesdae ag dat die kontak so gou moontlik verseker moet word; dat filosofie oor mens en medemens deel van skoolvakke moet uitmaak, en oor die belangrikheid van luister en aanraking in paliatiewe sorg.
Dr Don Roos was betrokke by Onderwys en Opleiding en een van sy passies is die voorskoolse kind.