Die NHN, in samewerking met die Renaissance Gemeenskap en die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit, bied op 20 Mei ’n seminaar aan met die tema “Leef met wete en twyfel en oortuiging.” Dit sal duur van 09:00 tot 14:00.
Die tema beklemtoon dat elkeen van ons met sekere oortuigings leef. Ons weet sekere goed en dit help ons om ons lewens sinvol in te rig en ons lewensbootjie koers en rigting te laat hou. Maar dit is ook so dat ons gedurende ons leeftyd met nuwere inligting in aanraking kom wat ons aan die dink sit en laat twyfel en van ons vra om te herbesin oor ons wete.
Omdat ons as mense nie net liggaamlik groei en ouer word nie, maar ook intellektueel en spiritueel, is dit onafwendbaar dat ons oortuigings oor die jare sal verander. Hierdie feit is baie mooi verwoord deur Carl Jung (1875-1961), die bekende Switserse sielkundige:
“Thoroughly unprepared, we take the step into the afternoon of life. Worse still, we take this step with the false presupposition that our truths and our ideals will serve us as hitherto. But we cannot live the afternoon of life according to the program of life’s morning, for what was great in the morning will be little at evening and what in the morning was true, at evening will have become a lie.”
Die seminaar bied ’n geleentheid om te besin oor dit wat ons weet, waaroor ons twyfel en wat ons oortuiging(s) is. Ons nooi mense om te kom saambesin en om hulle lewenskompasse te kalibreer.
Die sprekers wat ons gesprekke sal inlei is: prof Piet Croucamp, Marius Herhold en Barend la Grange. Elkeen sal die tema vanuit hulle unieke perspektief belig. Na elke voordrag volg onderlinge besprekings en ten die einde van die seminaar ’n gesamentlike bespreking.
Die seminaar word aangebied by GEM Village in Irene (net oos van die Smuts-huis). Die koste is R300 per persoon en sluit verversings en ’n ligte middagete in.
Bespreek nou deur ’n Whatsapp-boodskap na Johan Talma te stuur by 083 556 8711.