MR Byeenkoms 23 Julie 2017

Hennie Maas se liefde vir die misterie van die natuur, klank- en beeldopnames, mooi musiek en die onbekende het sterk deurgekom in sy entoesiastiese aanbieding van ‘n soort “Sterre en Planete” in die kleine, verlede Sondagoggend in Midrand. Sy passie vir sterre en planete het ‘n persoonlike reis geword wat hy graag met ander deel.

Hennie vertel hoe die besef van die mens se nietigheid sy lewensuitkyk en uitsaailoopbaan verryk het. Met ‘n handvol video-insette het hy sowel die reeds bekende as die groeiende onbekende onder ons aandag gebring. As radiopersoonlikheid en joernalis het hy ons beïndruk met sy stokperdjieversameling van beeldmateriaal, sy kennis en persoonlike skakeling met navorsers by ruimte-agentskappe, asook sy indrukwekkende beeldmateriaal oor die werking van die opspraakwekkende nuwe Webb-teleskoop.

Hennie vertel ons onder andere van die “sonman” Kobus Olckers, die sonnestelseleksplorasie (SDE), NASA se “Curiosity” ‒ die duurste 4X4 ‒ op Mars en die Cassini-Huygens wat ‘n onbemande ruimteskip is wat sedert 2004 in ‘n wentelbaan om die planeet Saturnus is en haar vele natuurlike sateliete bestudeer. Hy vertel van “water vang” wat uit verskillende planete ‘lek’ en dan ondersoek word vir moontlike lewe en “asteroïedes vang” om hulle dan in ‘n wentelbaan om die maan te plaas. Dan haal hy vele anekdotes aan, van persoonlikhede soos Japie van Zyl van Namibië met sy aardse manier van kommunikeer , die helikopter wat films neem, asook die navorsing van Anton Koekemoer, die Australiër en die Kanadese ruimtevaarder by NASA en aanvoerder van die Internasionale Ruimtestasie (ISS). Nog ‘n navorsers wat besondere indruk maak, is Chris Hadfield. Hy was 35 jaar in die beroep en het ‘n uiters gewilde kommunikeerder geword met ‘n groot gehoor wat hom op Twitter en Facebook volg.

Nader aan ons wêreld vertel Hennie ons van teleskope wat meestal in die Noordelike halfrond voorkom, die Kepler en die Hubble teleskoop wat veroorsaak het dat ou handboeke oorgeskryf moes word, die 2014 meteorietontploffing bokant Rusland en die laaste toetse wat nog op die ‘futuristiese’ James Webb teleskoop uitgevoer moet word. Ten slotte vertel hy kortliks van die NEO (‘Near Earth Objects’) wat ‘n navorsingsprogram insluit wat die asteroïede 99942 Apophis (voorheen bekend as die 2004MN) bestudeer. Aanvanklik was die verwagting dat die asteroïede in Desember 2004 gevaarlik naby die aarde verby sou gaan en moontlik dele kon uitskiet wat die aarde sou tref. Tans word vermoed dat die dreigende gevaarsituasie moontlik in 2029, of anders vier jaar later of nog verder die toekoms in, mag voorkom. Op ‘n veel ligter noot sluit hy dan die praatjie af met ‘n videogreep van ‘n primitiewe poging om ‘n tuisgemaakte objek (of ‘girandole’) in die ruimte te kry… met interessante moleste ten gevolg! En soos dit meermale gebeur, was die ingeligte bydraes in die gesprekke na die aanbieding besonder interessant.