Deur: Sakkie Spangenberg

Die leerstuk van Jesus se hellevaart het vir baie Christene ‘n vraagstuk geword. Daar is selfs Nuwe-Testamentici wat meen dat die leerstuk uit die Apostolicumverwyder moet word. Die plek waar dit in die Apostolicum voorkom, bevestig dat diegene wat hierdie deel toegevoeg het, geglo het dat Jesus letterlik in die hel was. Daar is ook tekste in die Nuwe Testament wat so geïnterpreteer kan word (vgl Efesiërs 4:9, 1 Petrus 3:19; 4:6). Die Nuwe-Testamentikus Hanson (1983:153) skryf soos volg hieroor: “The author of 1 Peter certainly represents Christ as preaching to the spirits that are in prison, whether that means those who died in the Flood or the rebellious angels.”

As daar één leerstuk is wat uitwys dat die belydenisse kultuurgebonde is en dat ons dit kultuursensitief moet interpreteer, is dit sekerlik hierdie een. Hierdie tekste en die belydenis hang saam met daardie mense se wêreldbeeld. Hulle het ‘n drieverdieping heelal geken en het Jesus se oorwinning so omvattend gesien dat dit die totale kosmos (soos hulle dit verstaan het) gedek het. Voorts het hierdie vertellings hulle gehelp om hulleself uit ‘n dilemma te redeneer: Wat van diegene wat nie van Jesus se oorwinning gehoor het nie? Dit wil sê, wat word van al daardie mense wat in die vroeë tye geleef het?

Wat is my standpunt oor hierdie belydenis en die dogma van Jesus se hellevaart? Ek werk nie meer met ‘n drieverdiepingheelal nie en daarom kan ek hierdie vertellinge en die belydenis wat daarop gegrond is, nie nasê nie. Dit het wel vir dáárdie mense sin gemaak, maar dit maak nie meer sin in my wêreld nie. Tydens die Protestantse Reformasie is die kwessie van Jesus se hellevaart vergeestelik. Die belydenis is vertolk as ‘n beskrywing van Jesus se onmenslike lyding aan die kruis. Die rede vir die afwys van ‘n letterlike verstaan daarvan, hang saam met die wanpraktyke in die Katolieke Kerk van destyds. Priesters het verkondig dat mense hulle afgestorwe familielede uit die hel kon loskoop!

Kom ons by die belydenis van die opstanding, dwing Protestantse kerke hulle lidmate om dit letterlik te glo. Hulle mag die hellevaart wel in ‘n nie-letterlike sin vertolk, maar definitef nie die opstanding nie! Sover vir konsekwentheid in die hantering van die verskillende belydenisse.

Wanneer ons die verhale in verband met die opstanding van Jesus lees, is dit duidelik dat dit eintlik nie ‘opstandingsverhale’ is nie, maar ‘herverskyningsverhale’. Voorts is dit interessant dat nie al die evangelies herverskyningsverhale bevat nie.

Markus, die oudste van die sinoptiese evangelies (geskryf in 70 nC) het géén herverskyningsverhaal nie. Die evangelie sluit deur te vertel dat drie vroue nadat die sabbat verby was (d.w.s. ná sonsondergang die Saterdag) na die graf is. Die drie vroue was Maria Magdalena, Maria die ma van Jakobus en dan ook Salome. Daar aangekom vind hulle dat die klip voor die graf reeds weggerol was. ‘n Jongman deel hulle mee dat Jesus uit die dood opgewek is. Hulle ontvang die opdrag dat hulle vir Petrus en die res moes gaan vertel dat Jesus reeds op pad is Galilea toe. Hulle sal Hom daar ontmoet. Die evangelie sluit dan deur te vertel dat die vroue só groot geskrik het dat hulle uit vrees niemand hiervan gaan vertel het nie (vgl Mark 16:8).

