MR Byeenkoms 17 September 2017

Min ander gebeurtenisse in die Suider-Afrikaanse geskiedenis het destyds so ‘n dramatiese indruk op die kollektiewe bewussyn van Afrikaners gelaat as die Dorslandtrek. Lawrence Green, populêre reisverhaalskrywer het dit as “the most painful chapter in the whole history of the Afrikaner race” beskryf. Tekenend van die lyding van die Dorslandtrek is die woorde van ‘n vrou wat die trek oorleef het: “As ons ooit weer na Transvaal wil terugtrek en die pad sou vergeet het, dan sal ons dit al met die grafte van ons kinders langs weer kan vind.”

Afgesien daarvan dat die verskillende Dorslandtrekke (daar was sowat sewe grote en ander kleineres) ‘n deurslaggewende rol in die geskiedenis van Angola en Suidwes-Afrika gespeel het, het die effek vandag in die historiese bewussyn van Afrikaners in ‘n mate begin vervaag.

Die verskyning van Nicol se boek vul dus ‘n besondere leemte, nie net om geheues op te skerp nie, maar, aldus die skrywer, veral om die navorsing van vorige skrywers grondig te ontleed, tekortkominge aan te vul en verkeerde gevolgtrekkings reg te stel. Sodoende het nuwe feite na vore gekom en is gebeurtenisse op ‘n omvangryke wyse byeengebring, gesistematiseer en herevalueer om sodoende ‘n meer objektiewe en omvattende geskiedenis te probeer daarstel.

Die skrywer het in sy ondersoeke die volgende vrae probeer beantwoord: Wat was die beweegrede vir die trek? In watter mate het natuurlike omstandighede die gebeure bepaal? Wat het die mense geglo; hoe het hulle geleef; by hulle omgewing aangepas; gedink; gewerk; geveg; gely… en beskaaf gebly? Watter karaktereienskappe het hulle gedurende die trek ontwikkel en hoe het hulle teenoor mekaar en ander opgetree? Watter gewoontes en gebruike het ontstaan en wat was die beskouings van ander mense wat hulle op die trekpad teengekom het oor hoe hulle geleef en as mense teen mekaar gehandel het?

Beskrywings van hulle lyding
Hiermee enkele verwysings na die onbeskryflike lyding wat die trekkers beleef het. William Worthington het dit onder andere as volg beskryf:
During this time the people were compelled to drink the blood of any stray animal that they could catch and slaughter, also the water contained in the stomach, and even this disgusting supply had to be served out by tablespoonfuls. No pen could describe the horror and painful scenes that took place during this trek. At one wagon you would see a family who had by chance caught a stray sheep or buck which they had slaughtered, eagerly drinking the warm blood, while others were fighting for the possession of the paunch for the sake of the water contained therein. The voices made by the various animals in their agony of thirst had a most unearthly sound, the memories of which would never be forgotten by those who heard them.

Die volgende insident beskryf die gebeure toe Machiel Prinsloo met ‘n kan modder, wat hy vir die vog daarin wou uitbraai, op Ou-Jurie Bekker met sy sewe kleindogters afgekom het:
Een van die dogters kom my tegemoet gehardloop met oop arms en skree dat haar gebed verhoor is! Ek gee haar toe die kan en sy keer dit om en hou haar mond onder, maar toe daar niks uitkom nie, gooi sy die kan neer en loop terug na die waens toe sonder om ‘n woord te sê. Ek tel toe weer die kan op en stap aan. Toe ek by die wa kom, storm die ander ses dogters ook na die kan toe… en elkeen prober om die beurt om water uit te kry en toe gooi die laaste een die kan op die grond neer en sê: “O, Heere! Gee water. Ons gaan dood van dors!” Die hele dag het hulle aangehou om die Here se naam aan te roep en te kerm.

Ek het toe vir hulle gesê: “Julle sal nie doodgaan nie. Vat elkeen ‘n beker en ‘n kombers en stap aan padlangs. Oor ‘n dag en ‘n nag is julle by Tlakani se putte en dan leef julle nog almal.”

Maar Ou-Jurie Bekker vat toe die Bybel en gaan lê onder die wa op sy rug en slaat die Bybel oop, kyk net daarin, gooi die Bybel neer en staan op en sê vir die kinders dat hy nie sal sterf van die dors nie, “maar julle klomp sal die laaste een vrek van dors, want dis julle skuld dat ek hier in die dors is en daarom sal julle vrek!” Toe sê ek: “Moenie glo wat julle oupa sê nie. Glo wat ek sê en doen wat ek sê en nie een van julle sal van dors doodgaan nie.”

