Daar is so baie uiteenlopende antwoorde op die vraag, “Wat is die regte dieet vir mense”, dat dit soms ontstemmend is om die geskille tussen professionele konsultante soos dieetkundiges, sportafrigters en dokters aan te hoor. Ongelukkig is baie van die toutrekkery aangespoor deur instansies met gevestigde belange. ‘n Onafhanklike mening gegrond op goeie wetenskap wat aan bewese fisiologiese beginsels voldoen, behoort soos ‘n vars bries te wees om die heersende skeptisisme te verdryf.
Soos die titel aandui, skakel dr Marius Theron se praatjie met sy boek, “Secrets of the Diet Codes: Escape from food of mass destruction and discover diet common sense” (2016), uitgegee deur Amazon. Die “geheime” dui op wat hy wys geword het uit sy intense belangstelling in menslike biochemiese gedrag en die uitwerking van koolhidraatkosse op die algemene stand van gesondheid.
Marius se passie vir ‘n energieke en gesonde lewe en ‘n stewige kennis van voedingsleer het hom tot ‘n dieetbenadering gelei wat hy beskou as die Finale Dieet vir die Mens. Hy is as veearts gekwalifiseer en het daarna in die dieetwêreld betrokke geraak. Veeartse ontvang drie jaar opleiding in voedingsleer wat op ses verskillende spesies gerig is. Dokters, daarenteen, maak daagliks diagnoses waarvan 50—70% dieet verwant is, terwyl hulle akademiese opleiding geen omvattende insluit nie. Sy intense bestudering van die reëls van metabolisme en die uitwerking daarvan op die fisiologie het later sy belangstelling in menslike voeding gaande gemaak. Dieet, verduidelik hy, staan in direkte verband met goeie gesondheid, leergerigheid en lewenskwaliteit. Tog, as mens hieroor nadink, lyk dit asof eetpatrone en voorkeure eerder deur lewenstyl, tradisie en gewoontes gevorm word en verder versterk word deur kragtige advertensies en mooi verpakte produkte. So integreer elke mens oor tyd idees oor die moets en moenies van dieet.
Om deur al die diëte wat in omloop is te sif, is die eerste vereiste wat Marius stel dat ‘n dieet eenvoudig en gemaklik moet wees. In dié verband deel hy verskillende gedagtes wat soms vreemd mag klink, maar wat die fondasie van gevestigde idees laat skud. Hy steun die laekoolhidrate-hoëvetdieet (LCHF). Vette het baie meer waarde as koolhidrate – laasgenoemde word oksidante wat nadelig is. Die brein floreer op ketone (die chemiese stof wat vorm as die liggaam hoofsaaklik energie uit vette vervaardig), terwyl glukose, afkomstig van koolhidrate, lae energiewaarde het en verslawend is. Elke gram vet verbrand volgens hom 1.5 gram water. Daarbenewens het hy sterk teenkanting dat ontbyt as die eerste ete van die dag die belangrikste is. Dit klop nie met fisiologiese beginsels nie. Verder het iemand wat fiks is tussen 15—20% liggaamsvet, wat genoeg is vir enigiemand om vir 60 dae te oorleef sonder kos, solank die persoon genoeg water drink.
Baie navorsing word aan die ontwikkeling van medikasie gewy vir toestande wat voorkom kon word deur op tussenposes en volumes van etes te let en koolhidrate te beperk. Die koolhidraatbedryf is steeds so oorheersend dat akademiese instellings, gesondheidsberoepe, farmaseutiese maatskappye, versekering en die media daarby inkoop – alles terwille van die laevet-hoëkoolhidratedieet (LFHC) – terwyl diabetes, hartaanvalle, kanker en Altzheimers epidemiese afmetings aanneem.
Ander bygelowe wat gesondheid eerder belemmer as bevorder, is: dat koolhidrate noodsaaklik is vir energie; dat glukose breinvoedsel is; dat vrugte, groente en graan die belangrikste bron vir vitamiene, minerale, essensiële olies en vesel is; dat versadigde vette vermy moet word; dat jy minstens drie keer per dag moet eet. Marius se frustrasie met die status quo blyk duidelik as hy sê: “Op die dieet-preekstoele verkondig hulle die kernbeginsel om ‘n diabeet te word, om kanker en aterosklerose te kry, sonder dat hulle dit besef. (…) Slegs mense en karnivore word diabete, (of) ontwikkel kanker en hartaanvalle, as hulle ‘n hoëkoolhidraatdieët volg.” Hy beklemtoon dat koolhidrate soos verslawende middels inwerk – onttrekking skep hongerpyne en lae energievlakke en volg ‘n bose siklus. Ook vind hy dit ironies dat verkondigers van die LFHC dieet juis ons DNA en cholesterol, wat ons liggaam self vervaardig en na elke sel versprei, as die booswig vir hartsiektes voorhou.
