VERSLAG VAN DIE NHN SE AKTIWITEITE IN 2017
OORSIG VAN DIE JAAR
Die afgelope jaar was in die breë gesien suksesvol vir die NHN. Die Uitvoerende Komitee (UK) het weereens ‘n verskeidenheid van aktiwiteite deurgevoer en hierdie is ‘n verslag van daardie aktiwiteite waarvan sommige hoogtepunte was.
UITVOERENDE KOMITEE
Tydens die Jaarvergadering op 29 Januarie 2017 is die volgende persone as lede van die (UK) van die NHN verkies:
Annamarie Steyn
Babs Basson
Deon van Zyl
Gerrit Genis
Ina Louw
Jaco Budricks
Johan Talma
Mollie Kruger
Phil Steyn
Sakkie Spangenberg
Sam Basch
Tydens die UK se eerste vergadering is Johann Basson weer gekoöpteer om ons finansies te hanteer. Ook by die vergadering is Johan Talma as voorsitter en Sakkie Spangenberg as onder-voorsitter aangewys. Deur die jaar het die span twee lede verloor. Met Mollie se finale vertrek na Malawi gedurende die jaar moes hy sy betrokkenheid by die UK staak en Ina Louw het in die laaste semester bedank.
Die UK het hom in die uitvoering van sy take veral gefokus op aktiwiteite ter verspreiding van inligting en om die NHN as gemeenskap verder saam te snoer. Vordering hiervan is tydens vyf vergaderings gemonitor. (Dankie aan Annamarie Steyn wat noukeurig hiervan notule gehou het.)
AKTIWITEITE
Midrandbyeenkomste
22 Lesings is in 2017 aangebied, 9 met ’n spirituele, bybelse of godsdienstige strekking (± 40%). Hoewel ’n prioriteit, was dit nie ter uitsluiting van ’n wye aantal ander missie-verwante onderwerpe nie. Op enkele uitsonderings na is baie interessante onderwerpe hanteer met goeie kwaliteit sprekers. Die besprekings was baie aktief, stimulerend, gevarieerd en by tye, vriendelik-uitdagend.
Datum | Spreker | Onderwerp |
15Jan | Willem Semmelink | Hoe gemaak met die tradisionele tafelgebed? |
29 Jan | Johan Basson | NHN-Jaarvergadering |
12 Feb | Deon van Zyl | Die positiewe effek van musiek op bejaardes |
26 Feb | Willem Boshoff | Voëlspesies in antieke Egipte – en vandag? |
12 Maart | Dr Ben Barnard | Die opwekking van Doringrosie en die dood van God. |
26 Maart | Prof Joppie van Graan | Menslike energie |
9 April | Prof Hansie Wolmarans | Marcus Borg – ’n huldeblyk. |
23 Apr | Prof.Pieter Botha | Diana van die Efesiërs |
7 Mei | Prof Johan Smuts | Is ons siel in ons DNA? |
21 Mei | Gerrit Genis, Ina Louw,
Alida vdWesthuisen, Deon v Zyl |
Pecha Kucha: “My reis tot hier” |
4 Junie | Prof.Pieter Botha | Plastiek en die plastiek lewens – ‘n wêreldbeskouing |
25 Junie | Prof Melanie Judge | Lesbian and Gay Lives in South Africa: Law, culture and politics |
9 Julie | Dr Danie Louw | ’n Narratiewe lees van die Openbaringteks. |
23 Julie | Hennie Maas | “My kennismaking met die wêreld van sterre en planete en die impakdaarvan op my lewensuitkyk.” |
6 Aug | Dr Don Roos | Die mens as sosiale wese |
19-20 Aug | SEMINAAR | Gewaardeerde Menslike Deugde |
3 Sept | Dr Jurie vd Heever | Wat moet ons met die kerk doen? |
17 Sept | Dr Nicol Stassen | Die Dorslandtrekkers (1874 – 1881) |
1 Okt | Prof Solly Raetamane | Intergenerational Violence |
15 Okt | Dr Cecile Gericke | Word ‘n senior en herskep/hervorm jouself |
29 Okt | Prof.Sakkie Spangenberg | Die boek Daniël, die Protestantse Hervorming en die Nuwe Hervorming. |
12 Nov | Prof Hennie Lötter | Geregtigheid en armoede |
26 Nov | Prof Anthoni v Nieuwkerk | Suid-Afrika by die kruispad |
Hierdie aanbiedings, asook die besprekings daarna is telkens deur Mollie en later Marius Marius Kruger opgeneem en in DVD’s omgesit. Hierdie is een van die NHN se nalatenskappe waarop ons baie trots is en dus word dit bewaar. Die DVD’s is aan NHN-lede en ander belangstellendes teen ’n uiters billike prys beskikbaar gestel. Die verkope hiervan het egter later in die jaar begin daal. Dankie aan die Marius en Maryke hiervoor.