Die ander drie evangelieskrywers laat hulle verhale nie só stomp eindig nie. Die verhaal van Jesus word voortgesit. Daar is voortgang en lewe na Jesus se kruisdood. Matteus, Lukas en Johannes bevat almal herverskyningsverhale. Hierdie verhale is ook kreatiewe herinterpretasies van die skrywers, daarom is hulle histories nie versoenbaar met mekaar nie. Die skrywer van Matteus vertel dat slegs twee vroue graf toe is (Maria Magdalena en die ander Maria). ‘n Engel deel hulle mee dat Jesus uit die dood opgewek is en dat Hy op pad is na Galilea. Die vroue haas hulle na die dissipels om die nuus te gaan vertel, maar loop hulle dan in Jesus vas (Matt 28:9–10). Hy gee hulle dieselfde opdrag as die engel: ‘Gaan vertel my broers dat hulle My in Galilea sal sien.’ Die elf dissipels het toe na Galilea vertrek waar Jesus aan hulle verskyn by die afgespreekte rendezvous — ‘n berg in Galilea (Matt 28:16–20). Waarom ‘n berg, sou mens kon vra? As ons in ag neem dat die skrywer van Matteus sy Jesus teken as ‘n Tweede Moses, is dit nie vreemd nie. Moses het immers voor sy dood op die Neboberg geklim om die beloofde land te aanskou en toe gesterf (Deut 34:1–6).

Die skrywer van Lukas vertel van twee reisigers wat op pad was na die dorp Emmaus, twaalf kilometer noord van Jerusalem. Die twee was besig om oor die gebeure van die vorige dae te praat toe ‘n derde reisiger by hulle aansluit. Die reisiger gee blyke dat hy van niks weet nie en vra hulle uit. Hulle vertel van vroue wat vroeg die oggend (die Sondagoggend) by die graf van Jesus was, maar sy liggaam nie gevind het nie. Engele het hulle egter meegedeel dat Jesus leef. Van die dissipels het gaan ondersoek instel en die graf wel leeg gevind soos die vroue vertel het! Vir Jesus het hulle egter nie gesien nie. Skielik begin die reisiger vir hulle sekere gedeeltes uit die Wet, die Profete en ander Geskrifte uitlê. Hy doen dit egter op só ‘n manier dat dit vir die reisigers vir die eerste keer duidelik is dat alles eintlik geskryf is met die oog op die gebeure van die afgelope tyd. Toe hulle by Emmaus aankom, versoek hulle die reisiger om by hulle te oornag. Eers toe hulle aan tafel is en Hy die seën vra, die brood breek en dit vir hulle gee, besef hulle wie teenwoordig is. Maar dan verdwyn Hy plotseling. Onmiddellik hierna pak hulle die reis terug Jerusalem toe aan om die ander dissipels hiervan te gaan vertel. Daar aangekom vertel hulle die verhaal en plotseling is Jesus weer teenwoordig. Dan nuttig Hy saam met hulle ‘n maaltyd.

Mense gebruik dikwels hierdie gedeelte in Lukas om die standpunt te motiveer dat Jesus in die Ou Testament ‘voorspel’ word. Jesus lê immers die tekste só uit. Wat ons egter in ag moet neem, is dat die Jesus wat hier aan die woord is, nie die historiese Jesus is nie, maar die vertelde Jesus . Anders gestel die skrywer van die Lukasevangelie beskik oor sy Jesuskarakter. Hy kan sy Jesus laat doen en sê wat hy wil. In hierdie geval laat hy Jesus die Wet en die Profete só uitlê dat dit aansluit by die vroeë Christene se oortuigings dat daar reeds in die Wet en Profete oor Jesus geskryf is.

Die vroeë Christene (‘n Joodse groep) het egter van dieselfde uitlegmetodes as die Esseners van Qumran (ook ‘n Joodse groep) gebruik gemaak in hulle uitleg van die Wet en die Profete. Hierdie soort uitleg staan bekend as pesher -uitleg. Die ‘Ou Testamentiese’ tekste word só uitgelê dat dit lyk asof dit eintlik bedoel is vir latere lesers en hulle omstandighede. Vergelyk byvoorbeeld die Habakuk-kommentaar (1QpHab), waar Habbakuk na die Babiloniërs se aanval verwys. Die Esseners het dit gelees en geïnterpreteer asof die profeet Habakuk die Romeine (die Kittiërs) bedoel het. Die vroeë Christene het dieselfde uitlegmetode gebruik en het die ‘Ou Testament’ só uitgelê asof dit direk van toepassing is op hulle tyd en omstandighede.

Ons kan die kommunikasiegebeure in hierdie gedeelte van Lukas (Luk 24:13–35) soos volg voorstel: Jesus > boodskap (voorspellings in Wet en Profete) > twee dissipels. Maar hierdie kommunikasie is ingebed in die groter kommunikasie van die evangelie wat ons soos volg kan voorstel: skrywer (Lukas) > teks(evangelie) > lesers (vroeë Christene). Omdat die skrywer sy lesers wil oortuig dat Jesus die ‘voorspelde messias’ is, laat hy Jesus self die tekste só uitlê. Die skrywer van die evangelie van Lukas verwys egter na geen spesifieke teks in hierdie gedeelte nie, maar veronderstel dat die leser wat tot hiertoe die evangelie gelees het, sal weet watter tekste bedoel word.

