Daar is net een lewe wat lewe. Hierdie lewe manifesteer in oneindige en asemrowende verskeidenhede, anorganies en organies. Maar dit is een lewe wat lewe. Ek verkies hierdie frase “Daar is net een lewe wat lewe” in plaas van die term “God”, maar die term “God” is net so ’n goeie term as enige ander om te poog om uitdrukking te gee aan hierdie een lewe wat leef, hoe dit ontstaan het, en hoe dit voortgaan om sigself te onderhou. Dit is hoekom skeppingsmites van regoor die wereld so fasinerend is, en Genesis 1 is geen uitsondering nie.

1. OUTEURS EN GESKIEDENIS

Die eerste skeppingsverhaal in Genesis 1 (1:1–2:4a, Die skepping in 6 dae en rus op die sewende dag) en die tweede een van Genesis 2 (2:4b–3:24, Die Tuin van Eden en Adam en Eva), bevat nie net talle betekenisvolle verskille nie, maar is ook deur verskillende outeurs geskryf.

Volgens linguiste, paleografiste en Ou Testamentiese wetenskaplikes is die tweede skeppingsverhaal die ouer weergawe en is geskryf deur die sogenaamde “Yahwiste” (950–800 vC) in die suide van Israel, met ietwat invloed en effektiewe vermenging met die meer noordelike “Elohiste” op ’n later stadium toe die noordelike koningkryk vernietig is (721 vC). Genesis 1 is ’n jonger weergawe (alhoewel dit meer “oer” klink) en is waarskynlik tydens of kort na die Babiloniese ballingskap (597 en 587–539 vC) geskryf. In hierdie tyd wou die Joodse priesters hul monoteïstiese geloof behou in die aangesig van die oorweldigende Babiloniese invloed, en wou hulle ook die Sabbat en Joodse seremonies herbevestig. Genesis 1, met die eksklusiewe gebruik van “Elohim” vir God, word dus toegeskryf aan die sogenaamde Priester-skrywers.

Daar is heelwat ooglopende verskille tussen die twee weergawes, maar die een wat ek wil uitlig vir ons doeleindes is die verskillende terme vir “God”. Die eerste skeppingsverhaal (Gen 1) verwys altyd en slegs na God as “Elohim”, terwyl die tweede een (Gen 2) altyd na God verwys as “Yahweh” of “Yahweh Elohim”, maar nooit eksklusief as “Elohim” nie.

Die God van Genesis 1 (Elohim) is die skepper in beheer van die kosmos, die heelal en al die vlakke van die ekologie van dinge, wesens en mense. Elohim in Genesis 1 heers oor die skepping en die natuur en is die bron van alle lewe. Elohim word in ander dele van die Bybel gebruik wanneer God in meer algemene, alles-omvattende en voleindige terme voorgestel word. Elohim skep en heers vanuit ’n transendente of verhewe posisie, maar is ook alomteenwoordig.

Met die tweede skeppingsverhaal (vanuit die Yahwistiese tradisie), met God as Yahweh, is die skryfstyl minder verhewe en minder formeel (nie so geheg aan formules nie) as in Genesis 1. Die skryfstyl is meer menslik en kommunikatief. Die fokus is op die verhoudings- en kulturele aspekte van God se betrokkenheid. Yahweh is nader aan die mens en betrokke by die mens se verantwoordelikhede en moraliteit.

So, wanneer Genesis 1:26–27 sê die mens is na die beeld van God geskape, word daar verwys na Elohim. Die implikasie hiervan is belangrik vir ons gesprek vandag. Maar kom ons begin by die begin, by die eerste 5 dae van die skepping.