Die ou sienings oor dieet is vir baie mense moeilik om agter te laat. Dis soos ‘n “geloof” wat aangekleef word. Hy vergelyk sy eie ervaring met dié van mense wat hulle kerk verlaat het. Per slot van sake is ‘n goeie dieet maar net soos die toepassing van algemeen basiese verkeersreëls – hou links, hou ‘n veilige volgafstand, gehoorsaam padtekens.
Marius het as veearts die spyverteringskanale van talle diere ondersoek en baie daaruit geleer. Diere word oor die algemeen nie diabete nie. Ironies genoeg, is dit slegs vleisetende diere (soos honde en mense) wat diabeties raak as hulle kosse met hoë koolhidrate inneem. Ten opsigte van hart en breinsiektes is cholesterol die moleluke wat die meeste in navorsing uitgesonder word. Die liggaam vervaardig cholesterol wat in elke sel in die liggaam teenwoordig is. Dit is ‘n vetsubstansie in die bloed wat ‘n belangrike rol in algemene gesondheid en veral breingesondheid speel. Sowat 25% van die brein bestaan uit cholesterol.
Marius lê verder groot klem op die tussenposes tussen etes en reken dit is baie belangriker as wat ons eet. Hy formuleer die ideale strategie as volg:
• Reel 1: Eet eenkeer per dag; dit pas beter by die ligaam se aktiwiteite en jy kry meer as een dag se waarde daaruit. Dis goedkoper, omdat dit al die tussenin en gesofistikeerde kosse weglaat. (Marius doen dit al sedert 1998 en het selfs die Comrades suksesvol voltooi en slegs water tydens die wedren ingeneem.)
• Reel 2: Eet in die aand. Gaan slaap met ‘n vol maag, dan vind vollediger vertering plaas en kry die liggaam kans om effektiewe detoksifiseringsprosesse te aktiveer. Dit is ongesond om met ‘n vol maag rond te beweeg, te bestuur en om te konsentreer. Detoksifisering word dan agterweë gelaat en toksiene hoop op, met slegte gevolge.
• Reel 3: Volg ‘n LCHF dieet. Maak jou voedselkeuse in die prioriteitsorde van skaap-, bees- en varkvleis, hoender, vis, eiers en suiwelprodukte. Oorweeg die ryker snitte met sigbare vet, die lewer, niere, hart, ander ogane en beenmurg. Volg verder ‘n stadige kookmetode om vertering te verbeter. Onthou, alle koolhidraatmaaltye blok vet-energieverbranding.
• Reël 4: Met hierdie strategie kondisioneer ‘n mens jou metabolisme om geleidelik, oor ses tot twaalf weke, aan hierdie strategie gewoond te raak. Die eindresultaat is ‘n metabolisme wat afhanklik is van energie uit vet in plaas van energie uit koolhidrate. In die proses verdwyn honger en die verslawende hunkering na koolhidrate.
• Reël 5: Die voordele word al duideliker: goeie gesondheid, beter uithouvermoë, beter spierkrag-energie, vermindering van medikasie en risiko’s soos diabetes en hartsiektes, migraine, epilepsie, ADHD, depressie, ledemaatamputasies, trae skildklier, maagsere, gewrigspyne, moeilike menopause en beendigtheidsverlies.
Hoe maak ‘n mens die oorgang (die “crossover”) na ‘n lewenswyse wat so drasties verskil? Marius stel voor:
Maak al jou etes, behalwe die aandete, elke week een uur later en kleiner en doen dit oor twaalf weke; sluit algaande meer vet in. Eindig dan by die goeie gewoonte om net saans te eet.
Natuurlik het die lesing tot ‘n lewendige gesprek in vraetyd gelei. En natuurlik kan ‘n mens vele bronverwysings kry met die raadpleeg van nuwe publikasies op hierdie terrein. Maar soos dit dikwels met ons lesings gaan, is dit verrykend om gevestigde idees uit te daag en selfondersoekend met uiteenlopende menings om te gaan.
(Opsomming: B Basson)