Die lyding van ‘n groep van tien gesinne onder leierskap van Gert du Preez was sonder gelyke in die geskiedenis van die Dorslandtrek. William Jordan het hierdie groep trekkers aan die begin van Mei 1878 teengekom en ‘n beskrywing nagelaat:
They were found in a most deplorable condition, such as no pen can describe. One and all of them were reduced by fever. Some of their native servants were dead and the remainder were laid up. As no one was able to hunt, these poor people were reduced to a state of starvation, many entire, tasting food only once every third day and then only getting roots brought to them by the natives, which had to be eaten raw as no one had strength to kindle a fire. From the different wagons the moaning of men, women and children could be heard calling out for assistance which no one was able to render. Then again were heard the shouts and ravings of unfortunate men and women who in their delirium had strayed into the woods there to die as no one was able to assist them to get back. At another spot were men and women who, for the first time, had got slightly better of the fever and who were trying to cut pieces of flesh from the carcases of oxen that had died and were endeavouring to cook the flesh for their children, the little ones ravenously devouring the food, and parents and children trying to satisfy the cravings of hunger for a short time before being released by death.

Met die verloop van die die navorsing het egter ‘n ander prentjie ontvou as wat die geskiedenisse van Postma en Preller vertel het. Die skrywer sonder hier drie persone uit wie se nagedagtenis in dié geskiedskrywing ‘n goot onreg aangedoen is ‒ president Thomas Burgers, die Ngwato opperhoof Khama en die trekleier Jan Greyling.

Thomas Burgers se beleid en optrede (en dus godsdienstige redes) is die belangrikste rede vir die trek. Die belangrikste besware van die trekkers was “die ongodsdienstigheid van die regering; die algehele vrymaking van swartes; en ander onbestaanbare wette”. Dit wil egter voorkom of die godsdienstige beswaardes ‘n kleinerige groep Gereformeerde lidmate was. Truens, baie min lidmate van die ander kerkgenootskappe het die Transvaal permanent verlaat. Ongeveer 18% van die lidmate van die Gereformeerde Kerk in Transvaal het aan die Dorslandtrek deelgeneem, teenoor die 1% van die NG Kerk en 0,1% van die Hervormde Kerk.

By die oorgrote meerderheid Transvalers was Burgers ‘n buitengewoon gewilde leier en is in 1872 met ‘n oorweldigende meerheid van 2964 stemme teen William Robinson se skamele 388 stemme as President van die ZAR verkies.

Burgers word ten onregte die skuld vir onenigheid in die land en die opeenvolgende trekke uit die ZAR gegee. Voor sy bewind het die land nooit ‘n stabiele regering gehad nie en daar was selfs ‘n burgeroorlog wat vir ‘n geruime tyd aangehou het. Sy bewind het op ‘n tydperk van groot onstuimigheid gevolg. Dit is te betwyfel of enige persoon in Transvaal oor die wysheid en takt beskik het om die middelpuntvlietende kragte saam te snoer en Burgers was eweneens nie opgewasse vir die taak nie. Boonop was hy meer liberaal in sy beskouings en het hom as leraar teen die letterlike Bybelgebruik van die tyd uitgespreek. Sy hantering van ‘n aantal moeilike kwessies sou uiteindelik die voornemende trekkers genoegsame redes gee om tot die Dorslandtrek oor te gaan.
Die skrywer “wil die versigtige mening uitspreek dat dit miskien tyd geword het” om opnuut na Burgers se presidentskap te kyk. Hy was die eerste Transvaalse president wat probeer het om onderwys op ‘n gesonde grondslag te plaas en wetenskap in te voer. Ook het hy Bybelonderrig afsonderlik van skoolonderrig beskou. Voor hom was daar nie sprake van staatsadministrasie in die ZAR nie en belastings was byna ongekend. Dit lyk dit “asof daar by die meeste Transvalers in hulle ruwe staat nie die vaagste begrip was dat belasting noodsaaklik was vir die doeltreffende funksionering van ’n welge-ordende staat nie en eerder die staat as ‘n vrywilligerorganisasie beskou is”.
Thomas Burgers was later die enigste persoon wat end-uit teen die naderende Britse anneksasie en die verlies van die Transvaalse onafhanklikheid geveg het. As eensame stryder het hy tot die laaste sy plig gedoen en aan sy ampseed getrou gebly tot die anneksasie finaal deur die Britse regering bekragtig is. In die koerantberigte van daardie tyd soek mens tevergeefs na aanduidings dat die Volksraad of latere ‘helde’ soos Paul Kruger of Piet Joubert in 1877 enige pogings aangewend het om dit te verhoed.

[Opsomming voorsien deur Babs Basson]