2. SKEPPING IN GENESIS 1 TOT EN MET DIE VYFDE DAG

In Genesis 1 lees ons dat die aarde aan die begin woes, leeg en in duisternis was. Dit was met ander woorde sonder vaste vorm of struktuur, ’n leë ruimte. Dit is onmoontlik om ’n leë ruimte voor te stel, want die oomblik wat jy dit kan voorstel, is dit nie meer ’n leë ruimte nie. Die eerste skeppingsdaad was om lig en donkerte te skei. Verdeling, afbakening of skeiding is noodsaaklik vir die vestiging en bevestiging van iets of van identiteit. Om iets (identiteit) uit niksheid of vanuit ’n amorfe eenheid te vorm, vereis skeiding en verdeling. Maar hierdie skeiding of divisie bring ook ontkenning of afwysing mee (“negation”), want die gevestigde en begrensde identiteit is nou anders as (in teenstelling met, of uitsluitend van) ander identiteite. Skeiding en verdeling vestig kontrasterende identiteite, elk ‘n bevestiging van sy eie en ’n afwysing van die ander. Maar in die afwysing (“Dit is lig en nie donkerte nie”) vind daar juis ook ’n vestiging en bevestiging van die teenoorgestelde identiteit plaas (“Dit is donkerte”). Lig ontken donkerte en donkerte ontken lig, en so vestig en bevestig elk sy eie afsonderlikheid of identiteit. Maar in dieselfde asem (tegelykertyd) bevestig lig donkerte se kwaliteit, en donkerte bevestig lig s’n.

Skeiding en onderskeiding tussen twee identiteite dui juis ook op hul interafhanklikheid; hoe hulle saamloop en saam verskyn. Die Buddhisme het ’n mooi term daarvoor: “Dependent/Interdependent Arising” (interafhanklike voortspruiting). Sonder hul teenoorgesteldes is lig en donker niks, nie identifiseerbaar nie, sonder eiesoortigheid en sonder kenmerkendheid (m.a.w. “woes en leeg”). Lig het donkerte nodig om lig te wees, en andersom. Mens kan sê hulle is komplimentêre verskille wat interafhanklik ontstaan en bestaan. Wanneer lig geskep word, word donkerte ook duideliker gedefinieer. In hulle andersheid vorm hulle ’n eenheid. Die priester-outeurs het hierdie paradoksale beginsel van skepping, van ontstaan en voortbestaan, goed verstaan.

In Genesis 1 gaan hierdie proses van skepping voort, te alle tye deur skeiding en kontras, divisie en opposisie; waar die identiteit van een pool gevestig word met, deur en onafskeidbaar verbind aan die teenoorgestelde pool: waters onder en waters bo, waters en droë grond (see en aarde), plantegroei en hul sade. ’n Saad is ’n tegelyk ‘n ontkenning van ’n plant (anders as) en ‘n bevestiging daarvan (dieselfde as). ’n Saad is anders as die plant, en moet daarvan skei om sigself te vestig, en in die andersheid word dit weer dieselfde. Dit is die paradoks van die skepping. En so gaan dit voort: dag en nag, seisoene (winter en somer, herfs en lente), en lewende wesens langs die uitspansel, in die see en op land (en elk “…volgens hulle soorte”) word in Genesis 1 vyf keer herhaal (m.a.w. ’n bevestiging van eiesoortigheid en ’n afwysing van alle ander soorte). Maar soos ek vroeër gesê het, eiesoortigheid van die een bevestig die andersheid van die ander — en daardeur juis die eiesoortigheid van die ander. Daar is geskepte diversiteit in die ekologie, maar tegelyk ’n interafhanklike en onafskeibare netwerk met mekaar. Die skepping is diversiteit in eenheid, skeiding in verhouding.

Ek is ’n elektron (bevestiging), nie ’n proton nie (afwysing), en dit maak jou ’n proton (bevestiging) en nie ’n elektron nie (afwysing). En saam vorm ons ’n onafskeibare eenheid.

Die proses van skepping is altyd vir my ’n interessante een. Die eerste lyn wat ’n kunstenaar op ’n leë doek trek, is ’n positiewe vestiging van sigself en ’n onmiddellike afwysing van die woeste en leë doek en van al die ander moontlike lyne en vorms. Dit is hoe skepping bestaan vind, en elke oomblik bly voortbestaan, deur vestiging wat afwysing is, en afwysing wat vestiging is. Ek dink die priester-skrywers het hierdie dinamika van elke skeppingsdaad só verstaan. Skepping is ten nouste verweef met kontras, teenoorgesteldes en die eiesoortigheid wat sigself slegs kan vind in die andersoortigheid.

Die essensie van hierdie een lewe wat leef (God as jy wil) kan slegs deur paradoks beskryf word, deur ’n proposisie wat self-kontrasterend of absurd klink, maar in werklikheid ’n moontlike waarheid of realiteit bevat. Elohim en Elohim se skepping kan in geen ander terme as paradoks of dubbelsinnigheid beskryf word nie. Afwysing wat vestiging is en vestiging wat afwysing is.

