Deur: Pieter Botha

 

Fundamentalisme is ‘n lelike ding. Deesdae betwis niemand in Suid-Afrika dat dit ‘n slegte ding is nie; selfs die wat onmiskenbaar daarmee verbind word, wil nie fundamentaliste genoem word nie. Dit is bietjie soos die verskynsel “rassisme”: niemand loop op straat rond en verkondig dat hy/sy ‘n rassis is nie, en dit is nogal moeilik — selfs in Suid-Afrika — om ‘n openlike rassis raak te loop. Natuurlik beteken dit nie dat rassistiese konflikte nie plaasvind nie. En ons almal weet dat onuitgesproke vooroordele orals raak geloop kan word. Fundamentalisme, wil ek beklemtoon, het te doen het met ‘n gesindheid, ‘n manier van lewe en dink, en daar lê die probleem.

Die term “fundamentalisme” het maar relatief onlangs sy verskyning binne die christelike wêreld gemaak. Fundamentalisme (met ‘n hoofletter) verwys na ‘n spesifieke stroming. Streng gesproke is dit ‘n beweging, een van die “new religious movements” van die twintigstse eeu, ‘n teologiese beweging wat in Amerika gedurende die eerste paar dekades van die twintigste eeu ontstaan het. Dit was ‘n poging om die kernwaardes (die “fundamentals”) van die christelike geloof te beskerm teen die invloed van moderne denke. Mens kan onmiddelik die probleem insien: met watter ander denke dan jou geloof bedink? Die manier hoe fundamentaliste die probleem hanteer is om die lewe en denke op te deel, met verskillende reëls en voorwaardes vir die verskillende dele.

Fundamentalisme is ‘n komplekse en geskakeerde beweging, maar het veral die strewe om die “onfeilbaarheid van die Skrif” voor op te stel as teenvoeter (of as alternatief) vir wat hulle beskryf as “modernisme”. Dit is hierdie faset wat die meeste in gesprekke met en oor fundamentalisme voorkom, en waarskynlik die prominentste aspek van die fundamentalistiese gesindheid of ingesteldheid. Ek wil op hierdie faset van die fundamentalistiese gesindheid fokus.

Oënskynlik het fundamentaliste dit oor die onfeilbaarheid van die Skrif. Maar dit gaan eintlik oor weerstand teen realistiese en konsekwente interpretasie van die Skrif. Hierdie weerstand behels verbysterende inkonsekwenthede en ‘n ontstellende dualisme vir lewe en geloof.

Oor inkonsekwenthede. Sommige goed moet letterlik, net so opgevat word, en ander moet met komplekse “hermeneutiek” en “teologiese metodes” geïnterpreteer word. Byvoorbeeld, die verhale oor die maagdelike geboorte, Jesus se ‘wonderwerke’ en die opstanding word net so letterlik opgeneem, maar die grootste deel van die Ou Testament word wegverklaar met besonder ingewikkelde “hermeneutiese beginsels”. Daar is baie sulke inkonsekwenthede. Nog ‘n voorbeeld (dink aan Adrio König se voorbeeld onlangs in Beeld) is vroue se onderdanigheid wat as ‘n Bybelse feit geag word, maar mans se verpligte kort hare nie — terwyl altwee ondubbelsinnig en duidelik in die Nuwe Testament gestel word (1 Kor 11). Die een is ‘n onproblematiese “feit” wat “net so daar staan” en die ander een is “irrelevant” op gronde van een moerse lang beredenering.
Almal van ons — sonder uitsondering — selekteer. Ons behoort net eerlik daaroor te wees, en die seleksie duidelik, in die openbaar, histories en wetenskaplik begrond. My mening is dat die kerk verantwoordelikheid moet aanvaar vir al haar tradisies. Sy is immers die outeur daarvan (insluitende die kanon) en kán dit doen en behoort dit te doen. Daarom mag sy en moet sy haar tradisies bekritiseer, verwerk en herbedink.

Fundamentaliste hamer op die maagdelike geboorte van Jesus. Hoe de drommel kan mens sê die stories oor Sjaka se onnatuurlike verwekking is legendes, maar Jesus s’n is letterlik? Is dit historiese metode of vooroordeel wat die verskil maak? En hoe word die teks gelees: wil Matteus en Lukas ons vertel oor Maria se baarmoeder — waavan NIEMAND enigiets kan sê nie — of, binne hulle konteks met hulle opvattings, iets sê oor wie werklik Israel is (Mt) en wat ‘n alternatief kan wees vir die keiserlike ideologie (Lk)?

 

Dualisme. Daar is al baie fundamentalistiese bybelkommentare geskrywe. Wat my aan die gang sit, is die skreiende teenspraak tussen die aanspraak en die praktyk. ‘n Fundamentalistiese kommentaar sê uitdruklik die oogmerk is om die onfeilbaarheid (bedoelende nou historiese betroubaarheid) van die Bybel te bevestig. Maar lees jy nou die boek vind jy die grenslose onfeilbaarheid van menslike argumente. Dit gaan oor die oneindige vernuftigheid van die kommentator, wat met verbysterende detail elke moontlike en onmoontlike probleempie kan wegverklaar (vergelyk weer Adrio König se voorbeelde). Van hierdie verklarings staan absoluut NIKS in die teks self nie, en elke volgende fundamentalis het ‘n ander, nog slimmer uiteensetting van hoe dit “eintlik” gebeur het en hoe dit “presies net so” gebeur het. Dit is ook ‘n refrein in sulke benaderings, dat daar geen (of dan “bykans geen”) probleem êrens in die Bybel is nie, en met verbluffende verbiositeit word dan ook alles uit die weg gerym.
Jare gelede het my studentemaats dikwels gespot met die skisofrenie wat te vinde was in dié soort van boeke. Vandag sal ek nie so gemaklik die term gebruik nie (skisofrenie is ‘n vreeslike siekte wat ontsettende lyding kan veroorsaak), maar ek dink ons almal begryp die punt: twee stelle reëls vir verskillende dele van jou lewe. Een stel vir jou geloofslewe en een stel vir die res van jou lewe.

Wat ek hier probeer doen is om aan te dui hoekom ekself en baie ander mense gekies het om nie meer fundamentalisties te wil wees nie. Watter soort mens is jy wanneer jy twee stelle reëls aanlê vir jou verhouding(s) met die teenoorgestelde geslag: een vir wanneer jy by jou huweliksmaat is en een wanneer jy by ander mense is. Hoe gesond is dit om een stel reëls vir waarheid te hê wanneer jyself die geleentheid het om te verneuk en vir wanneer jy vermoed jy word verneuk?

Dit is, myns insiens, die kern van die probleem van die anti-modernistiese strewe.

Ek weet die meeste van ons lesers sal verstaan wat nou nie gesê word nie, maar ek wil beklemtoon dat hierdie argument beteken NIE dat God ontken word NIE, OF dat die Bybel nonsens is, OF dat modernisme my god is NIE. Dit spruit voort uit die oortuiging dat ek hier en nou my lewe wil lei. Dit beteken wél dat daar probleme is met godsdienstige handelinge en voorskrifte en belydenisse wat werk met ‘n laat-Romeinse en/of Middeleeuse wêreldbeeld. Presies dit is die probleem, nie die bewering dat daar nie ‘n God is nie of dat die Bybel verwerp word nie.

Daar is (verskriklik baie) probleme met en deur moderne perspektiewe tot stand gebring. Daardie probleme kan net deur sinvolle moderne kritiek geanaliseer, gekorrigeer en genegeer word.
Opgedateer op : So 07 Aug 11