Hedendaagse gesprekke oor bewussyn word telkens in verband gebring met die evolusieleer van Darwin en die unieke vermoë wat by die mens ontwikkel het tot self-beskouing. Indien hierdie verband regverdigbaar is, met ander woorde as die mens se onderskeidende soort bewussyn  dan fisies deel is van die menslike natuur, is so ‘n fisiese proses tog ‘n goeie ding! Maar ís dit?

Aannames oor die voordele van ‘n verhoogde bewussyn, soos dat dit beter selfkennis, prestasie en selfs beter geestesgesondheid  tot gevolg kan hê, gee dan noodwendig aanleiding tot vergelykings tussen mense en hulle vermoëns wat in meerderwaardigheid of minderwaardigheid kan ontaard. In die lig van die immer groeiende kloof tussen hulle wat het en nie het nie, ontlok sodanige gesprekke op reëlmaat die geykte temas van gelykheid en geregtigheid, wat baie mense laat skuldig voel oor hulle prestasies en laat voel hulle moet verskoning vra vir die voorsprong wat dit hulle besorg! Dus as hierdie onderskeiding nie goed is vir die mensheid in die algemeen nie, dan moet ‘n mens aanvaar dat dit sleg is en tot teenprestasie kan lei; teenprestasie wat in skuld en selfontkenning setel en eindelik tot selfvernietiging kan lei, reken Hein.

Vandaar die titel vir sy praatjie: Ekskuus dat ek leef…

Hein stel die gehoor bekend aan die biologiese beginsel van evolusionêre landskappe om die spronge te verstaan wat in ontwikkeling (en denkvermoë) plaasvind. Verhoogde bewussyn kan denkvermoë stimuleer en ook die waagmoed meebring waarsonder sukses nie bereik kan word nie. Maar saam met sukses kom dikwels groter kompetisie, inperking van hulpbronne, verhoogde angsvlakke. Die kloof verdiep, die meerderheid word bitterder en die wat vooruitgaan voel almeer skuldig.

Nou is die vraag: Kan die mens hierdie menslike dilemma oorkom? Diere het nie hierdie probleem nie. Is daar iets te sê vir selfnegering, of self-onbewustheid? Dit kan tog nie waar wees dat menslike idealisme noodwendig tot ontnugtering en selfvernietiging lei nie. Lê die ontvlugting van die eie-ek moontlik in godsdiens, in “een-waarheid-een-God”, in die wysheidgeskrifte? Hein verwys na Paulus wat sê, bedink die goeie, die passifistiese Jesus wat die ander wang draai, Freud wat tussen delusies en illusies onderskei, Kant en Schopenhauer se filosoferings, Nietzsche se boeke soos Menslik alte menslik! …en Genealogie van moraliteit, Ayan Rand wat altruïsme as die vyand van die mensdom beskou en Jordan Petersen se Twelve Rules for Life in the 21st Century.

In sy samevatting haal Hein uit Sam Harris se werk aan. Hy skryf en praat wyd oor onderwerpe op die gebied van die neurowetenskap en morele filosofie, soos godsdiens en rasionaliteit, asook die mens se groeiende insig in hoe die wêreld om ons ons denke verander oor hoe ons behoort te leef. Harris reken as bewuste mense kan ons die wêreld van ons bewussyn eksploreer, navigeer en bestuur.

Hierop het ‘n ingeligte en uiters interessante gesprek gevolg waaraan verskeie mense uit die gehoor kon deelneem.