En met alles gesê, na die vyfde dag in Genesis 1 het Elohim gesê (of die priester-skrywers het gesê dat Elohim gesê het) “…dat dit goed was”. (Dit word ook 5 keer herhaal in Genesis 1 tot op hierdie stadium.) Die “goed” (Hebreeus tob/tôv) in die konteks van Genesis 1 word gesien as “funksioneel”, wat die praktiese en tegniese aspekte van die woord beklemtoon eerder as die morele aspek (Harris, Archer and Waltke’s Theological Wordbook of the Old Testament). Elohim sien die skepping as funksioneel, soos ’n goed geoliede en ingestelde enjin (dit is goed – dit werk). As ’n bywoord kan tôv ook skoonheid, beste of oorvloedigste beteken.

So, skepping tot op die vyfde dag is “goed”, die teenoorgesteldes, polariteite en paradokse is funksioneel en selfs mooi. Al die dualiteite werk goed saam en daar is pragtige oorvloed, net soos wat ons elke dag in die natuur kan sien met hierdie een lewe wat leef.

3. DIE SESDE DAG – “LAAT ONS MENSE MAAK NA ONS BEELD, NA ONS GELYKENIS.”

In Genesis 1:26–27, op die sesde van die sewe dae, word die skepping van die mens beskryf: “En Elohim het gesê: ‘Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.’ En Elohim het die mens geskep na sy beeld; na die beeld van Elohim het hy hom geskep; man en vrou het Elohim hulle geskep.”

Ons sien weer die kontrasterende teenoorgesteldes, man en vrou (animus en anima in Jungiaanse terme), gelyk geplaas (in teenstelling met Genesis 2). En die ganse skepping, insluitende die mens, word nou as “baie goed” beskryf (Gen 1:31). Ek hou nogal van die vertaling van die woord “baie” (Hebreeus, meôd) in hierdie konteks as “geheel en al” of “volkome” (“wholly”), in die lig van die kontrasterende teenoorgesteldes wat ’n geheel vorm. Soos Jung gesê het: “Without the experience of opposites there is no experience of wholeness…” (CW 12, par. 24). So, die skepping was “volkome (geheel en al) funksioneel” na die sesde dag.

Talle Bybelwetenskaplikes het al geworstel met die terme “beeld” en “gelykenis” in vers 26, “Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” David Clines (emeritusprofessor in Bybelkunde aan die Universiteit van Sheffield) gee ’n uitgebreide oorsig van die interpretasiegeskiedenis van hierdie vers.

Talle klassieke outeurs sien die betekenis van die beeld (Hebreeus – tselem) van God as die teenwoordigheid van hoër karakterdeugde of spesiale kwaliteite in die mens, soos bewustheid, rede, vitaliteit, edelheid, ens. Meer onlangse analiste sedert 1940, soos Gunkel en Humbert, sien die beeld meer as eksterne fisiese vorm, drie-dimensionele en afgebakende beliggaming, nie vae interne kwaliteite of deugde nie.

Clines wil nie ’n onderskeid tref tussen die hoër geestelike kwaliteite en fisiese vorm nie, maar will eerder die persoon as geheel beklemtoon. Die mens is ’n eenheid, ’n totale wese, as die beeld van Elohim. Die sogenaamde spirituele kwaliteite van psige, hart en siel skyn in en deur elke enkele deel van die fisiese self. Jung beklemtoon deurgaans dat die fisiese en spirituele saam in die menslike psige bestaan: “’Psychic’ means physical and spiritual” (CW 13, para 76, note 2). Clines is ’n Ou-Testamentikus, maar hy klink baie soos Jung: “The body cannot be left out of meaning of the image; the person is a totality, and its ‘solid flesh’ is as much the image of God as its spiritual capacity, creativeness, or personality, since none of these ‘higher’ aspects of the human being can exist in isolation from the body (…) a bodiless human is not human, the body is the image of God; for the person is the image of God. Humanity is the flesh-and-blood image of the invisible God (…) the body is not ‘opposed’ to the spirit; indeed, as far as the image is concerned at least, what the body is the spirit is. It is the homo, not the animus or the anima, that is the imago Dei.” (Clines, Image, p 35).