Jesus het volgens Lukas aan twee volgelinge wat op reis was na Emmaus verskyn en ook aan al die dissipels in Jerusalem. Anders as Matteus vind hierdie herverskynings in die nabyheid van Jerusalem en in Jerusalem plaas — nie in Galilea nie! Hierdie is duidelik ‘n kreatiewe skepping van die skrywer van Lukas, want die verhale kom geensins ooreen met die verhale in Matteus en Johannes nie.

Volgens die Johannesevangelie (die jongste evangelie) is slegs Maria Magdalena die Sondagoggend na die graf. Daar aangekom, ontdek sy dat die graf leeg is. Sy gaan dan haastig terug en vertel die ontstellende nuus aan Petrus. Aan hom sê sy: ‘Hulle het die Here uit die graf weggevat, en ons weet nie waar hulle Hom begrawe het nie.’ Petrus en nog ‘n dissipel gaan haastig na die graf en ontdek dat Maria die waarheid gepraat het (Joh 20:1–8). Hierna verskyn Jesus aan Maria, maar sy herken Hom nie onmiddellik nie (Joh 20:14–17). Na hierdie ervaring gaan vertel sy dit aan die dissipels. Jesus verskyn dan die Sondagaand in Jerusalem aan al die dissipels — behalwe aan Tomas wat nie teenwoordig is nie. Agt dae daarna verskyn Jesus weer aan al die dissipels. Tomas is hierdie keer wel teenwoordig en hy word genooi om Jesus se wonde aan te raak. Dit was egter nie Jesus se laaste verskyning nie, want Hy verskyn ‘n derde keer aan hulle. Maar hierdie keer by die See van Galilea waar Hy weer saam met hulle ‘n maaltyd geniet (Joh 21:1–14). Volgens die skrywer van die evangelie van Johannes verskyn Jesus dus in Jerusalem én in Galilea aan sy dissipels. In Galilea egter by die see en nie op ‘n berg nie! As ons in aanmerking neem dat die evangelie van Johannes teen die einde van die eerste eeu nC geskryf is, kan mens verstaan waarom hy van verskynings in Jerusalem en Galilea praat. Hy het die voordeel van kennis by nabaat gehad. Hy gebruik Matteus en Lukas se gegewens en vertel dat Jesus in Jerusalem én Galilea aan sekere vroue en sy dissipels verskyn het.

Die skrywer van Handelinge vertel ‘n totaal ander verhaal. Volgens hom het Jesus na sy dood onbetwisbaar getoon dat hy lewe deur in die loop van veertig dae by verskeie geleenthede aan sy dissipels te verskyn. Hierdie gebeure vind telkens in Jerusalem plaas (Hand 1:3–8). Volgens hom het Jesus ook aan Paulus verskyn, maar die drie verhale wat hy hieroor vertel, verskil aansienlik (Hand 9:1–19; 22:6–16; 26:12–18). Paulus self vertel nie hiervan nie. Daar is slegs sporadiese en uiters bondige verwysings hierna in Galasiërs 1:15–17 en 1 Korintiërs 9:1 en 15:8.

Hierdie herverskynigsverhale het in die vroeë Christendom ‘n groot rol gespeel. Na my mening ontspring die geloof in Jesus se messiasskap én van die dissipels se oortuiging dat hulle geroep is om hierdie boodskap te verkondig, aan hierdie verhale. Ons kan egter nie ontsnap aan die historiese vraag ‘Maar wat het regtig kort na die begrafnis van Jesus gebeur?’ nie.

