Hierdie is ’n kort opsomming van die aanbieding deur prof The Veldsman gelewer tydens die Midrandbyeenkoms van 26 Julie 2015:

Van die grootste probleme van ons tyd, hetsy op politieke, ekonomiese, omgewings – of maatskaplike terreine, is te wyte aan gebrek aan leierskap. Tog is ons welbekend met leierskap. Op Google wys die woord ‘leadership’ meer as 600 miljoen resultate (‘hits’); ‘n aanduiding van hoeveel daar oor leierskap geskryf word.

Theo het ons op ‘n reis deur die “fisika van die leierskapskosmos” geneem en gewys dat leierskap ‘n statiese en dinamiese struktuur het met telkens vier asse of skale: Hoogte/Waarnatoe, Tyd/Wanneer, Diepte/Waarom en Wydte/Wie.
In die statiese struktuur sal sommige leiers op die Hoogteskaal bloot die status quo handhaaf, ander iets daartoe byvoeg terwyl ander hul volgelinge se oortuigings heeltemal kan laat verander, selfs tot die punt om iets totaal nuut te skep. So het Steve Jobs van Apple produkte geskep waarvan sy verbruikers (volgelinge) nie eens die nut besef het totdat dit in hul hande gekom het nie! Op die Tydskaal klou sommige leiers aan die verlede vas terwyl ander die toekoms binne die konteks van die huidige “skep”. Op die Diepteskaal speel gedrag, ingesteldheid, waardes en doelgerigtheid ‘n rol en op die Wydteskaal konsultasie en rigting-gewing.

In die statiese struktuur is daar nog geen dinamika nie; wel potensialiteit. Hieraan moet die leier met sy energie dinamika gee. In die dinamiese struktuur is eienskappe nodig soos: die hart oftewel die passie, ‘n sterk “gut feeling”, duidelike padkaart, soos ‘n profeet hoop in die toekoms skep om sodoende sy volgelinge tot aksie te inspireer.

Die leierskapskrisis van vandag is te wyte aan leiers wat nie slaag om hierdie dinamika ten volle binne die leierskosmos te skep nie. Hoewel daar wigte en teenwigte is wat leiers in hul pogings stuit, kan ‘n leier met die nodige plastisiteit sy/haar volgelinge suksesvol op die reis neem en sodoende ‘n nalatenskap verseker.