Hierdie aanhaling van Clines vind nie net aansluiting by Jung in die terme anima en animus nie, maar Jung gebruik ook voortdurend die terme imago Dei, wat hy sien as die beeld van God in die mens. Hy benadruk dat dit die beeld van God in die mens is, wat ’n sielkundige werklikheid is. Oor die bestaan of nie van God, kan hy hom nie uitspreek nie. Jung se kernidee is dat hierdie imago Dei ’n eenheid verteenwoordig, ’n sameloop van teenoorgesteldes. In die liggaam en in die psige vind ons ’n sameloop van teenoorgesteldes en dit is die imago Dei (coincidencia oppositorum) in ons.

Waar die Hebreeuse term vir beeld “tselem” is, is die term vir gelykenis “demut”. Demut vir gelykenis bevat die element van “soos dit …” of “verteenwoordiging van dit… ” Soos ’n simbool verteenwoordiging van iets is (bv. ’n rooi roos as die fisiese beeld van liefde), so is die mens fisiese verteenwoordigers van Elohim. Clines (Image, p 40) maak ’n saak uit dat die woord “na” (beth), soos “na die beeld van God” (Engels “in the image of God”), meer as “as die beeld van God” of “in die kapasisteit van God se beeld” gesien moet word. So, die mens is op die aarde, deur sy/haar liggaamlike self (fisiese beeld), in die kapasiteit van, of as verteenwoordiger van (gelykenis) Elohim. Die mens is fisiese verteenwoordigers in die geskepte wêreld van iets wat slegs in paradoks of deur dubbelsinnigheid beskryf kan word. As hierdie verteenwoordigers is die mens ’n geheel wese, manlikheid en vroulikheid, animus en anima, dualiteit in eenheid.

Elohim manifesteer in en deur beide teenoorgesteldes van ’n polariteit, soos Jung sal sê, ’n “living balance between opposites” (CW 8, para 103). Elohim manifesteer in lig en donker, skeiding en eenheid, bevestiging en afwysing, groei en verganklikheid, skepping en vernietiging. Jung het baiekeer beswaar aangeteken teen die tipering van God as Summum Bonum (opperste of allerhoogste goedheid), want dit druis in teen wat so ooglopend in die geskepte natuur is. Jung (Liber Novus, p 243): “I understood that the new God would be in the relative. If the God is absolute beauty and goodness, how should he encompass the fullness of life, which is beautiful and hateful, good and evil, laughable and serious, human and inhuman? How can man live in the womb of the God if the Godhead himself attends only to one-half of him?” Elohim is ’n teenstelling, ’n teenstrydigheid, omvattend van al die moontlikhede.

In die lig hiervan maak die gebruik van meervoud in Genesis 1:26 (“Laat ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”) ook sin. Hierdie gebruik van die meervoud het baie debat oor die eeue ontlok. Sommiges sien die pluraliteit as die Drie-eenheid, ander as oorblyfsels van die politeïstiese mitologieë, of die pluraliteit as koninklike taalgebruik, as die hemel van engele, of as self-oproeping (“Laat ons…”).

Na ’n deeglike ontleding stel Clines ’n dualiteit in die Godheid voor, soos Karl Barth ’n pluraliteit in die Godheid, of Hasel ’n pluraliteit van volheid in die goddelike wese. Hierdie sienings is nie noodwendig teenstrydig met die monoteïstiese siening van die Ou Testament nie. Prof Charles Fensham (Esterhuyse 2010: 79) verduidelik dat dit juis deur die pluraliteit van Elohim is wat die almagtigheid van Elohim uitgedruk word. Elohim, en Elohim alleen is die alles, die pluraliteit.

Die plurale volheid van Elohim, wat alle dualiteite en teenoorgesteldhede bevat, word in die mens beliggaam (beeld en gelykenis), en ons is daarom, volgens Jung, draers of houers van heilige konflik. Hierdie konflik is nie ’n maklike verantwoordelikheid nie (CW 11, para 659). Dit is ook nie ’n probleem wat opgelos kan word nie, maar ‘n dualiteit wat voortdurend bestuur moet word. Ons verteenwoordig die simbool van die Uroborus, die slang wat sy eie stert verorber. Skepping en vernietiging vorm ’n eenheid. Alle teenoorgesteldes staan in ’n onlosmakende verhouding to mekaar, dit vorm ‘n komplementêre eenheid. Ons verteenwoordig hierdie dinamiek deur wat Jung die Self noem, wat die argetipe van die God-beeld in ons is. Weer eens, ek sê nie dat God bestaan nie, dit is elkeen se geloofsaak, maar ’n God-beeld wat komplimentêre verskille bevat, is ’n sielkundige werklikheid.

