Johan Degenaar se fenomenologiese antropologie en die vraag na die hel

“Liggaamlikheid is die enigste wyse waarop die mens hom in die wêreld vind. Die liggaamlikheid van die mens is die voorwaarde waarvolgens hy in die wêreld is, dit wil sê die voorwaarde waarvolgens hy mens is. Liggaam behoort tot die wese van die mens. ”

“Die mens is sy liggaam.”

Johan Degenaar

1. “Die Sokrates van Stellenbosch”

1.1 Inleiding

Johan Degenaar het, soos Sokrates van ouds, filosofie protesterend uit die akademiese lesingsale gesleep en in die markplein van die alledaagse staan gemaak deur te wys hoedat ons dink en doen in ons daaglikse lewe onderlê word deur meesal ondeurdagte aannames en denkwyses. Hy was ’n pleitbesorger vir hierdie wêreld en ’n teenstander van enige vorm van absoluterende denke, hetsy in die teologie, die politiek, ekonomie, wetenskap, letterkunde of kuns, en sy invloed het deur sy studente ’n impak op al hierdie gebiede gehad. Onderliggend aan sy hele denk-oevre was sy denke oor die mens (sy antropologie of mensbeeld) en sy afwysing van die gelaagde tweedeling van die mens in ’n sterflike liggaam en ’n onsterflike siel.

Degenaar se rolmodel vir wat ’n filosoof en ’n mens kan wees, was die Griekse filosoof Sokrates (470–399vC). Sokrates se slagspreuk was “Ken jouself,” met dié implikasie dat jy oor jou oortuigings, motiverings en optredes krities moet reflekteer, want, het hy gesê: ’n ongeëksamineerde lewe is nie die moeite werd om te lewe nie! Op die markplein het hy verbygangers uitgedaag om hulle oortuigings te toets deur kritiese gesprek waardeur vooroordele ontmasker en mense gedwing is om verantwoording van hulle oortuigings te doen en verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. Hy het voorgehou dat die één ding wat hy weet, is dat hy nie weet nie.

Degenaar het die beginsels van die Sokratiese gesprek probeer uitleef in sy daaglikse omgang met studente en kollegas.

Deur op die gepaste oomblik in ’n gesprek (…) ’n oënskynlik onskuldige vraag te stel, slaag hy daarin om ’n tweede refleksie uit te lok. Soms word vasgeroeste vooroordele sodoende ontmasker of ’n meer geloofwaardige verantwoording van standpunte genoodsaak. Nogtans is die oogmerk van die vraagstelling en die Sokratiese dialoog waarop dit gerig is verwondering, gesonde kritiek en kreatiewe lewenskuns.

(Van der Merwe 2008:iii)

Paul Cilliers (1956–2011), student, vriend en latere kollega van Degenaar, stel dit so:

Vir hom was filosofie as besinning oor die lewe nooit ’n vlug in die abstrakte nie, dit was ’n verbintenis tot ’n deurleefde werklikheid. Terselfdertyd was die konfrontasie met die werklikheid iets wat, soos by Homerus, altyd bemiddel was deur die woord.
(Cilliers 2006)

Van der Merwe beskryf Degenaar se bedryf van die filosofie as Sokratiese dialoog as ’n Tweede Refleksie:

(Tweede refleksie) is dan ook een van sy eie geliefkoosde beskrywings van die filosofie: die tweede ná-denke oor wát en hóé ons dink. In die eerste, gewone denke gaan ons uit van beskouinge en begrippe wat vir ons as vanselfsprekend voorkom en waarvan ons meen dat ons weet wat dit beteken. Sodra ons egter verlei of genoodsaak word om daaroor na te dink, ’n tweede keer te reflekteer, ontdek ons ons eie onkunde of die kompleksiteit van sake wat vir ons nog altyd voor die hand liggend en eenvoudig gelyk het.

(Van der Merwe & Duvenhage 2008: iii)

Dit sou ook kon dien as ’n goeie refleksie van die fenomenologie as filosofiese metode.

1.2 Doktorale studie in Nederland

,p>Gedurende sy doktorale studie in Nederland loop Degenaar klas by beide die Duitse sosioloog en fenomenologiese antropoloog Helmuth Plessner (1892–1985) en die Nederlandse godsdiensfilosoof Gerhardus van der Leeuw (1890–1950). Beide Plessner en Van der Leeuw het hom bewus gemaak van die fenomenologie as filosofiese metode en die sentraliteit van die menslike liggaam in enige poging om die mens as komplekse fenomeen (verskynsel) te begryp. Hy beskryf hulle invloed op sy denke soos volg:

Die fenomenologie het ek by Helmuth Plessner in Groningen (1949–1950) van naby meegemaak. Daar was ook Gerhardus van der Leeuw — ’n groot naam in die godsdiensfenomenologie. Ek het by beide klasgeloop. Plessner het Husserl en Scheler aan my bekend gestel. Hy (Van der Leeuw) het my baie beïnvloed, deur my van die betekenis van mites en sprokies bewus te maak.
(Vgl. Van der Merwe & Duvenhage 2008:317)

Van der Leeuw se klem op die belang van liggaamlikheid en die dansende liggaam kan gesien word in hierdie pragtige aanhaling wat op die web gekry kan word:

The art of beautiful motion is far and away the oldest. Before man learned how to use any instruments at all, he moved the most perfect instrument of all, his body. He did this with such abandon that the cultural history of prehistoric and ancient man is, for the most part, nothing but the history of the dance.

,p>In hierdie voordrag sal ek probeer om aspekte van sy mensbeeld op bevatlike wyse oor te dra na aanleiding van ’n onlangse koerantdebat oor die opmerking van die vermaaklikheidskunstenaar en skrywer, Nataniël: “Jy gaan hel toe; gaan kerk toe!” en dit in verband te bring met temas wat vir NHN-lede bekend is.

Om meer te lees oor Ek is my liggaam Kliek Hier