Nuusbrief – 20 January 2021

Beste NHN Lid of Belangstellende

Welkom by die NHN se nuusbrief, wat inligting oor ons aktiwiteite voorsien.

Ons wens jou ’n gesonde en gelukkige jaar toe.

Ons harte gaan uit na diegene van julle wat familie of vriende verloor het tydens die pandemie.

Dit is tans nie moontlik of wenslik om fisiese vergaderings te hou nie, maar ons wil aangaan met die aktiwiteite van die NHN sonder om by Midrand bymekaar te kom.

Hierby ingesluit is die voorgestelde 2021-NHN kalender (sien onder). Dis tentatief en kan gedurende die loop van die jaar aangepas word, maar gee wel ’n indikasie van wat ons beplan.

Die eerste nuwe lesing van die jaar word op Sondag 31 Januarie om 09:30 deur Mollie Kruger op die NHN se Facebook-bladsy en op YouTube uitgesaai. Die titel is “Die Christelike meesterverhaal en ’n meer realistiese verhaal as alternatief.” Dit word deur Sakkie Spangenberg en Deon van Zyl aangebied. Moet dit nie mis nie.

Op 14 Februarie sal Mollie een van ons vorige opnames uitsaai; ook om 09:30 die betrokke Sondag.

Op 28 Februarie sal Jan Horn praat oor “Ons is verweef met die natuur”. Dis ’n nuwe lesing en beloof om baie stof tot nadenke te bied.

Gewoonlik hou ons vóór die einde van Januarie ons Algemene Jaarvergadering waar verslag gelewer word van die vorige jaar se aktiwiteite, die stand van die NHN se finansies, en die verkiesing van ’n nuwe uitvoerende komitee (UK). Daar is geen haas hiemee nie en ons sal kyk wanneer dié vergadering wel gehou kan word.

Die NHN is geheel van ledegelde afhanklik om sy aktiwiteite te finansieer. Ons wil almal bedank wat gedurende 2020 bygedra het deur ledegelde en/of donasies.

Ons wil dan ook ‘n beroep op u maak om weer eens finansieel by te dra.

Voorgestelde bydrae Gesin: R500, Indiwidu: R400.

Die NHN-bankrekening is:

Nedbank (tjekrekening)
Die Nuwe Hervorming Netwerk
Tak: Pretoria Noord
Rek no: 1621207811
Verwysing:  LG21 PLUS jou van en voorletters

Soos u kan aflei, is hierdie nuusbrief nie deur Sam Basch voorberei nie. Hy het hierdie taak die afgelope vier jaar onverbeterlik verrig. Sam neem nou ’n welverdiende blaaskans. Die NHN-nuusbrief met die opsommings van die Midrand-lesings het almal op hoogte gehou – ook diegene wat nie die lesings kon bywoon nie. Babs Basson het dikwels hand bygesit. Baie dankie Sam en Babs!

Bly gemasker, hou julle afstande, en was die hande gereeld.

Phil Steyn
Voorsitter: Namens die NHN-UK