Die God-beeld, (Imago Dei) of die Jungiaanse “Self” verteenwoordig inter-afhanklikheid, geheelheid, en die paradoksale eenheid van teenoorgesteldes. “The self … is absolutely paradoxical in that it represents in every respect thesis and antithesis, and at the same time synthesis” (CW 12, para 22). Jung (CW 11, para 716): “As a totality, the self is always a complexio oppositorum…” Jung noem dit ook die “great incompatibles” in ’n brief aan ’n Switserse predikant in 1945 – “the divine paradox” (Letters, vol. 1, p. 392).

Die mens is ’n verteenwoordiger, ’n fisies sigbare uitdrukking van Elohim. En Elohim is allesomvattend, volledig, geheel en insluitend van alle teenoorgesteldes, ’n coincidencia oppositorum, ’n ooreenstemming, sameloop of paradoks van teenoorgesteldes. En die Imago Dei verteenwoordig of tree op as die beeld en gelykenis van Elohim in ons.

4. ELOHIM SE BEELD EN GELYKENIS AS ’N COINCIDENTIA OPPOSITORUM

So, hoe is die mens ’n lewende en beliggaamde uitdrukking, ’n beeld en gelykenis, van ’n sameloop van teenoorgesteldes? In ons fisiese en sielkundige lewens, as geheelwesens, behoort ons die dinamiek van teensoorgesteldes in en deur ons te bespeur.

4.1 FISIES BELIGGAAMDE SAMELOOP OF MEDEWERKING VAN TEENOORGE-STELDES

• Atome, die boustene van alle fisiese manifestasies, insluitend ons liggaam, funksioneer met positief gelaaide protone en negatief gelaaide elektrone.
• Ons DNS is ’n ingewikkelde en deurgevlegde dubbelspiraal-skroeflyn met teenoorgestelde maar komplimenterende stringe.
• Ons is bevrug in en deur teenoorgesteldheid – die vroulike eiersel en die manlike spermsel.
• Fisies bestaan ons uit 50-70 triljoen selle wat elke oomblik van elke dag onstaan en sterf deur vestiging en afwysing (seldivisie of apoptose). Ons liggaam ondergaan ongeveer 10 000 triljoen seldivisies in ’n leeftyd. (Quammen, David (April 2008).
• Ons hartslag trek saam en ontspan. Bloeddruk het ’n sistool (die drukking in die are wanneer die hartspiere saamtrek) en ’n diastool (die drukking in die are tussen hartslae – wanneer die hart ontspan of laat gaan).
• Ons breinselle of neurone begelei impulse deur ’n uitruiling van positief gelaaide natrium en negatief gelaaide kalium.
• Die senustelsel is ’n duidelike skeiding van teenoorgesteldes – die sentrale en outonome stelsels – wat op hulle beurt weer die simpatiese (mobiliserende, energie-spanderende) en parasimpatiese (rustende, energie-konserverende) funksies bevat, die linker- en regterhemisfere, die limbiese (emosionele) en die korteks (kognitiewe) dele, ens.

Die skepping, in en deur ons liggame, kan nie ontstaan, in werking tree of voortgaan sonder kontras en teenoorgesteldheid nie. Die uitwisseling tussen vestiging en afwysing van kontrasterende pole is ’n onontbeerlike dinamiek. Ons liggaam is ’n lewende herbergier (gasheer of gasvrou), ’n tempel as jy wil, van kontras, en kan nie ontstaan of bly voortbestaan daarsonder nie. Ons is beliggaamde voorstelle en uitdrukkings (beelde en gelykenisse) van ’n coincidencia oppositorum. Dit is hoe Elohim (of hierdie een lewe wat leef) sigself vertoon. Hierdie een lewe wat leef, arriveer en manifesteer deur teenoorgesteldes. Soos die dubbelgesig Romeinse god, Janus, alle begin-oomblikke, transisies en eindpunte verteenwoordig, so sien ons komplimentariteit in ons fisiese self en in die natuur.

4.2 SIELKUNDIGE SAMELOOP OF MEDEWERKING VAN TEENOORGESTELDES

Onafskeidbaar van die fisiese self, volg die sielkundige funksies dieselfde dinamiek.

