NHN SEMINAAR 30 AUGUSTUS – 1 SEPTEMBER 2013
Deur: Sakkie Spangenberg
Beste NHN Lid of Belangstellende
Die NHN se jaarlikse seminaar vind binne enkele weke weer by Weesgerus Vakansie-oord net buite Modimolle plaas en beplanning hiervoor is volle swang.
In die deurlopende proses van besinning by die NHN oor dit wat sin aan ons lewe gee, kom die vraag “Wat behels ‘n goeie lewe?” onvermydelik na vore. Gedurende hierdie naweek gaan ons tydens interaktiewe sessies hierdie vraag deeglik onder die loep te neem. Prof Pieter Botha sal tydens die drie sessies die volgende aspekte ter inleiding belig:
- Hoe het dit gekom dat daar mense op aarde is; hoe is ons “bedraad”; wat is daar in ons “samestelling” wat ons anders maak as ander primate; hoe oud wil jy word en hoekom; wanneer wil jy sterf – en hoe?
- Is mense gepredisponeer om nie te kan verander nie; hoe verander ’n mens jou denke, gemoed, uitkyk op die lewe; wat laat mense tou opgooi?
- Wat behels lewensgeluk; hoe bestuur mens jouself; moet mens ‘n “bucket list” opstel; hoe hanteer mens vrees; hoe hanteer mens frustrasie/irritasie; hoe hanteer jy optimisme, realisme en pessimisme?
Na Saterdagmiddag se kuier en klets hou ons die aand na afloop van die gebruiklike saambraai ‘n “Konsert uit Eie Geledere”. Op grond van die vorige konsert se sukses, waarby seminaargangers self iets aangebied het, sal dit sekerlik weer net so genotvol wees. Ons sien uit na die item wat jy gaan aanbied – enige iets! Skakel gerus met Maryke Kruger by therapie@ananzi.co.za wat die konsert en die program reël.
Die koste vir die seminaar self is R385 en sluit in konferensiefasiliteite, verversings en etes. Bring wel jou eie koffiebeker saam, asook eie ontbyt vir Saterdag en Sondag en vleis en drank vir Saterdagaand se saambraai. Beskikbare verblyf-opsies is:
- Gastekamer: R262 per persoon per nag (2 enkelbeddens per kamer)
- 6-bed chalet: R290 per persoon per nag (2 kamers en 2 ingeboude beddens in die gang)
- 2-bed chalet: R335 per persoon per nag (een kamer)
- 4-bed chalet: R425 per persoon per nag (1 kamer en 2 slaapbanke vir kinders in die sitkamer)
- Kampering: R275 per staanplek per nag (maksimum 4 persone)
- Dagbesoek: R110 per dag plus ekstra vir die betrokke etes.
- Indien jy die seminaar wil bywoon, moet jy voor 13 Augustus bespreek wanneer finale getalle aan Weesgerus voorsien moet word. Kies ‘n verblyf-opsie en skakel met corliareitmann@telkomsa.net wat jou bespreking sal doen en die totale koste sal aandui. Betaal in die NHN se rekening: NHN, Nedbank, Centurion 162 145, Rek nr 162 120 7811. Gebruik as verwysing: Seminaar + jou voorletter en van (bv Seminaar R Nel). Epos dan jou bewys van betaling na Corlia of faks dit na 086-645-2566.
Ons sien uit na ‘n besondere naweek met jou teenwoordigheid en insette vir in-diepte besinning, spirituele stimulasie, gesellige gesprekke, pret en hartlike samesyn.
NHN-groete
Johan Talma (nms die NHN Uitvoerende Komitee)
083-556-8711, 012-348-0087