Vir lewensveranderende besluite is opleiding en betroubare inligting onontbeerlik. Wat klimaatsveranderinge en die mens se impak op aardverwarming betref, is daar omtrent soveel menings as samesweringsteorieë in omloop. Vir verantwoordelike besluitneming is dus ‘n langtermyn-visie en die beste kundigheid nodig. Hier mag korttermyn uitkyke en wêreldleiers met hoofsaaklik hulle eie belang op die hart nie die kitaar slaan nie.

Professor Francois Engelbrecht is die hoofnavorser in klimaatsverandering aan die WNNR (CSIR) in Pretoria. Hy het ook eksterne affiliasie by die universiteite van Wits, Noordwes en Nelson Mandela. Verder is hy deel van ‘n uitgelese groep internasionale outeurs wat tans werk aan die Sesde Oorsigverslag van die Internasionale Paneel oor Klimaatsverandering.

Hy wys daarop dat die navorsing onderskei tussen natuurlike siklusse van klimaatstelsels en tekens van ekstreme toenames in sistemiese veranderings.

Die VN se Internasionale Paneel vir Klimaatsverandering (IPCC) versamel data van dertig verskillende internasionale modelle se bevindings wat geïntegreer en gebruik word vir vergelykings en voorspellings. Die kruks van die vergelykings is die balans tussen aardverwarming en hitte-uitstraling van die aarde. (Die verbranding van steenkool en olie laat die koolstofdioksiedkonsentrasie in die atmosfeer styg. Die son verwarm die aarde, maar die hitte word weer uitgestraal. Koolstofdioksied absorbeer egter die lang golflengte straling en verhoed dit dus om te ontsnap en so verwarm die geheel geleidelik.)

Globale modelle vir die voorspellings berus op die wette van fisika en die netwerke (grid boxes) maak van sogenaamde superrekenaars (baie kragtige rekenaar) gebruik. Die WNNR se Instituut vir Weernavorsing in Pretoria beskik ook oor so ‘n superrekenaar.

Om die projeksie van toename in ekstreme weerstoestande/–gebeurtenisse in Afrika in konteks te plaas, gebruik prof Engelbrecht in sy illustrasie ‘n indrukwekkende animasie van ‘n reeks progressiewe rekenaarbeelde van Afrika as streeksmodel. Met grafiese beelde wat temperatuurveranderings in kleuronderskeidings toon, wys hy in opeenvolgende skyfies hoe die gemiddelde globale temperature styg indien die wêreld se nywerhede soos tans energie uit fossielbrandstowwe bly onttrek.

Teen die einde van die eeu sal die temperatuur met tussen 3.2 en 5.4 grade Celsius styg. Suider Afrika sal dan 6 grade warmer wees. Mielie-oeste en beesboerdery sal dan byvoorbeeld onmoontlik raak.

Simulasies wat sedert 1971 tot 2000 gemaak is, toon ‘n onrusbare toename in koolstofdioksied in die atmosfeer. Bevindings laat ernstige vrae ontstaan oor menslike betrokkenheid en die dringendheid vir verantwoordelike besluitneming en aksies om die nadelige effekte om te keer of minstens te beperk tot ‘n vlak van hanteerbaarheid.

Prof Engelbrecht verwys verder na verskillende onlangse waarnemings van ekstreme weergebeurtenisse weens verwarming in die tydperk sedert 2015, soos die geweldige groot ysplaat van 5800 km2 wat in 2017 van die Larsen C-ysveld afgebreek het. ‘n Ander voorbeeld is waarskynlik die hoogste voorkoms van orkane in die Noord-Atlantiese Oseaan.

In die konteks van verantwoordelike besluitneming oor die toekoms van lewe op ons planeet, is die volgende vraag natuurlik hoe ons wêreldleiers reageer. En hoekom iemand soos President Donald Trump die grootste ontkenner is van die mens se aandeel in aardverwarming terwyl Amerika verreweg die grootste sondebok van CO2-besoedeling is.

Super El Niño (rooi-bruin strook op die ewenaar in die Stille Oseaan)

Ander beelde van ekstreme weersgebeurtenisse in suidelike Afrika wat nog vars in ons geheue lê, is die El Niño van 2015 en 2016 en nader aan die huis, die drie-jaar-lange droogte wat gevolg het met die grootste frekwensie van stofstorms oor die Vrystaat op rekord, stofgetrapte weidingsveld en opgeblase karkasse in die Kruger Wildtuin, vure wat toeneem, rookpluime oor Knysna, waterskaarste in Kaapstad en ‘n ál warmer en droër Kaapse suidkus. In Botswana het die beesvleisbedryf reeds met veertig persent afgeneem.

Professor Engelbrecht wys daarop dat 2015-16 se somertemperature ‘n rekordmeting was. Terselfdertyd is die seeoppervlakte in die oseaan noord van die Antarktiese Peninsula en suid van Groenland ook as die koudste ooit gemeet. Hierdie veranderings in die oppervlaktemperature verander die dieperliggende seestrome in so ‘n mate dat dit byvoorbeeld ons eie warm Benguelastroom (langs SA se ooskus opwaarts) tot ‘n stilstand bring. Dit sal ingrypende nadelige veranderinge in die seelewe en landbou meebring.

Om alles te kroon, is ons land se temperatuursveranderinge meer ekstreem as elders. Die Landbou-Navorsingsraad se weerstasies toon ‘n gemiddelde vyf grade styging in 2015-16. Volgens meting was die verwarming in die Stille Oseaan die hoogste sedert 1850.

Wat onbetwisbaar is, is dat lande verantwoordelikheid moet neem vir hul industriële aktiwiteite en ander vorms van besoedeling want die tyd loop uit. Enige verandering van hierdie groot omvang gaan groot koste meebring. Die Parys Ooreenkoms wat deur 194 wêreldstate onderteken is, is maar slegs ‘n beginpunt. Dit toon dat mense ingelig is en ‘n verandering wil maak en vele lande het reeds projekte aan die gang.

Wat ontstellend is, is dat die VSA, wat saam met drie ander lande sowat 42% tot die kweekhuisgasse bydra en dus grootliks verantwoordelikheid vir die hoë-koste regstellende proses behoort te aanvaar, hul rug op die ooreenkoms keer.