Deur: CHRIS MARAIS
Datum : So 22 Mei 11
In die moderne samelewing word die dood in baie gevalle uit ons ervaringswêreld verdring, asof die dood nie werklik bestaan nie – die groot olifant in die sitkamer waaroor niemand meer praat nie. Dood word in pragtige houtkiste verpak, met blomme versier en met gevleuelde woorde van hemelse prentjies van goue strate verbloem. In party gevalle word die dood so ver op die agtergrond geskuif dat die liggaam van die oorledene nie meer op sy/haar eie roudiens toegelaat word nie – die oorskot word veilig by die ondernemer weggesteek om later privaat veras te word. En moet om hemelsnaam net nie die kinders saambring nie!
Chris Marais, ‘n gewese predikant en bedryfsielkundige, is van mening dat die moderne ingesteldheid oor die dood, die mens ‘n onreg aandoen deur hom op ‘n kunsmatige manier van die gootste realiteit van die LEWE te vervreem. Hy deel graag sy ervaring tov ‘n unieke terapie wat hy ontwikkel het, nl om mense in die teenwoordigheid van die liggaam van die persoon wat gesterf het te begelei om die dood beter te verwerk en te aanvaar.
Vrae wat gevra sal word is hoekom verkies mense om draaie om die dood te loop? Het dit nie tyd geword om die dood weer “huistoe” te bring nie en hoe kan ons daadwerklik weer die dood “bevriend”?