Kennisgewings van die byeenkomste is telkens vooraf in ons nuusbrief bekend gemaak, na verskeie streekskoerante en ook met sms’e na die NHN-ers gestuur en in Renaissance Gemeenskap se weeklikse nuusbrief geplaas. Johan Talma het dit gedoen.
Opsommings van die aanbiedings is na die tyd deur die nuusbrief versprei en op ons webblad geplaas. Hierdie opsommings is soms deur die spreker voorsien, maar in meeste gevalle het Babs Basson die aanbiedings in uitstekende opsommings vervat. Dankie Babs vir hierdie inset. Dis kosbare inligting.
NHN Seminaar
‘n Sinryke seminaar is op 18 en 19 Augustus gehou met die tema: Gewaardeerde Menslike Deugde. Agt en veertig persone het dit hier by die Ouditorium bygewoon, wat geblyk het ’n baie geskikte plek te wees.
NHN Nuusbrief
Sam Basch het elke 2 weke ‘n nuusbrief gestuur aan diegene op ons poslys is (wat stadig maar seker groei), asook tussentydse nuusflitse wanneer nodig. Hierdeur kon lede kennis neem van komende Midrandbyeenkomste, opsommings van vorige aanbiedings, sosiale geleenthede, en ander relevante en belangwekkende gebeure. Baie dankie Sam vir die werk. Die foto’s wat jy telkens invoeg, verhoog verder die gehalte van ons nuusbriewe.
Die NHN se Webblad
Ons webblad is gebruikersvriendelik en funksioneel. Daarvan getuig die aansienlike hoër benutting van die blad die in afgelope jaar. 19,400 Nuwe besoekers het kom inloer, teenoor 13,100 in 2016. Meer as 173,000 bladsye is gelees, teenoor net minder as 135,000 in 2016.
Inligting van ons aktiwiteite telkens is vinnig geplaas en foute wat van tyd tot tyd ingesluip het, is herstel. Daar is wel ander inligting wat is enigsins verouderd is. Dankie aan Jaco Budricks wat die webblad getrou versorg het en laat versorg het.
Die NHN se Facebookblad
Ons Facebookblad het die afgelope jaar in verskeie fasette opwindende groei getoon. Tans het die blad 757 deelnemers. Benewens ‘n verhoogde deelnemerstal was die groep baie aktief. Tussen 8 en 11 nuwe gespreklyne het ontstaan waarvan sommige gereeld oor die 30 kommentare ontlok het. Die onderwerpe was uiteenlopend en stimulerend, maar steeds vanpas en relevant tot die oorhoofse doel van die NHN Facebookblad: “‘n ruimte vir oop gesprek en kritiese nadenke oor menswees”.