Die feit dat hierdie herverskyningsverhale kreatiewe herinterpretasies van die skrywers is, bemoeilik die taak van die historikus om ‘n betroubare eenheidsverhaal te skep. Dit is byna onmoontlik om uit die veelheid van verhale só ‘n eenheidsverhaal te skep. Ons kan egter ‘n historiese nukleus vasstel wat ten minste die volgende elemente bevat:

Die belydenis dat Jesus opgestaan het en dus lewe, was reeds vroeg deel van die Christelike geloofstradisie daarom meld Paulus dit in sy brief aan die Korintiërs (1 Kor 15:3–7).
Die rol van vroue as die eerste getuies lyk bo verdenking te wees. Die feit dat latere Christene dit nie in hulle belydenisse vermeld nie, toon dat ons hier met ‘n belangrike gegewe te doen het. Vroue het immers in daardie samelewing ‘n minderwaardige rol gespeel. Ook Paulus meld nie dat vroue die eerste getuies van die leë graf was nie!
Die feit dat al die evangelieskrywers vertel dat die graf leeg was, lyk bo verdenking te wees.
Daar was verskeie verhale oor herverskynings van Jesus.
Die Franse kerkhistorikus Étienne Trocmé (1997:14–15) skryf soos volg oor hierdie feite:

So we suppose that the discovery of the empty tomb by women who followed Jesus was followed by appearances of the Risen Christ, some granted to individuals, like Peter and James, and others to larger or smaller groups, like the Twelve or the apostles, and even to a whole gathering. These appearances certainly took place in different places, some in Jerusalem, as the Gospel of Luke and John 20 affirm, and others in Galilee or elsewhere. As for their date, we can only say that they began shortly after the discovery of the empty tomb and that they lasted several months, perhaps several years, despite the effort made by the author of Acts of the Apostles to limit them to the forty days following the resurrection.

Wat maak ons nou met die volgende gegewens (1) daar was ‘n leë graf; (2) vroue was die eerste getuies hiervan; (3) sy volgelinge het herverskynings beleef; (4) die belydenis dat Jesus opgestaan het, was reeds vroeg deel van die tradisie? Na my mening kan ons dit soos volg in ‘n historiese verhaal verweef: Jesus se kruisdood, die leë graf en die ervarings van herverskynings lei tot die begin van ‘n nuwe groep binne die vroeë Judaïsme. Hierdie groep kies (soos so baie ander groepe daardie tyd) Jerusalem as hulle tuisbasis. Die vertellinge in die Nuwe Testament gee blyke dat daar aanvanklik twee hoofleiers van hierdie nuwe groepering was (1) Petrus en (2) Jakobus die broer van Jesus. Petrus was een van die eerste dissipels en het ‘n groterige groep om hom vergader. Jakobus het as broer van Jesus die belange van die familie beskerm en het ook mense om hom vergader. Hier in Jerusalem beoefen hulle die godsdiens wat hulle Meester beoefen het (vroeë Judaïsme). Hulle besoek die tempel en die sinagoges, besny hulle kinders, onderhou die dieetvoorskrifte en die sabbat. Moses en die Wet is vir hulle steeds belangrik.

Die werklike impulse vir ‘n nuwe godsdiens kom egter eers na die Joods-Romeinse oorlog en die val van die tempel in 70 nC. Robert Coote stel dit só: ‘The Christianity of the New Testament began not with the birth, death, or resurrection of Jesus, but with the end of the temple to which the first cell of his followers was attached.’ Uit die smeltkroes van die gebeure van 70 nC het daar twee godsdienste ontspring: (1) Rabbynse Judaïsme en (2) Christendom.

Hierdie historiese vertelling is vir my belangrik, want die vroeë Christene het hulle nie van hulle medegelowiges wat die vroeë Judaïsme beoefen het, gedistansieer nie. Die vroeë Christene was bloot ‘n messiaanse groep binne die vroeë Judaïsme.

As ek die saak verder mag neem, sou ek die volgende wil byvoeg. Rudolf Otto (1869–1937) het op twee belangrike elemente in enige godsdiens gewys, naamlik die mysterium tremendum et fascinans . ‘n Mistieke ervaring van verwondering en ontsag. Dink aan die vertelling oor Moses by die brandende bos. Die vroeë volgelinge van Jesus se ervarings van die leë graf en die herverskynings was een van die oorsprong-impulse vir die nuwe godsdiens. Dit was diemysterium tremendum et fascinans . Dié ervaringe het egter nie onmiddellik tot ‘n magtige godsdiens gegroei nie. Die val van Jerusalem in 70 nC dien as katalisator en gee aanleiding tot verdere herinterpretasies van die Joodse tradisies en uiteindelik tot die Christelike godsdiens van die eerste eeue.