• Enige waarneming of persepsie kan nie plaasvind sonder kontras nie. Fokus jou aandag op ’n figuur, vestig die vorm en grootte daarvan in jou bewustheid, en tegelykertyd skep jy ’n agtergrong van onbewustheid.
• Kultiveer ’n vaste en eensydige uiterlike masker of persona (Jung), en ’n teenoorgestelde skadu begin vorm, wat een of ander tyd gaan wys.
• Verby die skaduwee, op ’n dieper vlak van persoonlike ontwikkeling, ontdek die man dat die roete tot onontdekte potensiaal in sy wese in en deur die anima is (die meer vroulike kwaliteite – sorg, omgee, aanvaarding, medemenslikheid, gevoelvolheid, kreatiwiteit), en die vrou deur die animus (meer manlike kwaliteite – selfhandhawing, eksplorasie, analise, fermheid).
• Ons sielkundige funksies kan verdeel word in teenoorgestelde pole van denke versus gevoel, en gevoel op sy beurt in gevoel vir of teen, vlug of veg, affeksie of koudheid. Ons kan ’n saak benader vanuit ’n objektiewe of subjektiewe oogpunt, en die subjektiewe kan dan weereens op sy beurt verdeel in bv. optimisties of pessimisties. Ons kan feite teenoor geloof/godsdiens stel, en godsdiens skep dan vroomheid of sondigheid, goedheid of boosheid. Ons het logies teenoor magies, en magies kan weer wit of swart magie wees. Kwantitatiewe beoordeling versus kwalitatiewe beoordeling, en kwalitatiewe beoordeling kan op sy beurt goed of sleg, vir of teen word.

Ons is geprogrammeer (“hardwired”) met polariteite vir oorlewing en sukses. Oorbeklemtoning van die een tot die nadeel van die ander sal pyn en lyding teweeg bring en oorlewing kompromitteer.

Met ’n eensydige gesigspunt, waar een kant van die polariteit absoluut gemaak word ten koste van die ander kant, begin iets verkeerd loop, of uit balans raak, of teen die skepping en voortbestaan werk. Jung haal Chuang-tzu aan: “Tao is obscured when you fix your eye on little segments of existence only …[leading to] one-sided attachments” (CW 8, para 923). Buddha skryf lyding toe aan die weerstand teen ingeweefdheid, waar daar ’n vasklou aan een ding is ten koste van ’n ander. Deur verknogdheid gaan openheid verlore en skep ons pyn en lyding. Jung skryf in Red Book (p 244): “Unequivocalness (sekerheid/ontwyfelbaarheid) is simplicity and leads to death. But ambiguity (dubbelsinnigheid) is the way of life.”

5. OM DIT TUIS TE BRING

(Sien Uitdeelstuk, p. 11.)

5.1 TWEE TIPES PROBLEME

• Wat ons kan bring is bewustheid van beide kante, ‘n ope dialoog tussen, en omarming van, die teenpole.
• Jung sê: “As the process of coming to terms with the counter-position has a total character, nothing is excluded. Everything takes part in the discussion, even if only fragments become conscious” (CW 8, para 193).

By die ingang na Apollo se Tempel in Delphi (Griekeland) is geskryf:
“Know Thyself”
“Nothing in Excess”
“Make a Pledge and Mischief is Nigh”
Dit kom vir my die naaste aan die Imago Dei in jouself.

5.2 PRAKTIESE IMPLIKASIES VIR NOU

• Herken en erken die paradoks van teenoorgesteldheid, die komplimentêre verskille, van Elohim in die skepping, in jouself en jou organisasie. Bestuur die polariteite bewustelik, vir maksimum oorlewing en sukses. “If you are unable to find the truth right where you are, where else do you expect to find it?” – Dógen
• Skep ’n paar morele riglyne, want die saamgestelde teenoorgesteldes is amoreel, bevoordeel nie kante nie. Hierdie riglyne kan medemenslikheid of erbarming insluit, juis omdat die skepping gekenmerk word deur skeiding en diversiteit (elkeen volgens sy eie soort) en vra vir aanvaarding, omarming en verdraagsaamheid van verskille. Skep ’n speelruimte vir verskille, maar behou jou onderskeidingsvermoë van wat jy in hierdie speelruimte wil toelaat.

JUNG (CW 8, para 737): “Nowhere are we closer to the sublime secret of all origination than in the recognition of our own selves, whom we always think we know already. Yet we know the immensities of space better than we know our own depths, where – even though we do not understand it – we can listen directly to the throb of creation itself.”

UITDEELSTUK

moontlike nhn polariteite