Die blad is ‘n deurlopende bron van inligting vir deelnemers. NHN-inligting en artikels is deurentyd geplaas wat die totale aantal dokumente op ons profiel reeds op 120 te staan bring. Dit maak ons blad enigsins andersoortig – dis nié ’n tipiese Facebook kletsblad nie. Dis waarlik die moeite werd om te lees en aan die gesprekke deel te neem. Baie dankie Babs Basson en Deon v Zyl wat hierdie inisiatief met onvermoeide ywer en groot sukses hanteer het.
Netwerk, Posisionering en Groei
Skakeling is deur van ons UK-lede met die “Unitarians” onderneem,’n enersdenkende groep in Johannesburg en Pretoria. Verder het Sakkie Spangenberg die DiNK-groep (Denkende Individue Neem Kennis) wat verlede jaar in Somerset-Wes tot stand gekom het, besoek en ’n kort lesing aangebied. Ons Facebook lewer ook ‘n beduidend bydrae tot uitbreiding en kwaliteit van die netwerk. Maar, hieraan sou die UK veel meer wou doen.
Sosiale Spil
Ons het ses gebruiklike bring-deel-en-kuieretes na afloop van Midrandbyeenkomste geniet, onder andere ter viering van die seisoene. Elkeen was goed bygewoon met groot gesels en kuier – ’n heerlike sukses.
Daarbenewens het twee uitstappies plaasgevind: in Mei ’n stad/kerkestap deur Pretoria se middestad en vir ons verjaarsdaguitstappie in Oktober het ons die Beechwood tuine in Johannesburg besoek en daar gepiekniek.
Driekie Mouthino en Laage Vitus het telkens gesorg vir tee en ’n koekie voordat ons met ons Midrandgesprekke begin het. Baie dankie daarvoor.
Hierdie aktiwiteite het weereens groter kohesie tussen ons bewerkstellig.
Virtuele biblioteek
Die virtuele biblioteek is deur die jaar bestendig benut, hoewel daar nie besonder groot belangstelling is nie.
Bemarking van die NHN
NHN Kalender
‘n NHN-kalender vir 2018 is weer saamgestel en onder ons lede en belangstellendes versprei. Dankie Annamarie Steyn daarvoor.
Drumpelervaringbedienings
Sakkie Spangenberg het gedurende die jaar drie pare getrou wat nie meer tuis is in die tradisionele kerke nie. Hy het ook opgetree by Anton en Theresa Roux se viering van hul dogter se lewe.
EVALUARING
Die afgelope jaar kan van verskeie bevredigende en suksesvolle aktiwiteite getuig. Die UK se gefokus op aktiwiteite ter verspreiding van inligting en om die NHN as gemeenskap verder saam te snoer, was effektief. Elkeen van ons is verryk met goeie insigte in al vier die vier fokus-areas van die NHN: religie/ spiritualiteit/ bybels, wetenskap/ ekologie/ bewaring, ons sosio-politieke en ekonomiese konteks en die NHN as sosiale gemeenskap. Inligting is hier rondom versprei.
Maar kan ons op ons louere rus, veral as ons besin oor of die NHN groei en uitbrei? Dan word ledegetalle en ons inkomste belangrike indikators van groei. En nie een hiervan het die afgelope jaar beduidend verbeter nie. (Die finansiële bydraes van die afgelope jaar kon nié ons onkostes dek nie.) …… Maar is dit die enigste indikators? Ons webblad en Facebook is verseker aanduidend van die toenemende belangstelling in die doen en late van die NHN. Daar wag egter ’n duidelike taak op die UK van 2018: hy sal ernstig moet besin oor en beplan vir die behoefte aan groei. Want ons wil almal die NHN sien voortbestaan!
DANKIE
Ons kan dus met dankbaarheid terugkyk op ’n redelike suksesvolle jaar. Daarvoor wil ek julle almal vir julle ondersteuning bedank en veral vir die UK, vir elkeen se toegewyde insette. Vir my was dit ’n voorreg om in hierdie posisie by die NHN betrokke te kon wees.
Johan Talma
Voorsitter: NHN Uitvoerende Komitee, 2017