Wat maak ons tans met die herverskyningsverhale? Binne my verwysingsraamwerk staan mense nie uit die graf op en ek beleef nie herverskynings nie. Dit vir my moeilik om aan ‘n fisiese opstanding te glo, want in my leefwêreld staan mense nie op nie. Voorts weet ek dat dood deel is van lewe op hierdie planeet. Die ervaring van herverskynings kan ek wel verklaar as dat die eerste dissipels só intens met Jesus saamgeleef het, dat Hy na sy dood vir hulle steeds reeël was. In die woorde van Paul Winter: ‘Crucified, dead and buried, [Jesus] yet rose in the hearts of his disciples who had loved him and felt he was near.’ Ek kan hierdie ervarings vergelyk met my ma se ervarings van my pa se teenwoordigheid na sy dood. Dit was vir haar ontstellend dat sy hom soms as werklik teenwoordig beleef het. Soveel so dat sy gevind het dat sy met hom begin praat het. Sy het hom ook in haar drome beleef. ‘n Psigiater moes haar help om met hierdie ervarings vrede te maak, want dit het haar geweldig ontstel. Vir die vroeë Christene was die herverskynings nie ontstellende ervarings nie. Dit was deel van hulle kultuur en die tradisie waarin hulle groot geword het. Moses en Elia kon weer verskyn (of teenwoordig wees).

Fisiese opstandings vind nie in my wêreld plaas nie. Lewe op die aarde het onafwendbaar ‘n sikliese gang. Alle lewende organismes word gebore en gaan een of ander tyd dood. Ook die groter kosmos wys uit dat dit funksioneer op die beginsel van hersirkulasie. Sterre word gebore, groei en sterf na miljoene jare. In dié proses word materie weer hersirkuleer. Nuwe sterre en planete word gebore. Vergelyk Gideon Joubert se beskrywing hiervan in sy boek Die Groot Gedagte :

‘n Katastrofiese toekoms wag op die son, die aarde en die ander planete. Wanneer die son oor 5 000 miljoen jaar begin uitsit in die proses om ‘n rooireus te word, sal Merkurius verhit tot dit smelt en in gas verdamp. Venus se digte atmosfeer sal in die niet verdwyn en die planeet sal self ook smelt en verdamp.

‘n Mens kan jou voorstel wat van die aarde sal word. Die temperatuur sal só toeneem dat alles wat lewe sal sterf. Die see sal kook en verdamp. Rotse en berge sal soos ys smelt. Mettertyd sal dit ook in gas verdamp wat met die swellende rooi son sal saamsmelt. Alles waarvan ons gemaak is, wat oorspronklik sterstof was, sal aan die hemelruim teruggegee word waarvandaan dit oorspronklik gekom het.

Sterstof is jy en tot sterstof sal jy terugkeer.

Die kosmos waarin ek leef, ken nie aan die mensspesie waartoe ek behoort ‘n spesiale plek toe nie. Ons spesie ( homo sapiens ) word soos alle ander lewende organisme gebore en sterf uiteindelik. Selfs nie-lewende organismes soos sterre en sterrestelsels word gebore en sterf.

Die belydenis dat Jesus opgestaan het, beteken nie dat ons uitgesonder word van hierdie sikliese gang van lewe op aarde en in die kosmos nie. Ons spesie is nié die uitsondering op die reël nié — dit toon evolusionêre biologie. Ons was nie veronderstel om ewig te leef nie. Antonia Primavesi wys duidelik dat hierdie idee van Augustinus kom:

Since the time of Augustine, mainstream Christianity has held that without Adam’s sin, there would be no death. But because Adam sinned and left us prey to the power of death, we need a saviour. The ‘anthropo-logic’ implies, indeed states, that we human beings were distinguished from all others by being created by God to live forever. Our salvation by Christ means that God’s purpose stands, and that we alone, out of all species, are to be exempt from death.

Wanneer ek bely dat Jesus opgestaan het, bely ek dat sy opstanding deel van my lewensverhaal moet word. Ek gee soos Paulus en ander Nuwe-Testamentiese skrywers betekenis daaraan deur die verhaal te herinterpreteer. Die belydenis dat Jesus opgestaan het, kry nuwe betekenis wanneer ek breek met die slegte dinge wat ek geneig is om te doen en wanneer ek ‘n nuwe mens word (vgl Rom 6 en Kol 3). Ek kan dit ook soos volg herformuleer: Jesus moet in my as een van sy volgelinge opstaan en teenwoordig word in hierdie wêreld.
Opgedateer op : Wo 25 Jan 12